Wednesday 30 November 2016

Die geveg in jou kop

2 Korintiërs 10 : 4  Dus het ons nie ons perke oorskry deur tot by julle te kom nie. Ons het immers vroeër al tot by julle gekom met die evangelie van Christus.

Die Skrif leer ons dat daar voortdurend ‘n geveg in ons binneste plaasvind.  Ons denke dikteer ons aksies.  Dis hoekom die vyand alles sal doen on jou gedagtes in ‘n verkeerde rigting te stuur. Partykeer is dit nie ons eie denke wat ons terughou nie, maar die negateiwe dinge wat ander oor ons kwyt geraak het.  Daardie woorde is soos onkruidsaadjies.  Hulle skiet saad en jy kry hul eenvoudig nie uitgeroei nie.  Hoor nou mooi, as jy hierdie gedagtes ‘n halwe kans gee, gaan hul jou realiteit word.

Daar is mense wat die vermoë het om jou onder te kry.  Hul woorde of optrede verwond jou.  Hierdie mense se gedrag behoort nie ‘n invloed op ons te hê nie, want ons weet dis nie die waarheid nie, maar weereens kry dit vatplek wanneer ons dit nie uit ons kop kan kry nie. 

Op die ou end glo ons hierdie leuens en nie wat God van ons sê of dink nie.  Die enigste manier om die siklus te breek, is om te lees wat God oor jou sê.  Sy Woord is vol van liefdesbetuigings teenoor jou, so jy is spesiaal.  Hy het vir jou aan die kruis gesterf… jy is kosbaar.  Jou naam is in Sy handpalms gegrafeer!  

Tuesday 29 November 2016

God is daar elke tree van die pad

Psalm 32 : 8  Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou

Met die dat die matrieks klaarmaak met hul eindeksamen, is dit vir hul ‘n onseker tyd in hul lewe.  Besluite, besluite, besluit!  Ons is maar almal versigtig wanneer daar groot besluite geneem moet word.  Of dit nou besluite is oor jou beroep, verhoudings, of toekoms… dit bly belangrik om die regte besluit te neem. Die probleem is net dat ons nooit weet wanneer ons daardie besluit neem of dit die regte een is nie.  Ek het al besluite berou, maar die lewe is nie soos ‘n videoband wat jy kan terugspeel en van voor af begin nie.

Genadiglik weet God wat die regte pad is.  Jy mag Hom vra om jou duidelikheid of wysheid te gee om die regte besluite te neem.  Hy hou wag oor nou… elke tree van jou lewenspad.

Een ding moet jy weet, God is nie net op die eindbestemming ingestel nie, maar op elke fase van die pad.  Hy aanskou in verwondering hoe jy ontwikkel en groei.  Hy kyk afwagtend of jy groei in geloof.  Geloofsgroei vind gewoonlik plaas gedurende daardie tye dat die lewe met ons gebeur, wanneer omstandighede onseker is en jy tot die uiterste beproef word.  Dis wanneer ons meer op God vertrou.  Dit maak egter nie saak hoe onseker jy is nie, God hou deurentyd Sy oog op jou.  Onthou altyd dat God jou nooit, ooit in die steek sal laat nie, selfs wanneer jy geen idee het wat die toekoms inhou nie.

Monday 28 November 2016

Talente en geskenke

Spreuke 18 : 16  'n Geskenk maak vir 'n mens die pad oop en gee hom toegang tot mense met mag.

Wanneer mense die verhaal van Dawid en Goliat hoor, dink hul gewoonlik dit is alles te danke aan God en ja, in ‘n sekere sin was die hand van God betrokke, maar God het nie die slingervel geswaai nie.  Dawid het ‘n rol gehad om te vertolk.  God het vir Dawid die talent gegee wat hy ontwikkel het sonder dat hy ooit geweet het hy sou daardie talent eendag nodig kry op ‘n baie belangrike oomblik.

Net soos met Dawid, het God ook talente binne jou geplaas sodat jy jou reuse kan omklits.  Jy het alles binne jou om deure oop te maak.  Jou talente is genoeg om vir jou ‘n lewe van oorvloed te verseker, maar die sleutel tot sukses is dat jy jou talente moet ontwikkel.  Elke dag wat jy groei, leer en verbeter, is voorbereiding vir groter dinge.

Die geskenke / talente binne jou gaan vir jou die pad oopmaak en toegang gee tot die mense met mag.  Alles sal op die regte tyd gebeur.

