Thursday 30 November 2017

Dankie

Hemelse Vader vandag kom buig ek in aanbidding voor U.  Ek gee aan U al die lof, eer en heerlikheid.   Vandag wil ek vir een keer niks van U vra, maar ek wil vir U dankie sê vir elke aspek van my lewe.

Vader, U stap elke tree van my lewenspad saam met my.  Waar ek te moeg of mismoedig is, tel U my op en dra my.  Party dae, wanneer die lewe my uitsonderlik rof behandel het, weet ek waar ek volkome rus en vrede kan vind.  Dit is wanneer ek daar op U skoot klim en my toevou in 'n bondeltjie, wel wetend dat U Vaderarms koesterend om my sal vou.  Ander dae sit en wag ek by U voete omdat ek wil hoor wat U vir my wil sê.  Sulke dae het ek leiding nodig en U het my nog nooit teleurgestel nie.

Here, ek weet nie eens waar om te begin om dankie te sê nie.  Wat ek wel weet is dat U my hele lewe is.  Ek is miskien nog nie perfek nie, maar ek is so dankbaar dat ek elke dag kan leer en groei totdat ek eendag in my geestelike skoene sal pas. 

Uit my hart uit dankie vir U liefde, ondersteuning, bystand en veral verdraagsaamheid.


Glo in die onmoontlike

Johannes 9 : 1  Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy geboorte af blind was.

Kan jy jou voorstel hoe dit vir ‘n blinde moet wees om vir die eerste keer in sy lewe te kan sien? Ek dink hy sou seker vir lank stilstaan en alles rondom hom eenvoudig net inneem en bewonder.  Elke enkele dingetjie waarop sy oë geval het, was ‘n eerste om te aanskou.  Sy vrou, sy kinders, sy diere, sy huis… en daardie aand, hoe die donker nader kruip en sterre tevoorskyn kom… Dit is verseker iets wat hierdie man die res van sy lewe sou bybly.

Ons dink gewoonlik dat ons iets moet doen voordatl God vir ons sal deurkom. Ons moet bid… vas… ons lewe verander… Hom aanroep, maar die blinde man het nie na Jesus toe gegaan nie… Jesus is na hom toe. 

Dit is nie altyd nodig om God se aandag te vestig op jou probleme nie.  Of dalk voel jy dat jy dit nie van God kan vra nie… Partykeer is ons geloof eenvoudig te klein om te glo dat God iets aan ons situasie kan doen.

Dit is net hier waar God op die mees onkonvensionele manier na ons draai en met ‘n eenvoudige gebaar alles in plek laat val.  Met die blinde man het hy klei aan sy oë gesmeer en toe gesê hy moet dit in die Siloambad gaan afwas.  En die blinde man kon sien.

Net so gaan God vir jou deurkom.  Al is jy nou al hoe lank sonder werk, met min of geen kwalifikasies nie… te oud… Iemand gaan vir jou ‘n werk kom aanbied.  Ja, die werk gaan na jou toe kom.  Vir die eerste keer het jy jou eie besigheid… jy’t gedink jy sal vir altyd vir ‘n baas werk en hier het jy nou jou eie besigheid… vir die eerste keer is jy skuldvry… terwyl jy gedink het dit sal ‘n leeftyd neem, het God dit byna oornag laat gebeur.  Jou eggenoot het jou verlaat... jou wêreld het in duie gestort... hy/sy gaan terugkom sonder dat jy 'n vinger hoef te lig.

Dit wat God in die verlede vir jou gedoen het, is niks in vergelyking met wat hy nou gaan doen nie.  Dit is amper onmoontlik om te glo, want soos die blinde man sit jy ook net daar en probeer jy nie meer eens nie.  Jy’t jou omstandighede aanvaar.  Nee!  Nee! ‘n duisend maal nee!  By God is alles moontlik.  As Hy blindes kan laat sien, dink net wat Hy vir jou kan doen.

Tuesday 28 November 2017

Dit sal so wees

Josua 4 : 14  Die Here het daardie dag aan Josua hoë aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom eerbied betoon soos aan Moses.

Wat ‘n wonderbaarlike belofte het God nie hier vir Josua gegee nie? “Josua, van vandag af gaan ek jou in aansien laat toeneem by die Israeliete.”  God kon net sowel gesê het: ”Vandag begin ek die sluise ooptrek… van vandag af gaan jy geseën wees… van vandag af gaan jy oorvloed in elke aspek van jou lewe ervaar, van vandag af gaan daar verandering en vooruitgang wees.”

