Thursday 31 August 2017

God sal dit nie toelaat nie!

Jy’t hard gewerk om sukses te behaal, maar nou het jy bitter min vriende.  Dis gewoonlik bitter eensaam aan die toppunt van die suksesleer.  Hoe beter dit met jou gaan, hoe meer suksesvol jy is… hoe meer teenkanting kry jy.  Vandag wil ek jou ‘n heel ander perspektief gee te midde van jou stryd.

Moses het nie aangebied om die volk uit Egipte te lei nie.  Om die waarheid te sê hy was uiters onwillig.  Tog het hy die rol op die ou end omarm.  In Numeri 12 : 3 lees ons Moses was 'n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde. Ten spyte daarvan het nie almal gehou van als wat hy gedoen het nie.  Mirjam en Aaron was ongelukkig oor die uitlandse vrou met wie hy getrou het.  Vers 2 lees ons Die Here het dit gehoor en vers 9 Die toorn van die Here het teen hulle ontvlam en onmiddellik het Mirjam melaats geword.

Hieruit leer ons God laat nie toe dat iemand teen sy kinders kwaadspreek nie. God hoor wat mense sê… hy weet van hul afguns, hoe hul jou afbreek, hoe hul ongelukkig is met reëls wat jy toepas, met disipline wat jy moet handhaaf… En Hy hou nie van wat Hy hoor of sien nie.

Suksesvolle mense is nie baie gewild nie, maar as dit is waar God jou wil hê, moenie toelaat dat ander jou ontmoedig nie. Jy werk immers nie vir ‘n baas nie, jy werk vir God.  Jou werk is nie om mense te verander nie… sommige mense kruis jou pad om jou te toets… juis om die wêreld vir jou moeilik te maak.  Judas was deel van Jesus se binnekring, tog het hy Hom verraai.  Saul het nie van Dawid gehou nie.  Hier’s die ding.  As Saul van Dawid gehou het, sou Dawid nooit koning geword het nie.  Dit was dalk nie aangenaam vir Dawid nie, maar op die ou end het dit in Dawid se guns gewerk.

So wanneer mense jou aftrek, is hul eintlik besig om jou teen die leertjie op te stoot, want God hef diegene op wat Hom getrou dien,soos hy vir Dawid opgelig het, al probeer ander hul afbreek.

Mag jou Lentedag vol vreugde wees.

Wednesday 30 August 2017

God sal vir jou reg opkom

Nehemia 4:3  Tobija die Ammoniet het langs Sanballat gestaan en hy het gesê: “Laat hulle bou! Daardie klipmuur van hulle sal omval as 'n jakkals daarteen spring!” 

Wanneer jy probeer goeddoen, sal daar gewoonlik mense wees van wie jy teenstand gaan ervaar. Of jy nou ‘n fondsinsameling probeer reël, of ‘n basaar…of teologie studeer, siekes in hospitale besoek… iemand  gaan jou kritiseer of ontmoedig.  Jy mag nie toelaat dat mense jou van jou koers af dwing.

Vandag 20 jaar gelede het die wêreld die skoknuus ontvang dat Diana Spencer / Prinses van Wallis / Lady Di, die gewese vrou van Prins Charles, oorlede is. Van die oomblik dat sy in die kollig beland het, het mense haar gekritiseer, maar sy het nie toegelaat dat mense se negatiewe kommentaar haar daarvan weerhou om by talle liefdadigheidsorganisasies betrokke te raak en 'n enorme verskil in derduisende mense se lewens te maak nie.

Nehemia was besig om die stad se mure te herbou.  Dit was ‘n groot taak wat al sy aandag vereis het.  Hy kon met hul gaan afreken, maar dan sou die werk vertraag word. En as hulle negatiewe kommentaar hom ondergekry het, sou die muur nooit klaargebou word nie.  Die aanslae het feller geword as jy die res van die hoofstuk lees, maar hul het aangehou om te doen wat hul moes.

Moenie fokus verloor nie. Fokus eerder op die taak op hande.  Jy weet waartoe jy geroep is. Dis nie asof die aanvalle sal ophou nie, maar dit sal jou aandag aflei. Wanneer die taak suksesvol afgehandel is, gaan dit wat die negatiewe mense kwytgeraak het in elk geval vergete wees. 

Vandag leef Lady Di voort as die Prinses van Harte en haar handewerk word voortgesit deur haar seuns.

Jer 51: 36 So sê die Here: Ek sal vir julle reg opkom.

Tuesday 29 August 2017

God sal jou ophef wanneer ander jou aftrek

Een ding moet ek en jy onthou, as God vir ons is, kan niemand teen ons wees nie.

Mordegai was ‘n Jood.  Hy het geweier om voor enige iemand te buig.  Haman het hom op enige manier probeer in onguns bring.  Mordegai het geweet wie namens hom die geveg veg, maar dit kon nie maklik gewees het nie.  Haman was in diens van die koning, het toegang tot die koning, het aansien gehad… so Mordegai was eintlik magteloos. 

Een aand sukel die koning om te slaap en hy vra een van sy diensknegte om die stad se geskiedenisboek vir hom te bring.  Daar lees die koning toe van die persoon wat ‘n goeie daad gedoen het.  Die volgende oggend roep hy Haman in en vra vir hom:  “Wat dink jy moet ons doen om iemand te eer wat ‘n goeie daad gedoen het en die koning se aansien sodoende verhoog het?”  Haman dink toe die koning verwys na hom en hy stel toe voor dit wat hy graag sou wou ervaar:  Ester 6:9  Die kleed en die perd moet oorhandig word aan een van die hoogste amptenare van die koning, en dié moet die kleed aantrek vir die man aan wie die koning graag eer wil bewys. Die amptenare moet die man dan op die perd oor die stadsplein laat ry en voor hom uitroep: So word gemaak met iemand aan wie die koning graag eer wil bewys!”