Sunday 27 November 2016

Ek kan nie wag nie!

Psalm 118 : 24  Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees

Toe jy vanoggend jou oë oopgemaak het, wat was jou eerste gedagte?  Aag nee, die Maandag… hoekom is dit nie naweek nie?  O, hoe gaan ek deur hierdie week kom!  Urgh… 5 dae van werk… 5 dae saam met idiote… 5 dae onder daardie baas van my… En toe trek jy die kombers oor jou kop en besluit jy gaan nog so 5 minute lê om moed bymekaar te skraap om die dag aan te pak.

Ek gee toe, soms is dit bloot plig wat ons dwing om uit die bed te klim en te doen wat van ons verwag word.  Of soos ek altyd sing:  “I owe, I owe… and off to work I go.”  Wanneer jy aan jou verpligtinge dink, besef jy baie gou dat jy maar moet twee keer dink voor jy eenvoudig weier om te gaan werk.

Dalk sal dit help as jy jou uitkyk op die nuwe dag verander.  Dis ‘n dag wat God gemaak het.  Maak hy foute?  Nee, Hy het hierdie dag haarfyn beplan en Hy het jou nodig om jou deeltjie te gaan doen.  Staan met ‘n lied in jou hart op en weet dat jy vandag ‘n rol het om te speel.  Iewers kan God jou gebruik om iemand se dag op te helder.  Begin met afwagting uitsien na die geluk wat jy in iemand se oë gaan sien.  

Thursday 24 November 2016

Dankbaarheid

Tessalonisense 5:18  Wees in alle omstandighede dankbaar

Iemand sê die week iets wat my nogal aan die dink gesit het.  Wat sou ek vanoggend gehad het as ek net sou hê dit waarvoor ek God gister(aand) bedank het?

Ons neem soveel as vanselfsprekend dat ons vergeet of dink dit is nie nodig om dankie te sê nie.  Al is jy die rykste en vernaamste mens in die wêreld, is niks gewaarborg nie.  Jy mag reken jy het hard gewerk vir dit wat jy het, maar sonder die deure wat vir jou oopgegaan het, of die geleenthede wat oor jou pad gekom het, sou jy nie gewees het waar jy vandag is nie.  Wat ons het, is net genade. 

Daarom is dit nodig dat ons ‘n lewe van dankbaarheid leef.  Ek praat nie van ‘n jammer-dat-ek-leef houding nie, ek praat van erkenning gee vir die Een wat my met soveel seëninge bederf.

En as jy iemand is wat min het, dank God ook vir die min wat jy het.  Daar is altyd rede tot dankbaarheid.

Wednesday 23 November 2016

Homoseksualiteit

1 Korintiërs 6 : 9 – 10  Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie

Die relevansie van Die Bybel in vandag se tyd, word al jare lank bevraagteken.  Die mees onlangse debat rondom die toelaatbaarheid van gay huwelike in die NG Kerk is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Net omdat die samelewing iets aanvaar, beteken dit nie dat dit vir God aanneemlik is nie. 

Dit breek my hart om hierdie teks vandag te deel, want ek het dierbare gay vriende en kollegas en ek het hul nog nooit die rug gekeer, en sal ook nooit, want ek staan nie in hul skoene nie.  Juis daarom is dit nie vir my om te besluit wat is aanvaarbaar en wat is nie aanvaarbaar nie.  Net so is dit nie my besluit of iets sonde is, al dan nie.  Ek hoor ook Jesus se woorde:  “As een van julle sonder sonde is, tel dan die eerste klip op…” Ek sou ook moes omdraai en wegstap, want ek is nie sonder sonde nie en daar is nie groot en klein sondetjies nie. 

Elkeen van ons sal egter eendag rekenskap moet gee.  Die Bybel is egter ons kompas… dit wys ons duidelik watter rigting om in te slaan sodat ons eendag deel kan hê aan God se koninkryk.

Bid oor hierdie aangeleentheid en vra God om jou te lei.  Dit is seker een van die moeilikste paadjies om te stap.  God se liefde vir die mens kan nooit bevraagteken word nie.  Dit is net ons optrede / gedrag wat vir hom aanneemlik is of nie.

Tuesday 22 November 2016

God se planne

Genesis 50 : 20  Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen

Wanneer ongeluk ons tref, wonder ons dikwels hoekom God dit toelaat. 