Sien jy dat daar ‘n spesifieke dag was waarop al hierdie wonderlike dinge met Josua sou begin gebeur. 

God wil presies dieselfde vir jou en my doen.  Hy wil sy guns op so ‘n manier op jou uitstort sodat jy ‘n uitmuntende ouer sal wees… ‘n liefdevolle eggenoot… ‘n inspirerende leier… ‘n model werknemer… ‘n gewaardeerde vriend…. ‘n suksesvolle sakeman.  Op die spesifieke, voorafbepaalde dag, sal die kettings van skuld… verslawing… eensaamheid… minderwaardigheid… wat ook al jou terughou, breek. 

God sê vir jou presies wat Hy vir Josua gesê het.  Jou deurbraak is geskeduleer.  Daar gaan ‘n dag kom waarop daar ‘n positiewe verandering in jou lewe gaan plaasvind.

Net God weet presies wat die verandering gaan wees en hoe groot die impak op jou lewe gaan wees.  Die vraag is of jy gereed is?  Glo jy dit met jou hele hart?  Dan sal dit so wees.

Monday 27 November 2017

Sy tyd vs ons tyd

Psalm 31 : 16  My tye is in u hand

Sal dit nou nie fantasties wees as God volgens ons skedule reageer nie?  Ek meen, ek weet mos hoe dringend my situasie is.  Ek sal mos nie dae en nagte ombid as dit nie dringend is nie. 

Ons hoef maar net na Lazarus se verhaal te kyk om te weet dat God Hom nie veel aan ons skeduletjies steur nie.  Volgens menslike standaarde is God te laat… Lazarus is dood… einde van die storie.  Nie vir God nie.  Vir hom is dit nooit oor nie. 

Wanneer jy na die Bybel kyk is daar vele voorbeelde waar God in die agtergrond besig was terwyl die hoofspelers geglo het dat die aangeleentheid onmiddellike aandag verg.  In dieselfde Bybel lees ons dat God vandag en gister presies dieselfde is.  Dit wat Hy in die Bybel se tyd gedoen het, is vandag nog net so relevant en moontlik.

Dit mag wees dat jy jou op hierdie oomblik te midde van ‘n enorme krisis bevind.  Jou besigheid is op die punt om te sink… jy het God vandag nodig… nie môre of volgende week nie… vandag.  Jy het ‘n misdaad gepleeg en jy’s gevang.  Nou is jy verhoorafwagtend.  Jy het God nou nodig… nie môre of volgende week nie.  Jy het jou vlug verpas en jy moet eenvoudig op daardie vlug kom.  Jy het God nodig om nou vir jou ‘n plek te maak.

En dan word jou gebede nie beantwoord nie.  Jy verloor jou besigheid… jy gaan tronk toe… die vliegtuig vertrek sonder jou.  Nou wat nou?  Bid is sommer net tydmors.  God gee nie vir my om nie.

Iewers in die toekoms kyk jy egter terug op jou omstandighede en jy sien hoe God vir jou ‘n ander deur oopgemaak het… jy het nou ‘n vaste werk met ‘n vaste inkomste en voordele… jy het jou graad gekry in die tronk… die vliegtuig het meganiese probleme ontwikkel…

Net soos met Lazarus, moet ons besef dat God altyd beter weet.  Die susters het genesing in gedagte gehad… Jesus het ‘n wonderwerk in gedagte gehad.

Laat ons altyd op God vertrou.  Ons tyd in nie in ons hande nie.   

Sunday 26 November 2017

NIKS kan jou van God skei nie

Romeine 8 : 38 – 39  Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Die feit dat jy in ‘n Christelike huis grootgeword het… elke Sondag kerk toe gegaan het… selfs jou hart vir die Here gegee het, beteken nie noodwendig dat jy steeds ‘n Christen is nie. Ten spyte van jou beste voornemens gebeur die lewe en voor jy jou kom kry, het jy die verkeerde afdraai geneem.  Verkeerde afdraaie neem jou gewoonlik na ‘n verkeerde bestemming, tensy jy jou roete aanpas.  Ons kan so maklik ingetrek word deur vriende of omstandighede.  Almal het ‘n storie en elkeen se storie verskil, maar hier gaan dit om jou… jou siel… jou toekoms.