Groot was sy verbasing toe die koning sê:  “Ek hou van die plan, gaan haal vir Mordegai.”  Ek moet bieg, ek wens ek kon Haman se gesig sien. Kan jy sien hoe God te werk gaan?  Niemand kan hond haaraf maak as God vir jou is nie.  Hy weet hoe om reg te laat geskied en diegene op te hef wat onregverdig vertrap is.

Dalk is daar mense wat alles in hul vermoë doen om jou in onguns te bring.  Dit gebeur oral, ook met Dawid. Ps 69 : 5 Dié wat my sonder rede haat, is meer as die hare op my kop. Dié wat my vir altyd wil stilmaak, is sterk. My vyande dwing my met vals beskuldigings om af te gee wat ek nie geroof het nie.  Dawid was raadop!  Jy dalk ook.  Mense lag vir jou, hulle spot jou, hulle is jaloers op jou… So what!  Jy’s in goeie geselskap… Dawid het immers koning geword, Mordegai is vereer… despite the odds.

Monday 28 August 2017

Jy kan nie almal 'please' nie

Dit maak nie saak hoe ‘n goeie en gawe persoon jy is nie, daar sal altyd iemand wees wat nie van jou hou nie.  Hul is nie geinteresseerd in jou opinie of jou as persoon nie.  Hul sal jou nooit die voordeel van die twyfel gee nie.  Wat jy ookal sê sal altyd verkeerd geinterpreteer word.

Meeste mense sal in die slaggat trap om hulself te verdedig, maar moet nie jou energie hierop vermors nie.  Die vyand probeer jou aandag aftrek.  God sê dat Hy die geveg namens jou sal stry.  
  
Selfs Jesus het nie mense se venyn vrygespring nie. 1 Petrus  2:22  “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit 'n leuen gekom nie.”  Ten spyte van die feit dat Hy niks verkeerd gedoen nie, het mense steeds fout gevind. Hy is misverstaan, vals beskuldig en verneder.  Voel dit bietjie soos jou lewe?  

Jesus moes partykeer sekerlik gevoel het asof Hy net nie kan wen nie.  Toe Hy iemand op die Sabbatdag genees, het mense hom gekritiseer… nie oor wat hy gedoen het nie, maar oor wanneer hy dit gedoen het.  Party mense kan jy net nie ‘please’ nie.  Aanvaar dit. 

Hoe het Jesus dit hanteer?  Wat het Hy daaromtrent gedoen?  Hy het nie homself verdedig of probeer om Sy reputasie te red nie.  Hy het nie toegelaat dat enige iemand Sy aandag aflei van dit wat Hy moes doen nie. 

So, hoekom moet jy aan mense bewys wie jy is of jouself verduidelik of regverdig?  Jy hoef net aan God rekenskap te gee.  Ignoreer wat mense sê… wat hul op sosiale media kwytraak, of dit wat jy via ander hoor daar oor jou geskinder word.  Bly eerder gefokus.

Sunday 27 August 2017

Moenie tou opgooi nie

Lukas  18:1  Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word

Het jy ook eendag lank gelede daarvan gedroom om verder te studeer, maar nooit die geleentheid gekry nie.  Wat ookal die rede, ek hoop dat vandag se verhaal van Elizabeth Blackwell jou vandag nuwe moed sal gee om jou drome van voor af na te jaag.

Elizabeth Blackwell is gebore op 3 Februarie 1821, die derde van 9 kinders.  Nadat haar pa sy suiker raffinadery in ‘n brand verloor, besluit hy om met sy familie na Amerika te verhuis.  Sy was redelik liberal in haar denke. Na skool besluit sy dat sy nie van ‘n man afhanklik sal wees om vir haar te sorg nie, sy gaan vir haarself sorg.  Dit was heeltemal ongehoord in daardie dae waar ‘n dame so gou moontlik getrou het en na haar man en kinders omgesien het.

Sy aanvaar ‘n pos as onderwyseres.  ‘n Vriendin vertel haar van ‘n mediese situasie wat sy het en noem dat sy dokter toe moet gaan, maar dat dit darem beter sou gewees het as daar vrouedokters was.  Dit laat Elizabeth wonder hoekom daar nie vrouedokters is nie.  Sy doen bietjie navorsing en vind uit dat sy 3000 dollar nodig het om medies te studeer.  Aangesien sy altyd in siektes en die menslike anatomie belanggestel het, begin sy dadelik fondse bymekaar maak.

Min het sy geweet dat geld die minste van haar probleme sou wees.  Vroue is nie gesien as waardig genoeg vir die mediese profesie nie.  Elizabeth laat haar egter nie onderkry nie. Sy doen aansoek by die een na die ander mediese skool, sonder sukses.  Twaalf aansoeke word afgekeur.  Oplaas is daar een dekaan wat voel hy moet haar ‘n kans gee met haar dertiende aansoek.  Hy vra die mediese studente om te stem. Op daardie stadium is almal mans en hul dink dit sal vir afwisseling sorg om ‘n dame in hul midde te hê.  So gebeur dit dat een en elkeen van hul ‘ja’ stem en Elizabeth aanvaar word in 1847.  Dit was so ongehoord dat geen verdere vroue as mediese studente aanvaar is tot die 1860’s nie.

Op die ouderdom van 26 jaar begin Elizabeth haar studies by Geneva Medical College in Geneva, New York.  Haar dertiende aansoek was suksesvol! Hoeveel van ons sou tou opgegooi het na die derde of vierde afkeuring? 