Toe Josef se broers hom in die put gegooi het en hy as slaaf na ‘n vreemde land weggevoer is, het hy verseker ook gewonder hoekom dit met hom gebeur. 

Ons ken die geskiedenis.  Uiteindelik was Josef die persoon wat ‘n hele volk van hongersnood gered het.  Jare later kon hy die woorde in die teks hierbo teenoor sy broers uiter omdat hy toe eers God se plan verstaan het.

Of jy nou vandag deur ‘n egskeiding gaan, jou besigheid verloor het of werkloos is… waarmee jy ookal worstel, weet vandag dat God ‘n groter plan het.  Ek weet dit is moeilik om dit te glo, maar eendag gaan jy op hierdie tyd in jou lewe terugkyk en erken dat dit eintlik vir jou eie beswil was.

Ons wil so graag hê dat God dinge nou moet verander of ten minste weer maak soos wat dit was, maar dis nie altyd moontlik of nodig nie.  Partykeer is ons vir groter dinge bestem, soos Josef, en moet ons deur dit wat ons nou deurmaak groei om toegerus te wees vir ‘n groter taak.  Josef was die jongste en het ‘n beskermde lewe in sy ouerhuis gehad, maar God moes hom toerus vir iets baie groter.

Vertrou dat God in beheer is en laat Hom toe om jou te gebruik in Sy groter plan.

Monday 21 November 2016

Verslawing

1 Korintiërs 6 : 12  Daar is mense wat sê: “Alles is my geoorloof.” Ja, maar nie alles is heilsaam nie. “Alles is my geoorloof,” sê hulle. Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie.

Dwelms van enige aard is deesdae vryelik beskikbaar.  Daar word selfs gepleit dat dagga gewettig word… vir medisinale redes. 

Volgens kenners begin verslaafdes met iets ‘onskuldigs’ soos dagga of alkohol, dalk net as gevolg van groepsdruk.  Ongelukkig is dit nie waar dit bly nie en kort voor lank is iemand afhanklik van die middel. 

Miskien is jy in hierdie posisie, of iemand na aan jou.  Verslawing is ‘n monster wat nie sommer sy greep op iemand verslap nie.  Daar is mense wat redeneer dat die gebruik van dwelms nie sonde is nie, want daar staan nie in Die Bybel dat jy nie dwelms mag gebruik nie. 

Gaan jy sterk staan en weier om jouself te laat verslaaf?  Jou liggaam is immers ‘n tempel van God.

Sunday 20 November 2016

Leer my

Psalm 32 : 8  Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou

Ons wil so graag ‘n handleiding vir alles hê, maar wat die lewe aanbetref is daar nie ‘n handleiding nie, of so glo ons dalk.  Daar is egter iets veel beter as ‘n handleiding… God self wil jou die verskil tussen reg en verkeerd leer.  Hy wil jou wys waar om te loop en watter pad om te volg en dit alles wil Hy doen terwyl Hy Sy oog oor jou hou.

Hoe dikwels mis ons nie uit op hierdie wonderlike beskerming nie.  Ons is so eiewys en weet altyd beter.  Dis asof ons nooit ons ‘terrible two’s’ ontgroei nie.  Daardie myne, myne, myne mentaliteit duur voort.  Ons dink net aan onsself en wil net doen wat onsself tot voordeel sal strek.  Ons geen min om vir ons medemense.  Meeste van tyd is hul net ‘n irritasie in ons pad na ons ideale bestemming.

Dalk moet ons weer ‘kind’ word.  Meeste ouers probeer om hul kinders van kleins af te leer en net so is daar vir ons ‘n geleentheid om ‘geleer’ te word.

Laat toe dat God jou leer, rig en lei.  Ek glo vir geen oomblik dat Hy jou in die moeilikheid sal lei of sal laat faal nie.  Jy kan eintlik nie hierdie aanbod van die hand wys nie.  Die besluit bly egter joune.

Thursday 17 November 2016

Sigbare geloof

Lukas 5 : 20  Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.”

Partykeer kan ek en jy onsself darem lekker bejammer.  Ons is so jammer vir onsself en vertel ons verhaal vir een en elkeen wat ons mee in aanraking kom sodat hul ook simpatie met ons kan betoon.  Ons huil dat die trane spat en vra voortdurend: “Hoekom?  Wat het ek verkeerd gedoen? Hoe gaan ek ooit hierdeur kom?”

