Wednesday 31 May 2017

Geduld

Habakuk 2 : 3  Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie

Dit maak nie saak hoe gelowig jy is of hoeveel jy dit al vantevore gedoen het nie, wag bly ‘n uitdaging.
Ons leef immers in ‘n kits-wêreld wat niks doen om ons geduld te leer nie.  In plaas van ‘n brief skryf, dit toeplak en gaan pos en dan op ‘n antwoord te wag, het ons eposse, WhatsApp, Facebook, Skype, ens.   Ons maak ‘n blikkie of pakkie oop of kry kits-kos in plaas van om ‘n behoorlike aandete te kook.  Daar word nie meer oor en weer gekuier nie, want ons is so voortdurend in kontak dat ons niks meer het om oor te gesels as ons by mekaar sou uitkom.  Selfs in restaurante sit die mense om die tafel elkeen met hul foon en speel as om te gesels.

Niks het egter in die geloofswêreld verander nie.  God se Woord word dalk nou op ‘n selfoon, rekenaar of tablet gelees, maar dit is nie op enige manier verkort nie.  Sy beloftes is steeds daar, maar Hy beantwoord gebede nie vinniger nie. 

Wanneer ons bid en niks gebeur nie, kan ons maklik opgee of dink dis nie binne God se wil nie.  Al kom die antwoord nie dadelik nie, beteken dit nie God het nie gehoor of dat niks gaan gebeur nie.  Ek het die afgelope weke male sonder tal gesien hoe God inderwaarheid in die agtergrond besig was terwyl ek gedink het niks gebeur nie.

Hou aan bid en hou aan vertrou.  God sal vir jou deurkom, wanneer jy dit die minste verwag.

Tuesday 30 May 2017

Wat word van ons land?

Psalm 10 : 3  Die goddelose verlustig hom nou al in wat hy hoop om in die hande te kry. Die een wat hom wil verryk ten koste van 'n ander, wens homself by voorbaat geluk. Hy verag die Here. (13) Hoe durf die goddeloses God verag en reken Hy sal hulle nie uitvind nie? (14)  En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet. U let daarop en maak daar 'n einde aan. Op U verlaat die ongelukkige hom, ook vir die weeskind is U 'n helper.

Dalk vra jy ook die vraag: Wat word van ons land?  Een ding is verseker, dit is beslis deesdae ‘n interessante plek om te woon. Daar is voortdurend komedie en tragedie.  Wanneer ons na al hierdie dinge kyk, lyk dit asof God homself distansieer van hierdie situasie. Jy wil amper soos die Psalmdigter vra waar God dan is.  Maar as jy hierdie Psalm lees, besef jy hierdie dinge is nie nuut nie.  Oor die eeue heen was daar onregverdigheid, self-verryking, sonde.

Ek glo nie vir een oomblik dat God apaties staan teenoor hierdie situasie nie.  Dit druis in teen alles wat ons in die Bybel leer.  Jy kan nie anders as om dan te wonder wanneer God gaan optree of wat Hy aan die situasie sal doen nie.  Ons het dan in Bloemfontein gebid en vas geglo daar sal verandering kom, maar helaas, die sepie duur voort.

Net God sal weet wat Sy planne rondom dit alles is.  Intussen kan ek en jy twee dinge doen.  Ons kan aanhou bid en terwyl ons bid, ook hierdie mense in gebed opdra. Of ek en jy dit nou wil weet of nie, hierdie leuenaars, korrupte amptenare, moordenaars, bedrieërs ens, ens, ens is ook ons medemens.  Ook hul is geregtig op God se genade.  God wil nie dat een siel verlore gaan nie, hoe kan ons hul dan veroordeel of ignoreer? 

Die laaste opdrag was duidelik… Ons werk is om siele te werf.  Die oordeel sal kom, maar van waar dit behoort te kom… van God.

Monday 29 May 2017

Psalm 104

Psalm 8 : 4 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het,

Dis ‘n rukkie sedert ek my laaste dagstukkie met jou gedeel het. Dankie dat jy my hierdie pouse tyd gegun het.   Intussen het baie water in die see geloop. 

Daar gaan nie ‘n dag verby dat ek nie aan my ma dink nie. Die woorde in die teks herinner my aan haar geliefde lied:  Psalm 104:  “O Heer my God as ek in eerbied wonder. En al U werke elke dag aanskou. Die son en maan, die aarde, sterre, wolke, Hoe U dit elke dag so onderhou…”  

Ek mis haar geweldig. Elke dag besef ek meer en meer hoeveel sy in en om ons huis gedoen het sonder dat sy dit ooit daaroor geroem (of dit genoem) het.  En ek was so besig dat ek helfte daarvan nooit raakgesien het nie.  Spyt is ek oor baie dinge, maar dit is helaas te laat.

Daardie dae is vir altyd verby.  My fokus het egter verskuif. Ek leef stadiger… wat ek daarmee bedoel is dat ek niks meer najaag of wil bereik nie. My enigste doel is nou om selfs ‘n nouer verhouding met my Hemelse Vader te hê. My hele lewe draai nou om Hom.

Nou het ek tyd om uit te stap en die diere kos te gee, na die voëlgesang te luister, te sien hoe die blare verkleur en my te verlustig in die lieflike Herfsdae. Ek weet ons het water bitter nodig, maar ek waardeer hierdie dae so.  Verlede week het ek in die platteland gery waar dit heelwat gereën het gedurende die nag en vroegoggend en ewe skielik was dit ‘n miernes van bedrywighede.  Boere en hul trekkers het op die landerye gewoel.  Boere is verseker deesdae op hul knieë, maar God het op die regte tyd voorsien en hul kan saai.  Laat ons hul in gebed hou vir opvolg reën. 

Oral waar ek kyk, aanskou ek die handewerk van God en dit hou my geaard en herinner my aan Sy beloftes.     

Ek hoop dat die lewe jou goed behandel het die afgelope paar maande.  Indien jy ‘n uitdaging of twee die hoof moes bied, vertrou ek dat dit jou geloof versterk het en weereens aan God se goedheid herinner.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...