In 1849 gradueer sy as topstudent van haar klas.  Sy besluit dat sy nog nie genoeg weet om te prakteseer nie en Junie dieselfde jaar begin sy verloskunde studeer in Parys.  In 1851 keer sy terug na New York.  Die gety het nog nie gedraai nie.  Niemand wil haar aanstel as dokter nie.  Weereens laat sy haar nie afsit nie, maar begin haar eie praktyk.  Tussendeur het sy lesings gegee en gedoen waarvan sy gehou het… om dokter te wees.  Sy het egter nog ‘n droom gehad… om ‘n hospitaal te begin.  Sy begin fondse insamel. In 1856 open die deure van “The New York Infirmary for Indigent Women and Children”.  Sy het nog vele mylpale bereik en op die rype ouderdom van 89 afgesterf.
Elizabeth se lewe leer ons vele lewenslesse o.a. moet nooit tou opgooi nie, nooit ophou droom nie… volg jou drome, al is alles teen jou…  ook jy kan ‘n baanbreker wees.


Thursday 24 August 2017

Moenie moedeloos word nie

Job 19:25  Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer

Teleurstelling, hartseer, ontnugtering is en bly deel van die lewe.  As vriende, familie, jou kinders, jou werkgewer jou teleurgestel het, weet dat God altyd ‘n ander deur sal oopmaak in die plek van die een wat toegeslaanhet.

Wanneer daardie nuwe deur oopgaan, kan jy vergeet van jou aflegging, die hartseer egskeiding, die regstryd wat jy verloor het, jou bankrotskap… Hy is ‘n God van nuwe begin.
Job het omtrent alles deurgegaan wat ek of jy hier op aarde kan deurgaan. Ten spyte daarvan het hy God nooit verloën nie.  Hy het bly verklaar dat sy Verlosser leef en geweet dat God altyd triomfeer.  So het dit ook gebeur.  Job se vriende wou hê dat hy realiteit in die gesig staar en van God wegkeer, maar Job het geweier.  Uiteindelik sou God hom nie net herstel tot wie hy was en wat hy besit het nie, maar hy het meer as ooit tevore gehad.  God het hom selfs ook lang laat leef om hierdie nuwe rykdom te geniet. Job het nog 4 geslagte daarna aanskou.

Voorspoed kom selde oor ons pad alvorens ons deur diep waters moes spartel.  Sonder ‘n toets is daar immers geen getuienis nie.  Wanneer omstandighede ons platslaan en ons nie herwaarts of derwaarts weet, is uitkoms binne ons bereik. 

Moenie opgee nie, moenie moed verloor nie.  Vee jou trane af en begin van vooraf.  Sodoende sê jy vir die vyand:  “Ek het steeds ‘n kans en dus beland die vyand as’t ware onder jou voete.”  Verklaar hardop: “My Verlosser leef… Ek weet Hy’s besig om my deurbraak te bewerkstellig”.

Wednesday 23 August 2017

Hoe gaan dit?

Deuteronomium 18:13  Jy moet opreg wees voor die Here jou God.

Soveel van ons dra denkbeeldige maskers elke dag van ons lewe. Wanneer ons iemand groet, vra ons gewoonlik hoe dit gaan.  Min mense sal die geleentheid gebruik om jou eerlik te antwoord.  Ons antwoord amper outomaties:  “goed dankie”.

Ons kruip agter ons denkbeeldige plastiek maskers weg en gee voor dat alles in orde is, maar dit is glad nie so nie.  Binne ons is dit stukkend en eintlik is ons lewe besig om uit mekaar te val. Hoekom wil ons teen elke prys voorgee dat alles reg is as dit glad nie so is nie?

Is dit omdat dit klink asof meeste mense se ‘hoe gaan dit vraag’ nie regtig ‘n antwoord verwag nie?  Hoe hartseer is dit nie? Ons kan mos nie voorgee ons is Christene en dan stel ons nie opreg belang in ons medemens nie.  Glo my almal wat jy vandag gaan teëkom is nie ok nie.  Daar is mense wat hartseer is, honger is, huweliksprobleme het, wie se kinders op skool sukkel… en so kan ek aangaan.

Dalk is hierin op sig self vir ons ‘n les te leer.  Moenie vra hoe dit gaan as jy dit nie bedoel of tyd het om te luister nie.  Ek het al geantwoord: “nie so goed nie,” en die persoon het dit nie eens agtergekom nie… net geantwoord… "ook goed dankie". Dalk wil ons eenvoudig nie betrokke raak nie, want nou-nou moet ek jou help.

Om jou masker te laat sak en toe te laat dat ander die pyn in jou oë sien, is nie ‘n swakheid nie.  Dit wys eerder dat jy ‘n mens met gevoelens is.  Ek glo vas dat gedeelde hartseer gehalveer word en gedeelde vreugde verdubbel.

Tuesday 22 August 2017

'n Spesiale aflewering

Psalm 30 : 5  Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof sy heilige Naam!

Elke oggend dat ons, ons oë oopmaak, behoort ons te besef dat ons nog ‘n spesiale aflewering van God se vreugde ontvang het.  Strek jou uit en verklaar dat dit ‘n fantastiese dag gaan wees.  Wanneer jy dit doen, maak jy as’t ware die deur vir God oop om daardie spesiale aflewering te ontvang.

Ongelukkig maak party van ons nooit daardie deur oop nie.  Vreugde klop al vir maande en jare aan jou deur… Komaan, laat my in.  Ek wil jou dag opvrolik… Ek wil jou wys hoe om die lewe te geniet. 