Het jy al ooit gewonder wat beweeg die hand van God?  Dink jy ons trane en selfbejammering beweeg Hom?  Hy is verseker jammer vir ons, maar of dit Sy hand sal beweeg…

Hy word ook nie beweeg deur ons behoeftes nie.  Ja, hy wil ons behoeftes bevredig, maar dan moet ons ook ons deel doen deur ons geloof te demonstreer.

Geloof beweeg God. Verskeie kere in die Bybel lees ons dat Jesus iemand genees het omdat Hy hul geloof gesien het.  Die vraag is of God jou geloof kan sien.

Wanneer God sien dat jy alles in jou vermoë doen om beter te word; wanneer Hy sien hoe jy elke dag jou bes doen, vroeg by die werk is, hard werk en ekstra insit sodat jy daardie bevordering kan kry; wanneer Hy sien hoe jy op jou tong byt om die vrede te bewaar; wanneer Hy sien hoe jy ander help terwyl jy eintlik die een is wat hulp nodig het… dit is wanneer buitengewonde dinge in jou lewe begin gebeur.  Geloof stoot alles uit die pad sodat God kan beweeg. Demonstreer jou geloof vandag en sit terug terwyl jy die hand van God in jou lewe sien beweeg.

Wednesday 16 November 2016

Stemmetjie

Psalm 121 : 7  Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.

Hoor jy soms hoe ‘n stemmetjie binne jou kop skree ‘pasop’ of ‘moenie’ as jy iets doen wat jy nie veronderstel is om te doen nie?  Sodra jy daardie ongemaklikheid ervaar, is dit nodig om te stop waarmee jy besig is en die situasie of omstandighede te evalueer. 

Dis jou innerlike alarm.  Iets is besig om die alarm te aktiveer, maar in Suid-Afrika is ons mos gewoond om alarms te ignoreer of te dink die fout lê eerder by die toestel as by die oorsaak.

Net so ignoreer ons ook daardie stemmetjie.  Ons wil nie nou deur ons gewete in toom gehou word nie.  Ons wil doen wat ons wil doen. En wanneer ons dan die gevolge van ons dade moet ‘face’, wonder ons hoekom dinge net nie vir ons wil uitwerk nie.  Wel, as ons na die ‘stemmetjie’ geluister het, sou ons dalk nie in die situasie beland het nie.

Dalk is jy deel van ‘n lekker sappige skindersessie as die alarm afgaan.  Dis ‘n waarskuwing om weg te stap.

Of dalk is jy besig om iets te koop as die stemmetjie weer waarsku… Jy’s besig om planne te maak, en die stemmetjie is weer daar…  Moenie jou innerlike alarm ignoreer nie.  Dis God wat met jou praat of jou waarsku.  Neem tyd om te verstaan wat Hy probeer sê.  Jy mag jouself dalk net van groot pyn of hartseer vrywaar.

Deur op die toon van jou stemmetjie te let en dit nie te ignoreer nie, kan jy jouself uit meeste moeilikheid hou.  Die stemmetjie is God wat jou lei en jou die weg wys. Moenie die alarms deaktiveer en sodoende die seen, guns en beskerming wat jy daardeur kon geniet verloor nie.

Tuesday 15 November 2016

Beteuel jou humeur

Spreuke 19 : 11  'n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.

Daar is elke dag rede om ontsteld, gefrustreerd of seergemaak te voel.  Miskien het jy planne gehad wat nie uitgewerk het nie, of iemand was onbeskof met jou by die kantoor.  Dalk het jy ‘n taak aangepak wat jou so ‘n uur moes besighou en op die ou einde het jy heeldag daarmee geworstel.  Die lewe is vol klein irritasietjies en frustrasies.  Dis nie altyd moontlik om jou omstandighede te beheer nie, maar jy kan beheer hoe jy daaroor voel.  Die slim mense sê:  “Die lewe is 10% wat gebeur en 90% hoe jy reageer.”

Dalk verduidelik dit hoekom ons alewig geirriteerd is of so maklik kwaad word. Ons reageer te maklik op omstandighede waaraan ons in elk geval min sou kon verander.  As jy op pad werk toe in ‘n verkeersknoop vasgevang word, gaan kwaadword niks aan die situasie doen nie.  Vloek, skel of skree gaan net jou gemoedsrus steel. Sit agteroor en geniet die onverwagte tyd wat jy het om op jou geestelike groei te fokus.

