Sunday 12 February 2017

Pousetyd



Op 30 Januarie 2017, het my lewe gaan stilstaan toe my ma, wat 25 jaar lank by my gewoon het, tragies afsterf.  Daar was geen geleentheid om te groet.

Vir die eerste keer in my lewe, het ek nie die moed om aan te gaan nie.  Niks maak sin nie.  Nie net is haar plek leeg nie, maar alles rondom my herinner my elke oomblik aan die verskriklike leemte wat sy agter laat.

Alles voel onwerklik... die verlange en hartseer is byna tasbaar. Daar is niks meer finaal as die dood.

Die dagstukkies word gewoonlik so twee weke vooruit geskryf.  Die afgelope twee weke kon ek myself nog nie sover kry om te skryf nie.  Ek hoop jy verstaan dat ek tyd nodig het om te rou.  Dit wat ons nie doodmaak nie, maak ons gewoonlik sterker.  Ek moet glo dat God ook hiermee 'n doel het.

Gun my asseblief hierdie pouse totdat ek gereed is om die blog voort te sit.

Jesusliefde,




Thursday 9 February 2017

Om te vernuwe

Romeine 12 : 2  Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Het jy al jouself afgeluister?  Ek is ernstig.  As jy dit doen, sal jy gou agterkom of jy ‘n positiewe of negatiewe ingesteldheid het.  Jy sal ook jou gedagtepatroon agterkom.  Waaroor praat jy meesal?  Vra jouself nou af of jy graag met jou sou wou gesels?  Dalk is jy ontnugter oor die antwoord.

Ons ken almal iemand wat in die verlede vasgehaak het en jy weet al presies waaroor hul gaan praat as jy hul teëkom.  Of jy ken iemand wat ontsettend negatief is en jy weet al jy gaan nog ‘n hoofstuk van klaagliedere moet aanhoor.

Ons word so geprogrammeer deur die media dat ons amper outomaties oor hierdie goed praat wanneer ons gesels. Of ons haal sensasie aan met wat ons op sosiale media raakloop.  Dalk het dit tyd geword om van die nuus te vergeet.  Daar is juis onlangs berig hoe vinnig vals berigte versprei word.

Kom ons vernuwe ons denke en mediteer eerder op die enigste waarheid wat daar is:  Die Woord van God. Sodoende kan ons ‘n positiewe ingesteldheid ontwikkel en ten minste die waarheid aanhaal wanneer ons ‘n teksgedeelte aanhaal.

Wednesday 8 February 2017

Gee jouself 'n kans

Spreuke 22 : 29  Jy sien self: iemand wat vaardig is in sy werk, kom in die diens van konings, nie in die diens van mense sonder aansien nie.

Voor jy jou kom kry het jy in roetine verval.  Jy doen dieselfde dinge oor en oor.  Jy staan dieselfde tyd op, gaan dieselfde tyd werk toe.  Terug by die huis, maak jy dieselfde kos wat jy al hoeveel keer vantevore gemaak het.  Jy kyk dieselfde programme, gaan slaap dieselfde tyd en môre doen jy dit weer.

Die gevaar van so oor en oor dieselfde dinge doen, is dat jy gaan stagneer.  Op die ou end gaan jy glo dit is maar waartoe jy in staat is en alle hoop op ‘n beter toekoms of omstandighede sal verlore gaan.

Jy moet uit jou gemaksone beweeg.  Jy moet iets doen wat jy dink jy nie in staat is om te doen nie.  Jy moet jouself uitdaag om meer en beter en vinniger te wees.  Eintlik behoort ons elke dag iets nuut te probeer leer, want wanneer ons ophou groei, hou ons op leef.

Wat doen jy wat jou as mens gaan uitdaag?  Wat doen jy om jou vermoëns te beproef?  Dis in orde om soms jou oë toe te knyp en iets totaal buite jou verwysingsraamwerk aan te pak.  Dis nie in orde om jouself nie meer in die lewe te gun nie.  Gee jouself ‘n kans.

