Thursday 29 June 2017

'n Goddelike leier

Samuel is van die Here afgebid.  Hanna het egter nie net gevra nie, sy het ook beloof dat sy die kind vir God sou grootmaak.  Ons weet dat Hanna ‘n vrou van haar woord was.  Samuel word in die tempel groot, met Eli as leermeester.

Israel was nie op ‘n goeie plek nie.  In 1 Samuel 3 : 1 lees ons:  "die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie"   Die Here was kwaad vir Eli en sy familie en sou sy oordeel binnekort oor hul voltrek.  Eli se seuns het so min respek vir die Here gehad dat hul selfs die verbondsark uit die allerheiligste plek geneem het om saam te neem na die slagveld.  Nadat hul dood is, het dit die einde van die donker, chaotiese tyd van die Rigters beteken.  Samuel was ‘n Goddelike leier.  Hy lê duidelike reels neer. 1 Samuel 7 : 3  en Samuel het vir hulle gesê: “As julle met julle hele hart na die Here terugkom, moet julle alle vreemde gode tussen julle uit verwyder, ook die Astartes. Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red uit die mag van die Filistyne.”

Die volk sien ‘n leier met visie end it bring mee dat die Israeliete God opnuut begin aanbid.

Dit is al wat ons nodig het in Suid-Afrika… ‘n ware Goddelike leier… een wat geen besluit sal neem sonder God se goedkeuring nie.  Net soos Israel, sal die Here ons ook uit hierdie donker tyd lei as ons 1 Samuel 7 : 3 sal leef.  Jy kan ‘n rol in hierdie ommekeer speel.  Bid vir ons land en sy huidige leiers (ja, ons moet steeds vir hulle bid), identifiseer vreemde gode in jou omgewing en verwyder hul en glo dat God ons uit die slawerny sal bevry waarin ons ons bevind.   

Wednesday 28 June 2017

Psalm 20

1  Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. 2 Mag die Here u gebed verhoor op die dag van nood, mag die Naam van die God van Jakob u beskerm. 3 Mag Hy u te hulp kom uit die heiligdom, u bystaan uit Sion. 4 Mag Hy al u graanoffers onthou en u brandoffers aanneemlik vind. Sela 5 Mag Hy u gee wat u hart begeer en al u voornemens laat geluk. 6 Ons sal juig oor u oorwinning en in die Naam van ons God die vaandels ontplooi. Mag die Here alles gee wat u vra. 7 Dit weet ek: die Here sal aan sy gesalfde die oorwinning gee! Uit die heilige hemel verhoor die Here sy gebed; die Here gee deur sy groot mag aan hom die oorwinning. 8 Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God. 9 Húlle sal struikel en val, maar óns sal regop en vas bly staan. 10 Here, gee tog aan die koning die oorwinning. Mag die Here ons gebed verhoor wanneer ons na Hom roep.

Mag hierdie Psalm jou vandag raak soos wat dit my geraak het toe ek dit vanoggend gelees het.  Dis ‘n oorwinnngslied, ‘n belofte wat gehou word en die antwoord op jou gebede.

Tuesday 27 June 2017

Wys my waar ek sondig

Psalm 19 : 13 – 14  Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.  Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde.

Dit is ongelukkig so dat meeste van ons blind is vir ons eie foute.  Die feit dat ons nie ons eie foute en sondes raaksien, besef egter nie dat ons perfek is nie.  

As Christen leef ons nie toegespin in ‘n kokon nie.  Ons is deel van die wêreld met al sy versoekings en bly feilbare mense wat kan struikel.  Daarom is die kanse goed dat ons kan sondig of afdwaal.  Dis nie altyd asof ons beplan om te sondig nie… ons word eenvoudig ingetrek.  Jy is dalk deel van ‘n groep waar vuil taal aan die orde van die dag is.  Voor jy jou kom kry, laat glip jy ook ‘n kragwoord, net om darem nie heeltemal soos ‘n bleeksiel voor te kom nie...  Jy sien hoe jou kollegas skryfbehoeftes by die werk neem en jy dink by jouself dat die maatskappy nie ‘n pen of ‘n buisie pritt sal mis nie…  Of jy kyk TV en daar is eksplisiete tonele of die naam van God word ydelik gebruik.  Skakel jy die TV af of verander van kanaal of sit en kyk jy maar.   Ons het altyd ‘n keuse en wanneer ons nie teen iets is nie, is ons daarvoor. 