Meeste dae verloop nie soos ons beplan nie, maar ons kan steeds die beste daarvan maak. Tevredenheid is ‘n posisie van mag.  As jy kwaad raak omdat jou kind nie die klere wil aantrek wat jy vir hom of haar uitgesoek het of omdat jou man nie optree soos jy verwag nie of omdat jy nog ‘n kilogram opgetel het terwyl jy alreeds so min eet, gee jy jou vrede weg. Sommige goed kan jy eenvoudig nie beheer nie.

Maak ‘n wilsbesluit om daardie teleurstellings soos water van ‘n eend se rug te laat afrol.  Ignoreer die stekies wat mense na jou mik. 

Gemoedsrus en vrede in jou hart is belangriker en laat God glimlag oor jou.

Monday 14 November 2016

Onderhou die wet

Psalm 119 : 165 Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat struikel nie.

Alles wat jy in hierdie wêreld nodig het, is te vinde in die Woord van God…  Rigting, vrede, vreugde, heling, voorsiening…  Die maak nie saak watter situasie jy vandag in die gesig moet staar, jy sal die antwoord op jou situasie in God se Woord vind wanneer jy dit bestudeer en op jou lewe toepas.
Deur dit te bestudeer, daarop te mediteer en God se gebooie te gehoorsaam, plavei jy die weg na die Ewigheid.  Dit is wanneer jy die volheid van Sy seen op jou lewe ervaar en sien hoe God se beloftes waar word.

Jy sal selfs wonderwerke ervaar, net soos destyds in die Bybel.


Deur God se Woord in jou hart te bewaar, kan niemand dit van jou wegneem nie.   Niks kan jou laat struikel of val.  Sy Woord is volkome beskerming teen aanvalle van bekommernis, bitterheid of vrees.  Sy Woord is die waarheid wat jou vrymaak en jou algehele vrede gee.

Sunday 13 November 2016

As die meetsnoere in lieflike plekke val

Psalm 16 : 6 Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval

Mense kom en gaan in ‘n mens se lewe, maar party laat ‘n blywende indruk.  Voor ons verlede jaar deur herstrukturering is, was ons vyf dames wat ‘n hegte band gesmee het.  Ons het nie baie saamgereis nie, maar die kere wat ons wel saamgereis het, sal my altyd bybly.  Ons was ‘n diverse groepie, wat op elke moontlike manier van mekaar verskil het, maar mekaar leer waardeer het.  En… ons het saam 2 herstrukturerings beleef – ‘n smeltkroes wat ons gebind het asof ons verskillende metale was wat saamgesmelt het. 

Uiteindelik sou drie van die vyf slagoffers van die herstrukturering word, terwyl ‘n vierde bedank het.  Vandag moes ek  alleen ‘n reis aanpak wat ons vyf voorheen saam beleef het.  Dit het soveel herinneringe by my opgeroep, en verlang na dit wat was, maar onherroeplik verander het toe die korporatiewe wiele hul draai gedraai het. 

Die wonder is dat ons steeds kontak behou al is ons nou op afsonderlike eenspoor paadjies.  Al verstaan ons dit nie altyd nie, was ook dit deel van God se groter plan.  Uiteindelik het die meetsnoere vir elkeen op lieflike plekke geval en ons is elkeen ryker omdat ons mekaar werklik leer ken het.

Thursday 10 November 2016

Keer terug

Deuteronomium 4:30  “Wanneer julle in nood verkeer deurdat hierdie dinge in die toekoms oor julle kom, moet julle terugkom na die Here julle God, en sy woord gehoorsaam.

Ek het lank gelede ‘n oom geken wie se vrou baie kwaai met hom was.  Die arme oom kon omtrent nooit enige iets regdoen nie.  Wanneer die tannie nou regtig die hoenders in vir die oom was en hy gevra word hoe dit gaan, het hy altyd geantwoord: “Die goetertjies is nie so lekker nie.”
 
Vir my voel dit ook knaend of die goetertjies nie so lekker in ons land is nie.  Studente betoog nie net nie, hul brand af, verniel en breek af waarvoor hul eerstens nie gewerk het nie en tweedens geen waarde aan enige iets uit die verlede heg nie.

Die een oomblik word Pravin Gordhan aangekla, met al die nadelige gevolge aan die ekonomie en net die volgende week word die klagte teruggetrek.  Net om te hoor, hy gaan nou weer oor iets anders aangekla word.  Uhm, hoekom is hy nie in die eerste plek hieroor aangekla nie, of het hulle gedink hul gaan hom sink op die eerste probeerslag?