Die voordeel daaraan om jou dag so te begin is dat jy dan gereed is om hierdie geskenk wat jy ontvang het te gaan uitdeel.  Jou vrolikheid sal aansteeklik wees en jy gaan mense na jou toe aantrek.  Dit is nou maar eenmaal so dat ons graag wil skouers skuur saam met diegene wat ons opbeur. 

Mag jy ‘n uiters geseënde dag tegemoetgaan, met ‘n breë glimlag en ‘n lied in jou hart, tot eer van God.

Monday 21 August 2017

God van Wonderwerke

Efesiërs 2 : 4 – 7  Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!  Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

As jy die Bybel lees, dan is jy heel waarskynlik bewus van vele wonderwerke wat God gedoen het.  Hy het die Rooisee in twee gedeel sodat die Israeliete droogvoets kon deurstap… Vir Josua het hy die son laat stilstaan… ‘n skare mense is gevoed met ‘n klein seuntjie se maaltyd…  Maar dit is ongelukkig waar mense washaak… by wat God gedoen HET (verlede tyd).

Natuurlik moet ons onthou wat Hy gedoen het en Hom daarvoor eer en prys, maar ons moet nie vir een oomblik dink dat dit nie meer vandag moontlik is nie. 

In ons teksverse vandag is dit duidelik:  Sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is…  Hy wil steeds wonderwerke laat gebeur… in ons hedendaagse tyd;  in jou en my lewe.

As ek terugkyk oor my eie lewe is daar vele wonderwerke wat God gedoen het.  Ek dink byvoorbeeld aan die keer toe ons huis gekoop het.  Ek wou eers ‘n huis vind alvorens ek ons huis in die mark sit.  Na twee jaar se soek, vind ons ‘n huis waarvan ons hou.  Ons teken ‘n aanbod en sit ons huis in die mark.  Die eerste naweek kry ons ‘n volle aanbod vir ons huis en dit op sigself is ‘n wonderwerk.  Nou wag ons vir die finansies om uitgesorteer te word.  Soos die noodlot dit wil hê is ‘n boedel betrokke en met die sloerdery, maak iemand ‘n kontantaanbod op die huis waarvoor ons geteken het.  Dit was hartverskeurend, want ons wou so graag daardie huis gehad het, maar ons het nie kontant gehad nie.  Nou moet jy weet, ons het ‘n koper vir ons huis, maar ons het nie meer ‘n huis nie.  Dit was senutergend!  Ons het twee jaar lank na ‘n huis gesoek voordat ons iets gevind het, hoe op dees aarde gaan ons nou een vind op kort kennisgewing? 

Ek skakel al wat ‘n eiendomsagent is, maar rig nie veel uit nie.  Ek spandeer ure op die internet en fynkam koerante, maar tevergeefs.  Op ‘n dag lui my telefoon.  Die persoon vra of ek nog in die mark is vir ‘n eiendom.  Ek bevestig dit.  Sy begin beskryf die huis en daar stoot sommer so ‘n opgewondenheid in my op.  Ek vra of sy een van die agente was wat ek geskakel het die afgelope tyd en sy sê:  “Nee, jy het ‘n skouhuis besoek sowat twee jaar gelede en aangedui waarna jy soek.  Ek het nou hierdie eiendom ingekry en gedink ek skakel jou.” ‘n Wonderwerk?  Beslis, maar dit is nog nie die einde nie.  Sy neem my om die huis te besigtig en ek hou sommer dadelik van wat ek sien.  Oplaas neem sy my na die woonstel gedeelte en daar op die lessenaar is ‘n naambordjie met my seun se naam en van daarop.  Toevallig het die eienaar se vrou uit ‘n vorige huwelik ‘n seun wat dieselfde naam en van as my seun het!  Noodloos om te sê, ons het die huis gekoop en die transaksies het verder seepglad verloop.  Dit is maar net een voorbeeld van God se almag in my eie lewe en ek glo ek het nog lank nie die einde van sy almag gesien het nie.

Onthou vandag een ding, God is ‘n God van wonderwerke.  Waar jy jou vandag bevind is nie waar jy veronderstel is om te wees, nog minder waar jy gaan bly.  Hy het soveel meer vir jou in gedagte.

Sunday 20 August 2017

Neem die eerste treetjie na genesing

Handelinge 4:30  Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.”

Hoe voel jy vandag?  Sit jy dalk op ‘n hopie en voel verskriklik jammer vir jouself?  Ek weet nie hoekom jy so voel nie.  Dalk is jy eensaam… dalk treur jy oor ‘n geliefde wat afgesterf het… miskien het iemand jou te na gekom…  Miskien het jy slegte nuus ontvang… of dalk is jy net op ‘n donker plek in jou lewe… 

Wat ek wel weet is dat jy heel waarskynlik goeie rede het om so te voel.  So ‘n jammer-kry sessie is gewoonlik die gevolg van ‘n onreg wat jou aangedoen is.  Jou seerkry is intens en baie keer is daar onopgeloste sake wat dit moeilik maak om afsluiting te kry en aan te beweeg.

Wat ek wel vandag weet, is dat jy ‘n rede mag hê om vir jouself jammer te voel, maar dat jy nie ‘n reg het om vir altyd so te voel nie.  Jy het die reg op geluk en vrede in jou gemoed.  Dalk moet jy iemand gaan sien, maar as jy nie wil nie, ontleed die situasie een laaste keer op ‘n baie rasionele manier.  Kyk na die feite en as die feite daarop dui dat dit wat jy vermoed, die waarheid is… dat jy verontreg is, dan is dit goed. Indien jy skielik die ander persoon se standpunt insien, is dit nog beter.  Hoe dit ookal sy, jy moet jouself uit hierdie put trek waarin jy jouself bevind.

