Monday 31 October 2016

Groen gras

Maleagi 2 : 16  Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.

Dis hartseer en ontstellend om te sien hoe maklik huweliksmaats deesdae swig onder die groen gras wat aan die anderkant van hul huweliksheining groei.

Huweliksbeloftes is nie leë woorde nie, dis ‘n heilige belofte wat voor God afgelê word.  God gaan die verbreking van hierdie beloftes nie ligtelik opneem nie – Hy haat egskeiding. 

Al lyk die probleme in jou huwelik ook hoe onoorkombaar, vra God om julle te versoen.   Daar is tye dat God egskeiding toelaat, maar egbreuk is nie een daarvan nie.  Wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.

Dalk is jy die derde party in ‘n huwelik.  Wil jy nie vir een keer die minste wees en jou gesteelde geluk tweede stel nie?  Stuur hom / haar terug na hul huweliksmaat.  Daardie huwelik staan ‘n kans as jy uit die prentjie tree.


Die gras is gewoonlik net groener aan die anderkant omdat dit meer water kry.  Neem jou huweliksbeloftes ernstig op en begin dit water gee sodat daardie kwynende huweliksplantjie weer kan opstaan en floreer.  Die grootste geskenk wat jy jou kinders kan gee, is om vir hul ma/pa lief te wees, soos jy voor die kansel beloof het. 

Sunday 30 October 2016

Mans

Genesis 1 : 26 Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”
Mans is besig om ‘n identiteitskrisis te ontwikkel.  Aan die een kant moet hulle hard wees – ‘n man huil nie.  Aan die ander kant word daar van hulle verwag om meer betrokke te wees by die kinders en die huishouding.  En dis goed so.  Meeste vroue is dankbaar dat hul mans deesdae meer huislik is en nie skaam is om hul gevoelens te wys nie.

Die krisis ontstaan met al meer mans wat hul werk verloor en nie meer die broodwinner is nie.  Hul voel nie meer soos ‘n man nie omdat hul nou tuis bly waar hul kos maak en huis skoonmaak.  Dit wat hul as man tot nou toe gedefineer het – om vir hul vrou en kinders te sorg – het oornag verander.  Hul manlikheid is aangetas en ongelukkig soek baie van hierdie mans troos by die bottel.

Vrouens kan ‘n groot rol speel om mans weer hul waardigheid terug te gee.  Ondersteun hom en laat hom steeds voel soos die een wat heers.  Soms word die rolle omgeruil, maar dit hoef nie die kardinale rol van manwees om te ruil nie.  Hy is steeds die hoof van die huis en die een na wie almal opsien.


Die tyd het aangebreek om ‘n spesie wat op die rand van uitsterwing staan te red – ons mans.

Wednesday 26 October 2016

Moeg gespartel

Eksodus 23 : 22  As jy goed ag gee op hom en alles doen wat Ek sê, sal Ek die vyand van jou vyande wees en die teëstander van jou teëstanders.

So dikwels probeer ons op eie krag die probleme van die lewe uitsorteer.  Ons is moeg gesukkel en moeg gestoei.  En om eerlik te wees, al die gestoei werp nie juis veel vrugte af nie.  Nes ons die een vuur doodgeslaan het, vlam ‘n ander weer iewers op.

Rekeninge stroom in en die begroting wil eenvoudig nie klop nie…  Ons speel die lotto, gaan casino toe, maar die geluksgodin bly ons ontwyk…  Ons is ongelukkig by die werk, maar kan eenvoudig nie ‘n ander pos kry nie…  Die man of vrou wat ons hele lewe was, het ewe skielik belangstelling in ons verloor…  Ons baas is onredelik en onregverdig…  Die kinders by die skool boelie ons…

Haal jou oog van die probleme af ek focus op God.  Die woorde in Eksodus 23 iskragtig.  Jou vyande en teestanders staan nie ‘n kans nie. 


When all else fails, read the instructions… Jou eie pogings werp nie vrugte af nie, lees die instruksie (Die Bybel) en glo aan Sy beloftes. Ek kan nie jou probleme wegneem nie, maar ek kan jou verseker dat God daartoe in staat is… as jy Hom genoeg vertrou.

Tuesday 25 October 2016

Om jou volle potensiaal te bereik

Job 6 : 13 Self is ek tot niks in staat nie.

