Monday 31 July 2017

As die res van jou lewe die beste deel van jou lewe word

Romeine 11 : 29  As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.

Hoe sien jy jou toekoms?  Is jy vol hoop en drome, of het jy so ‘n bietjie spoed verloor?  

Miskien was jy op ‘n stadium vuur en vlam, met groot doelwitte, maar toe werk dinge nie heeltemal uit soos wat jy gedink het nie.    Teleurstelling en mislukking is net so deel van die lewe soos opwinding en sukses.  Ek kan jou verseker dat niemand voortdurend suksesvol is nie.  Die verskil tussen iemand wat sukses behaal en iemand wat dit nie maak nie, is dat eersgenoemde aanhou probeer.

God se plan vir jou lewe het nie weggegaan net omdat jy van jou droom afgesien het nie.  Hy weet van elke verkeerde keuse wat jy gemaak het, van elke persoon wat jou teruggehou het, van elke teleurstelling… en steeds roep Hy jou om te wees wie Hy jou geroep het om te wees. Sy plan vir jou lewe is perfek. 

Raak stil, vra na Sy wil en volg waar Hy jou lei.  Wanneer jy weer begin droom en jou visie in lyn met God se visie vir jou is, sal die res van jou lewe die beste deel van jou lewe wees… gewaarborg!

Die een ding wat jy dalk tot nou toe uit die oog verloor het, is dat God nooit teruggaan op Sy planne of woord nie.  

Sunday 30 July 2017

Geloof is vrees se enigste vyand

Josua 1 : 9  Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Het jy geweet dat vrees net soos geloof is, maar dat dit bloot in die teenoorgestelde rigting werk?  Laat ek dit demonstreer.  Geloof open ‘n deur vir God om in ons lewens te werk.  Vrees open ‘n deur vir die vyand se vernietigingstog.

Vrees het die vermoë om ons siel te martel.  Vrees het geen genade nie.  Wanneer vrees jou verlam, sal jy depressief, verslae en alleen voel.  Dit is juis hoekom so baie mense die geleentheid verloor op vrede en geluk… hulle is gevangenes van vrees.  En omdat hul gevangenes van vrees is, voed hul onwillekeurig hul vrese deur blootstelling aan negatiewe nuus of kommentaar. 
Dit hoef nie jy te wees nie.  In Romeine lees ons dat geloof kom wanneer ons die Woord van God hoor.  Vul jou hart en gedagtes met die Woord en beloftes van God, oftewel geloof, die enigste vyand van vrees.

Vandag wil ek jou herinner dat die Krag wat binne jou is, groter is as die mag van vrees.

Thursday 27 July 2017

Gesindheid

Filippense 2 : 5  Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:

Jy ken seker die gesegde:  “Your attitude determines your altitude”  Uit ‘n Christen perspektief… met ‘n geloof gevulde houding sal jy uitstyg bo jou omstandighede, terwyl ‘n negatiewe verslane houding jou sal aftrek.

Al beheer wat ons oor ons omstandighede het, is hoe ons dit sien, m.a.w. ons gesindheid.  As jy beproewing in ‘n negatiewe lig sien, sal jy nooit iets daaruit leer nie, maar as jy dit sien as ‘n groeiproses kan jy inderdaad beter en sterker anderkant uitkom.

Dit is hoekom party mense kan vrolik wees al gaan dit hoe swaar met hulle… vir hulle is die glas altyd half vol. 
Dit gebeur te maklik dat ons toelaat dat omstandighede ons misvorm.  As ons sleg behandel word by die werk, gaan haal ons dit by die huis op ons gesin (of die hond) uit.  As ons ‘n paar tree teruggesit word in die lewe wil ons ander blameer of terugkry eerder as om dit was ons deurgemaak het as getuienis te gebruik.

