Thursday 22 December 2016

Markus 1 : 1 - 2

Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:

In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak

Geseende Kersfees liewe leser.  Dankie dat jy Wat sê die woord so getrou ondersteun.

Wednesday 21 December 2016

Hagai 1 : 4

Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê?

Tuesday 20 December 2016

2 Timoteus 3 : 1 - 5

Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.

Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig;

hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;

hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.

Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.

Monday 19 December 2016

Deuteronomium 5 : 6


“ ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

Sunday 18 December 2016

Jakobus 2:10 - 12

As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.  God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet.  Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak.

Thursday 15 December 2016

Geen afgode nie

Levitikus 19 : 4  Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God.

Lees jy die sterrevoorspelling om te sien hoe jou week gaan wees?  Besoek jy ‘n Fortuinverteller om te hoor of jy gaan trou, of kinders hê.  Koop jy Lottokaartjies?

Daar is net Een God.  Net Hy kan en sal voorsien.  As jy waarlik glo dat jou lewe in Sy hande is, sal jy jou nie bekommer oor die toekoms, waar jy geld sal kry vir aftrede of net om te oorleef nie.  God sal voorsien.  Dit is wat Hy oor die eeue heen beloof en niks het nog verander nie.

In Genesis het God ‘n verbond gesluit met die mens en soos wat Hy vir die kinderlose Abraham en Sarah ‘n nageslag gegee het, sal Hy ook die onmoontlike in jou lewe bewerkstellig.

Dikwels is dit ‘n paar mense wat God beweeg om van plan te verander.  Lot en sy familie is gered… Noag en sy familie is gered… die Israeliete is na ‘n beloofde land gelei.  Al hierdie mense het een ding in gemeen gehad… hul het God gedien met alles binne hul en niks verafgod nie.

Laat ons onthou waaroor Kersfees gaan.  Dit gaan nie oor kersliggies, kersmusiek en kersetes nie… ook nie oor familie nie… dit gaan oor die herdenking van Jesus Christus se geboorte.

Hiermee wens ek jou en jou gesin ‘n Geseënde Kersfees toe… ‘n ware Christusfees en alles wat mooi is vir 2017.  Laat God voorstap.

Wat sê die Woord, bring vir jou van Maandag af ‘n teksvers gedurende die vakansieseisoen.

Tuesday 13 December 2016

'n Lewe van oorvloed

Johannes 10 : 10 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Behalwe dat ons in ‘n land vol werklike misdaad leef, is daar ook elke dag ‘n aanslag op ons menswees.

Goeie voornemens is nie genoeg om jou staande te hou teen die aanslae van die duiwel/dief nie.  Hy lê op die loer en hoop om jou tot breekpunt te dryf.  Dalk trek hy jou net in by ‘n geskinder of dalk is dit veel erger, dat Hy jou sover kry om te vloek of jou humeur te verloor.  Ander kere oortuig hy jou weer om sleg te praat van ‘n kollega.  Hoe erg die uitdagings is, of hoe ver jy val, hang af van jou verhouding met God.

Jy moet tyd maak om stil te raak en weer te onthou dat jy ‘n kind van die Lewende God is.  

Versoekings en uitdagings sal daar wees, maar jy mag nie vergeet wie jy is nie.

God het gekom sodat ons die lewe in oorvloed kan geniet sonder dat die vyand sy kloue in ons geslaan kry.

Monday 12 December 2016

Die stryd

2 Korintiërs 10 : 3 – 4 Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie.  Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig.

Elke dag voer ons ‘n stryd.  Daar is soveel versoekings.  Van die oomblik dat jy jou voete by die deur uitsit, moet jy jouself staal teen die aanslae. 

Jy staan en wag jou beurt af om vir jou ‘n treinkaartjie te koop, maar iemand kom druk in.  Die treine is laat en as dit uiteindelik opdaag, is daar geen sitplek nie.  Jy staan en hou maar jou asem op vir die liggaamsreuke van almal rondom jou. 

Teen die tyd dat die trein die stasie binnery, is jou voete reeds seer.  By die werk is die baas in ‘n slegte bui omdat jy laat is, min wetend wat jy moes trotseer om hier te wees.  Jy byt op jou tande om nie ‘n skewe antwoord te gee nie.  Die dag self is nie veel beter nie… moeilike kliënte, rekenaars wat nie saamwerk nie, foute wat gemaak word… en dan weer dieselfde uitdaging huis toe.

By die huis is die kinders moeilik en jy moet nog aandete voorberei.

Die scenario is fiktief, maar kon enige iemand se dag gewees het.  Jy kan nie op jou eie die dag aanpak nie, want die vyand lê op loer.  Rus jou toe met God se wapens.