Die feit dat ‘almal’ dit doen, beteken nie dat dit nie sonde is nie.  Ons moet elke dag waaksaam wees.   As Christen moet ons uitstaan en opstaan vir wat reg is.

Ek en jy behoort elke dag te bid en vra dat God vir ons sal wys wanneer ons blind is vir ons eie sondes.  As iets jou pla, is God besig met jou gewete, dan moet jy luister, vergifnis vra en jou weë verander.  Dit is nie maklik nie, en ons is nie perfek nie, maar ons moet elke dag streef om meer en meer soos God te wees.

Monday 26 June 2017

Amper mis of amper raak?

Openbaring 21:1  Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.

Verkies jy amper mis, of amper raak?  As die losskakel amper mis skop, is dit oor, maar as die bal amper raak deur die pale is, is dit steeds mis.

Wanneer die oordeelsdag aanbreek moet ek en jy seker wees ons gaan beslis hemel toe (die nuwe Jerusalem).  Ons wil nie dan hoor dat ons dit amper gemaak het… as ons nog net geluister het en ons tot God bekeer het toe Hy ons geroep het nie.   God roep jou vandag.  Gaan jy instem, of nog so bietjie uitstel? 
Jy wil weet hoe ek so seker kan wees daar is ‘n God. My liewe mens, ek kom eerder eendag agter daar is nie ‘n God nie, as wat ek uitvind daar is een.

Om ‘n rugbywedstryd te verloor, is erg, maar daar is altyd nog ‘n wedstryd.  Daar is net een geleentheid om toegang tot die nuwe Jerusalem te verkry… Die alternatief is skrikwekkend, en dit is nie ‘n bangmaakstorie nie.  Jy hoor al meer mense reken daar is nie ‘n hel nie… dat hel die lewe hier op aarde is… My liewe mens, daar is ‘n hel… ‘n ewige vuur en daar is ‘n oordeelsdag. 

Dit is egter darem nie alles slegte nuus nie.  Die goeie nuus is dat jy steeds jou lewe kan omkeer om seker te maak jy gaan hemel toe.

Sunday 25 June 2017

Tel jou woorde

Spreuke 10:19  Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig.

Waarom draai gesprekke deesdae?  Of dit nou by die tandarts, die bank of selfs direk na kerk is, ons praat oor dit wat sogenaamde nuus is.  Dit is immers waaraan ons die meeste blootgestel word.  Ons word gebombardeer met dit wat die media as nuuswaardig ag en amper onwillekeurig raak dit die aktualiteit van die dag wat dan noodgedwonge ons gedagtes en gesprekke oorheers.

En as ons hierdie perde holrug gery het, praat ons oor ander mense.  Ongelukkig is min van ons gesprekke oor ander positief… gewoonlik verlekker ons ons in hul omstandighede… dalk omdat ons beter lyk as ons kan laat blyk wat hul situasie nou eintlik is.

Hoeveel gesprekke gaan oor God en die rol wat Hy in ons lewens speel?  Om te getuig oor dit wat God in ons lewens doen, of vir iemand hoop te gee uit die Woord, is tog veel meer opbouend as om jou te verlekker in iemand se seer.

Ek wil jou en myself uitdaag… kom ons tel nie net ons woorde nie, maar draai elke gesprek terug na God.  Kom ons verander die gesegde so ‘n bietjie:  As jy nie iets goeds van iemand kan sê nie, sê dan liewer iets oor God.  Ek en jy weet dat ons niks slegs omtrent Hom kan sê nie.  Lees Sy Woord en neem vir jou skietgoed saam op jou dagreis.

Thursday 22 June 2017

Bewapen jouself

Romeine 15 : 4  Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees

Deesdae hoef ons nie meer tot nuustyd te wag om te hoor wat nuus is nie.  Meeste van ons loer na ons slimfone die oomblik dat ons ons oë oopmaak.  Wat ongelukkig beteken dat die koerante ‘ou nuus’ is teen die tyd dat dit normaalweg afgelewer word.  Nuus ‘apps’, mediablaaie en sosiale media hou ons op hoogte teen die spoed dat nuus gebeur, enige plek ter wêreld.