Die Bybel leer ons dat ware geloof God gelukkig maak.  Verstaan vandag dat God besig is om in jou lewe te werk… dat daar regtig ‘n doel met hierdie omstandighede is… Hy kan selfs hierdie terugslag as ‘n ‘stepping stone’ gebruik om jou tot hoër hoogtes as ooit tevore te neem.

Wednesday 26 July 2017

Red my, o God!

1 Kronieke 16 : 35  Julle moet sê: “Red ons, o God, ons Verlosser, maak ons bymekaar, red ons van die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons in u lof kan verheug.”

Dalk het jy al gevoel asof jy verswelg word deur leuens wat ander oor jou versprei, tot so ‘n mate dat jy so magteloos voel dat jy eenvoudig nie weet watter kant toe nie.  Hoe verdedig ‘n mens jouself teen leuens?  Nou is egter nie die tyd om moed op te gee nie.  Dit is eerder ‘n tyd om jou hakskene in te grawe en vas te skop.  Jy weet wie jy is.  God weet wie jy is.  Die waarheid sal seevier.

Wanneer hierdie dinge in ‘n mens se lewe gebeur, is dit asof dit ander teëspoed ook aantrek en skielik is dit nie net een ding wat jou onderkry nie, maar ‘n hele klomp goed.  Jy mag selfs voel asof jy bid en niks gebeur nie… daar is geen uitkoms nie.  Sulke tye is dit maklik om te sê: “Dis nou genoeg.  Nou gaan ek hulle aanvat.  Ek laat nie so op my trap nie.”  Dis tog wat ons doen… as gebed nie werk nie, gee ons op en doen self iets aan die situasie.  Jy sien, dit maak nie saak deur watter beproewing jy gaan nie, ons bepaal nie die uitkoms nie… net God.  Moet dus nie opgee op jou huwelik, of jou kind, of jou werk net omdat dit nie uitdraai soos wat jy dit wil hê nie.

Sien die uitkoms voor jou geestesoog en sê vir jouself:  “Ek het te ver gekom om op te gee.  Die rede hoekom die intensiteit van my beproewing so toeneem, is omdat die oorwinning binne sig is.   Nou is dit tyd om die koring van die kaf te skei en te wys dat ek waarlik op God vertrou.  Ek sien alreeds die uitkoms en daarom sal dit so wees.  Red my, o God!”

Tuesday 25 July 2017

Is die duiwel bang vir jou?

Matteus 4 : 11  Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat

Vroeër in hierdie selfde hoofstuf versoek die duiwel vir Jesus, maar ons weet dat die duiwel nie teen Hom opgewasse is nie.

Die vraag vandag is of die duiwel vir jou ook bang is.  Is hy bang omdat jy vas glo in God, Hom getrou dien en so naby aan Hom leef dat jy nie een oomblik in geloof sal wankel nie?  Of dink die duiwel jy is ‘n maklike teiken.

Vandag wil ek jou vra om so te leef dat die duiwel sidder as jy jou oë oopmaak.  Hy moet sommer stert tussen die bene ‘n lyn sny.

Jy is ‘n koningskind.  Leef breëbors en gaan voluit vir Jesus.


In die naam van Jesus Christus, moet ons eensgesind wees.

Monday 24 July 2017

Eensgesindheid

1 Korintiërs 1 : 10 Ek doen 'n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.

Een ding waarin die duiwel spesialiseer, is om verdeeldheid en onmin te saai.  Hy weet dat hy wen wanneer ons nie met mekaar oor die weg kom nie.  Dit is veral in die kerk en in huisgesinne waar hy baie suksesvol is.

Terwyl ons besig is om af te stig of te debatteer of Protestante beter is as Rooms Katolieke of watter kerk denominasie ook al, is hy besig om vastrapplek te kry, want dan is ons aandag afgelei en baie vinnig glo ons die leuens wat hy versprei.  So het ons nou al begin toegee dat ander gelowe ook dalk kan reg wees, of ons wonder of Christenskap die enigste pad na verlossing is.  Daar is egter net een waarheid, en dit is die verlossingsboodskap.

