Tuesday 17 October 2017

Vir God of nie?

Genesis 32 : 26  “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!” Al die Leviete het om hom bymekaargekom.

Op Jakob se sterfbed roep hy al sy kinders.  Wanneer kinders na so ‘n sterfbed geroep word, is dit gewoonlik dat hul geseën kan word.  Hul word dan ook geseën, maar vir Levy, sê hy dat hy hom nie gaan seen nie omdat Jakob geen aandeel wil hê in sy verkeerde leefstyl.  Levy is inderdaad vervloek deur Jakob.

Jare later is Moses op die Berg Sinai. Die israeliete aanbid ‘n goue kalf.  Moses is so teleurgesteld en toe hy vir Aaron vra wat aangaan, moet hy hoor dat die volk te lank op Moses gewag het en eintlik uit verveeldheid toe nou maar besluit het om ‘n goue kalf te maak. Hulle was nie bereid om op Moses te wag nie, maar was wel bereid om te glo dat ‘n goue kalf hul sou lei!  

Net daar haal Moses sy swaard uit en vra wie is aan God se kant.  Die mees onwaarskynlike groep steek hul hande op… die seuns van Levy. Hul pa mag miskien verkeerde dinge gedoen het en die seën misgeloop het, maar hierdie seuns het die juk afgegooi en met hul lewe aangegaan.  Van daardie dag het al die priesters van die stam van Levy gekom.  Die wat vervloek was, is nou geseënd. (vers 29 Toe het Moses vir die Leviete gesê: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here, want julle het selfs teen seuns en broers opgetree. Om hierdie rede gee die Here vandag aan julle hierdie besondere voorreg.”)

Miskien het jy voorsate gehad wat dit moeilik gemaak het vir jou.  Jy voel dalk selfs of daar 'n vloek op jou rus. Die feit dat jou voorsate in alkoholisme vasgevang was, dwelms gebruik het, aan depressie gely het, ‘n geskiedenis van hartsiektes het of miskien vele kere geskei het…dit hoef nie jou realiteit te wees nie.  Net soos Levy en sy nasate kan jy ook die guns van die Here op jou lewe ervaar van vandag af as jy besluit dat jy en jou nageslag God voluit gaan dien.

Die eerste generasie wat dinge herstel, sal alles terugkry wat hul voorsate verloor het.  Alles wat God in stoor gehad het vir die familie, is nie weg nie, dit is nou daar vir jou om op te eis.  Elke droom wat verlore is, elke item wat die vyand gesteel het, elke minuut van jou lewe wat vermors is… dit en meer gaan jy terugkry.

Die Israeliete was 10 geslagte lank, vir 438 jaar, in slawerny.  God het dit omgekeer. Toe die Israeliete die dag Egipte verlaat, het die Egiptenare al hul goud, silwer en diere vir hul gegee. God het geweet wat hul toekom en toe hierdie volk aan God se kant is, het God hul nie net gegee wat hul toekom, maar ook dit wat hul voorvaders moes gehad het.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...