As jy dus nie jouself anker in die Skrif nie, kan jy maklik oorweldig word deur slegte nuus.  Goeie nuus maak ongelukkig nie geld nie.  Soveel as wat ons gal braak oor die slegte nuus waarmee ons gebombardeer word, is ons dieselfde mense wat ons verlustig in die sensasie wat die media hiermee skep.  Ons praat daaroor, stuur dit aan en sodoende raak dit die middelpunt van ons gedagtes.

God se Woord is vol goeie nuus, hoop en bemoediging.  Begin jou dag op die regte noot sodat jy gewapen is vir wat ookal mag voorlê.  

Wednesday 21 June 2017

God van die onmoontlike

Jesus het by 3 geleenthede mense uit die dood uit opgewek. Dit is tog onmoontlik – volgens enige standaarde.  Ja, behalwe volgens Jesus s’n.  By God is alles moontlik.

In Markus 5 : 22 lees ons van Jairus se dogtertjie wat terminaal siek was.  Jairus versoek Jesus om haar te genees, maar hy raak so besig dat sy reeds gesterf het teen die tyd dat Hy opdaag.  Ons weet egter dat Jesus nooit laat was nie.  In vers 41 word sy uit die dood opgewek.

Lukas 7 : 14 – 15 vertel die verhaal van ‘n weduwee wat nou ook haar enigste seun aan die dood afstaan.  Terwyl sy agter haar seun se lykstoet aanstap, rol die trane.  Jy kan jou net die smart van hierdie vrou indink… eers haar man en nou haar enigste seun.  Jesus sien hierdie stukkende vrou raak en sy hart word sodanig aangeraak dat Hy haar nie net vertroos nie, maar ook die draagbaar aanraak en haar seun uit die dood opwek.

Die bekendste is sekerlik Lasarus wat alreeds vier dae lank dood was (3 daarvan begrawe) en toe uit die dood opgewek word (Johannes 11 : 41 – 42).  Ons lees hy het uit die graf gestap met die doeke wat steeds om sy hande en voete gebind was!

Dit is asof Jesus die moeilikheidsgraad elke keer lig… eers ‘n dogtertjie, toe ‘n jongman en toe ‘n volwassene.  Die dogtertjie het net afgesterf toe Jesus haar uit die dood opwek.  Die jongman is al op pad na die graf toe Jesus hom opwek.  Lasarus is reeds 4 dae dood toe hy opgewek word!

Jesus wil vir jou en my wys dat dit nie saak maak hoe onmoontlik die situasie lyk nie, hy kan dit omkeer.  Nie net dien ons ‘n God van wonderwerke nie, maar ook ‘n God met ‘n hart vir mense.  Maak jou hart oop voor Hom en laat Hom toe om ‘n wonderwerk vir jou te bewerkstellig.

Tuesday 20 June 2017

Luister tog

Spreuke 4:20 My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde!

Tydens ‘n saalperiode op hoërskool het ons skoolhoof hierdie vers een Maandagoggend gebruik om die week mee te begin.  Dit het nogal ‘n indruk op my jong gemoed gemaak.

As tiener wil jy nie juis na jou ouers luister nie… om die waarheid te sê jy luister glad nie.  Jy rebelleer, praat teë en gooi tiener tantrums.  Jou ouers weet volgens jou minder as jou maats en eintlik doen hul net een ding – hul maak die lewe vir jou so moeilik as moontlik, want hulle gun jou niks.

Die goeie nuus is dat ons ouers se woorde tog later na ons terugkom en die slegte nuus is dat jy dan ongelukkig ook moet erken dat hul nie net reg was nie, maar ook beslis beter geweet het. 

As ons net oor daardie wysheid kon beskik gedurende daardie storm en drang jare!  Indien ons regtig so wys was soos wat ons gedink het, sou ons besef het dat hul reeds die nodige lewenslesse geleer het en eintlik net ons beswil in gedagte het as hul ons reghelp of teregwys.