Moet ook nie toelaat dat daar onenigheid in jou gesin ontstaan of tussen familielede nie.  Praat sake uit en leef in vrede met mekaar.  Die duiwel stook enige smeulende vuurtjie totdat dit in ‘n vernietigende vuur ontaard.

Thursday 20 July 2017

Verwag die onmoontlike

Psalm 37 : 19  In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie, in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê.

Verwag jy op hierdie oomblik die onmoontlike van God?  Verwag jy dat Hy jou in oorvloed sal seen?
Volgens hierdie gedeelte verseker God ons dat die regverdige, die persoon wat Hom toegewyd dien, nooit ooit gebrek sal ly nie.  Selfs wanneer die uitkoms onmoontlik lyk, sal God voorsien.  Dus, wil ek jou uitnooi om die onmoontlike vandag van God te verwag.

God openbaar Homself altyd aan diegene wat Hom eerste plaas en in elke omstandigheid dien, selfs wanneer dit lyk asof daar geen kans op ‘n uitkoms is nie.  God wil jou seen.  Hy wil in jou lewe iets wonderbaarliks laat gebeur.  Stort jou hart voor Hom uit.  Laat Hy weet dat jy geen ander uitkoms sien nie, maar Hom volkome vertrou. 

Neem ‘n geloofstree vandag en verklaar God se beloftes oor jou lewe.  Die sluise van die hemel gaan vir jou oopgaan.

Wednesday 19 July 2017

Moenie moed verloor nie

Jesaja 40 : 27 – 30  Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.  Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie.

Wanneer jy bid en bid en God verhoor nie jou gebede nie, is dit maklik om te dink dat God jou ignorer, te ver is om te hoor, te besig is … van jou vergeet het.  Dan verloor ons hoop en ons gaan sit op ‘n hopie en bejammer onsself. 

Vandag wil ek jou vra om nie moed op te gee nie.  Moenie toelaat dat Satan jou oortuig dat God nie vir jou omgee nie.  Jy kan aanhou… jy kan deurdruk… jy kan nog eenkeer probeer.  As God sien dat jy aanhou probeer, ten spyte van die oënskynlike gebrek aan aandag van Hom, dis dan dat Hy jou versterk met bonatuurlike krag om voort te gaan.

Dit is makliker gesê as gedaan… ek weet, maar ek weet ook dat God getrou is en uiteindelik wel vir jou sal deurkom. 

Ek het ook al agtergekom dat gebed en smeking afgewissel moet word met lofprysing.  Prys God asof Hy alreeds jou gebede verhoor het.  Al loop die trane, sing ‘n loflied tot Sy eer.

Skoenlapper oomblikke

Psalm 142:2  Ek roep na die Here om hulp, ek smeek die Here om genade,

‘n Man het eendag op ‘n skoenlapper papie afgekom, net toe die skoenlapper begin losbreek uit die papie uit.  Hy het lank na die worsteling staan en kyk, later gaan sit en uiteindelik besluit om die proses aan te help toe die skoenlapper amper heeltemal uit die papie losgewoel het.  Sy vlerkies was nog nat en met die dat die man die skoenlapper gehelp het, het hy die vlerkies beskadig en die outjie kon nooit vlieg nie.  Hy’t uiteindelik doodgegaan.

In baie van ons se lewe is daar net soveel ongeduld.  Ons bid en smeek God vir uitkoms en as dit nie vinnig genoeg na ons sin gebeur nie, gee ons moed op, of ons begin sommer self iets aan die situasie doen.

Dit is ‘n kuns om vir God te wag.  Daardie skoenlapper moes swoeg om uit die papie te kom om sy vlerkies sterk te maak en tyd moes verloop om sy vlerkies te droog sodat hy kon vlieg.  Net so moet ons ook groei en sterk word.  Dus moet ons geduldig op God wag tydens ons skoenlapper oomblikke.

