Wednesday 31 August 2016

'n Nuwe begin

Markus 2 : 22 “Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.”

Is jy gereed vir die volgende vlak… geestelik, fisies en emosioneel? Soms hoor ons dat God meer vir ons in stoor het en ‘n flammetjie van hoop begin flikker.  So kom die Gees in lyn met God se wil, maar ander kere word ons met twyfel gevul.  Dan dink ons:  “Dit sal nooit gebeur nie…  Alles is teen my… Ek het die dokter se verslag gesien en sy woorde gehoor… dis finaal…”

Hoor vandag God se hart.  Dis die ou wynsakke… dis die ou manier van dink en dit moet afgeskud word.  Hierdie is ‘n nuwe seisoen.  Wat gebeur het, behoort tot die verlede.  Al die teleurstellings… al die kere wat ek dit nie gemaak het of dinge nie uitgewerk het nie… dis verby.  God is steeds in beheer.  Ek gaan my denke vernuwe en ‘n nuwe visie vir my lewe kry.  Hierdie hoofstuk is afgesluit.  My denke is vernuwe en ek is gereed vir die nuwe avontuur.

Tuesday 30 August 2016

Geloof

Romeine 10 : 17  Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.

Volgens die Skrif het elke persoon ‘n mate van geloof ontvang.  Kom ons vergelyk dit met ‘n saadjie.  As elkeen van ons ‘n saadjie ontvang, gaan party dit plant.  Ander gaan nie eens moeite doen nie.  Van die wat geplant word, gaan party die plantjie vertroetel totdat en versorg en uiteindelik iets oes.  Ander sal dalk flink wegspring, maar later vind dis te uitputtend en opgee.

Net so kan geloof slegs groei en meer word as jy daaraan werk.  En net so sal party vasbyt terwyl ander met die eerste teestand gaan opgee.  Hoe gaan ons, ons geloof laat groei? Deur God se woord te lees en te lees en te lees… en deur deurentyd te bid.  Sodoende leer ons God se hart ken en so ‘n klein bietjie van Hom verstaan.  Hoe meer jy die Bybel lees, hoe meer breek die woord oop en vind jy klein brokkies wat jou bemoedig en inspirer.  Jy sien hoe getrou God is.  Jy sien waartoe Hy in staat was en hoe Hy deur al die eeue presies dieselfde gebly het.  Jy leer dat God nie kan jok nie, dat Hy getrou aan Sy beloftes is. En as jy jou weer kom kry, vertrou jy Hom en glo jy volkome in Hom.

Net soos daardie saadjie water en versorging nodig gehad het, net so het ons geestelike voedsel nodig.  Jou geloof moet gelawe word deur geestelike water. Skryf dit neer, lees dit oor en oor.  Laat toe dat Sy waarheid jou vul en vrymaak sodat jy absolute geloofsvryheid kan beleef.

Monday 29 August 2016

Moenie eens probeer verstaan nie

Jesaja 55 : 9  soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes

So baie kere het ons ons eie idees omtrent hoe dinge in ons lewe behoort te verloop.  God se manier van doen en dink, is nie noodwendig hoe ons oor dinge dink of verwag dit moet gebeur nie.  Petrus het geld nodig gehad om belasting te betaal.  Ek en jy sou dink dat Jesus in staat sou wees om sy hand te swaai en woeps daar lê die geld.  Jesus stuur egter vir Petrus viswaters toe.  “Gaan vang ‘n vis, maak die vis se bek oop en daar sal jy die geld vind!”  God kon Sy Seun aarde toe gestuur het soos hy vertrek het… op ‘n wolk, maar nee, hy laat Jesus baar deur ‘n maagd! 

God kan dus dinge op die mees onkonvensionele maniere laat uitwerk.  Jy doen dalk al maande aansoek vir werk en gee uiteindelik moed op.  Uit die bloute bel iemand jou met ‘n werksaanbod!  Julle hoop al so lank op ‘n eie kindjie, maar niks gebeur nie.  Net sodra jul hoop opgee, raak jy swanger.

Met God moet jy nie eens probeer om dinge te verstaan nie.  Jy moet eenvoudig glo. In die Engelse Bybel… in Spreuke, lees ons:  “Lean not to your own understanding.”  Soms is daar eenvoudig nie ‘n logiese verklaring nie.  Skakel eenvoudig jou verstand af.  Net omdat jy geen uitkoms sien nie, beteken nie dat daar geen uitkoms is nie.  

