Wednesday 16 August 2017

Hoër hoogtes

Spreuke 22 : 29  Jy sien self: iemand wat vaardig is in sy werk, kom in die diens van konings, nie in die diens van mense sonder aansien nie.

Dis darem maklik om in roetine te verval.  Dit begin heel onskuldig en voor jy jou kom kry doen jy dieselfde ding oor en oor. Roetine is goed in die meeste gevalle, maar as ons voluit wil leef, moet ons voortdurend groei, nuwe horisonne nastreef, nuwe vaardighede aanleer, nuwe mense ontmoet… Om die waarheid te sê, ons behoort daarna te streef om elke dag iets nuuts te leer.

Ons etiketeer mense te maklik… een so ‘n voorbeeld is: ouer mense hou nie daarvan om nuwe vaardighede aan te leer nie.  Leo Buschalia het gesê:  “People say you can’t teach an old dog new tricks… that’s an insult, even to an old dog.” 

Die mens is van nature nuuskierig en daarom glo ek almal wil leer tot die bittereinde.  Dit is wanneer ons ophou leer dat ons ophou groei en wanneer ons ophou groei, hou ons op leef.

My vraag aan jou vandag is:  “Wat doen jy om jouself te strek sodat jy kan groei?”  Moenie vasval by ‘goed genoeg’ nie. Jy is nie geskep om goed genoeg te wees nie.  Jy is nie gebore om gemiddeld te wees nie.  ‘Net genoeg’ hoort nie in jou woordeskat nie.  Vandag is ‘n nuwe dag en daar is nuwe hoogtes om te bereik.  Streef daarna om te doen wat jou passie is, maar hou aan om op elke vlak van jou lewe te ontwikkel.

Skryf in vir ‘n korrespondensie kursus… vind ‘n mentor… leer ‘n nuwe taal, bemeester jou selfoon… leer motor bestuur… Voor jy jou kom kry het jy nog iets om op jou CV te sit en kyk jy alweer uit vir die volgende uitdaging.

Is dit nie ‘n opwindende vooruitsig nie?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...