Genadiglik was ouers ook eens op ‘n tyd tieners (ek belowe!) en daarom weet hul dat jy net besig is om jou identiteit te vorm, al is dit ten koste van die res van die huishouding J. Daarom bly menige ouer voortdurend op hul knieë vir hul kinders en sal hul nooit ophou om in jou te glo nie.

Al dink jy dus dat jou ouers teen jou is, is hul eintlik jou grootste aanhanger. Luister dus tog maar so ‘n bietjie na hulle.

Monday 19 June 2017

Ek sal nie bang wees nie

Josua 1 : 9   Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

Daar kom dae in elkeen van ons se lewens waar ons in stormwaters beland.

Ek is al deur 9 herstrukturerings.  Nege keer was ek basies sonder werk, moes ek van voor af vr my pos aansoek doen en naels kou terwyl ek wag op die uitslag.  As jy al deur so iets is, weet jy hoe jou keel kan toetrek.  Jy weet daar is verpligtinge wat nagekom moet word.  Die duiwel tart jou:  "Wat as jy hierdie keer nie suksesvol is nie?"  

Soms probeer jy jou gesin die pyn spaar en gaan jy daardeur sonder om enige iemand te vertel.  Jy raak benoud as jou kind by die huis kom met nog ‘n briefie wat geld vra, want jy draai elke sent om omdat jy nie weet of jy nog ‘n inkomste gaan hê nie.  Jy haal diep asem en glimlag gerusstellend terwyl jy ‘n skietgebedjie opstuur.  “Die Here sal voorsien.”    

Ek onthou hoe ek myself keer op keer bemoedig het met die woorde van Psalm 23:  “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie.”    

Onlangs leer ek toe nog wonderlike manier om jouself te herinner aan God se troue bystand.  Aan die hand van die teks hierbo, kyk na jou 5 vingers aan jou linkerhand.  Vir elke vinger is daar ‘n woord:  Ek sal nie vrees nie (want)… kyk nou na die 5 vingers aan jou regterhand:  Die Here is my herder.  (een woord per vinger) Elke keer dat jy deur ‘n krisis gaan, kan jy jouself herinner deur net na jou twee hande te kyk:  Ek sal nie vrees nie, (want) Die Here is my herder.

Friday 16 June 2017

Staan vas

Psalm 18 : 30  Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie

Wanneer die lewe jou die rug keer, moenie mismoedig word nie.  Keer jou probleme die rug en fokus op God.  Dis die tyd wanneer wonderwerke in die agtergrond plaasvind.  Jy kan eintlik lekker in jou mou lag vir die duiwel, want hy staan nie ‘n kans teen God almagtig nie.

Die goeie nuus is jy staan nie alleen nie… nie alleen teen kanker, ‘n egskeiding, die skoolboelie of enige ander stryd nie, want met die hulp van God kan jy enige vyand oorwin.  Die mure wat in jou pad staan verkrummel voor Hom.

Ongelukkig vergeet ons hierdie vers wanneer ons teespoed ervaar.  Met elke krisis in jou lewe het God vir jou deurgekom en steeds twyfel ons en laat ek en jy toe dat die vyand ons vreugde steel.  Hoekom dink jy is dit so?  God het nie verander nie, maar ongelukkig het ons ook nie verander nie.  Ons is steeds die twyfelaar ten spyte van Sy geduld oor die jare.

Al wat nodig is, is dat ons vir eenkeer glo en vertrou op die Woord... elke jota of tittel daarvan.  

Wednesday 14 June 2017

God kan!

Efesiërs 3 : 20     Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,

Het jy al ‘n teks gelees, wat jy weet jy al vantevore gelees het, maar op daardie oomblik is dit net asof die 3D prentjie uiteindelik sigbaar word?

Dit is hoe ek oor hierdie teks voel.  Ons weet God kan enige iets doen, maar wanneer jy besef dat jy as mens nie eens naastenby in staat is om te verwoord of te dink waartoe God in staat is nie, staan jy verstom.  Met ander woorde God se vermoëns is ver bo my begrip of wildste drome.

Bevind jy jouself op die oomblik op ‘n plek waar die situasie hopeloos lyk?  Dalk is jy een van die mense wat alles in die vlammehel in Knysna en omgewing verloor het… Vra vir God om vir jou deur te kom.  Erken dat jy nie weet hoe nie, maar dat jy weet Hy kan en dat jy glo Hy is jou enigste hoop. 