"Jare gelede het 'n jong swart seun in Cleveland grootgeword in 'n huis wat later beskryf het as "arm in materiële aarde, maar ryk in geestelike waardes..."  Eendag het 'n beroemde atleet, Charlie Paddock, hulle skool besoek om met die leerders te praat...  Op daardie tydstip is Paddock beskou as die vinnigste atleet in die wêreld.  Hy het aan die leerders gesê: "Luister!  Wat wil jy word?  Noem dit, en God sal jou help om dit te wees..."  Een seuntjie het op daardie dag besluit dat hy ook die vinnigste mens op aarde wou word.

Die seun het na sy afrigter gegaan en hom vertel van die nuwe droom.  Die afrigter het vir hom gesê: "Dit is goed om 'n droom te hê, maar om jou droom te bereik sal jy 'n leer daarheen moet bou...  Die eerste trap is beslistheid.  Die tweede trap is toewyding.  Die derde trap is dissipline.  En die vierde trap is gesindheid."  Die gevolg van daardie inspirerende aanmoediging is dat die jong man voortgegaan het en vier goue medaljes in die 1936 Olimpiese Spele gewen het.  Hy het die 100m naelloop gewen en het die Olimpiese rekord en wêreldrekord vir die 200meter oortref.  Sy verspringrekord het 20 jaar gestaan - Sy naam was Jesse Owens..."  ¬ A.T Schofield


Die sleutel hier is dat Jesse gehoor en geglo het dat hy alles kon bereik omdat God hom sou help om sy drome te bewaarheid. Waaroor droom jy?  Glo jy dat God jou sal help?

Monday 24 October 2016

Oud en in die pad

Psalm 71 :9 Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud  geword het nie, moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie.
Onthou jy nog jou kinderdae?  Jou ouers wat daar was vir jou toe jy die eerste dag skool toe is… nagte by jou omgesit het terwyl jy masels of waterpokkies gehad het… vir skoolklere gesorg het… kos op die tafel… jou einas beter gesoen het… jou getroos het soos net ‘n ouer kan… langs die sportveld was… wat hulself tekort sou doen sodat jy kon kry wat jy nodig gehad het… wat jou gehelp het om op jou voete te kom… en gesien het hoe jy sukses bereik… wat so trots is op jou en alles wat jy bereik het dat dit al is waaroor hulle kan praat…

Wanneer laas het jy hulle besoek?  Wanneer laas het jy tyd met hul spandeer?  Dalk is jy te besig – jy het eenvoudig nie tyd nie.  Net jy sal weet.  Dalk was jou ouers nie juis model ouers nie. 

Dit breek my hart om te sien en hoor hoe mense hul ouers eenkant toe stoot.  Die persoon wie aan jou die lewe geskenk het, die persoon wat die rede vir jou bestaan is, is oorbodig.  Ons word almal oud en ek glo nogal aan die gesegde: “wat jy saai, sal jy maai.”

Daar word ook gese: “ Wees goed vir jou kinders, want hulle moet eendag jou ouetehuis kies…”

Sunday 23 October 2016

What He means

Moenie ‘n man op sy baadjie takseer nie…  beslis nie vir Ard Matthews van Just Jinjer (voorheen Just Jinger)nie.  Hierdie Suid-Afrikaanse groep het al regoor die wêreld getoer en verhoe gedeel met wereldbekende orkeste en groepe.
Jy sal dink hy’s ‘n man van die wêreld, tot jy sy liedjie: “What He means” hoor
Top of Form
if there is grace in this world
if there is light on this earth
let us use it
let us see it
starting right now
can we be down with ourselves
respectful and mindful of one, of one another
your significant other
your sister your brother
peace, love, more tolerance
faith hope, trust in the same name of God
peace, love, more tolerance
faith, hope trust in the same God in whose
name we die for, take an innocent life for
that’s not what He means
and it doesn't matter what book you read
is there relief up ahead
cos judgment and hearing await
a weight on our minds to bear
a shame on our heads to wear
where is salvation in love
now that we have what we want
now that we have our wars
peace, love, more tolerance
faith, hope trust in the same God in whose
name we die for, take an innocent life for
that’s not what He means
and it doesn't matter what book you read
with a little bit of ease and a little bit of calm
acceptance is the key to all we know
what about a stir of compassion and lenience
what about some understanding
what about some sympathy
peace, love, more tolerance
faith, hope trust in the same God in whose
name we die for, take an innocent life for
that’s not what He means
and it doesn't matter what book you read
freedom, kindness, warm deliverance, comfort, mercy
redemption song
redemption song
redemption song
freedom, kindness, warm deliverance, comfort, mercy
redemption song
redemption song
redemption song
peace, love, more tolerance
faith, hope trust in the same God in whose
name we die for, take an innocent life for
that’s not what He means
and it doesn't matter what book you read

  

Thursday 20 October 2016

Een met Christus

Efesiers 2 : 13  Maar nou is julle een met Christus Jesus

Besef jy wat ‘n ongelooflike oomblik dit werklik is, wanneer jy tot bekering kom?  Dit is die oomblik dat jy een met Christus word en daarom jouself ‘n Christen noem.