Monday 17 July 2017

As ek swak is

2 Korintiërs 12 : 12  Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Voel jy asof jy die einde van jou kragte bereik het?  Voel jy hulpeloos, hooploos, verslaan?  Vra jy hoekom jy weereens deur ‘n krisis moet gaan en dalk asof hierdie een jou einde kan beteken? 

Jy is nie alleen nie.  Vele van ons kan identifiseer met hoe jy vandag voel.  Ons was al almal op so ‘n plek in ons lewens, maar weet jy, die mens is ‘n wonderbaarlike wese.  Op die een of ander manier trek ons tog deur.  Op die een of ander manier waai hierdie gevoel ook oor en ons oorleef, ten spyte van alles.

Kyk bietjie terug op vorige kere wat jy jouself op dieselfde plek bevind het en dink bietjie na.  Wat het jy daaruit geleer?  Wat het verander en veral, wat was dit wat jou weer laat kop optel het. 

Jy kan ook hierdie storm oorleef.  En as jy op jou swakste is, weet dan… dan is God op Sy sterkste.  Hou vas aan Hom.  Jy kan dit maak.  Jy is sterker as wat jy dink.  Moet nooit op jouself opgee nie.

Sunday 16 July 2017

Staan sterk

Psalm 6:7  Ek is uitgeput van verdriet, ek huil die hele nag deur, ek deurweek my bed met trane.

“You never know how strong you are until being strong is the only choice you have…~ Unknown”

Partykeer is dit ook maar goed ons weet nie wat vir ons voorlê nie.  Ek dink ons sou aanhou bid en smeek dat sulke dinge dan nie met ons moet gebeur nie.  Niemand wil iemand aan die dood afstaan, sy/haar werk verloor, deur ‘n egskeiding gaan, ‘n rebelse kind grootmaak… , maar ons weet dat elke beproewing, elke stryd, elke traan ons sterker maak.

Waaraan ek my troos as ek deur sulke tye gaan, is dat dit my ook nader aan God bring.  As ek swak is, weet ek is Hy op Sy sterkste.  Al swik my bene onder my, hou hy my staande.  Wanneer trane oor my wange stroom, vang Hy elke traan op.  Dit is partykeer al wat ‘n mens staande hou en laat deurdruk.


Die gesegde laat my ook dink aan Eleanor Roosevelt se gesegde:  "A woman is like a tea bag - you can't tell how strong she is until you put her in hot water."

Thursday 13 July 2017

Wat kan 'n mens my aandoen?


1 Kronieke 16:22  “Moenie aan my gesalfdes raak nie

"What can people actually do to us?  They can stain our reputations, but God fully knows all hearts...  They can stand in the way of opportunity, but God opens doors that no man can close...  They can steal our earthly goods, but God is our treasure...  They can restrict our physical freedom, but God's spirit is unchained...  They can hinder or take our jobs, but God is our Provider...  They can kill our body, but they cannot touch our souls...  So the next time we feel threatened by someone's words or ways, let us resist the fear of people by remembering 2 truths:

     1.  The person that stands before us, is human

     2.  The one that stands behind us, is God    ¬ Alicia Britt Chole 

(Sitting in God's sunshine)

Wednesday 12 July 2017

My tye is in Sy hande

Psalm 31 : 16  My tye is in u hand

Ek lees vroeer die week van ‘n seuntjie wat in 2013 net 4 weke gegee is om te leef.  Hy was maar 4 jaartjies oud toe hy met ‘n baie ernstige kanker gediagnoseer is.  Om sulke nuus aan te hoor as jy ‘n volwassene is, moet jou omtrent platslaan.  Kan jy jou voorstel om dit aan ‘n kind oor te dra?

Die klein mannetjie het sy stryd die naweek verloor.  Sy mamma het mense via sosiale media op hoogte gehou en hy’t byna 17 000 mense gehad wat sy vordering dopgehou het.  Toe sy mamma die hartseer nuus Sondag deel, het 3000 mense bykans onmiddellik gesimpatiseer. 