Sunday 28 August 2016

Reën

Deuteronomium 33:13  Oor Josef het Moses gesê: “Mag sy land deur die Here geseën word: met die beste uit die hemel, met dou en met die beste uit die water diep onder die grond,

Terwyl ek hier sit ek skryf, val die reën saggies buite.  Dit is daardie gerusstellende reën wat reëlmatig neersak.  Vir my was reën en seen nog altyd sinoniem.

Ek kan al die bemestig inwerk in my tuintjie en ek kan dit water gee, maar wanneer dit reën is dit asof die plantjies ekstra voeding gekry het.  Of dalk is dit wat nie in reënwater is, wat die verskil maak.  Daar is geen chemekalië in nie, net suiwer Godgegewe seen.

Ons drink kraanwater of gebottelde water, maar geen water kan doen wat God se seen wat op ons neerreën kan doen nie.  Dit suiwer ons. Dit les ‘n dors in ons wat nooit geles kan word nie.  God is die Een wat ons Ewige Lewe gee.

Here, laat U seen op ons neerreën.

Thursday 25 August 2016

Geloofstuine

Josua 15:19  en sy antwoord: “Gee my 'n stuk vrugbare grond
Ons het gister saailinge geplant.  Natuurlik kon ek nie sommer net tuin toe stap en die plantjies begin indruk nie.  Ek moes kyk na die tuin en besluit wat die beste plekkie vir hul sou wees.  Skadu of son, of ‘n mengsel daarvan?  Eers moes ons die grond goed voorberei en ontslae raak van alle onkruid.  Daarna kon ons eersdie plantjies plant.
Hierin is tog ‘n ooreenkoms met ons geloofspad.  Jy moet ook goed na jou lewe kyk en raaksien waarvan jy ontslae moet raak.  Is daar dalk ‘onkruid’ wat uitgeroei moet word?  Is daar ‘n goeie balans van ‘sonskyn’ en ‘skadu’ in jou lewe of is dit net heeltyd speeltyd?  Dan begin die voorbereiding… Bybel lees, bid, glo, vertrou… en dan word daardie geloofsaadjie geplant sodat dit kan wortelskiet, groei en begin vrugte dra.
Niemand sal ‘n tuin versorg sonder dat daar enige voordeel in is nie.  Jy wil blomme, vrugte of groente sien wanneer die plant wasdom bereik. 
Geen plant sal egter floreer of vrugte dra as dit nie versorg word nie.  Jy moet voortdurend water gee, plae bestry en dalk selfs bietjie uitdun of terugsnoei. 

Hoe lyk jou geloofstuin?

Wednesday 24 August 2016

Die reis

Genesis 28:20  Jakob het toe 'n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee,
Op ‘n prentjiemooi laat Wintersmiddag ry ek huis toe in die bus. Die lug is assuurblou en daar is nie ‘n briesie nie.  Regs van ons lê Tafelberg in al sy glorie.  Ons is so naby dat jy elke boom en paadjie kan sien.  Die perfek gelyk boonste deel skakeer in teen die blou lug. 
Die ironie is dat bitter min van my mede-passasiers hierdie oomblik indrink.  ‘n Groot groep sit met geslote oë.  Dalk haal hul verlore slaap in. Dalk wil hul net rus of reflekteer op die dag.  ‘n Ander groep is besig op hul selfone… Facebook, WhatsApp, Twitter, Media 24…  Ek voel of ek kan opspring en skree:  “Ons ry verby een van die sewe wonders van die wêreld, kyk!”  Ok, ek weet ons ry elke dag daar verby en die berg sal more steeds daar wees, maar kyk net hoe mooi is hy vandag!
Die twee kabelkarretjies skuur verby mekaar, elkeen in sy eie rigting.  Vir sommige is die ervaring amper verby, maar vir ander lê dit nog voor.
Dit is soos die lewe ook is.  Vir sommige van ons is die lewe so te sê verby terwyl dit vir ander nog skaars begin het.  Die vraag is of jy elke oomblik van die reis geniet het?  Het jy die klein wonderwerkies raakgesien of was jy vasgevang in jou eie probleme of gedagtes?

Ons mis so maklik uit op asemrowende oomblikke omdat ons op die verkeerde dinge fokus.  Maak tyd om hierdie oomblikke in te drink.  Ons het die mees ‘amazing’ mede-reisiger:  God.