Hy sal jou nie teleurstel nie.

Tuesday 13 June 2017

Voor die regterstoel

2 Korintiërs 5 : 10  Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

‘n Pastoor vra eendag in die kerk:  “Wie van julle wil hemel toe gaan?”  Natuurlik was daar baie hande.  Sy volgende vraag is:  “Wie wil nou gaan?”  Dalk is dit vandag vir jou ook stof tot nadenke.

Baie mense weet en glo in die basiese beginsels van die Bybel.  Hulle weet daar is ‘n God… dat sy Seun, Jesus, aan ‘n kruis gesterf het, na drie dae opgestaan het en opgevaar het na die hemel van waar hy eendag sal terugkeer om te oordeel.  Hul weet dus presies wat gaan gebeur en ook wat hul moet doen om te verseker dat die oordeelsdag nie hul grootste nagmerrie word nie, maar hul stel uit.

Dit is ‘n absolute feit… ons gaan voor daardie regterstoel verskyn en daar sal vrae gevra word en miskien sal ons selfs tyd kry om te verduidelik, maar as jy nie op daardie punt reeds gered is nie, gaan jy niks meer kan doen om jou lot te verander nie. 

Daar is twee opsies… hemel of hel, niks tussenin nie.  

Wil jy nie asseblief sekermaak, vandag nog, dat jou saak met God reg is nie?

Monday 12 June 2017

Lukas 23

My ouma het altyd gepraat van ‘n dag is ‘om en dom’.  Dit beteken dis nie ‘n baie lekker dag nie... min of meer alles loop verkeerd.  Baie soos hier by ons deesdae, ne.  Ons is dan ‘n Christene… ons bid, lees ons Bybel, gaan kerk toe, praat met almal oor Jesus…

Sondag het Ds Tertus Bezuidenhout ‘n treffende boodskap gebring wat my uiteindelik die lig laat sien het.

Weerskante van Jesus aan die kruis hang daar twee mans ook aan ‘n kruis.  In vers 39 lees ons sê die een:  “Is jy dan nie die Messias nie?  Red jouself en ook vir ons.”  Hierdie man betoon geen respek en dit gaan net oor hom.  Daarteenoor lees ons in vers 40:  “Die ander een het hom egter bestraf en gesê:  “Het jy ook nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!  (41) Ons het dit terdeë verdien, want ons ontvang straf vir die dinge wat ons gedoen het.  Hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”  (42) Hy het verder gesê:  “Jesus onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”  Op die laaste nippertjie sien laasgenoemde die lig.  Nie net het hy sy sonde bely nie, maar hy respekteer en erken Jesus as die enigste Een wat hom kan red (sy verlosser).  (43)  Jesus se antwoord was:  “Ek verseker jou, jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees.”

Hier is die aah-ha oomblik.  Ons het Christelike Radiostasies, Christelike boeke, Die Bybel op ons slimfone, ons stuur geestelike WhatsApp boodskappe, smsse en eposse, hou biddae en vra gereeld ander om vir ons te bid, maar ons mis die bus totaal en al.  Jy sien, die twee mans weerskante van Jesus aan die kruis het albei met hom gepraat (gebid)… ek en jy praat ook elke dag met Hom deur middel van gebed, maar het ons die regte gesprek met hom?  Net een man het die regte gesprek met Jesus gehad.  Net een is saam met Hom hemel toe.

Ons kan bid en kerk toe gaan… al die regte dinge sê en doen, maar steeds nie gered wees nie.  Vandag pleit ek by jou om jou gebede en hart te ondersoek.  Watter een van die twee mans weerskante van Jesus is jy?

Eers wanneer ons onsself verootmoedig, sal Hy ons land genees.  

Sunday 11 June 2017

'n Omgee God

Genesis 6 : 19  Van al wat leef, van al die diere, moet jy twee van elk, manlik en vroulik, in die ark laat ingaan om saam met jou aan die lewe te bly.

Ek weier om te glo dat God wat die wêreld met soveel sorg en liefde geskape het, nie vir diere omgee nie.  Hy moes in sy alwetendheid geweet het hoeveel vreugde ‘n troeteldier die mens eendag sou besorg.   