Wanneer jy een word met Hom, is daar geen onderskeid tussen jou en Christus nie.  Jul dink dieselfde, praat dieselfde, glo dieselfde, tree dieselfde op.  Jy is Hy en Hy is jy. 

Maar daarmee saam kom ‘n massiewe verantwoordelikheid.  Ons kan net bid dat ons Hom waardig is en Hom nie in die steek laat deur ons woorde en ons dade.

Hoeveel Christene het jy vandag teegekom?

Wednesday 19 October 2016

Afgode

Levitikus 19 : 4  Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God

Alhoewel ons nie meer afgodsbeelde maak nie, beteken dit nie dat ons nie afgode het nie. 

Vir party van ons is ons diere afgode. Hulle word aangetrek, menskos gevoer en slaap selfs by ons in ons bed.

Daar is diegene wat van sport ‘n afgod maak.  Geen wedstryd word gemis nie.  As hul na ‘n wedstryd gaan kyk, is hulle aangetrek in hul span se kleure, die gesigte word geverf en hul moedig hul span met oorgawe aan.  Voor die wedstryd en lank daarna word oor niks anders gepraat nie.

Party van ons het van ons huise afgode gemaak.  Die huis word versier met net die beste en duurste.  Vriende is te bang om te kom kuier of voel ontuis.

Ander maak weer van kos ‘n afgod.  Alles draai om kos.  Elke maaltyd word ‘n ritueel.  En wanneer daar nie geëet word nie, word daar aan kos gedink of daaroor gepraat.


Dalk beskou ons nie enige van hierdie as afgode nie.   ‘n Goeie toets is om jouself af te vra of jy dieselfde of meer geld, tyd of energie aan God afstaan.  Indien nie, is dit dalk tyd om jou prioriteite in heroorweging te neem.

Wees gewapen

Lukas 11:21 “Wanneer ‘n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig.

Met die dat ek nou so vasgevang is met my groentetuin, het ek nie opgelet hoe die onkruid op ons grasperk oorneem nie.  Amper oornag het onkruid ons grasperk oorgeneem.

Die werkplek is nie veel anders nie.  Ons raak so besig met ons dagtake dat ons nie oplet dat ons lewenstuin oorgroei raak met onkruid nie.  Vuil grappe, ‘n vloekwoord hier en daar, skinder… en so neem die onkruid oor.

Ek het eers die onkruid probeer uittrek, maar gou besef ek staan nie ‘n kans nie.  Daarom is ek na die kenners waar ek myself bewapen het met die nodige onkruiddoder. 

Ook ek en jy moet paraat wees en die ‘onkruid’ met die regte ‘plaagdoders’ bestry.  Alvorens ek die plaagdoder kon spuit, moes ek die voubiljet noukeurig lees.  Die Bybel is ons ‘voubiljet’ in die lewe.  Ek en jy kan dit noukeurig lees en die instruksies net so noukeurig volg om seker te maak ons ‘plaagdoder’ is effektief.  

Tuesday 18 October 2016

Moet oor niks besorg wees nie

Filippense 4 : 6 - 7 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.  En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Dit is nie maklik om na God se stem te luister nie.  Jenny Lind was 'n bekende Sweedse Operasangeres, wat ook as die nagtegaal bekend gestaan het.  Op die kruin van sukses, terwyl sy 'n baie goeie inkomste verdien het, het Jenny uit die kollig getree.

Jare later toe 'n vriend haar raakloop waar sy langs die see met haar Bybel op haar skoot sit en die sonsondergang bewonder, wou hy weet hoe sy 'n suksesvolle beroep kon prysgee.  Sy het oor die Bybel gevryf en gesê "Ek het gevind dat ek elke dag minder tyd hieraan bestee het, en ek het nooit tyd gehad om dit (sy beduie na die sonsondergang) te aanskou nie."  Die besluit was maklik.

Ons jaag elke dag sukses, roem en 'n beter lewe na, maar wat gee ons prys?  Is die kool regtig die sous werd?  Verkoop ons nie ook maar ons siele vir 'n pot lensiesop nie?