Tuesday 23 August 2016

Wees genadig

Efesiërs 6:9  En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid.
Met al die tuinwerk gister, voel ek vandag beslis my ouderdom.  Ek het pyne waar ek nie eens geweet het ek spiere het nie.  As ek opstaan of gaan sit, doen ek dit soos ‘n hoogswanger vrou.  Trappe is ‘n uitdaging.  Gelukkig het ek vandag om te rus en my moeë spiere te laat rus.
Dit het my laat wonder oor mense wat elke dag sulke fisiese arbeid moet verrig. As eienaar, besef jy wat dit van hul neem om hul dagtaak te verrig?  Dink jy ooit daaraan dat hulle moeg raak of seer is?  Op ‘n stadium gister toe ek die graaf weer met mening in die grond instamp en my voet moet oplig om dit dieper in te trap, voel ek ‘n duiseligheid my omgewe.  Ek is moeg… ek is seer en ek besef ek het die einde van my kragte bereik, maar ek moet klaarmaak, want in die week is daar nie tyd nie.  Gelukkig kon ek self besluit of ek voortgaan al dan nie.  Hoe gemaak as jy vir ‘n baas werk en ook so voel?

Vandag wil ek by jou pleit om na jou werksmense te kyk… werklik te kyk. Hul is mense, nie masjiene nie.  Hulle raak moeg… hul liggame raak ouer… elke dag neem dit dalk meer en meer wilskrag om aan te hou doen wat hul doen.  Meeste van hul het nie ‘n keuse nie.  Hul het verantwoordelikhede en nie die luukse van ‘n pensioen om na uit te sien nie.  Daar is min of meer niks om hul te dryf behalwe oorlewing nie.  Moet hul nie sommer net as lui afmaak nie.  Probeer hul verstaan en betoon medemenslikheid teenoor hul.  Hoeveel van hulle kan ‘n fisioterapeut bekostig?  Pyne word heelwaarskynlik met drank bedwelm.  Dalk kan jy iets doen om die lewe vir hul makliker te maak.

Monday 22 August 2016

Wen of verloor

1 Korintiërs 9:24  Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie?
Die hele wêreld sit die afgelope twee weke vasgenael voor hul televisies.  As daar nie ‘n televisie beskikbaar is nie, word daar na nuusbrokkies op die internet gekyk om seker te maak jy bly op hoogte met al die prestasies wat op die Olimpiese Spele behaal word nie.
Soms word ons verras… soms word ons teleurgestel.  Meeste van tyd is dit vermaaklik en kan jy jou verkyk aan die ongelooflike vermoëns van die atlete.
Suid-Afrika het nou reeds 10 medaljes, met Caster Semenya wat die kroon span met goud.  Wat my hartseer maak, is die kommentaar wanneer iemand nie goud behaal nie.  Dis asof silwer nie veel beteken nie.  Ons wil goud hê, of niks.  Brons is… wel brons.
Wel, ek moet toegee, dis darem lekker om die volkslied te hoor en te sien hoe Suid-Afrika se vlag in die middel gehys word. Wat ‘n hoogtepunt om die spele mee af te sluit vir ons land!
Daar is egter honderde atlete wat net soveel insit, maar ongelukkig nie wen nie.  Sonder hul deelname sou daar geen spele gewees het nie.

Dit gaan nie altyd oor wen nie, maar oor hoe jy die wedren hardloop.  Die lewe gaan jou nie altyd laat wen nie.  Hoe hanteer jy dit wanneer jy verloor?  Dit is eintlik wanneer ons die ware karakter van die atleet sien.  Dit is nie op daardie oomblik die tyd om jou uittrede aan te kondig nie.  Dan gaan jy terug en jy oefen nog harder en jy kom met mening terug.

Sunday 21 August 2016

My Here en my God

Johannes 20:28  En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

My wens vir jou vandag is dat jy ook soos Tomas Hom jou God kan noem.