Sonder troeteldiere sou meeste van ons meer medikasie moes gebruik om ons deur die lewe, sy teleurstellings (meesal deur mense veroorsaak) en pyn van elke dag te kry.   

Jare gelede het ek ‘n kliënt by hul huis gaan sien.  Die oomblik toe ek die huis binnestap, let ek die pragtige kat op en noem dit vir die kliënt, waarop sy antwoord:  “If you want her, you can have her.” Omdat ek allergies vir katte is, was die antwoord, nee dankie.  ‘n Paar dae later het haar man my egter geskakel en gesê dat hul beplan om die kat die volgende dag te laat uitsit.  As ek haar wou hê, moes ek haar dadelik kom haal. 
Dit was nie ‘n moeilike besluit nie.  Ek het haar gaan haal en vir die volgende min of meer 16 jaar, is ons lewe verryk deur ‘n pragtige kat.  Verlede jaar het sy skielik blind geword en daarvandaan het sy net al maerder geword, al het sy meer gereeld geëet.  Eergister het sy ongelukkig ‘n beroerte gehad.  Kort daarna het sy opgebring.  Omdat sy graag in die sonnetjie gelê het, het ons haar uitgeneem.  Toe sy opstaan het sy egter in sirkels geloop en later die aand het sy weer ‘n beroerte gehad.  Daarna het sy nie meer gereageer nie.  Nadat sy 24 uur glad nie geëet of water gedrink het nie het ons haar veearts toe geneem.  Die diagnose was hartverskeurend… sy’t breinskade opgedoen en sou nooit weer herstel nie.  Hulle kon haar op ‘n drip hou, maar haar organe is reeds besig om in te gee, vandaar die beroerte.  Ek was by haar tot die einde… een van die moeilikste besluite ooit!

Al troos wat ons het is dat sy ‘n lang en gelukkige lewe gehad het.  Sy het ons soveel vreugde gebring, maar nou het haar rustyd aangebreek.

Dankie Hemelse Vader vir Fluffy.

Thursday 8 June 2017

Troeteldiere

Job 39 : 1  “Kan jy vir 'n leeu sy prooi vang? Kan jy vir hom genoeg gee om te eet

Ons het 3 honde en ‘n kat, budgies en vissies.  Elke oggend en aand kry hulle kos.  Ek weet presies waarvan elkeen hou en maak seker dat hul bordjies so gevul word.  Snags maak ons seker dat elkeen ‘n veilige, droeë en warm slaapplekkie het.  Indien ons by uitsondering sou weggaan vir ‘n naweek, kry ons ‘n ‘petsitter’ om hul te versorg sodat hul nie ontwrig word deur byvoorbeeld in ‘n kennel te gaan bly nie. 

Dit klink seker na ‘n dierehemel, maar ek glo dat jy ‘n verantwoordelike diere eienaar moet wees.  As jy ‘n troeteldier wil hê, moet jy na hom of haar omsien, selfs al is hul nie meer die oulike babahondjie of katjie wat jou aanvanklik genoop het om hom/haar aan te skaf nie.  Ons een hond is al so oud, sy is op hartmedikasie. Die ander enetjie is blind in haar een ogie en doof.  Ook ons kat is doof en blind sedert sowat 6 maande gelede.  Dit beteken egter nie dat ek hul moet laat uitsit nie.  Hul het nou eers liefde en aandag nodig.  Al die jare het hul my oorlaai met liefde en toewyding, nou is dit my beurt om hul te bederf en 'n gerieflike 'oudag' te verseker.

Mense wat nie na hul troeteldiere omsien nie, moet myns insiens die voorreg ontsê word om een aan te hou.  Hoekom?  God het die mens aangestel oor die dier.  As jy ‘n ‘baas’ wil wees, moet jy ook optree soos ‘n baas.  God is ‘baas’ oor die diere en as jy deur Job lees, kry jy eintlik ‘n les in diereversorging.  As God die mens na Sy beeld geskape het, behoort ons ook Sy voorbeeld te volg op hierdie gebied.