Monday 17 October 2016

'n Christelike huis

2 Timoteus 1 : 5  Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.

Baie van ons is geseënd omdat ons in ‘n Christelike huis grootgeword het.  Ek onthou hoe my ouma by ons kom kuier en ‘n kamer met my gedeel het.  Sy was al te koud om te kniel, maar saans as sy die lig afgesit het, het sy regop bly sit op die bed – bene lank voor haar uitgestrek en haar hande saamgevou, dan het sy saggies gebid.  Haar gebede het my absoluut gefassineeer, want sy’t met God gepraat asof sy Hom geken het.  Ouma se gereelde gesprekke met God het verseker dat Hy alles van almal van ons ook geweet het, want sy sou in groot besonderhede oor elkeen bid.  Sy’t seker gedink ek slaap of dalk was sy so ingestel op God dat sy nie besef het ek kan haar hoor nie. Daarna sou ouma water drink uit haar silwer waterbeker en oomblikke later in ‘n diep slaap verval. Sorge sou haar nie uit die slaap hou nie, want alles was nou in God se hande.

Van ‘n baie jong ouderdom het my ma vir my uit die Kinderbybel voorgelees en die karakters het vir my lewend geword.  Die prentjies daarby het wondere gedoen vir ‘n kinderverbeelding bv die reuse tros druiwe waarmee Josua hulle uit Kanaan teruggekom het (Numeri 13). 

My pa het weer gesorg dat almal Sondag na Sondag gestewel en gespoor kerk toe is en Sondagskool bygewoon het. 

Elkeen van ons het die geleentheid om ons geloof oor geslagte heen te laat voortleef.  Die vraag is net of ons die geleenthede gebruik.  Stel ons ‘n voorbeeld vir ons kinders wat hul motiveer om God te dien?

Sunday 16 October 2016

Vrees hou jou terug

2 Timoteus 1 : 7 Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

God se wens vir ons is om voortuit te gaan, om nuwe hoogtes te bereik en nuwe fases in die lewe te betree.  Die vyand is berug daarvoor om jou met gedagtes van mislukking te vul.  “Sê nou maar jy misluk?  Wat sal die mense van jou dink?  Jy is in elk geval nie in staat tot so iets nie.  Dis nie vir iemand met jou agtergrond beskore nie.”  Met vrees laat hy jou terugkrimp en bly waar jy is.

Ons weet dat opregte liefde, soos God s’n vir ons, enige vrees kan uitwis.  Vrees hou jou terug van wie jy bestem is om te wees.  Met God kan jy immers ‘n bende stormloop.  Nooi Hom saam en vra na Sy wil vir jou lewe.  Deur Sy Gees, is ons gevul met krag, liefde en selfbeheersing.

Thursday 13 October 2016

Leef of bestaan?

Norman Cousins het gesê: "Iemand wat doodgaan, is nie die grootste verlies in die lewe nie. Die grootste verlies is dit wat binne-in ons sterf terwyl ons steeds leef. 
Spreuke 14:10  Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie.
Nou wil ek vir jou vra:  “Wanneer jy saans in die bed klim en terugkyk op jou dag, voel dit vir jou asof jy elke oomblik ten volle benut het of voel jy so bietjie skuldig oor ‘n dag wat eintlik vermors is?”  Net jy ken natuurlik die antwoord.

Daar word gesê ‘n mens besef eers die waarde van tyd wanneer jy op jou sterfbed lê en wens dat jy net nog tyd gehad het om dit te doen waarvoor jy natuurlik nooit tyd gehad het nie. 


Ongelukkig, moet ons erken, is ‘n gebrek aan tyd nie altyd die oorsaak dat sekere dinge agterweë bly nie.  Meeste van ons is skuldig daaraan dat ons nie elke sekonde tot ons beskikking ten volle benut nie.   Hou jouself dop en let op hoeveel kosbare minute onproduktief verbytik. 

Wednesday 12 October 2016

Ek het vandag vir jou gebid

Ek het vandag ‘n lied van Kobus en Ella Kotze in my kop… Ek het vandag vir jou gebid… Aag die presiese woorde ontgaan my nou, maar as ek vir jou kon bid, sou ek nie vir baie geld of rykdom gebid het nie, maar vir vreugde en geluk.  Dit moet daardie tipe vreugde wees wat jou van binne laat glimlag.  Alles rondom jou, elke mens met wie jy in aanraking kom, alles, moet jou laat glimlag en jou sommer net elke oomblik voluit laat leef.