Thursday 18 August 2016

Tomas

Johannes 20:27 Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.
Op die ‘History Channel” van DSTV, kon jy na “The Bible” kyk die afgelope paar weke.  Alhoewel ek al jare lank die Bybel lees, is dit asof die karakters en ‘storie’ lewe kry op TV.  Dit is ook asof dinge waaroor ek voorheen gewonder het, nou sin maak.
In die laaste episode, word die gedeelte van die ongelowige Thomas uitgebeeld.  Thomas wat sê ek vra nou al hoe lank, maar niks gebeur nie.  En dan verskyn Jesus aan hulle en Thomas kan die gate in Sy hande sien en glo.
Dalk bid jy nou ook al hoe lank.  Dalk probeer jy so hard om te glo, maar jy voel jou geloof is te klein.  Dalk vergelyk jy jouself met ander gelowiges en voel jy skiet te kort.  Hou op!  Jy is uniek. 
Vir die eerste keer verstaan ek dat Thomas WOU glo en dat dit die rede is hoekom Jesus hom die wonde gewys het.  Thomas was die enigste van die dissipels wat sy ongeloof verwoord het, maar wanneer ek na die ‘storie’ op televisie kyk, besef ek die ander was net so ongelowig.  Hulle wou ook nie glo toe Maria vir hul kom vertel die graf is leeg nie.  Hulle het soontoe gehardloop en eers toe hul die lappe optel, het hul begin glo, maar seker ook nog maar gewonder of iemand nie die graf oopgemaak en die lyk gesteel het nie.
God is getrou.  Soos wat Jesus Hom aan die dissipels openbaar het, sal Hy Hom ook aan jou openbaar.  Ons dien ‘n omgee God.


Wednesday 17 August 2016

Die Here is my herder

Psalm 23 : 1 Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Dit was nog altyd my mantra.  Wanneer ek deur moeilike tye gaan… as ek nie herwaarts of derwaarts weet nie…die Here is my herder.
Ek het al geld moes uitgee, wel wetend dat daar dan niks oor is vir die res van die maand nie. Dan haal ek eenvoudig diep asem en sê:  “Die Here is my herder, NIKS sal my ontbreek nie. 
Soos wat jy deur die Psalm lees, raak jy al meer bewus van Sy voorsiening.  Selfs in die dal van doodskaduwee, is daar geen vrees nie.  Wanneer die tafel gedek word, is dit tot oorbodens toe gelaai.  En boonop ‘n belofte van guns… nie guns wat jy moet gaan soek nie, maar guns wat jou volg… en jy wat in die Huis van die Here bly. 

Die Here is my herder, NIKS sal my ontbreek nie.  

Tuesday 16 August 2016

Mossie geloof

Matteus 6:26  Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?
Op wie vertrou jy vir voorsiening?  Jou werkgewer?  Jou salaris?   Jou ouers, man, vrou, kinders?  Het jy gemoedsrus oor die goed/mense op wie jy vertrou?  M.a.w. is daar waarborge?  Daar sal nooit personeelvermindering wees nie?  Jy is verseker van ‘n salaris vir die res van jou lewe?  Jy weet jou ouers, man, vrou, kinders sal vir jou sorg?
Op wie dink jy vertrou die wilde voëls vir voorsiening?  Die Engelse Bybel verwys na die sparrow (mossie)  Ek dink nie eens mossies vertrou nie.  Hulle WEET eenvoudig dat daar vandag iewers iets te ete sal wees.  Hoe weet ek dit?  Ek het hulle sit en dophou.  Eerstens, ek sien nie een van hulle wat paniekbevange rondhardloop en skree: “Dis nou al 10h00 en ek het nog niks te ete gehad nie!  Oh, my word, ek gaan omkom van die honger!  O, waar’s my Prozac?”  Tweedens, ek het nog nooit ‘n maer mossie gesien nie, wel ook nie ‘n oorgewig een nie.  Wie dink jy sorg vir hulle?  Hul Skepper sorg vir hulle. 
Nou lees ons weer die teks.  Kry jy waarheen ons hiermee oppad is?  So hoekom vertrou jy op alles rondom jou, behalwe jou Skepper?  Besef jy nie dat Hy jou ontsettend lief het nie?   Selfs meer as die wilde voëls, gras en lelies van die veld nie?  Jy weet immers dat Hy jou so liefgehad het dat Hy Sy eniggebore Seun gestuur het om vir jou aan die kruis te sterf.  As daar ooit Iemand was wat ‘n waardige getuigskrif het, dan is dit Hy.  En tog stel jy Hom nie aan oor jou lewe nie!  En dan wonder ons steeds hoekom ons op anti-depressante is en geen hoop vir die toekoms het nie!

Daarom het ek besluit om Hom te vertrou vir my toekoms.  Ek is reeds deur 8 herstrukturerings.  Daar kom ‘n punt waar enige iemand moet besluit:  Tot hiertoe en nie een tree verder nie.  I’ve been backing the wrong horse!  Dit was nie ‘n maklike besluit nie, maar weereens het ek gemoedsrus omdat God my tot op hierdie punt gebring het.  Ek het mossie geloof!