As jy hier bly, gaan jy negatief raak, en mettertyd gaan mense jou vermy, want hoe swaar dit ookal is, mense wil nie regtig tyd spandeer saam met iemand wat altyd kla of in die verlede bly leef nie.  As jy huil, huil jy gewoonlik alleen… en as jy lag… wel dan lag almal saam met jou.

Glo my, dit is nie verkeerd om jouself te bejammer nie, maar daar is ‘n tyd vir alles en nou is die tyd om te laat gaan.  Gee babatreetjies, maar gee ten minste treetjies na genesing.  Binnekort sal jy kan sê: “I might still be hurting, but I’m healing”.

Thursday 17 August 2017

Vergifnis

Jesaja 1:18  Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.

Hoeveel van ons loop nie rond met emosionele letsels as gevolg van ons verlede nie?  Ons kan eenvoudig nie glo dat ons vergewe is nie.  Ons bid en vra vergifnis, en ons ontvang vergifnis, maar om die een of ander rede gaan ons altyd terug na daardie plek.

Of dit nou ‘n misdaad was wat jy gepleeg het, of ‘n leuen wat jy vertel het… of jy gesteel het of gevloek het… as jy jou sondes bely en dit opreg bedoel, sal God jou vergewe.  Die feit dat jy steeds daaraan dink en daaroor broei, beteken nie dat God dieselfde doen nie. 
Indien jy jou epos se inmandjie wil skoonmaak, moet jy shift inhou en dan ‘delete’ druk.  Die stelsel sal jou vra of jy weet dat jy dit nou permanent gaan uitwis.  Sou jy net ‘delete’ druk, skuif daardie epos net na jou ‘deleted items’ end an kan jy dit weer daar gaan haal, sou jy wou.

Ek glo dat jy moet aanvaar dat jou sondes vergeef is en aanbeweeg…druk shift, delete, nie net delete nie. As jy dit net delete (oftewel uitwis), is die moontlikheid daar dat jy dit weer kan gaan haal.

Ware vergifnis is net by God moontlik. 

'n Sagte woord

Romeine 12 : 21 Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Die skrif verwag van ons om kwaad met goed te oorwin.  M.a.w. as iemand ongeskik is, moenie terug ongeskik wees nie.  Ons moet dus nie tot op die vlak daal van die persoon wat ons tenakom nie.  Dit impliseer dus dat ons sal uitstyg bo sulke omstandighede en daarom moet ons presies die teenoorgestelde doen.  Wanneer jy iemand vriendelik groet en jy net ‘n bromgeluid in ruil kry, moet jy nie by jouself dink dat jy die persoon nooit weer sal groet nie. Nee, jy groet weer en weer en elke keer net so vriendelik as die eerste keer. 

Die lewe rondom ons is bitter genoeg, ons kan nie tot daardie bitterheid bydra nie.  As ons ware ligdraers is, moet ons die een wees wat die grimmigheid afkeer met ‘n sagte woord.  Ons moet verskoning vra, al is ons nie noodwendig skuldig nie.  Dis darem ‘n bietjie baie gevra sê jy.  Dit hang af hoe jy daarna kyk.  As ons gedurig mekaar probeer terugkry, vererger die situasie en omstandighede by die dag.

Indien ons egter nie toelaat dat hierdie dinge in ons klere gaan vassit nie, skep ons ‘n beter omgewing.  Dit is nie altyd maklik nie… of nee, dit is nooit maklik nie. Om altyd die minste te wees, om altyd terug te staan, om altyd tweede te kom… dit vat aan jou. 

Dit beteken dat jy elke tree in nederigheid gee… Dit druis in teen alles wat ek daagliks aanskou, roep jy uit!  Mense voel niks vir mekaar… hulle sal mekaar vertrap en doelbewus onder die bus ingooi en ek moet elke tree in nederigheid gee! 

Die enigste manier hoe jy dit gaan regkry is deur genade van Bo.  Spreuke 29 : 23  Hoogmoed bring 'n mens tot 'n val; nederigheid bring eer.  Betoon genade en saai genade waar jy jou ookal bevind.

Wednesday 16 August 2017

Hoër hoogtes

Spreuke 22 : 29  Jy sien self: iemand wat vaardig is in sy werk, kom in die diens van konings, nie in die diens van mense sonder aansien nie.

Dis darem maklik om in roetine te verval.  Dit begin heel onskuldig en voor jy jou kom kry doen jy dieselfde ding oor en oor. Roetine is goed in die meeste gevalle, maar as ons voluit wil leef, moet ons voortdurend groei, nuwe horisonne nastreef, nuwe vaardighede aanleer, nuwe mense ontmoet… Om die waarheid te sê, ons behoort daarna te streef om elke dag iets nuuts te leer.

Ons etiketeer mense te maklik… een so ‘n voorbeeld is: ouer mense hou nie daarvan om nuwe vaardighede aan te leer nie.  Leo Buschalia het gesê:  “People say you can’t teach an old dog new tricks… that’s an insult, even to an old dog.” 

Die mens is van nature nuuskierig en daarom glo ek almal wil leer tot die bittereinde.  Dit is wanneer ons ophou leer dat ons ophou groei en wanneer ons ophou groei, hou ons op leef.

My vraag aan jou vandag is:  “Wat doen jy om jouself te strek sodat jy kan groei?”  Moenie vasval by ‘goed genoeg’ nie. Jy is nie geskep om goed genoeg te wees nie.  Jy is nie gebore om gemiddeld te wees nie.  ‘Net genoeg’ hoort nie in jou woordeskat nie.  Vandag is ‘n nuwe dag en daar is nuwe hoogtes om te bereik.  Streef daarna om te doen wat jou passie is, maar hou aan om op elke vlak van jou lewe te ontwikkel.