Die kapingsverslag word vrygetstel en ons hoor hoe dit wat ons reeds weet, bevestig word.  Korrupsie, selfverryking, leuens, oor en weer beskuldigings… daar word selfs 'n traantjie of twee gepink!  Wat sê hul van benoude katte?

Die damme raak al leër en leër terwyl die reën wegbly.  In die noorde is daar darem ‘n reënseisoen wat voorlê, maar in die Kaap het die somer so pas begin.

Kan ons onsself nog ‘n Christelike land noem?  Weet ons nog waar ons redding lê?  Ek glo die antwoord lê daarin dat ons terugkeer na God en Sy Woord nie net gehoorsaam, maar begin leef.

Wednesday 9 November 2016

Werk sal jy werk

Genisis 3:19  net deur harde werk sal jy kan eet

Hoeveel mense ken jy wat Saterdag of Sondag sê?  “Ek wens Maandag wil nou aanbreek… ek kan nie wag om te gaan werk nie.”  

Hoeveel mense ken jy wat doen waarvan hul hou? 

Bitter min mense verwesenlik hul kinderdrome.  As ek eendag groot is, wil ek ‘n… wees.

Werk is vir meeste mense ‘n plek waar hul om die een of ander rede opgeëindig het en toe maar die beste van ‘n slegte saak gemaak het.  Om alles te kroon, het die werk-landskap verander.  Jy kan nie meer net opdaag en doen wat jou hand vind om te doen nie.  Daar is teikens en doelwitte wat behaal moet word… meer en beter, hoër en hoër. 

Met die klim na boonste trappie van die suksesleer, word ‘n paar aan die broekspyp afgepluk en ander uit die pad gedruk sodat jy tog net eerste bo kan kom.  Om die klimmery makliker te maak, word bagasie afgegooi.  Naasteliefde waai eerste, dan integriteit, respek, lojaliteit... en moontlik ook eerlikheid.

Die ironie is dat wanneer jy hou van wat jy doen, maak geld nie eens saak nie.  Dit sal natuurlik ‘n bonus wees as Catherine Whitehorn se gesegde ‘n werklikheid kan word:  “Find something you like doing and get someone to pay you for doing it.”

Tuesday 8 November 2016

Onderrig hul

Psalm 32:8  Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.

Blykbaar moet voornemende teologie studente ‘n toets aflê om hul basiese Bybelkennis te toets.  ‘n Groepie wat dit onlangs afgelê het, het tussen 3 en 5 uit 20 behaal!

Ek raai dat dit is wat gebeur as jy Godsdiensonderrig uit die skool kurrikulum verwyder.  Kan ons die regering blameer?  Ongelukkig nie, want elke kind het ‘n ouer of voog wat volgens my ‘n verantwoordelikheid het om daardie kind in geloofte lei, onderrig en groot te maak. 

Daar is ‘n grappie van die gevangene wat, as deel van sy gemeenskapsdiens, Sondagskool moes gee.  Die eerste Sondag sit die kindertjies toe blinkoog voor hom.  Hy vra wat hulle wil hoor en die een outjie skree:   “Jan en die boontjierank!”  Hy kyk die outjie so aan en sê:  “Nee man, ek het nog nie so ver in die Bybel gelees nie, kies ‘n ander een.”   

Ongelukkig is dit nie ‘n grappie as ek vir jou sê dat menige kind nie eens die bekende Bybelkarakters ken nie.  Hulle kom Sondagskool toe en kan nie een vraag oor die Bybel beantwoord nie.  Baie ouers lees nie meer vir hul kinders Bybel nie, daar word nie meer gebid nie, want baie eet nie meer aan ‘n tafel nie.  Huisgodsdiens bestaan nie meer nie.    

Daarom kan ons nie verbaas wees as mense nie meer ‘n lewe of ander se besittings respekteer nie.

As jy ‘n ouer is, wil ek ‘n beroep op jou doen om jou kind aan Die Bybel bekend te stel. Daar is geen groter geskenk wat jy hom of haar kan gee nie.  Ek hoor so baie hoe mense sê dat kinders nie met ‘n handleiding kom nie, wel die Bybel is ‘n handleiding sonder gelyke.  Dit is waar jy leer wat reg en verkeerd is, hoe jy moet optree en ook wat die gevolge van verkeerde optrede is.  