Monday 15 August 2016

'n Buitengewone God

Genesis 18 : 14  Is iets te buitengewoon vir die Here?
Ons lees in Die Bybel van vele buitengewone gebeurtenisse.  Die een van Abraham en Sarah is beslis buitengewoon.  Sarah was nie net oud nie, sy was kinderloos en sy het al tot so ‘n mate hoop opgegee dat sy selfs vir Abraham toestemming gegee het om by hul huishulp te slaap om ‘n kind te verwek sodat hy ten minste ‘n nageslag kon hê.  Kan jy jouself die hartseer van hierdie vrou indink? Nie net is haar moederskoot leeg nie, maar sy moet die vernedering deurgaan van Hagar wat haar man die een ding gee wat sy hom nie kon gee nie… ‘n eie kind.  So stap die jare aan en Sarah weet dat daar geen hoop op ‘n eie kindjie is nie.  As ‘n sy dan afluister en hoor die engel sê dat hy oor ‘n jaar gaan terugkom en dat Sarah dan ‘n kindjie sou hê, het sy uitgebars van die lag.  Ek dink ek sou ook aan die giggel gegaan het.  Sarah is amper 100 jaar oud… hoe belaglik! 
Belaglik in menslike terme, ja… nie as jy ‘n God dien wat spesialiseer in die buitengewone nie. 
Waarvoor bid jy?  Glo jy heimlik dat dit onmoontlik is?  Is dit wat jy deurgaan so moeilik dat God dit nie radikaal kan omkeer nie?  As God ‘n bar moederskoot kan laat blom vir Sarah, dink jy nie dat Hy ten minste jou ‘probleempie’ kan oplos nie? 
Ons bid, maar glo ons regtig?  Het jy al jou geloof daadwerklik gedemonstreer?  Of bly dit maar by bid en lippetaal? 

Ek het al meer as ‘n 1000 dagstukkies gepubliseer en vir jare al praat ek oor geloof en vertroue.  Daarom is dit hoogtyd om God te vertrou.  Ek het my werk opgegee en ek vertrou God volkome vir die toekoms.  Nee, dis nie ‘n blinde sprong nie.  Na jare van bid en vra, het ek my boodskap hard en duidelik gekry.  Bid is een ding.  Vertrou is heeltemal ‘n ander ding.  Nou vertrou ek God vir buitengewone deurbrake en wonderwerke.  Ek WEET dat niks vir Hom onmoontlik is nie en daarom is ek ontsettend opgewonde.

Sunday 14 August 2016

Doen dit!

Johannes 2 : 5 Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.”

Ons lees van Jesus wat modder op ‘n blinde man se oë sit en hom toe beveel om die modder in die Siloambad te gaan afwas.  Siloam beteken die een wat gestuur is.  Dit maak nie regtig sin nie.  Jesus kon die blinde op die plek genees het. Hoekom stuur hy hom na die bad? 

Die blinde man kon ook besluit het dat dit verregaande is en daar en dan die modder van sy oë gevee het.  Of hy kon besluit het dat hy as blinde dit nie op sy eie tot by die bad kon maak nie.  Hierdie man het egter nie verskoning gemaak nie.  Hy het Jesus onmiddellik gehoorsaam, na die bad gegaan en die modder afgewas.  Oombliklik kon hy sien.

Die les wat ons hierin leer, is dat gehoorsaamheid daartoe lei dat jou grootste drome en begeertes waar word. 

Ongelukkig verloor ons ook dikwels uit op seëninge omdat ons ongehoorsaam is.  Ons besef dalk nie eens dat ons ongehoorsaam is nie, want ons maak dit af as onrealisties idees of drome.  Of ons dink ons het verkeerd gehoor.  So byvoorbeeld word jy deur die Heilige Gees gelei om jou werk te bedank en vir God te werk.  Jy ignoreer die boodskap omdat jy wonder hoekom dit nodig is aangesien jy heel gelukkig is in jou werk en doen waarvan jy hou. 

Ai, wanneer gaan ons leer om God te vertrou?  Waar sou ek en jy vandag al gewees het as ons net na die stem van God geluister het en in gehoorsaamheid geleef het?

Is jy besig om jouself uit iets te praat omdat jy reken dis nie prakties of maak nie sin nie?  Hou op om uit te stel. Doen dit eenvoudig.  Gehoorsaamheid ontsluit ‘n skatkis van wonderwerkende krag van God.

Thursday 11 August 2016

Moontlikhede of beperkings

Efesiërs 2 : 6 – 7  Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

Die oomblik dat God Sy oë op jou lê, sien Hy onbeperkte potensiaal, moontlikhede, bronne.  God se guns wat op jou rus, bemagtig jou op elke moontlike manier. Dis net… jy sien nie wat God sien nie.  Jy sien tekortkominge, toe deure en teenstand.  Hoekom sien jy nie wat God sien nie?  Omdat jou hart gesluit is, beperk jy nie net jouself nie, maar jy beperk ook vir God.