Weet vandag een ding:  “Dit is nooit te laat om weer jou pad terug te vind nie.”  Al voel jy asof die lewe wat jy na jou afdwaling geleef het nie juis iets om op trots te wees nie, is daar steeds vir jou hoop.  Jy kan nooit so ver afdwaal dat die hand van God jou nie kan bykom om jou daar uit te haal nie. Jy mag dalk skaam, vuil en verlore voel, maar niks wat jy ooit gedoen het, is so erg dat God jou nie sal vergewe nie.  Of jy nou vir jou op die oomblik in ‘n bende se greep bevind, dwelms gebruik, jou liggaam verkoop het… geld gesteel het by die werk, verslaaf is aan pornografie… God het al alles gesien en gehoor.  Hy het nog nooit ‘n sondaar weggewys wat sy/haar lewe wou verander nie.  Daar is hoop vir jou.  Die verlossingsboodskap is juis ‘n boodskap van hoop.  Jesus het immers gekom om sondaars te red.

Ware en opregte berou en ‘n daadwerklike besluit om jou te bekeer van jou verkeerde wee, is al wat nodig is.  Nader tot God en Hy SAL tot jou nader.

“Vader, ek het gesondig, maar ek het ware berou.  Hier is ek… stukkend en verwaarloos. Ek bely elke enkele sonde wat ek gepleeg het.  Vergewe my asseblief.  Ek glo aan ‘n Heilige Drie-Enige God… ek glo dat Jesus Christus aan die kruis gesterf het vir my sondes… dat Hy begrawe is, maar op die derde dag opgestaan het en opgevaar het na die Hemel waar Hy sit aan die regterhand van God die Vader.  Vandag wil ek my lewe oorgee en elke dag hiervandaan lewe volgens U wil.”

Thursday 23 November 2017

Die nuwe Jerusalem

Openbaring 21 : 18  Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos 'n skoon spieël lyk.

Jesus Christus het aan die kruis gesterf vir elke mens op aarde… gelowiges, sowel as ongelowiges.  Wanneer Hy egter terugkom, is dit nie vir almal nie.  Slegs vir Sy kinders… diegene wie se naam opgeteken is in Die Boek van die Ewige Lewe, sal saamgaan.  Openbaring 3:5 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.

Is jy gered?  Sou Jesus op die wolke kom vanoggend, sal jy oorstelp wees van vreugde, of sidder met vrees?  Glo my, jy sal nêrens kan wegkruip nie… al het jy al die geld in die wêreld, sal jy nie meer vir jou ‘n plekkie kan koop nie.  Al kom jy dan agter dat hierdie Christenskap ding toe al die tyd ‘n dood ernstige saak was, sal dit te laat wees om tot bekering te kom. 

Van jou geliefdes, jou vriende, jou familie sal saam met God gaan, maar jy sal nie welkom wees in die Nuwe Jerusalem nie.  Sedert Jesus opgevaar het na die Hemel waar Hy aan die regterhand van God die Vader sit, is Hy besig om vir ons plek voor te berei.  In Dubai is daar ‘n 6 ster hotel, maar niks wat ons hier op aarde sien of al ooit ervaar het, kan daarmee vergelyk nie.  Leed, pyn en smart sal daar nie meer wees nie… die nuwe Jerusalem sal ons blyplek wees, saam met God… vir altyd en altyd.

Die ander opsie is die hel… die ewige vuur waar daar ‘n geween en ‘n gekners van tande sal wees.  Genadetyd het uitgeloop.

Wat hou jou daarvan terug om tot bekering te kom?  Daar is geen tyd soos die huidige nie.  

Wednesday 22 November 2017

Jy haal God nie net Sondag uit die kas nie

Kolossense 3 : 17  En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Baie mense wil nie tot bekering kom nie omdat hulle dink dat jy dan alles wat pret en plesier is, moet prysgee.  En sodoende verloor jy die grootste kans van jou lewe… om die lewe as Christen saam met God te geniet.

Jy kan jou alledaagse lewe buitengewoon maak, as jy dit met God doen. Jy hoef nie uit te mis op die lewe omdat jy ‘n Christen is nie.  Christenskap bestaan nie net uit bid, Bybellees en kerk toe gaan nie;  jy mag maar pret hê ook.  Jy mag maar lag, grappies maak en sommer net laf wees.  Jy kan selfs ondeund wees.  

Kyk weer na die teks.  Alles kan heilig raak as jy dit vir God doen.  God het nie vir Moses by die tempel ontmoet, maar by ‘n bos en toe God daar is, raak die grond heilig.