Ons kan daarna kyk op twee maniere.  Die dood het nog ‘n slagoffer geeis, of die hemel is ‘n engeltjie ryker. 

Al is dokters hoe slim, hou hul nie iemand se lewe in hul hande nie.  Net God hou ons tyd in Sy hande en daarom het hierdie klein seuntjie 4 jaar langer geleef as wat die dokters gereken het. 

Ek glo dit is omdat God gebede en smekinge aangehoor het.  Hy is immers ‘n God wat omgee en altyd luister na die gebed van die regverdige.

As jy dalk onlangs ‘n diagnose moes aanhoor, gesels met God daaroor en laat jou tyd in Sy hande.  

Tuesday 11 July 2017

Vergewe en vergeet

Psalm 24:5  So iemand sal van die Here seën ontvang

“To receive what God has for you, you need to put down the things you are holding onto…”  ~ Louie Giglio

Ek wonder hoeveel keer verloor ons seëninge, net omdat ons hande en arms oorloop van allerhande onnodige bagasie wat ons ronddra.  Ons is so besig om ou koeie uit te grawe dat die lewe verbygaan sonder ons.

Die Here wil jou seen.  Hy is lief vir jou en Hy wil net die beste vir jou hê. Leer vandag uit hierdie gesegde en laat gaan.   Ek hoor vandag op RSG ‘n aanhaling van Nelson Mandela.  Toe hy by die tronk in Victor Verster uitgestap het, het hy gesê:  “As ek nie vergewe en die seer en bitter saam met my neem wanneer ek by hierdie hekke uitstap, sal ek vir altyd in die tronk wees.” 


Vergifnis bring Vryheid.  Dit is nie maklik nie, maar dit is nodig sodat jy kan heel word en aanbeweeg.  Jesus is gekruisig vir almal se sondes.  Hy het nooit gesondig nie, maar Hy was bereid om te vergewe alvorens hy die grootste offer ooit gebring het.  
Vergewe en vergeet.  As jy nie vergeet van die onreg wat teenoor jou gepleeg is nie, het jy nog nie vergewe nie, want wanneer God vergewe vergeet hy geheel en al daarvan en ons behoort dieselfde te doen.

Monday 10 July 2017

Leer by die voëls

Matteus 6 : 26 Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Vanoggend toe ek die wasgoed in snerpende koue ophang terwyl die sneeu soos versiersuiker op die berge lê, hoor ek die voëltjies sing asof dit die lieflikste dag ooit is.  Ons kan soveel by hierdie voëltjies leer.  Dit is asof hul God byvoorbaat dank vir ‘n mooi dag en ietsie om te eet.

In teenstelling hiermee, maak baie ons ons oë oop en die eerste ding wat ons doen is om te sug. (wel meeste van ons, hopelik nie jy nie)  “Moet ek opstaan? Ek is nie lus vir hierdie dag nie.” 

Volgens God is ons meer kosbaar as hierdie voëltjies, maar ek dink amper ons verdien nie hierdie status nie, behalwe as ons iets hieruit kan leer.

God sorg vir ons, onverdiend, net soos wat hy vir die voëls sorg.  Dit is genoeg rede om met ‘n lied in jou hart op te staan.

Thursday 6 July 2017

Hot buttons

Spreuke 15:1  'n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam.

Byna op ‘n daaglikse basis kom ons in aanraking met mense wat ons verkeerd opvryf.  Jy staan met goeie voornemens op, maar om die een of ander rede is daar altyd iemand wie se missie dit is om jou slegste eienskappe na vore te bring. 

Neem nou maar party van die ekstremiste op TV.  Hulle het altyd ‘n appeltjie te skil met iemand.  Daar is altyd iemand wat hul te na kom en hulle is altyd die slagoffer.  Jy sal nooit hoor hoe hul iets positief aan ‘n situasie doen nie.  Hulle wil alles met geweld en vergelding regkry.  Dit is maklik om tot op hul vlak te daal en ongelukkig wil dit voorkom asof al meer mense geweld en vernietiging van ander se besittings gebruik om hul sin te kry, maar as ‘n Christen behoort ons nie so op te tree nie.