Nou mag jy vra:  “maar hoe beperk ek vir God?”  Jy beperk hom met jou gedagtes… gedagtes van twyfel, ongeloof, onvergifnis.

In Markus 6 lees ons dat God nie een wonderwerk in ‘n spesifieke dorp kon doen as gevolg van die ongelowigheid van die mense wat daar gewoon het.  Dieselfde redenasie geld vandag steeds.
Aan die ander kant… wanneer jy gedagtes van geloof en verwagting koester, maak jy die deur vir God oop om in jou lewe te werk.


Dus… vertel jy jouself voortdurend wat nie kan gebeur nie… of vertel jy jouself wat kan gebeur. Sien eerder geleenthede en moontlikhede raak. Droom sonder enige perke. 

Wednesday 10 August 2016

Vandag!

Vandag is ‘n nuwe dag en ‘n nuwe dag beteken nuwe geleenthede vir God om iets asemrowend in jou lewe te doen.

So dikwels wag ons vir more, volgende week, volgende maand, selfs volgende jaar om voorspoed of geluk te ervaar.  Die goeie nuus is dat jy nie hoef te wag nie.  Vandag is die begin van die res van jou lewe!

Guns, seen, genesing, deurbrake, voorspoed… dis alles beskikbaar vandag… vir jou.  Hoekom wag op eendag om gelukkigte wees, beter tevoel, sukses te behaal… wat ook al?  Soms dink ek ons hou daarvan om te wag.  Ons is so goed gemanierd en geduldig. 

Daar is niks mee verkeerd om te beplan en te droom oor die toekoms nie.  Solank ons net nie so gefokus is op die toekoms dat ons die hede uit die oog verloor nie.  God sit met soveel seëninge wat Hy wil uitdeel… hoekom kan jy nie die een wees wat dit vandag vir jou toeëien nie?

God is die groot ‘Ek is’, nie die groot ‘Ek was of sal wees’ nie.  God is ‘n teenwoordige God.

Het jy al ooit 2 Korintiërs 6 : 2 gelees?  Dit is vandag joune.  Kyk, nou is dit die regte tyd…
Sien jy dit? Lees dit weer.  NOU… nie eendag iewers in die toekoms nie… NOU!  God wil jou vandag oopmond laat staan.  Sê vir jouself:  “Ek is gereed.  Ek sal my horisonne moet verbreed sodat daar genoeg spasie is vir God om te beweeg.  Ek moet my beperkte denke oopgooi sodat daar geen beperking is nie.  Vandag is die dag… Vandag is MY dag. Ek is gereed!"

Jy sien, God ontmoet die mens op dieselfde vlak van jou verwagting.  As jou verwagting vir R200 is, gaan jy R200 kry.  As jou verwagting onbeperk is, is God onbeperk in Sy vermoëns.


God is met jou op hierdie oomblik.  Glo met elke vesel van jou wese in God se voorsiening in elke enkele aspek van jou behoeftes.  

Tuesday 9 August 2016

'n Jaar vol mylpale

Spreuke 31:2 My seun, my kind wat ek in die wêreld gebring het, oor wie ek 'n gelofte gedoen het,

My seun is vanjaar in matriek.  Soos jy weet, is dit ‘n jaar vol mylpale.  Vroeër vanjaar is hy aangeneem en voorgestel in die kerk… die einde van Sondagskool.  Later vanjaar is dit die matriekafskeid.  So ‘n rukkie gelede het hul ‘forty days’ gevier en binnekort is dit die rekord eksamen… en dan die eindeksamen en die wye wrede wêreld.  Een van die groot mylpale is om jou 18de verjaardag te vier.  Deesdae is dit die verjaardag waarop jy die volwasse wêreld betree.  En jy moet jou bestuurderslisensie bekom! 

Sedert hy verlede jaar sy leerlinglisensie gekry het, gee ek en pa om die beurt bestuurslesse.  Aan die begin was dit senutergend, maar ouers moet ook hul vermoëns vertrou.  Deesdae sit ek gereeld op die agterste sitplek sodat die manne hul ding doen.