Iemand het eendag vir my gesê:  “Vra jouself net af of jy God sou saamneem waarheen jy gaan?”  Neem die voorbeeld van oefen.  Terwyl jy oefen, kan jy bid en met God gesels.  God is nooit meer as ‘n gedagte ver nie.  Gebed is net ‘n gesprek met God. Jou stemtoon en taalgebruik hoef nie te verander nie.   Jy hoef nie voor te gee of iemand te wees wie jy nie is nie. God het presies geweet wie en wat jy is en hy’t jou steeds lief.  Jy mag dalk nog nie wees waar jy behoort te wees, maar dis beter as waar jy was.

Die oudste seun van die verlore seun verhaal was ‘n Christen, maar hy het nie lus gehad vir ‘n partytjie nie.  Dit het God nie gestop om steeds fees te vier nie. So jy mag maar jou man en kinders geniet en fees vier. As jy die duiwel wil kwaadmaak, raak net gelukkig.  Die duiwel het geen sin vir humor… onthou hy gaan hel toe… daar is niks om oor te lag nie.

God is nie in ‘n kas waaruit jy hom net Sondae haal nie. 

Jy mag maar na sekulêre musiek luister… alles hoef nie ‘n Christen ettiket op te hê nie.  Jesus was deel van die wêreld en hy’t juis tyd spandeer tussen die ongelowiges. Solank jy weet wat die verskil is tussen reg en verkeerd.  Die Gees sal jou gou daarop wys as jy op die verkeerde plek is.

Motiewe – dit kan so ‘n groot verskil maak. Wanneer jy aantrek, wil jy immers nie net goed lyk nie, jy wil hê mense moet sien jy verteenwoordig God. Ons is immers Sy verteenwoordiger.

Jy kan God op enige gebied van jou lewe vir hulp vra, dit hoef nie altyd geestelik te wees nie. Hy sal jou help met jou skoolwerk, jou stokperdjie, wanneer jy inkopies doen, wanneer jy met die kinders speel.  Jesus het nie gesterf sodat ons ‘n geloof kan hê, maar sodat ons ‘n persoonlike verhouding met Hom kan hê… en daardie verhouding kan enige plek getroetel word.

Tuesday 21 November 2017

Oor drome en sukses

Spreuke 2:7  Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe.

God gee jou ‘n droom, verloor gewig, begin ‘n eie besigheid, organiseer jou huis… dis die prentjie,  maar maak waar begin jy?

Aan die begin, doen die eenvoudige dinge, oordink en deurdink dit… gesels met ander daaroor… doen navorsing.  Ongelukkig bly meeste mense hier vashaak.  Hulle het gedurig drome, maar dit bly net by drome.  Een of ander tyd moet jy tot aksie oorgaan.  Anders bly dit net ‘n droom.

Niks verloop ooit sonder teenstand nie. Weet dus dat jou planne kan skeefloop of dat jy terugslae gaan beleef, maar moenie toelaat dat dit jou ontmoedig nie.  Indien jou droom is om vir God te werk, sal jy selfs meer teestand ervaar, want die duiwel gaan dit nie vir jou maklik maak om siele vir God te werf nie.

Ontwikkel dus veerkragtigheid… die vermoë om terug te bons wanneer die lewe jou ‘n hou toedien.  Diegene wat sukses behaal is gewoonlik hulle wat nog net een keer meer as ander opstaan en weer probeer.

Wanneer jy dan, ten spyte van alles sukses behaal, is dit soveel lekkerder. Min dinge in die lewe bring soveel tevredenheid as sukses as gevolg van harde werk.  Harde werk en geloof loop gewoonlik hand aan hand.  En maak seker jy neem jou familie saam op die reis.  Jy wil nie die bo-punt van die suksesleer bereik en alleen daar staan nie.  Dan is dit bloot ‘n gejaag na wind.

Monday 20 November 2017

Laat die verlede in die verlede

Jesaja 43 : 18 – 19  Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.  Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring

Dit gebeur dikwels dat iemand vashaak in die verlede omdat hul seergekry het of voel dat hul verraai is.  Omdat die wond so diep is, praat party nie eens daaroor nie.  Die pyn word êrens diep binne weggesteek.  Eintlik is die persoon emosioneel gestremd en soos enige gestremde word daar van ‘n kunsmatige hulpmiddel gebruik gemaak.  Ongelukkig is dit nie ‘n kruk of rystoel nie, maar meesal alkohol, dwelms of kos. 