Skryf in vir ‘n korrespondensie kursus… vind ‘n mentor… leer ‘n nuwe taal, bemeester jou selfoon… leer motor bestuur… Voor jy jou kom kry het jy nog iets om op jou CV te sit en kyk jy alweer uit vir die volgende uitdaging.

Is dit nie ‘n opwindende vooruitsig nie?

Tuesday 15 August 2017

Verander jou benadering

Spreuke 17 : 22  'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput.

Daar sal altyd iets of iemand wees wat jou irriteer en sodoende jou vreugde wil steel. 
As jy nou terugdink, sal jy goed weet wat dit is wat jou irriteer.  Ek praat sommer van jou ‘hot buttons’.  Jy is ‘n stiptelike persoon, so as jou wederhelf gedurig laat is, is dit jou ‘hot button’. Jy hou van stilte as jy TV kyk, maar ‘n gesinslid praat aanhoudend… weereens jou ‘hot button’.  Jy koop die koerant en nog voor jy dit kan lees, het iemand dit beetgehad en is dit nie presies opgevou soos wat jy daarvan hou nie en daar is jou hele dag bederf.  Jy is ‘n wetsgehoorsame, bedagsame bestuurder, ander motoriste oortree verkeersreëls, druk in… herken jy die ‘hot button’? Elke keer wat jy in die badkamer inkom, lê en kyk die tandepasta buisie vir jou met ‘n tongetjie wat uithang, want iemand het alweer die doppie afgelos. Tieng!  Hot button!

Jy kan of vir die res van jou lewe toelaat dat hierdie dinge jou ontstel, of jy kan jou benadering verander.  Wat jou tot dusver ontstel het, hoef jou nie in die toekoms te onstel nie.  Aanvaar dat mense verskil en dat die dinge wat jou pla, nie noodwendig ander pla nie. Kalmeer en aanvaar.  Sekere goed sal nooit verander nie, maak nie saak hoeveel keer jy daaroor praat of raas nie.  Besluit om te fokus op die positiewe.  As jou eggenoot altyd laat is… wees bly jy het iemand wat jou vergesel, al is hul ‘n bietjie stadig.  Gesels eers lekker met die gesinslid wat praat terwyl jy wil TV kyk en noem dan dat jy nou ‘n bietjie gaan sit en TV kyk… As iemand die wet oortree of onbedagsaam bestuur, glimlag vriendelik vir hul.  As die tandepastabuisie weer sonder sy doppie is, wees dankbaar dat daar nog mense is wat die huis met jou deel en draai die doppie met liefde op. 

Kort voor lank sal die verhoudings met jou gesinslede verbeter.  ‘n Vreugdevolle hart is goeie medisyne aldus ons teks vandag.  Neerslagtigheid trek jou af.  Hou vas aan jou vreugde en ervaar die seen wat dit oor jou lewe sal bring.

Monday 14 August 2017

Vals beloftes

Hosea 10:4  Hulle praat net, hulle maak vals beloftes, hulle sluit verdrae. En intussen is hulle regspraak soos gifplante wat in die vore langs die land groei.

Het iemand jou al iets beloof waarna jy uitgesien het en dan nooit daardie belofte nagekom nie?  Dit is veral moeilik as jy iemand van min woorde is… iemand wat net sê wat jy bedoel… iemand wat nie vals hoop gee nie.

Daar is selfs diegene wat vals is en voorgee om jou vriend(in) te wees, maar eintlik wil hul jou gebruik.  Voor jou smeer hul jou heuning om die mond, jul doen dinge saam, jul kuier oor en weer aan huis, maar op ‘n dag kom jy agter die persoon is nie wie jy gedink het hy/sy is nie.

Sulke valsheid kan jou bitter seermaak.  Dit kan jou laat terugkruip in jou dop, veral as jy nie iemand is wat maklik vriende maak nie.

Ons moet besef dat nie almal eerbare bedoelings het nie.  Baie keer kan hierdie mense hulself nie help nie.  En terwyl jy nog besig is om jou wonde te lek, gaan hul aan met hul lewe asof niks gebeur het nie. 

As ons toelaat dat hul optrede ons affekteer, word ons vergiftig en gaan daar elke keer ‘n stukkie van ons menswees verlore.  Aanvaar liewer dat nie alle mense goeie bedoelings het nie en wees versigtig alvorens jy jouself blootstel.

Woorde

Deuteronomium 1 : 11  Mag die Here die God van julle voorvaders julle nog duisend maal meer maak

‘n Vriend van my se fyn liggaamsbou is al vir jare die slaansak vir vele mense met wie hy in aanraking kom.  Hy kan soveel oefen of eet as wat hy wil, maar hy bou geen spiere op nie en hy tel geen gewig op nie.  Ek is seker daarvan jy reken dis ‘n probleem wat jy nie sou omgee om te hê nie.  As jy egter die spot en aanmerkings moes verduur wat hy hieroor oor jare moes verduur, sou jy dalk anders besluit. 

Grappies en opmerkings het veroorsaak dat hy ‘n kompleks oor sy liggaamsbou ontwikkel het.  Maak nie saak hoeveel komplimente hy op enige ander vlak ontvang, hy sien net dit waaroor hy oor soveel jare gespot is.

Dalk moes jy ook deurloop onder mense se gespot.  Ook jy dra swaar aan mense se pynlike uitsprake.  Dalk begin jy selfs glo wat hul oor jou sê.  Ons kan so maklik slagoffers van ander se doen en late word.  Hoe hartseer is dit nie dat hul woorde en dade soveel mag oor ons het nie?