Daar kom egter ‘n tyd dat jy besef jy kan hom net tot sover leer, dan moet ‘n kundige oorneem om daardie gevreesde K53 manier van bestuur te bemeester.  Dis ‘n heel ander manier van bestuur.  Boet bring sy kant en vaar goed.  Saans bestudeer hy die tegniek op papier en oefen alles wat ‘die tannie’ hom geleer het.  Uiteindelik breek die groot dag aan… die dag van sy ‘uitpassering’.  Hy het ‘n 2 uur les vooraf en 10h00 is die oomblik van waarheid.  Die druk is soveel groter omdat dit sy verjaarsdag ook is… sy 18de verjaarsdag. 

Ek bid:  “Here, hy is ‘n verantwoordelike jong man wat sy kant gebring het.   As daar een persoon is wie ek agter ‘n motor se stuur vertrou, dan is dit vir hom.  Here, ons hoor so baie hoe mense die eerste keer ‘dop’.  Mag geregtigheid vandag seëvier…Mag harde werk en toewyding vrugte afwerp… as dit U Wil is… baie dankie.   En Here, wees tog met hom… maak hom kalm en laat die verkeersbeampte tog menslikheid openbaar.  Amen.”  

Kwart voor 11 kan ek dit nie meer hou nie.  Ek stuur ‘n boodskap:  “Ek wag in spanning.  Enige nuus?”  Tien minute later lui my foon.  “Ek het hom, Mamma!  Ek het hom!”  “Dankie, Here” prewel ek.  “Ek is so trots op jou seun! Knapgedaan! Lekker verjaarsdag geskenk ne?"


Amazing!  En nou staan die koutjie se deurtjie oop en moet ek glo dat ons hom ‘reg’ grootgemaak het.  May God be with you, my child.

Sunday 7 August 2016

Die sambreel

Genesis 28:15  Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan

Een middag toe ek die bus huis toe moet haal, reën dit onophoudelik.  Teen my natuur in, leen ek ‘n sambreel. 

Ek klim op die bus.  Elkeen probeer so min as moontlik spasie opneem. Jy sit gewoonlik met alles op jou skoot.  Die sambreel is ‘n bietjie lank, so ek plaas dit langs my.  Wanneer jy naby die punt kom waar jy moet uitklim, staan jy gewoonlik op en beweeg vorentoe waar jy die knoppie kan druk om aan te dui jy wil uitklim.   Eers toe ek buite die bus die sagte reën op my voel, besef ek die sambreel is steeds op die bus.  

Omdat dit nie my sambreel is nie, weet ek, ek moet dit kry of vervang.  Ek skakel die busdiens die volgende dag.  Hulle gee vir my ‘n verwysingsnommer en ‘n telefoonnommer om te skakel.  Die nommer bly beset.  Dis ‘n deurskynende plastiek sambreel wat die persoon gebruik as sy haar seun se wedstryde in die reën bywoon. Sy kan dit laag oor haar trek en steeds deur die plastiek sien.  Ek begin soek ‘n soortgelyke sambreel, sonder sukses.  As ‘n laaste hoop, skakel ek Checkers se kliëntediensafdeling en beskryf die sambreel wat ek soek.  Die dametjie onderneem om al hul takke te fynkam op soek na die spesifieke sambreel.  Gelukkig is die persoon wie se sambreel dit is, ‘n week uitstedig.

Na ‘n week, skakel Checkers.  Hulle het die sambreel opgespoor.  Ek is so bly en dankbaar.  Ek gaan kry dit by die tak en die Maandag toe die persoon terug is by die werk, oorhandig ek die sambreel.  Sy kom nie eens agter sy’t ‘n splinternuwe sambreel nie. 

Die volgende oggend klim ek op die bus.  Daar is nie voor plek waar ek gewoonlik sit nie, so ek stap tot heel agter.  Net toe ek gaan sit, draai ‘n dametjie om en vra of ek nie my sambreel op die bus vergeet het nie.  Kan jy dit glo?  In vandag se wêreld waar jy niks en niemand kan vertrou, het iemand my sambreel geneem en dit veilig gehou.  Ek vertel vir haar die storie.  ‘n Paar dae later is ek en die sambreel verenig en ek is ‘n vriendin ryker… ‘n pragtige kind van God. Toe eers vertel ek die persoon wie se sambreel ek geleen het die hele storie.


Ek glo dat dit ‘devine intervention’ van God was.  God gee selfs om oor ‘n eenvoudige sambreel.

Thursday 4 August 2016

Prys God

Psalm 34 : 2        Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.

Wanneer jy wakker word in die oggend, wat is jou eerste gedagte?  Sug jy en dink onmiddellik aan al jou probleme… aan nog ’n moeilike dag wat voorlê… sien jy op na die dag?  Dalk reken jy selfs gou uit hoeveel ure voor jy weer by die huis kan wees… jou hawe van veiligheid. 