Vir party van ons is die blote gedagte om oor die pyn van die verlede te praat, skrikwekkend. Die gedagte laat jou met koue sweet uitslaan. Dit is amper soos om weer verkrag, geslaan of verkul te word.  Om weer en weer die pyn te herleef.  En tog is dit nodig sodat jy kan aangaan. Jy is dit aan jouself verskuldig.

Vir jou eie gemoedsrus en sielevrede, moet jy nog een keer die pyn deurleef.  Kry iemand wat jy vertrou… of dit ‘n vriend, familielid, berader of sielkundige is… praat daaroor.  Indien jy werklik nie daaroor kan praat nie, begin om dit neer te pen.  Skryf is ‘n wonderlike reis na genesing.

End an laat jy die verlede waar dit hoort… in die verlede. Wat met jou gebeur het, was nie jou keuse nie.  Watter pad jy vorentoe kies om te loop, is egter wel jou keuse.  Dit kan ‘n pad van haat en bitterheid wees, of ‘n pad van vergifnis en genesing.  Liefde oorwin gewoonlik alles. Begin deur vir jouself lief te wees.  Vir te lank het jy gehaat wat aan jou gedoen is en vergeet wie jy is.  Jy is steeds jy, miskien gelouter, maar steeds die mens wat God geskep het… uniek en spesiaal.

Wanneer jy klaar is met hierdie proses, kan jy ‘n nuwe blaadjie omslaan en vir God die deur oopmaak om iets nuut en opwindend in jou lewe te doen.  

Sunday 19 November 2017

Geld

Geld is vir baie van ons ‘n probleem.  Ons het nooit genoeg daarvan nie.  Iemand het eendag gesê dat geld nie alles is nie, maar dat dit darem baie ongemaklik daarsonder is.  Party mense reken dat geld die wortel van alle kwaad is.  Ek glo nie die probleem lê by geld as sulks nie, maar eerder by die liefde vir geld.

God is ‘n jaloerse God.  Niks in ons lewe mag belangriker as Hy wees nie.  God weet dat ons geld nodig het om van te leef.  Hoekom het party mense dan meer as ander? 

Jesus leer ons ‘n les in Matteus 25.  Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan.  Die een wat vyf muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan woeker en ‘n wins gemaak.  So ook die een wat twee muntstukke ontvang het.  Die laaste man het egter die een muntstuk wat hy ontvang het gaan begrawe.   Ongelukkig is geld nie ‘n saadjie wat ontkiem en in ‘n boom ontwikkel wat geld dra nie.

Dit moet vloei.  Geld is nie bedoel om op een plek te bly nie.  As jy aan die bietjie wat aan jou toevertrou is gaan vasklou (begrawe), gaan dit nooit meer word nie.  Jy moet daarmee woeker.  Vra vir God wat dit is wat Hy wil hê dat jy daarmee doen en begin vandag nog, maar wees gehoorsaam.

God seen sommige mense met meer omdat geld nie vir hulle belangrik is nie, maar eerder ‘n middel tot ‘n doel is.  Iemand wat werklik ryk is, sal nooit te koop loop met hul goeie dade nie.  Solank jy hard werk daarvoor of goed doen daarmee, soos wat God jou lei, hoef jy nooit skuldig te voel indien God jou met baie geld geseën het nie. 

Thursday 16 November 2017

Hoe betroubaar is jy?

Lukas 16:12  As julle met 'n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?

Ons vra dikwels vir God vir materiële besittings, maar niks gebeur nie.  Ons begeer ook ‘n luukse motor, ‘n huis van ons eie, nie net pap elke dag nie, maar ‘n lekker stukkie steak… ‘n behoorlike matras… nuwe klere, nie ander se ‘hand-me-downs” nie.  Hoekom gee God vir ander in oorvloed en ek het omtrent niks nie?  Hulle glo nie eens in God nie.  Ek glo… ek bid… ek gaan kerk toe… ek lees my Bybel… Wat is verkeerd?

Ons lees ook in die Bybel dat ons aan ander moet doen, soos wat ons wil hê dat hul aan ons doen.  Dieselfde geld vir ander se besittings. Of dit nou die koffie of tee, die werktelefoon, die fotostaat papier of jou baas se voertuig is… jy behoort daarmee om te gaan asof dit jou eie is.

Huur jy ‘n woning by iemand, is dit ‘n goeie idee om te sorg dat die tuin versorg word en as daar iets klein breek, maak dit self reg.  As jy lank daar bly en dit benodig verf, verf dit.
 
As jy iets by iemand leen, gee dit terug in dieselfde of beter toestand, saam met ‘n klein blykie van waardering. 