Dis egter nie net ‘n boek wat jou onderskeid leer nie, maar dit kan ‘n rigtingwyser wees as jy die pad byster raak en dit kan jou hoop gee wanneer jy moed wil opgee.  
Sonder hierdie anker dobber menige kind vandag doelloos rond tussen dwelms, drank en ander vergrype. Hoe kan ek en jy onsself verontskuldig terwyl hier 'n geleentheid is om jong siele te red, of ten beste toe te rus vir 'n wrede wêreld en toekoms.

Monday 7 November 2016

Jy mag nie doodslaan nie

Eksodus 21:12 “Wie iemand doodslaan, moet doodgemaak word.

Ons leef in ‘n wêreld waar daar soveel hartseer is.  Net gisteraand word daar weer berig oor ‘n drie-jarige wat deur haar stiefpa doodgeskop is.  Wat kan ‘n drie-jarige blondekop dogtertjie verkeerd doen om ‘n skop te regverdig? 

Ek weet nie hoekom dit gebeur het nie en ek ken nie die volle verhaal nie.  Dis ook verkeerd om te oordeel, maar ek wil verstaan hoekom hierdie dinge gebeur.

Wanneer ‘n ketel kook en dit skakel nie outomaties af nie, sal dit oorkook.  Miskien word ons so deur eksterne faktore beinvloed dat ons ook begin kook en omdat ons nie kan afskakel nie, kook ons oor.  Moorde, padwoede, mishandeling… is dit die kulminasie van die wêreld om ons?

In rekenaartaal praat hul van GIGO, "garbage in, garbage out".  Daar is net een teenvoeter hiervoor.  Ons moet onsself begin herprogrammeer.  Ek het al agtergekom dat ek baie meer ontspanne is as ek nie nuus luister of koerant lees nie.  Ja, dalk leef ek met oogklappe, maar ek het nog niemand geskop of selfs geklap nie.

Miskien is dit tyd om die doodstraf te heroorweeg.

Sunday 6 November 2016

Verlos ons van die bose

Matteus 6:13   en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die bose.

Verlede week het ek ‘n konferensie in Johannesburg bygewoon.  Ons het in die Saint George hotel oornag.  Dis ‘n gewilde hotel met 30 multi-funksionele konferensie lokale, in die mediterrense styl… Santorini, Corfu, ens.

Dinsdagaand het die Universiteit van Pretoria Thuli Madonsela se “Good Governance Lecture” ook daar aangebied met vele hooggeplaastes.  Ons kon dit ongelukkig nie bywoon nie, want daar was streng sekuriteit met vele hooggeplaastes.

Die hotel het verskeie banketsale en soggens het ons ontbyt saam met ander konferensie fasiliteit gebruikers geëet.  Op die tafels sou ‘n bordjie aandui watter maatskappy dit mag gebruik.
Wat my verras het, was dat die EFF ook daar gekonfereer het.  Hul gebruikelike rooi oorpakke is verruil vir rooi hemde met hul wapen en rooi berets.  

Dit is ‘n vry land en tydens konferensies is daar geen politieke onderskeid of agenda nie.  Ons fokus op die maatskappy se strategie en visie.  Hoekom was ek dan verbaas?  Wel, hierdie mense het in die hotel geblyvir ten minste twee dae en hulself lekker volgestop alvorens hul in luukse motors vertrek het om Pretoria te gaan beset en verniel. 

Dit behoort aan die groot klok gehang te word dat hierdie mense nie die armes verteenwoordig nie.  Hulle is opgevoed en geensins minder bevoorreg nie.  Hul is besig om die jeug op te stook en armes se ongelukkigheid tot hul eie voordeel aan te wend en hul is uiters suksesvol na my beskeie mening.

Al wat ek kon doen was om vir hul te bid… te bid dat die hart van klip binne hul vervang sal word met ‘n sagte hart wat vir hul medemens klop… dat hul tot inkeer sal kom en afwyk van hul bose planne.

Mag ek jou vra om saam met my te bid?

Thursday 3 November 2016

God sal jou nie in die steek laat nie


Genesis 28 : 15 … Ek sal jou nie in die steek laat nie…

Op ‘n dag dat die Kaap van Storms sy naam gestand doen, haal ek ‘n vlug na Johannesburg.  Een ding waaraan ek my vergaap, is hoe die vliegtuig in gietende reën opstyg en nog voor die vlugkelners kan versnapperings uitdeel, deur die wolke breek waar die son steeds baldadig skyn.