Tuesday 7 February 2017

Liefde vir die vyand

Matteus 5 : 44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,

As jy wil suksesvol is, hetsy as sakeman, onderwyser, ouer, leier, moet jy verstaan dat nie almal wat jy teëkom, jou gaan ondersteun nie.  So graag as wat ek jou wil verseker dat jou familie, vriende, kollegas jou grootste ondersteuners sal wees, weet ek baie goed dat dit nie noodwendig so sal wees nie.  Ongelukkig gun min mense ‘n ander sukses en voorspoed.  Selfliefde, jaloesie en afgunstigheid vier hoogty.

Soos wat jy groei en nuwe hoogtes bereik, sal jy teenkanting beleef.  Partykeer is dit net iemand wat foutvind.  Ander kere is dit onbeskaamde sabotasie.  Skielik word alles wat jy doen of nie doen nie, met ‘n vergrootglas ondersoek.  Nou moet jy een ding goed onthou.  Moenie dat hierdie dinge jou aandag aflei nie.  Fokus op God en Sy plan vir jou. 

Sommige mense gaan eenvoudig nooit jou sukses aanvaar nie.  Moet dit nie persoonlik opneem nie.  Dis nie jy nie.  Dit is hulle.  Skud dit af.  Vergewe en moet dit nie teen hulle hou nie.  Ja, jy moet jou ‘vyande’ selfs liefhê.

Om uit te styg bo jou omstandighede en teen alle kritiek en sinisme sukses te bereik, is fantasties.  Om dit te bereik omdat jy binne die wil van God is, is selfs nog beter.

Monday 6 February 2017

Beweeg aan

Deuteronomium 1 :  6    “Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.

Is daar ‘n uitdaging in jou lewe waarteen jy jouself nou al vir baie lank blindstaar?  Maand in en maand uit is dit dieselfde storie… jou uitgawes oorskrei jou inkomste.  Of jy huweliksbootjie bly in stormwater.  Dalk het jy ‘n kind wat gedrags- of leerprobleme het.  Miskien is jy opgesaal met verantwoordelikhede en het jy niemand om jou las te help dra nie.

Vandag praat God net soveel met jou as met Israel.  Jy’t nou lank genoeg hier vasgehaak.  Dit is tyd om aan te beweeg.  Ja, ek weet jou omstandighede gaan nie oornag verander nie, maar weet jy dat jy jou gesindheid kan verander?  Wanneer jy anders na jou situasie kyk, gaan jy nuwe moed kry.  Jou inkomste is miskien nie genoeg nie, maar jy het ‘n inkomste… Jou huwelik is nie perfek nie, maar jy het ‘n lewensmaat.  Jou kind is moeilik om te hanteer, maar jou moederskoot is nie leeg nie.  Jy dra alleen die verantwoordelikhede, omdat God jou die krag gee om dit te doen.

Kry ‘n nuwe visie en ontwikkel hoop in God.  Hy weet waardeur jy gaan en Hy sal jou nie hier alleen laat nie.

Sunday 5 February 2017

God gebruik die onwaarskynlike

Handelinge 27 : 17  Nadat die matrose die bootjie opgehaal het, het hulle as noodmaatreël 'n paar toue styf onder om die skip vasgemaak. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis verpletter sou word, het hulle die dryfanker laat sak en die skip sommerso laat drywe

Die matrose is op die oop see en ‘n storm kom op.  Hulle het ‘n baie belangrike passassier aan boord wat hul gewaarsku het om nie te vaar nie, maar hul het van beter geweet.  Die skip beland in ‘n storm en hul is paniekbevange.

Nadat hulle omtrent alles probeer het, en hul lewens in gevaar gestel het, is hul so uitgeput dat hul eenvoudig die dryfanker laat sak en die skip sommer net laat dryf.

Ons almal kom op so ‘n punt een of ander tyd van ons lewe.  Ons is moeg gespartel… ons het alles probeer… ons weet eenvoudig nie herwaarts of derwaarts nie.  Ons bid en God hoor ons nie, ons gaan kerk toe, ons gee ons tiende, maar dit wil net nie beter gaan nie.  Uiteindelik gee ons boedel oor en laat eenvoudig God’s water oor God’s akker loop.

Soos die mens nou maar is, staan ons wel weer op.  In vers 18 en 19 begin gooi hul goed oorboord.  In vers 20 hou hul op met eet.  Het jy al ophou eet van spanning? 

Dan in vers 21 praat die belangrike passassier weer.  “Julle moes na my geluister het en in die eerste plek nie weggevaar het nie.” 