Bly jy in ‘n gastehuis of hotel is dit nie nodig om die bad tot bo toe vol te tap of al die ligte en lugversorger heeldag aan te los nie. 
Indien jou houding is dat dit nie joune is nie, so jy gee nie om nie, het jy die antwoord op jou vraag in paragraaf een self beantwoord.  God gee jou nie nog nie omdat jy nie betroubaar is met ander se goed nie.


Wednesday 15 November 2017

Hou op twyfel

Matteus 21:21  Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.

Dalk lees jy hierdie vers en dink by jouself, ek kan nie eens glo dat God vir my sal sorg nie, hoe op dees aarde gaan ek ‘n vyeboom beweeg?  Ek het nuus vir jou… jy kan.  Jesus sê uitdruklik dat ons sal kan doen wat Hy gedoen het.  Wow!

Al wat jou terughou, is die ewige twyfel…daardie sê nou maars.  Kyk, van ons kan darem die bobbejaan behoorlik agter die bult gaan haal.  Ons lê nagte wakker oor dinge wat ons dink kan of gaan gebeur.  As ons nie iets het om oor bekommerd te wees nie, bekommer ons ons sommer omdat ons niks het om oor bekommerd te wees nie.

Hoekom glo jy so vas aan jou twyfel?  Hoekom twyfel jy nie net so sterk aan jou twyfel nie? 

In die Bybel vind ons soveel beloftes van God se voorsiening.  Kyk nou maar na Matteus 6 waar God ons daarop wys hoe pragtig die lelies van die veld geklee is en hoe hy sorg vir die gras van die veld wat in elk geval môre oormôre verdor.  Daar is duisende voëltjies, maar God weet van elkeen van hulle, so hoekom sal hy nie van jou en my weet wie Hy reken veel kosbaarder is nie? 


Ek dink ons is so besig om te twyfel en onsself van die ergste te oortuig dat ons nie eens tyd kry om met God oor ons probleme te praat nie.  Ek en jy kan vandag ‘n daadwerklike besluit neem dat ons nie verder gaan tyd vermors deur twyfel gedagtes nie.  Ons gaan daardie tyd gebruik om God se beloftes van Sy voorsiening aan ons te herhaal.  Voor ons ons kom kry is twyfel by die deur uit en kan ek en jy die pad in geloof stap.

Tuesday 14 November 2017

Jou liggaam is 'n tempel van God

1 Korintiërs 6:19  Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie:

Onlangs het ek na die rolprent “Dis ek, Anna” gekyk.  Wat my veral geraak het, was hoe Anna te skaam was om met enige iemand te praat oor die molestering.  Om die een of ander rede het sy skuldig gevoel oor die man se verkeerde dade. Sy was so bang vir verwerping of dat niemand haar sou glo dat sy selfs nie haar eie ma vertel het nie.  En so gaan die verkragter voort om haar kindwees, vrouwees en toekoms te steel.

Nadat Jennifer Ferguson na vore gekom het oor die molestering wat sy jare gelede ervaar het, het verskeie vroue, via sosiale media met #metoo erken dat hul ook deur ‘n man verkrag of gemolesteer is en tot nou toe daaroor stilgebly het. Ook hulle was bang vir die veroordeling van die wêreld.  “As ek dit openbaar maak, gaan hulle dink dis my skuld of ek is sleg… of selfs dat ek hom uitgelok het.” 

Hierdie teks is vandag spesiaal vir jou wat op enige manier mishandel word.  Jy is kosbaar en pragtig en verdien nie wat met jou gebeur nie.  Niks en niemand het die reg om jou op enige manier te skend nie… nie jou liggaam, jou siel of jou gees nie.  Dit kan nooit geregverdig word nie.  Nie net is jou liggaam ‘n tempel van God nie, dit behoort steeds aan Hom.  Wie jou ookal afkraak, molesteer, slegsê, verkrag, verneder, verwond of geestelik afbreek, is besig om dit aan God te doen.  Sal hy in ‘n heilige plek van aanbidding instap en dit begin stukkend slaan?  Nee, want hy weet dat God dit nie ongemerk sal laat verbygaan nie.

Verbreek die stilte.  Stel die molesteerder aan die kaak.  Hy verdien nie dat jy hom beskerm nie. En as ons weet van iemand wat gemolesteer word en ons bly stil, is ons net so aandadig. 

Childline:   08 000 55 555

Die laaste dae?

2 Timoteus 3 : 1 : 5      
     
Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.  Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig;  hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;  hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.  Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.