Wanneer gemoedere hoog loop, hoor ons selde mekaar.  As jy op die verdediging is, is logika lankal by die deur uit.  Dit is dan dat ons dinge sê of doen wat ons nie bedoel het nie. Speak when you are angry and you’ll make the best speech you’ll ever regret - Dr. Laurence J. Peter  Wanneer ons dan agterna die situasie terugspeel, kry ons eintlik skaam oor ons optrede. 

As Christen is ons nie immuun teen opsweping nie, maar ons kan selfbewustheid kweek deur op te let wat ons “hot buttons” is. 

Ek het byvoorbeeld besef dat mense wat op die snelweg indruk my bloeddruk die hoogte in jaag.  Sedertdien ry ek liewer in die vinnige baan waar niemand voor my kan kom indruk omdat hul met ‘n oprit verbyjaag en dan voor gaan indruk nie.

Wie wil jy wees?

Jesaja 43 : 1 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

‘n Professor het vir ‘n groep studente gevra:  “As jy enige iemand in die wêreld kan wees, wie sal dit wees?”  Tagtig persent van hulle het gekies om iemand anders te wees!  Net twintig present van die studente was gelukkig om te wees, wie hul gebore is om te wees. 

Dit is nogal hartseer.  Hoekom wil jy iemand anders wees?  Is dit omdat hul lewe so perfek lyk?  Is dit omdat hul beroemd, bekend of ryk is?  Glo my niemand se lewe is perfek nie en almal het onder begin. 

Om te wens dat jy iemand anders kon wees, gaan net maak dat jy jou omstandighede of lewe al meer en meer gaan haat.  Vind liewer berusting in die feit dat jy so uniek en spesiaal is dat mense eintlik soos jy wil wees. 

Die sakewêreld floreer wanneer ons twyfel oor ons identiteit.  Hulle adverteer allerhande produkte wat ons kan help… pille om jou maer te maak, roompies om die plooie weg te vat, bekende naam produkte… die lys gaan aan en aan.  Natuurlik moet jy na jouself kyk en doen wat jy kan om op jou beste te lyk, maar dit beteken nie dat jy iemand anders se lewe moet leef nie.

Partykeer konformeer ons of verander om in te pas, net om op ‘n dag te besef dat ons eintlik nie hou van die persoon wat ons geword het nie.

Onthou wie jy is en bly getrou aan jouself.  Dit is wie God jou bedoel het om te wees.

“Wanting to be someone else is a waste of the person you are.”  ― Marilyn Monroe

Wednesday 5 July 2017

Dit begin by onsself

Hosea 5 : 15  Ek sal terugkeer na my plek toe totdat hulle hulle skuld bely en na My opsien vir hulp.  Sodra hulle moeilikheid het, dan sal hulle My soek  

Hoeveel keer het jy jouself al voorgeneem dat jy elke Sondag sal kerk toe gaan en jou Bybel gereeld lees en bid, maar voor jy jou kom kry het jy al weer ‘n Sondag of twee drie oorgeslaan en ‘n week laas jou Bybel oopgeslaan?  In Suid-Afrika het ons die vryheid om te aanbid soos en wanneer ons wil.  Menige huis het meer as een Bybel… ongelukkig ook meer as een Bybel wat nooit eens oopgemaak word nie.

Ons kan nie net tot God nader wanneer ons ‘n krisis ervaar nie.  Dalk is dit hoekom ons land in hierdie verskriklike toestand is.  Ons moet as volk terugkeer, ons skuld bely en aan die voete van Jesus bly sit.  ‘n Enkele gebedsdag in Bloemfontein is ‘n goeie begin, maar om God te dien moet ‘n leefwyse word, nie net ‘n geleentheid nie.