Die maat waarmee ons meet, is ook die maat waarmee ons gemeet sal word.  Wees goed vir jou diere en versorg hul met liefde en toewyding… dit is immers hoe jy versorg word deur God.

Wednesday 7 June 2017

Dankbaarheid

Psalm 16 : 5 & 6  Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.  'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.

Het jy al ooit voorraadopname oor jou lewe gedoen?  Omdat ons so met slegte nuus gebombardeer word, is ons geneig om net die slegte raak te sien of te onthou.  Selfs wanneer ons bid fokus ons op die negatiewe deur vir God ‘n lysie te gee van dit waarmee ons hulp nodig het.

Dalk moet ons fokus op die positiewe.  Sien God se versorging en beskerming raak.  Let op hoeveel daar reeds ontvang is en waardeer dit eerder as om te verlang na nog.  Begin met nuwe oë na jou omgewing kyk.  Wanneer jy besef dat jou werk ‘n gawe van God is, kyk jy met ander oë na jou salaris, voordele en baas.  Wanneer jy opstaan na ‘n goeie nagrus, het jy meer waardering vir jou bed, die dak oor jou kop en ‘n koppie warm koffie of tee.  Moenie opsien na die sleurtakies soos toebroodjies inpak en skoonmaak nie, waardeer dat jy iemand het om dit voor te doen.  As jy gesond en mobiel is, dink aan hulle in hospitale en in rolstoele.  Indien jy winkel toe kan gaan om voorraad aan te vul, moenie oor die pryse kla nie, wees bly dat jy dit wel nog kan bekostig.  Daar is soveel wat geen inkomste het nie. 

‘n Dankbare hart lig jou sommer vinnig uit die diepste put.

Tuesday 6 June 2017

Hoekom en waarom?

Job 39 : 3  Wie gee vir 'n kraai die kos wat hy nodig het wanneer sy kleintjies om hulp roep na God, rondskarrel vir iets om te eet?

‘n Kollega van my was verlede week vir toetse en het gister die uitslae ontvang… basale kanker.  Sy en haar gesin gaan reeds deur so ‘n moeilike tyd, en nou nog dit ook.  ‘n Ander kollega se seuntjie is Saterdagnag oorlede… wiegiedood. Hoe vertroos jy so ‘n ouer?

Dis heel normaal om dan ‘hoekom en waarom’ vrae te begin vra. 

Elkeen van ons het ons eie reis en die paaie is nie altyd in ‘n goeie toestand nie.  So graag as wat ons elkeen die skouspelagtige roete wil ry, (dalk daar rondom Chapmanspeak of Bettiesbaai) neem die reis ons ook op minder bekende agterpaaie… dalk omdat ons ‘n verkeerde afrit geneem het.  Soms beland ons op paaie vol slaggate.  Ander kere is dit uitdagende bergpasse wat ons moet navigeer. Soms is dit soos spitsverkeer… behalwe dat frustrasie opbou, wil niks gebeur nie.

Alhoewel ons van tyd tot tyd mede-reisigers gaan teekom, is dit meesal ‘n solorit.  Wanneer ons dan met God gesels of redeneer, moet ons dalk onthou dat God veel meer ervaring as ek en jy het.  Hy is uiters bekwaam en in staat om in ons situasie in te gryp.  Terwyl ons rebelleer en protesteer, vergeet ons waarmee Hy elke dag besig is.  Lees maar Job… jy staan verstom.  Dit wat ek en jy nie eens elke dag oplet nie, doen God sommer so tussen al die gebedsversoeke, klagtes en treurmares deur. 

As hy seker maak dat ‘n kraai se kleintjies versorg is, hoekom sal Hy nie ook daar wees vir dit waardeur ons gaan nie.  Ons mag dit dalk nie verstaan nie en dit mag dalk onregverdig voorkom, maar dit beteken nie dat God nie in beheer is en nie ook hiermee ‘n doel het nie.

Laat ons God toelaat om dit te doen waarmee Hy die beste is… lief wees vir elkeen van ons… met elke tree wat ons gee, elke paadjie wat ons ry, elke slaggat wat ons tref.