Sunday 11 December 2016

Groter en beter

1 Korintiërs 2 : 9  Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.

God het jou nie geskape om ‘n so-so lewe te hê nie.   Hy wil nie hê jy moet beskeie drome droom en gemiddelde doelwitte stel nie.  Hy wil nie sien dat jy maar net-net  dit maak nie.  God dink groot!  Hy dink in grootmaat, in die oortreffende trap, oorvloedig.

Vir die Israeliete het Hy vertel dat Hy hul neem na ‘n land wat wyd en uitgestrek is… ‘n land van melk en heuning! 

Ook vir jou het God groter en beter in gedagte. Jy gaan nie bly waar jy vandag is nie.  Jy hoef nie tevrede met jou lot te wees nie.  Begin glo dat jy op pad is, dat hierdie nie jou bestemming is nie.  Sien die toekoms wat jy verdien en beweeg in geloof vorentoe.  God laat nie wonderwerke in die verlede gebeur nie, dit gebeur nou.

Al droom jy ook hoe wild en groot, kan jy nie eens begin om te versinnebeeld wat God vir jou in gedagte het nie.  Die enigste rede hoekom party mense nie daar uitkom nie, is omdat hul nie dit glo nie.  

Thursday 8 December 2016

As God vra

Matteus 4:19  Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

In ‘n tydskrif lees ek van die vrou wat na haar vriendin gestap het en by ‘n parkie op ‘n baba in ‘n geel Shopritesak afgekom het.  Binne in die sak was die baba, met sy naelstring en nageboorte… weggegooi soos rommel.

Blykbaar kan ‘n pasgebore baba net 10 uur op sy eie oorleef.  Die enetjie is gevind ongeveer ses uur na hy gebore is.  Nadat die baba met ‘n ambulans na ‘n hospital geneem is, waar hy ‘n week gebly het, het die hospitaal die vrou gekontak en gevra of sy sou belangstel om as pleegouer vir die baba op te tree.  Sy was baie bly.  Haar jongste bid blykbaar al ses jaar lank vir ‘n boetie. 

Die weggooikind word in ‘n liefdevolle omgewing versorg.  Dit was nie hierdie klein mensie se tyd nie.  God het ander planne met sy lewetjie gehad.

Ons is so geneig om vir God te vra, maar partykeer doen God die vra-werk.  Hy verwag partykeer van ons om Sy hande en voete op aarde te wees.

Hoe gewillig is jy?  Hierdie vrou se kinders is al groot en sy het nie ‘n man om haar te help nie, maar sy het haar arms en huis oopgemaak vir hierdie kindjie.  As God vra, mag dit wees dat ons moet opoffer.  Ons hoef nie bekommerd te wees oor die klein tegniese aspekte nie. Mense dra voortdurend vir hierdie gesin items aan vir die baba.

Al wat ons moet doen, is om gehoorsaam te wees as God ons nodig het.

Wednesday 7 December 2016

Herbou

Josua : 19 : 50  Josua het die stad herbou en daar gaan woon.

Ek het onlangs vir my die basiese benodigdhede gekoop om ‘n bietjie mosaiekwerk te doen.  Dit was nogal lekker om die patroontjie uit te pak en elke teëltjie vas te gom alvorens ek noukeurig die teëlsement aangemaak en tussen die teëltjies ingewerk het. 

Dan die wag totdat alles droog is en uiteindelik kan my produk gepoleer word en uitgestal word.
Met mosaiekwerk, moet jy die teëltjies breek sodat hul oral kan inpas en ‘n pragtige patroon vorm.
Wanneer ons deur die smeltkroes van die lewe gaan, breek ons ook partykeer.  Ons lê in stukkies voor die Meester.  Hy tel elke stukkie op en pas dit op presies die regte plek om weer ons prentjie mooi te maak. 

Wanneer ek so verdiep is in my mosaiek kunswerk, kan hoor en sien maar vergaan, ek fokus net op die teëltjie waarmee ek besig is. Ek weet dat hy maar net ‘n breukdeel van die geheel is, maar hy kry dieselfde aandag as elke ander teëltjie.  Sonder die gom en grout, die sponsie en uiteindelike polering, sal my prentjie nie volmaak wees nie.

Ek glo dat God ook so op ons fokus wanneer Hy die stukkies weer bymekaarsit.  Hy is nie ongeduldig of oorhaastig nie, want Hy weet hoe die uiteindelike prentjie moet lyk.

Vertrou die Groot Kunstenaar.  Jy is die meesterwerk way Hy besig is om te herbou.

Tuesday 6 December 2016

God se standaarde

Galasiërs 5:22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

So hoe lyk God se standaarde? Hoe moet ek optree om nie aan die wêreld gelyk te word nie? 

Vra jouself af hoeveel liefde het jy vandag betoon?  Het jy teenoor almal liefde betoon of net teenoor die wat vir jou deure kon oopmaak?

Het jy vrede bewerkstellig, of het jy die vuurtjie verder aangeblaas?