Dit het my laat dink hoe ons tydens moeilike tye van God verlate voel.  Dis tye dat ons, ons in gietende reën bevind.   Wanneer dit reën is ons onder die indruk dat die son nie skyn nie, maar bo die reënwolke skyn die son steeds.  God is steeds bo die onweerswolke in ons lewe.  Omdat ons Hom nie kan sien nie, beteken dit nie Hy’s nie daar nie.  God word nie deur reën of storms gekortwiek nie.  Hy is verhewe bo die wêreldse stryd, maar nie verwyder nie.  Net soos wat die reën die een of ander tyd opklaar, bly sal ons problem ook die een of ander tyd wyk.  Sy liefde vir ons is net so oorvloedig soos die heerlike sonskyn bo daardie gietende reën.

Wednesday 2 November 2016

Help mekaar

Jesaja 41 : 6  “hulle help mekaar en praat mekaar moed in.”

Een van my gunsteling tydverdrywe is om mense dop te hou, spesifiek hul interaksie met mekaar.

Terwyl ek vandag in ‘n ry staan en wag om aan boord van ‘n vlug na Johannesburg te stap, staan daar ‘n gesin voor my in die ry – pa, ma en ‘n seun van +- 13 jaar.  Beide ouers is op hul selfoon besig terwyl die seun met die selfone kompeteer om aandag.  Kort-kort mik hy van die een na die ander se selfoon om te sien waarmeer hul besig is.  Die pa is besig om ‘n speletjie op die selfoon te speel en alhoewel die seun ook wou speel, het die pa net gelag en gesê hy moet wag.  Selfs terwyl ons vorentoe beweeg, het hul nie een oomblik weggekyk van hul selfone nie.  Op ‘n stadium moes die seun sy pa aangespreek:  “Stop playing,” en die drasak optel, want beide ouers was te besig om daaraan aandag te gee.  Hulle is die vliegtuig in sonder om hul oë vir een oomblik van die skerms af te haal.  Eintlik kon hul net sowel die kind by die huis gelos het, eerder as om hom op ‘n duur oorsese vakansie te bring.  Dit kon ek aflui van hul internasionale paspoorte en die feit dat hul aan boord ‘n vlug gegaan het wat via Johannesburg na Frankfort op pad was.

Selfone het ongetwyfeld hul voordele, maar dit is hartverskeurend wat dit aan ons doen.  Die selfoon het vir baie hul beste vriend geword, die een wat al hul tyd en aandag kry.

Ons is almal skuldig op die een of ander vlak, want ons laat toe dat ons op ‘n afstand beheer word d.m.v. epos, smsse, bbm’s, whats-up en wat nog alles.  Neem jouself vandag voor om nie ook ‘n slagoffer te word van selfoonverslawing nie.  Druk die rooi knoppie en maak Jesaja 41 : 6 ‘n werklikheid vir mekaar.

Tuesday 1 November 2016

Die geveg is God s'n

2 Kronieke 20 :15  Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie 'n saak vir julle nie, maar vir God.

Josafat kry ‘n boodskap van ‘n groot menigte wat teen hom optrek.  Hy’s bang en soek hulp by God.  Hy roep ‘n vasdag uit.  Hy eer God en onthou hoe God in die verlede daar was vir Sy volk.  Ook hierdie keer stel God nie iemand teleur wat sy vertroue in God stel nie en daarom antwoord Hy met vers 15.  Hy se selfs dat hulle nie eens hoef te veg nie, hulle moet maar net stelling inneem.

Vers 12 kan net sowel vandag geskryf gewees het.  Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig.”  Kan jy jou hierdie toneel voorstel?  Josafat staar ‘n menigte oorlog lustiges in die gesig en God se in vers 17 Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle.” 

Wat jy ook al vandag mee worstel, die oorlog is nie joune nie.  Vertrou Hom.  Hy is in staat om jou huwelik te red.  Hy is in staat om jou kind van dwelms te verlos.  Jou moederskoot is leeg, maar God kan vir jou ‘n kindjie gee. 

Dink vandag, soos Josafat, aan al die kere wat God daar was vir jou in die verlede.  Hy is steeds dieselfde God. 

Dalk is jy vandag moeg, want jy’t op jou eie krag staatgemaak.  2 Kronieke 20 is ‘n hoofstuk van hoop wat ook van toepassing is op jou lewe.  

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...