Waar begin ons, vra jy?  Elkeen begin by onsself en as ons in die roetine is, begin ons by hulle naaste aan ons en hulle loop dieselfde paadjie en kort voor lank is ons almal terug waar ons hoort.

Tuesday 4 July 2017

Die Groot Skipper

Genesis 6 : 9  Hier volg die verhaal van Noag.  Noag was ‘n regverdige man.

Noag kry die opdrag om ‘n ark te bou in ‘n tyd waar die wêreld nie ‘n baie mooi plek is nie… baie soos nou.  Dit is so erg dat God besluit om die wêreld uit te wis.  Hy vind net een gesin waardig om te behou… Noag en sy gesin.

Op die oomblik is ons ook mismoedig in Suid-Afrika en glo dalk daar is nie geen hoop nie.  Noag moes ook so gevoel het, want tot op daardie stadium het hy nog nie kinders gehad nie, maar toe God hom opdrag gee om die ark te bou, kry hy hoop en Sem, Gam en Jafet word binne 3 jaar van mekaar gebore.  Hulle sou self al naby ‘n honderd jaar oud wees toe hul die ark binnegaan, want die voltooiing daarvan sou 120 jaar neem.  Net agt mense is gered… Noag, sy vrou, hul 3 seuns en hul vrouens.

Nou weet ek nie of jy al ooit daaraan gedink het nie, maar die ark het geen seile, roeispane of ‘n motor gehad nie.  God self het die deur gesluit nadat almal binnegegaan het en daar het hul gewag terwyl dit begin reën het. 

Met sulke aanhoudende, erge reën, moes daar sterk wind gewees het, maar Noag was nie beangs nie, want hy het geweet wie is aan die stuur van die ark.  God self sou die ark manuevreer tussen alles wat sou ronddryf en weghou van gevaarlike areas.

God is ook in beheer van elkeen van ons se lewens.  Hy is en bly die Groot Skipper.  Jy hoef nie bekommerd te wees oor enige iets nie.

Sunday 2 July 2017

Om God te verloën al dan nie

Matteus 10 : 32 - 33  “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. 33  Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.”

Wanneer jy die geleentheid het om met jong kinders te gesels, kom jy agter hoe gebrekkig hul Bybelkennis is.  Min gesinne hou nog huisgodsdiens.  Kerke loop leeg.  Onlangs het ‘n regter beslis dat geen geloof voorkeur bo ‘n ander in skole mag geniet nie. Godsdiensonderrig as periode is al geruime tyd nie meer toelaatbaar in skole nie. 

Watter kans het ons kinders om die wonder van Christenskap te beleef en ervaar… om God te leer ken soos ek en jy Hom leer ken het?   Is dit reg of regverdig teenoor kinders?  

In effek is ons besig om God te verloën.  In Matteus is dit duidelik wat ons voorland is as ons dit doen.  Daarom kan ons nie wonder hoekom dit in ons land gaan soos wat dit gaan nie.  Ons as Christene het lamsakkig geword.  Ons staan nie op vir God nie.  Ons is so bang om iemand se regte te skend of hul te na te kom dat ons eenvoudig saam met hierdie besluite gaan. 

Indien daar enige waarde in demokrasie is, behoort Christenskap uitgeleef te word op elke hoek en draai… dan behoort ons Godsdiensonderrig ‘n prioriteit in ons skole te maak en elkeen van ons wat onsself as ‘n Christen uitgegee het tydens die sensus opname  (“Christianity is the dominant religion in South Africa, with almost 80% of the population in 2001 professing to be Christian”), behoort op ons reg te staan dat die meerderheid dikteer wat gebeur en nie minderhede nie.  Daarom SAL skole toegelaat word om Christenskap te promoveer.  En as dit nie die minderhede pas nie, is hul welkom om hul geloof voluit in hul eie omgewing uit te leef.

Ek weier om God te verloën.  En jy?

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...