Was jy geduldig… in die lang ry by die bank, by die verkeerslig, met die ou oom of tannie wat nie tot die punt kon kom nie… met jou eggenoot, kinders, ouers?

Was jy vriendelik?  Opreg vriendelik sonder om iets terug te verwag?

Het jy goedhartigheid betoon teenoor die bode, die petroljoggie, die koerantverkoper, die bedelaar… of was jy geirriteerd omdat hul benede jou is en nie ‘n tweede kyk werd is nie?

Hoe getrou was jy aan jou eggenoot, jou werkgewer, jou land?  Lojaliteit is ‘n raar eienskap deesdae.  

Monday 5 December 2016

Wêreldse standaarde of God s'n?

Genesis 6:9  Hier volg die verhaal van Noag. Noag was 'n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef.

Ons ken die storie van Noag… Noag wat die ark gebou het terwyl daar nie ‘n wolkie in sig was nie… Noag wat gespot is, maar hom doof gehou het omdat hy God se opdrag uitgevoer het. Noag wat onvoorwaardelik in God geglo het.

Die teks is soos ‘n getuigskrif van Noag.  ‘n Regverdige man… een wat onberispelik en naby God geleef het.

Hoe lyk jou verhaal? Hoe sou jy jouself beskryf?  Hoe sal ander jou beskryf?  Hoe sal God jou beskryf?

Omdat ons in ‘n kompeterende wêreld leef, tussen nie-Christene, konformeer ons maklik.  Ons doen wat vir mense aanvaarbaar is.  Ek het al gehoor dat iemand nie bevorder is nie, omdat hul nie hulself genoeg laat geld nie. 

Wanneer ek en jy eendag voor God verskyn, gaan dieselfde karaktertrekke wat ons suksesvol op aarde maak, dalk nie dieselfde wees wat ons in die hemel gaan inkry nie.  Elke dag staan ons voor ‘n keuse… gaan ons optree om by die wêreld in te pas, of gaan ons optree volgens God se verwagtinge.  Ek het ‘n vermoede dat God se standaarde bietjie hoër is as die van die wêreld, dalk meer as ‘n bietjie.

Sunday 4 December 2016

Gebruik jou verbeelding

2 Korintiërs 3:5  Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God,

Jou verbeelding is ‘n wonderlike gawe van God.

Daarmee kan jy geleenthede en nuwe horisonne visualiseer lank voor dit realiseer.  Wanneer jy jou geloof so aanwend, bly dit nie net by dagdrome nie.  Dan raak jou verbeelding die instrument waarmee jy jou verhouding met God verdiep.

Ek dink ons droom te min en te klein.  Party mense dink dit is riskant om jou te verbeel dat God groot en onmoontlike dinge in jou lewe gaan laat gebeur. Jy sien, as jy nooit droom nie, kan jy ook nie teleurgestel word nie.  Maar ek droom eerder.  Wanneer my drome so werklik word, weet ek dat God dit gaan bewaarheid.

Party mense praat van ‘the power of the mind’.  Ek glo beslis aan die krag van visualisering.   Dis ‘n onwrikbare, kinderlike geloof… dat God in staat is tot alles en dat Hy kan doen ver bo dit wat ek kan dink of droom.

Thursday 1 December 2016

Bly net kalm!

Eksodus 14 : 14  Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”

Moses is besig om die volk uiteindelik uit Egipte te lei.  Na jare van slawerny en ‘n stryd met Farao, is hul uiteindelik op pad.  Maar dan agtervolg die Egiptenare hulle.

Jy moet die omvang van hierdie situasie verstaan.  Die Israeliete is nie ‘n paar mense wat kan weghardloop nie.  Hulle is gesinne met kinders en bejaardes, min of meer twee en ‘n half miljoen mense wat op pad is.  Die Egiptenare het strydwaens en hul is moordlustig.  Ek sou paniekbevange gewees het.  En dis presies wat gebeur.  Die volk is bekommerd en wil weet wat Moses aangevang het om hul uit Egipte te neem.

Dan praat God… bly kalm.  Bly kalm?  God, kan U sien wat hier aangaan?  Maar God beveel hul nie net om kalm te bly nie, Hy bid aan om namens hul te veg.

Vandag sê God dieselfde vir jou.  Bly kalm… hy gaan hierdie geveg namens jou veg.  Jy moet egter daadwerklik kalm bly. Daar moet geen vrees, bekommernis of angs in jou hart wees nie.  Ja, jy mag dalk dink:  “Wat as dit nie gebeur nie?  Wat gaan ek dan doen?”  Die belonging as jy God vertrou is egter die moeite werd.  Die Skepper van die Heelal, God Almagtig, is besig om namens jou te werk.

Jy weet self dat niks bestand is teen God nie. Hy beskik oor al die mag en krag. Hy het die son laat stilstaan vir Joshua.  Hy het die leeus se bekke vir Daniël gesluit.  God uiter nie leë beloftes nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...