Tuesday 11 October 2016

Here, praat met my

Wens jy ook partykeer jy kan God se stem hoor?  ‘n Vriendin van my sê altyd, sy’t nou al so gebid dat sy enige oomblik ‘n sms of email van Bo verwag.

Ek moet erken ek wil Hom ook hoor soos wat Hy met Moses, Dawid, Elia en vele ander gepraat het.  Soms probeer ek my indink hoe die lewe saam met Jesus destyds moes wees.  Oh my word, ek sou soos ‘n verliefde tiener al agter Hom aangeloop het en aan Sy lippe gehang het elke keer dat Hy ‘n gelykenis sou vertel.

Terug na die werklikheid.  God praat wel vandag nog met ons, maar op ‘n Goddelike manier, d.m.v. Sy Gees.

Joël 2 :  28 – 32 Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien.  In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie.  Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde: bloed, vuur en rookwolke.  Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom.  Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Op Sionsberg en in Jerusalem sal daar uitkoms wees. So het die Here beloof. Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is.

Sunday 9 October 2016

Two-tone

Openbaring 3:16  Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.

Nie so lank gelede, het my ketel die gees gegee en begin ek toe uitkyk vir ‘n nuwe een.  So kom ek toe op ‘n nuwe gier af:  ”two-tone”.   Alhoewel ek op soek is na ‘n swart ketel, sien ek toe ‘n swart ketel met ‘n wit handvatsel of ‘n wit ketel met ‘n swart handvatsel.  Dit het my geammuseer, maar dis nie iets wat ek noodwendig wil besit nie.  Uiteindelik het ek wel ‘n eenvoudige swart ketel gevind.
Maar die ervaring het my laat oplet hoe algemeen ‘two-tone’ eintlik is.  Daar is motors wat een kleur is, maar ‘n deel van die deur is ‘n swart, of die dak is ‘n ander kleur.  So let ek ook op hoe vrouens se hare onder donker is en bo lig. 

Dit het my laat dink dat iemand nie seker is watter kleur hul die meeste van hou en dus gaan vir ‘n kombinasie van twee kleure.  Party mense leef ook so ‘n kombinasie-lewe.  In die geselskap van gelowiges, is hul gelowig, maar sodra hul tussen hul kuier vriende is, pas hul persoonlikheid aan by hierdie groep se manier van doen en optree.

Om ‘n ketel of ‘n motor te kies, is maklik, maar as Christen moet jy baie mooi besluit of jy warm of koud gaan wees.  Tussen-in oftewel lou, het verrykende gevolge.

Thursday 6 October 2016

Hy sal jou trane afdroog

DIE Openbaring 21:4  Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Tydens my pa se siekte en veral die laaste maand van sy lewe, was ek voortdurend hartseer.  Ja, ek was hartseer oor hom en dit waardeur hy gaan, maar ek was oor baie ander dinge ook hartseer.  My pa het so ‘n tragiese lewe gely en hy het so min geleenthede gehad.  Ek was hartseer omdat soveel jare verlore jare.  Soms kon ek nie eens verwoord presies hoekom ek hartseer is nie, maar ek het hierdie leë pyn binne my gehad.

Is jy vandag hartseer?  Dalk is jy ook hartseer oor ‘n geliefde wat jy aan die dood afgestaan het.  Voel dit vir jou of jy nooit weer vreugde gaan ervaar nie? 

Openbaring gee ons weer hoop.  Op aarde sal daar altyd rede vir trane en hartseer wees, maar eendag sal God self ons trane afdroog en sal daar geen trane meer wees nie.

Wat ‘n wonderlike vooruitsig.

Wednesday 5 October 2016

Mars

1 Johannes 2:28  En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie.

Ek is trots op Elon Musk, gebore Suid-Afrikaner, wat groot sukses in Amerika behaal het.  Sy sukses strek oor vele velde.  Van elektriese motors tot ruimtevaart. 

Gedurende die week hoor ek hy gaan ‘n rit na Mars binne die volgende twintig jaar teen ‘n ongelooflike 500 miljoen present minder aanbied as vandag.  Prysenswaardig vir iemand gebore aan die suidpunt van Afrika. Jy kan nie anders as om hom te bewonder vir dit wat hy bereik het nie.
Maar dan hoor jy hom praat… van ‘n groot knal wat die aarde gaan vernietig en lewe wat op Mars sal voortbestaan. 