Dit hoef nie so te wees nie.  Verklaar en glo vandag eerder dit wat God oor jou sê:  “Jy is nie ‘n verloorder nie, maar ‘n verloste.”  Gooi die kettings van pyn en hartseer af.  Mense mag dalk foutvind met jou, maar God reken jy is perfek net soos jy is.  Mense mag dalk jaloers wees op jou en jou probeer afbreek, maar God tel jou op uit die stof.  Iemand mag jou dalk verneder het, maar God verhef jou en omvou jou met liefde.

Diegene wat jou wil vertrap, verniel of vernietig moet weet dat God nie onreg verduur nie.  Woorde in die verlede mag dalk jou selfbeeld vernietig het en jou soos ‘n mislukking laat voel, maar dit is nie wat God vir jou in gedagte het nie.  Deuteronomium 1 : 11 is vandag jou woord van bemoediging wees.

Monday 7 August 2017

Wees paraat

Prediker 3:17  Ek het by myself gedink: God spreek reg oor regverdige en onregverdige

Of jy nou gelowig is of ongelowig, ons leer van jongs af dat alles nie altyd uitwerk soos ons gehoop het nie. 

Gelowiges is vinnig om te dink dat hul iets verkeerd gedoen het en nou gestraf word as dinge nie na wense verloop nie, maar vandag leer die skrif ons dat God reg spreek oor die regverdige sowel as die onregverdige.  Wanneer die onverwagse ons tref, moet ons nie paniekbevange raak of emosioneel ineenstort nie.  Alhoewel dit vir ons onverwags is, is dit nie vir God onverwags nie.  God raak nie paniekbevange of bel gou iemand om uit te vind wat Hy nou moet doen nie.  Hy’s rustig, want Hy weet alreeds wat sy uiteindelike doel met hierdie saak is.  God het oplossings vir probleme wat jy nog nooit eens teegekom het nie.  Hy het jou toegerus vir elke moontlike gebeurlikheid en wat meer is, Hy gaan voor jou uit.

In plaas van dus op die probleem fokus, fokus op God.  Iemand het gister vir my so mooi gesê:  “God gebruik Sy beste, mees paraat soldate, vir die grootste gevegte.”  Hoe meer paraat (gelowig) jy is, hoe groter die geveg, maar weet net, jy is nie alleen nie.

Sunday 6 August 2017

Al maak dit nie sin nie

1 Konings 17 : 9 &12  “Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het 'n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg. ”Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net 'n handvol meel in die kruik en 'n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar 'n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”

Verlede week lees ek in die koerant van ‘n dame wat by Pep stores tydelik as kassier gewerk het.  ‘n Vrou kom koop kinderklere en sy knoop ‘n geselsie aan.  Sy hoor dat die klere vir mishandelde kinders is en haar hart vermurwe.  Sy luister na die stemmetjie wat haar oortuig om haar laaste paar rand vir hierdie vrou te gee:  “Ek wil ook bydra.  Dit is al wat ek het, maar dalk help dit.”  Natuurlik wou die vrou dit nie neem nie, maar die kassier het aangedring.

Hierdie kassier sou nooit weet hoe daardie laaste R9 van haar deur God vermeerder sou word nie.  Die vrou het dit vir haar seun vertel, wat dit op sosiale media versprei het en ‘n veldbrand is aangesteek.  Mense het na die winkel gestroom om hierdie kassier te ontmoet en haar te prys vir haar onbaatsugtige bydrae.  Iemand het haar en haar seun uitgeneem die Sondag vir ‘n vyfgang maaltyd.  En Pep Stores het haar permanent aangestel vanaf 1 Augustus.

Elia moes darem gewonder het oor God wat hom stuur met die belofte dat ‘n weduwee na hom sou omsien.  Hoekom stuur God hom nie na ‘n ryk man wat genoeg opgegaar het nie?  Jy sien, daar was boonop hongersnood in die land.  Nie net stuur God hom na ‘n weduwee nie, maar hy moet ook hoor dat sy nog net een maaltyd oor het, wat sy beplan het om vir haar en haar seun voor te berei.  Hoe moes Elia nie voel nie… om hierdie laaste kos uit haar en haar kind se monde te moet neem.

As dit nie was dat Elia God ten volle vertrou het, al maak dit nie sin nie, sou hy verseker nie na God se stem geluister het nie.  Teen hierdie tyd het Elia genoeg van God en die manier waarop Hy te werk gaan gesien om nie vrae te vra nie, maar net gehoorsaam te wees.

Die weduwee het nie geweet wie Elia was nie, maar net soos die kassier het sy God se stem gehoorsaam, al het dit nie sin gemaak nie.  Beide het hul laaste gegee en beide is onuitspreeklik geseen. 

Here, ook ek vertrou U vandag, al maak dit nie sin nie.  Maak my gehoorsaam en laat my ook deel in U wonderwerkende krag.

Thursday 3 August 2017

Verstand of geloof

Spreuke 3 : 5  Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Gister het ek jou vertel van ons ontvangsdame wat kanker het en dat sy, volgens die dokters, net 2 maande het om te leef.

Hoe maklik glo ons nie sogenaamde feite nie.  As die dokter na verskeie tipe ondersoeke so sê, dan moet dit so wees.  Dis half asof ons verstand ons geloof oorheers.  As ons volkome op God vertrou… glo dat Hy ‘n God van wonderwerke is wat hierdie kanker kan genees, al sê die medici ook wat, dan sal dit so wees.  Die teks hierbo sê baie duidelik dat ons nie op ons eie insigte (verstand) moet staatmaak nie.