Of verwag jy God se goedheid?  Sê jy vir jouself:  “Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ek daaroor juig en vrolik wees.  Ek kan nie wag om te sien watter verrassings God vir my in stoor het nie.  Jipee!  Laat hierdie dag begin.”


Dit maak nie saak wat gister, verlede week, verlede maand of verlede jaar gebeur het nie.  Vandag is die begin van die res van jou lewe.  Jy beskik oor die vermoë om ‘n verandering te bewerkstellig. Alles mag teen jou wees.  Miskien het jy min geleenthede gehad of dalk het jy nie eens al die geleenthede gebruik wat oor jou pad gekom het nie.  Verwyte en spyt behoort tot die verlede. Van hierdie oomblik kyk jy vorentoe.

Wednesday 3 August 2016

See toe!

Matteus 21 : 21  Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.

Ek het ‘n berg in my lewe, maar ek weet goed ek is nie die enigste mens met ‘n berg nie.  Elkeen van ons het een of ander berg.  Dit sal maklik wees om met jou te praat oor my berg.  Ons kan lekker derms rei gen elkeen kan sy prentjie so goed moontlik skilder.   Op die ou einde gaan ons ‘n hele gallery prentjies hê.  Ons kan praat tot die perde huis toe kom, maar ongelukkig gaan dit niks aan ons situasie verander nie.  Wat meesal gebeur is dat die situasie al erger lyk, hoe meer jy daaroor praat.  Op die ou end is dit al waaroor jy kan dink. 


Praat met God daaroor.  “Here, U ken my situasie. U weet hoe hopeloos dit lyk, maar dierbare Here, Ek weet dat U hierdie probleem kan omkeer.  Hemelse Vader, verwyder elke gryntjie twyfel en ongeloof uit my hart.  Vul my met Goddelike geloof en vertroue.  Van hierdie oomblik af glo ek wat U in my hart plaas.  Ek vul my gedagtes met gedagtes van hoop.  Uit my mond kom positiewe woorde en lofprysing.  Dankie Hemelse Vader dat ek my vertroue in U kan plaas.  Ek vra dit nie uit verdienste nie, maar enkel en alleen uit genade. Amen.”

Monday 1 August 2016

As God voorsien

Genesis 22 : 14  Op die berg van die Here word voorsien.”

Ons soek nou al geruime tyd na ‘n tweedehandse motortjie vir my seun wat hopelik binnekort sy bestuurderslisensie gaan kry.

Daar is baie kansvatters.  Elkeen probeer om ‘n vinnige paar rand te maak.  So sien ek hierdie motortjie op Gumtree.  Die persoon nooi jou uit om alle ure te skakel.  Dis vroegoggend en ek neem ‘n kans om te skakel.  “Die motor is so te sê weg,” se die man.  Ek vra:  “Wat beteken so te sê?  Of die motor is daar of hy is weg.”  “Wel, die mense bring die geld vanoggend,” sê hy.  Ek gee gelate toe, maar vra dat hy my skakel as die mense nie met die geld tevore kom nie.  Skaars tien minute later lui die foon:  “Mevrou, jy het my nou so sleg laat voel.  Die ander mense wil die kar koop om te verkoop.  Dit klink of jy dit regtig nodig het.  As jy dit wil hê, kan jy dit maar kry.” 

Ek spreek af om die motor te gaan besigtig.  Hy onderneem om die waterpomp te laat regmaak intussen.  Ons begin WhatsApp.  Sy profiel prentjie het ‘n diep geestelike boodskap.  Ek begin God se hand in die situasie sien.  Daar gekom lyk die motortjie op die oog af heel goed.  Daar is ‘n bietjie roes bo die voorruit, maar andersins lyk dit netjies en goed versorg.  Nadat ek ‘n draaitjie gery het, word die transaksie beklink.  Ek betaal ‘n deposito en hy onderneem om die motor deur die toets te sit en te registreer op my naam. 

So het ons ‘n motor vir my seun bekom… een uit God se hand.  Ek hoef nie bekommerd te wees oor my veiligheid tydens die transaksie en of die papierwerk wettig is al dan nie, want alles werk deur die handelaar en hy doen al die dinge waarvan ek geen kennis het nie.

My seun is in die wolke oor die motortjie en nou meer as ooit gemotiveerd om sy lisensie met die eerste probeerslag te kry. 

Dankie, Hemelse Vader vir U voorsiening

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...