Monday 5 June 2017

Psalm 15

Here, wie mag dit waag in u teenwoordigheid?
Wie mag woon op u heilige berg?
Hy wat onberispelik lewe en doen wat reg is, met 'n opregte hart die waarheid praat;
wat nie sy medemens belaster, hom benadeel, of van hom kwaadpraat nie;
wat die wat aanhou sondig, verfoei, hulle eer wat die Here dien en beloftes gestand doen selfs tot sy nadeel;
wat nie geld op rente uitleen nie, en nie omkoopgeld teen onskuldiges aanvaar nie.

Here, as ek hierdie Psalm van Dawid lees, besef ek dat ek nog so ver te kort skiet. Lei my asseblief na die lig.  Dit is my begeerte om elke dag areas in my lewe te identifiseer waar ek kan verbeter.  Soms is ek blind vir my eie foute en daarom het ek nodig om my oogklappe af te haal en heeltemal eerlik met myself te wees.

Ek soek U met my hele hart en ek wil regmaak waar ek nog faal.  Here, soms benadeel ons iemand sonder dat ons eens weet.  Maak my oë oop vir my eie tekortkominge en verwyder my selftrots sodat ek daardie persoon kan nader en om vergifnis vra.


Dankie dat U my so lief het dat U my die geleentheid gee om te werk aan myself.

Sunday 4 June 2017

Prys God!

Psalm 99:5 Prys die Here ons God. Kom buig in aanbidding voor Hom: Hy is heilig!

“The Wheel: Survival Games” is ‘n oorlewing program met ‘n verskil.  Ses deelnemers word in verskillende gebiede afgelaai o.a. ‘n Reënwoud, ‘n eiland, die tundra, bosveld, berge en vlaktes.  Die uitdaging is om 60 dae sonder enige ondersteuning te oorleef.  Daar is geen prysgeld op die spel nie. Elkeen kry ‘n vislyn, visnet, ‘n rantsoen van boontjies, ‘n pot, slaapsak, ‘n baie basiese noodhulptassie en ‘n seil om hul teen wind, reen en sneeu te beskerm.  Die wiel roteer op ‘n tyd dat hul nie vooraf weet nie.  Dan word hul na die volgende gebied geneem.  Hul het selfs hul eie kameras om hul reis te verfilm. Party areas is ‘makliker’ as ander, maar dit bly ‘n stryd op oorlewing.  Elkeen het ‘n sender met ‘n knoppie wat hul kan druk as hul nie verder kan aangaan. 

Die grootste uitdaging is egter nie soseer fisies nie, maar psigies.  Eensaamheid blyk die grootste uitdaging te wees.  Natuurlik speel honger ‘n groot rol.

Wat my opgeval het, is dat 4 mense al opgegee het en dat die twee wat oorbly albei Christene is, met die name Luke en Adam (geen toeval na my mening).  Op ‘n stadium is Luke mismoedig omdat hy honger is en eenvoudig geen vis kan vang nie.  Hy begin sing en bid en binne sekondes vang hy ‘n hele paar visse in sy net.  Dieselfde gebeur op ‘n stadium ook met Adam.  Niemand het nog in die Tundra ‘n enkele vis gevang nie.  Hy bid en daar vang hy sommer ‘n groot vis.


Beide hierdie mans bewys dat ons moet aanhou om God te loof en prys te midde van omstandighede.  Vir albei van hul, soos vir jou en my, het God nie teleurgestel nie. 

Thursday 1 June 2017

Wat die Here sê

Habakuk 2 : 1  ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

Gister het ons van geduld gepraat.  Dit is veral van toepassing wanneer jy God vra om jou wysheid te gee sodat jy die regte antwoord vir iemand kan gee.

Elke dag besef ek al meer en meer hoe mense na raad en leiding smag.  Mense lees artikels of self-help boeke, hul luister na Christen radio omroepers of motiveringsprekers… Daar is beslis ‘n honger na hoop en bemoediging.  Ek kan dit goed verstaan, want ons almal moet ons siele voed en perspektief kry wanneer die skaal na een kant neig.

Juis daarom moet ons verantwoordelik omgaan met raad en daad.  Die tyd vir leë woorde en cleches is verby.  Soms is woorde nie eens nodig nie.  Wees net daar vir iemand.  Bid saam met iemand.

Op die ou einde maak net dit wat God sê regtig saak.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...