Wat dink jy? Het die laaste dae aangebreek?

Sunday 12 November 2017

Ek verstaan nie

1 Kor 1 : 27 En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam,

Ons sal God seker nooit verstaan nie, maar dank Vader daarvoor.  As God ons moes verkies op grond van verdienste, sou nie een van ons dit gemaak het nie.  God sien egter potensiaal in ons.  Hy glo in ons wanneer niemand anders sou nie.  En Hy gee tweede kanse.

Moses het ‘n Egiptenaar doodgeslaan…gesukkel met sy humeur en nie altyd vir God geglo nie, maar hy sou die volk uit Egipte lei.  Ragab was ‘n prostituut en tog toe Jerigo vernietig is, het God net vir haar en haar familie gespaar.  Dawid het owerspel en moord gepleeg, tog sou hy koning word. Elia het gesukkel met swaarmoedigheid. Jeremia was depressief.  Jona het absoluut die teenoorgestelde gedoen as wat God van Hom verwag het, toe laat God dat ‘n vis hom insluk.  Maria Magdalena was iemand vir wie ons agteraf sou lag as iemand wat nie lekker is nie.  Nadat sewe duiwels uit haar uitgedryf is, het sy saam met Jesus gewandel.  Die vrou na wie as ‘die ander Maria’ verwys is, was ‘n prostituut en ook sy was deel van Jesus se groepie. Hulle sou van sy getrouste volgelinge word, soveel so dat beide teenwoordig was met die kruisiging en die eerste by die graf die volgende oggend.  Thomas was ‘n twyfelaar en Judas ‘n rugsteker en tog deel van Jesus se geselskap.

Dit maak nie saak wie jy vandag is… hoe sondig jy is of wat jy gedoen het nie.  NIKS kan jou van God vervreem nie.  Wanneer Hy jou uitkies gaan die ou dinge verby en alles word nuut.  Hy kan jou eintlik eers gebruik wanneer jy deur die meule gekom het.

 ‘n Diamant is immers net ‘n stuk steenkool / klip.  Waarde buite rekening gelaat, sal min mense deur ‘n klip aangetrek word.  Dit is eers as die diamant opgebreek is in kleiner stene en geslyp is tot perfeksie dat hul ons belangstelling begin prikkel.  Sodra hul geset is in goud, met die verskillende hoekies wat lig weerkaats, stewig in plek gehou deur toontjies goud of platinum dat die steen tot sy reg kom. 

Ons kom ook eers tot ons reg wanneer God ons as eindproduk in die holte van sy hand met sy vingerpunte vashou terwyl hy met oë vol liefde na ons kyk.

Thursday 9 November 2017

God sal jou nooit in die steek laat nie

Hebreërs 13 : 5  Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Terwyl ek verlede jaar op God gewag het om te bevestig of ek gereed is om voltyds vir Hom te werk het ek soos enige iemand anders tye van twyfel en kommer gehad.  Dit maak eenvoudig nie sin om sekuriteit, ‘n vaste salaris en voordele op te gee vir ‘n lewe van onsekerheid met slegs beloftes van Iemand wat ek nog nooit van aangesig tot aangesig gesien het nie.

Keer op keer het God my egter verseker dat Hy SAL sorg.  Ek wens partykeer ek het getel hoeveel keer ek uit verskillende oorde Matteus 6 : 26 ontvang het nie.  En jy moet God se sin vir humor waardeer, want nou weereens terwyl ek hier skryf.  Dit was duidelik tyd, maar dit het die besluit nie minder senutergend gemaak nie.

Die besluit moes geneem word terwyl ek gelukkig was in my werk, met ‘n goeie inkomste en geen onsekerheid oor my toekoms nie. Anders sou dit nie ‘n stap in geloof gewees het nie.

Vandag kan ek getuig dat God my nog nooit een oomblik in die steek gelaat het nie. Geld en besittings beheer my nie meer nie.  Die ewige gejaag na wind is soos om te onthou jy het ‘n nagmerrie gehad, maar kan dit nie presies weergee nie.  Deur blote genade, is ek nie meer van ‘n baas afhanklik vir my finansiële oorlewing of welstand nie. God is my enigste hoop en vertroue.  Ek het min, maar meer as genoeg.  Wanneer probleme opduik, is dit nie my probleem nie, maar God s’n.  Goed breek steeds… teespoed tref my ook… uitdagings verdwyn nie… Maar, keer op keer bring Hy uitkoms.  My begroting klop nooit op papier, maar elke maand is daar presies genoeg.