Wat dink jy?  Dink jy iemand kan God se oordeel vryspring as hy op Mars bly?

Mars is nie ver genoeg as God weer kom nie.  Slegs diegene wat in hom bly sal veilig wees en met afwagting Sy koms aanskou.

Tuesday 4 October 2016

Seisoen van guns

Efesiërs 2 : 10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Ek wens ek kon jou oortuig dat God vir jou net voorspoed beplan.  Waar jy jou op die oomblik bevind, is dit dalk moeilik om te glo, maar dit is so. 

Toe God hierdie planne vir jou gemaak het, het hy alreeds die regte mense in gedagte gehad.  Hy het elke skuif haarfyn beplan.  Die regte geleenthede en deurbrake is opgelyn.  Hy het alreeds die guns en bonatuurlike geleenthede vir jou gereed.  Dit waarop jy hoop, waarvan jy droom, is alreeds bestem om jou pad te kruis.

Hoekom gebeur dit dan nie?  Jy moenie moed opgee of moedeloos handdoek ingooi nie.  Fokus jou energie op vaste geloof en word ‘n persoon wat alles wat jy aanpak met oortuiging doen.  Selfs daardie minderwaardige taak wat jy so teen opsien, doen dit.  Maar moet dit nie met wrewel in jou hart doen nie, doen dit met ‘n lied in jou hart.  Jy mag dit dalk as ‘n vloek beskou, of misbruik, of onregverdig… God sien dit as nog ‘n tree tot waar Hy jou uiteindelik sien.  Tree vir tree nader jy jou seisoen van guns. 

Op ‘n dag gaan jy terugkyk en sien hoe God jou veilig tussen al die ‘ysberge’ deur gestuur het.

Monday 3 October 2016

Hemelse betaalmiddel

Matteus 21 : 22 As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

‘n Vriend van my sê altyd:  “There are no free lunches in Cape Town.”  Wat hy daarmee bedoel is dat niks regtig verniet is nie.  Aanvanklik mag dit dalk verniet wees, maar iewers gaan jy betaal.  Betaal is immers die wet van Transvaal. 

G’n wonder dat ons nie kan glo dat God nie geld aanvaar vir enige iets nie.  Ons kan nie eens werk daarvoor deur goeie dade te verrig nie.  Jou plek in die hiernamaals kan jy nie koop nie, al het jy ook Bill Gates se bankbalans.  Nou hoe gemaak om in die hemel te kom?  Geloof. Geloof is die hemelse betaalmiddel… die enigste betaalmiddel.

Geloof kan berge versit, deure oopmaak, ook geestelike deure.  Wat meer is, dit vermurwe God se hart.  Hy kan nie weier as Hy ware geloof aanskou nie.  En moet nou nie dink dat jy dan net sowel kan opgee, want jy’t nie genoeg geloof nie.  Nee, Romeine leer ons dat geloof kan groei.  Dit groei soos jy God se Woord hoor.  Hoe meer jy dit hoor, hoe meer groei jou geloof.  En dan besef jy dat jy God kan vertrou met klein en groot versoeke, want dit is al wat Hy van jou verwag om in beweging te kom. 

Sunday 2 October 2016

Hoop

Hebreërs 11 : 1  Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

Ons oordeel Thomas oor sy ongeloof.  Hy wou nie glo dat Jesus uit die dood opgestaan het nie.  Nee, hy wou sy vinger in die wonde druk om seker te maak dit was Jesus.

Is ons soveel anders as Thomas?  Ons vra ook voortdurend bevestiging vir dit waarin ons glo.  God het homself al oor en oor in ons lewens bewys, maar tog vra ons gereeld tekens.  Here, as dit moontlik is, gee my tog net ‘n teken.  Gee my tog net iets om aan vas te hou. 

Nee, sê God… as jy so skaamteloos hoop dat iets met jou sal gebeur, glo jy as’tware.  Al kan jy nie uitkoms sien nie, hoop jy daarop en daarom glo jy.  Daarom is hoop die enigste iets wat ons staande hou.  Ons hoop dat die onrus op universiteite sal bedaar.  Ons hoop dat wit, swart, pienk en pers mekaar sal aanvaar en liefhê, sonder voorbehoud.  Ons hoop dat mense sal ophou om hulsef te verryk.  Ons hoop dat dit binnekort sal reën.  Ons hoop dat alles sal goed gaan met die matrieks as hul binnekort met die eindeksamens begin.

Dankie Hemelse Vader dat ons mag hoop.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...