Vers 22 bring egter hoop.  Die belangrike persoon is Paulus… ‘n gevangene aan boord, maar meer belangrik… ‘n ware kind van God:  Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan.”

Soms is dit nodig om na iemand te luister vir wie ons miskien nie onder ‘normale’ omstandighede sou luister nie.  God weet wie om te gebruik.

Thursday 2 February 2017

Kinders

Eksodus 20 : 12  “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
‘n Joernalis skryf ‘n artikel in Die Burger, iewers in Januarie, oor die leë nes sindroom.  Dit is ‘n heel gepaste tyd om die artikel te plaas, want baie ouers se kinders verlaat die huis om in ‘n koshuis te bly terwyl hul studeer.
Een sinnetjie in die artikel bly egter by my vassteek:  “Jou lewe mag dalk om jou kinders gedraai het, maar hul lewe draai nie noodwendig om joune nie.”
In die meeste gevalle… van die oomblik dat daardie kind gebore word, vervaag die ouers se eie behoeftes en drome en word daar alles moontlik gedoen om vir hierdie kindjie alles te gee wat hul nooit gehad het nie.  Hul koop en gee en maak voorsiening… alles om vir die kind ‘n droom toekoms te verseker.  Meeste ouers sal hulself tekort doen, net sodat hul in hul kinders se behoeftes kan voorsien.  Daar word vakansie geneem wanneer die kind skoolvakansie het.  Daar word uitstappies beplan waar die kinders deel in alles.  Elke besluit sluit word geneem met die kind(ers) in ag genome… ‘n groter huis sodat elke kind sy eie kamer kan hê… ‘n swembadvir hul plesier…  Jy bring ure deur langs die sportveld… jy betaal en betaal en gee en gee, maar jy kla nie een oomblik nie.  Jou kind is jou alles. 
Dan kom die dag dat hul die nes verlaat en jy hoor niks.  Skielik het hul, hul eie lewe en is jy nie die middelpunt van hul bestaan nie.  Die huis, wat ewe skielik te groot is, bly skoon en die stilte is oorverdowend. Die swembad bly vuil al gebruik niemand dit nie en jy wonder skielik hoekom daar soveel ‘goed’ om jou is.   Jy weet nie wat om met jou tyd te doen nie en jy het eintlik nie ‘n lewe sonder hulle nie.  Jy moet hard dink om te onthou waarvan jy hou en wat jy graag met al die tyd tot jou beskikking wil doen.  Nie dat jy enige iets wil doen nie… jy wil net jou kind weer by jou hê… of darem net sy/haar stem hoor.
Iemand het eendag gesê die mees ondankbare wese onder die son is ‘n kind.  Kinders word groot en dan het hul weer kinders en so gaan die bose kringloop voort.  As ouers moet ons nie so afhanklik van ons kinders word dat ons nie sonder hul kan funksioneer nie.  Liefde en 'n huis met 'n oop deur moet altyd daar wees, maar sorg dat jy ook jou eie lewe het.

Wednesday 1 February 2017

As die storms kom

Matteus 7 : 25  Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.

Ons ervaar almal moeilike tye en soms verstaan ons nie dit wat met ons gebeur nie.  Dit is so maklik om ontmoedig te raak en jouself te bejammer:  “Hoekom moet ek so sukkel?”  Ons weet dat reën val op regverdige sowel as onregverdige mense.  Reën hang dus nie daarvan af hoe ‘n ‘goeie’ mens jy is nie.  Nou weet ons ook dat reën soms in ‘n storm kan ontaard en weereens is ‘goeie’ mense nie gevrywaar teen sulke storms nie.
Ons ken die gelykenis van die man wat God geëer het en sy huis op die rots gebou het.’n Ander man het weer sy huis op die sand gebou en God nie geëer nie.  Toe die storm kom, het dit beide van hul getref, maar die persoon wie se huis op die rots (God) gebou was, se huis het bly staan.
Jy sien dit is hier waar die verskil inkom.  Wanneer jy God dien, is jy nie gevrywaar teen die storms nie, maar jy is geanker en daarom sal dit jou nie vernietig nie. 
Die storm in jou lewe sal oorgaan.  Die son sal weer skyn en jy sal weer vreugde ervaar.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...