Net so glo jy ook dalk die feite wat jou verstand / logika jou mee konfronteer.  Maar vandag wil ek jou uitdaag… moenie toelaat dat jou verstand jou geloof kniehalter nie.  Logika sê vir jou, jy sal nie op jou ouderdom ‘n lewensmaat vind terwyl jy nooit uitgaan nie… Jy kyk na jou bankbalans en na hoeveel dae nog tot volgende betaaldag voorlê en jy weet verseker dat daar nie ‘n manier is dat jy dit nie gaan maak nie… jy is werkloos en jy ‘weet’ dat daar nie ‘n kat se kans is om ‘n pos te kry nie, want die feite is daar – jou ouderdom, jou velkleur, die area waar jy woon… alles is teen jou… by die werk is ‘n persoon wat die lewe vir jou hel maak en jy weet verseker jy kan nêrens heen gaan, want jy’t die werk nodig en daardie persoon gaan ook nêrens heen nie, so jy moet maar vasbyt en die ‘abuse’ vat…  Al hierdie teenargumente vir ‘n wonderwerk is feitelik korrek, maar God werk nie volgens feite nie.  God kan en wil vandag nog wonderwerke laat gebeur.  Al wat nodig is, is geloof.

Ek en jy gaan elke feit wat ons verstand ons mee konfronteer wegstoot (met mening) en dit met onverdunde geloof vervang.  Daarom is dit heel van pas om God reeds te loof vir wat Hy gaan vermag.

Wednesday 2 August 2017

Is jou saak reg?

Prediker 11:8  As 'n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees. Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is. Alles kom tot niks.

Verlede week word ons ontvangsdame (63 jr) skielik gehospitaliseer met erge maagpyn.  Vele toetse,  skanderings en biopsies later kry ons vanoggend die nuus… kanker van die pankreas.  Die prognose… 2 maande.  Die twee dogters vlieg oor die naweek huis toe en dan gaan hul ‘n familievergadering hou om te besluit of sy vir behandeling moet gaan of liewer die laaste twee maande soveel as moontlik saam met haar gesin deurbring.  Wat 'n keuse!

Behalwe vir die ontsettende hartseer en empatie, is daar soveel vrae wat onmiddellik deur jou kop maal.  Hoe moet dit voel om te weet jy het net twee maande oor?  Hoe gaan jy voort, wel wetend dat elke dag ‘n dag nader aan die einde is?  Maar dan… is dit nie maar elkeen van ons se lot nie?  Elke dag wat verby gaan, is ook vir ons ‘n dag nader aan ons dood… al verskil is dat ons net nie weet wanneer nie.  Vir al wat ons weet, sterf een van ons nog voor haar.

Sal jy ooit lank genoeg leef?  Hoe lank is lank genoeg?   Oor die naweek luister ek na ‘n oom van 91 en hy sê hy is nog so gesond en het nog soveel om te doen, hy kan nog maklik vyftien jaar leef.   Hoe moeilik die lewe ook al is, min van ons wil uit eie vrye wil sterf. 

Die enigste stukkie positiwiteit hieruit, is dit dat dit ons net weer herinner hoe kort die lewe is en dat niemand van ons weet wanneer ons uurglas gaan leegloop nie.  Ons kan en moet eenvoudig elke dag gryp en die beste daarvan maak en... ons moet seker maak ons saak met God is reg.

Tuesday 1 August 2017

Staan op!

Eksodus 15:3  Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’!

Wanneer ‘n kind leer loop, val hul gewoonlik ‘n paar keer.  Ek weet van geen kind wat nog ooit gaan sit het en gesê het: “Dit is nou genoeg, ek gaan nie weer probeer nie.”  Nee, hul probeer keer op keer.  Dis deel van ons DNA… om weer en weer te probeer.

Dan word ons groot en op ‘n dag tref teespoed of terugslae ons.  Hoekom gee party van ons dan boedel oor?  Net soos wat jy as kleuter aanhou probeer het, moet jy vandag steeds nie tou opgooi nie.  Hoe meer daardie klein mensie probeer, hoe sterker word die spiertjies.  So wanneer jy keer op keer opstaan nadat jy platgeslaan is, versterk jy ook jou geestelike spiere.

Moenie toelaat dat die vyand jou oortuig jy’t nou genoeg probeer nie.  As jy nie meer kan nie, laat God toe om jou op te help en probeer nog een keer.

Toewyding

Prediker 9 : 10  Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen

Verlede week verjaar ‘n familielid, en ek vergeet om haar te skakel en geluk te wens.  Eers die volgende dag onthou ek en voel verskriklik sleg.  In plaas van om onmiddellik die telefoon op te tel en haar te skakel, stel ek uit, met katastrofiese gevolge.  So onthou ek eers weer die volgende dag dat ek nog nie gebel het nie.

Soos die spreekwoord lui, van uitstel kom afstel.  Ek het al geleer dat ‘n mens dit wat jy nie van hou om te doen nie, eerste moet doen, want as jy dit nie dadelik doen nie, gaan jy uitstel en dit nooit doen nie.  So byvoorbeeld sal ek elke dag wasgoed was, maar ek hou niks daarvan om die wasgoed af te haal of te stryk nie.  In die geval kan ek nie eerste doen waarvan ek nie hou nie… daar is ‘n sekere volgorde.

Dit is waar toewyding inkom.  As jy iets begin, maak dit klaar.  Wanneer wasgoed gewas en opgehang is, moet jy dit afhaal en stryk.

Partykeer spring ons vol ywer weg, maar dan verloor ons spoed.  Doen alles (wat jou hand vind om te doen) van begin tot einde met toewyding.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...