Dit is bevrydend en waarborg volkome saligheid.

Hiermee probeer ek nie almal oorreed om dieselfde te doen nie.  Ons elkeen se reis met God is verskillend.  My roeping is nie joune en visa versa.

Wat ek wel weet is dat baie van ons onsself in ‘n koma werk om op te gaar… en meesal roes dit of lê iewers en stof vergaar.  Sielkundiges en Psigiaters is nie meer net woorde in ‘n woordeboek nie, ons het hul nommers op ons selfone en ‘n ‘reminder’ vir ons volgende afspraak.  Ons gesels oor stress medikasie asof dit gisteraand se episode van 7de Laan was.  Ons wil meer hê… groter… beter… en nog… en nog… en nog.  Op ‘n dag is die kinders uit die huis en ewe skielik is die huis te groot en te veel werk.  Jy wil afskaal en dan kom nog ‘n ontnugtering as jy besef dat niemand jou ‘goed’ wil hê… jy kan dit nie eens verkoop nie, want dit het geen tweedehandse waarde nie.  Heng, partykeer kan jy dit nie eens weggee nie, want mense se smaak verskil.

Dis my wens vir jou dat jy tevrede sal wees met wat jy het en God kan vertrou om te voorsien.  Hy SAL jou nie in die steek laat nie.

Wednesday 8 November 2017

God se onmeetlike liefde

Johannes 3 : 16  “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Corrie ten Boom was die eerste vroulike horlosiemaker in Nederland.  Voor die oorlog het Corrie ten Boom o.a. klubs vir meisies tussen 12 en 18 jaar vir ongeveer 20 jaar bedryf.  Een van die boodskappe wat Corrie gereeld met hul gedeel het, was oor die liefde van God vir die mens.  Met die aanvang van die oorlog, moes die klubs ontbind.  Min het Corrie geweet hoe belangrik dit eintlik was dat hierdie meisies deel van haar lewe moes word.

Nederland is binnegeval en die nazi’s se aanslag op Jode het begin.  Hul radio’s is gekonfiskeer, ‘n aandklokreël is ingestel en een aand aand is ‘n klomp jongmans wat hul op straat beving het, eenvoudig bymekaar gemaak en na Duitsland geneem waar hul as slawe in die fabrieke sou werk.  Baie Joodse families het eenvoudig oornag verdwyn. 

Corrie en haar familie het heel onskuldig betrokke geraak by die ondergrondse operasie van versteking en beveiliging van Jode. Dit was juis baie van die meisies wat voorheen aan haar klubs behoort het (of iemand wat hul weer geken het) wat ‘n kardinale rol gespeel het om soveel Jode te red.  Een persoon sou help om meer rantsoenkaartjies te kry sodat hul meer kos kon koop om diegene wat hul versteek het te voed.  Ander sou na die huis kom en ‘n kamer bou waar die Jode sou kon gaan wegkruip as daar ‘n klopjag op die huis was.  Nog iemand sou laat weet wanneer hul hoor dat ‘n Joodse gesin geteiken word en dan het die operasie begin om die gesin na veiligheid te smokkel.

Op ‘n stadium was tot 80 persone betrokke by die beveiliging van Jode.  Uiteindelik is Corie en haar hele gesin aangekeer, gemartel en in die tronk gegooi. Selfs daar in die polisieselle was daar iemand wat hul gehelp het deur te fluister dat hul een-een na die toilet kon gaan waar hul die geleentheid sou hê om dokumente in die toilet af te spoel wat hul sou inkrimineer.

Tien dae nadat hul in die tronk gestop is, is haar pa oorlede.  Sy sou dit eers baie later uitvind.  Corrie self was siek en sy is uiteindelik toegelaat om hospitaal toe te gaan.  Al het die dokters bevestig hoe siek sy was het die owerheid besluit sy moet terug tronk toe.  Net voor sy vertrek het, het ‘n verpleegster ‘n pakkie aan haar oorhandig wat sy in haar klere versteek het.  Sy het 4 maande in afsondering in die tronk deurgebring.  Die pakkie sou haar deurhelp.  Binne-in was ‘n tandeborsel, tandepasta, seep en ‘n Bybel bestaande uit die vier Evangelies.

Corrie het elke geleentheid gebruik om oor God te getuig, selfs toe sy uiteindelik verhoor is.  Omdat sy soveel tyd alleen deurgebring het en die Evangelies oor en oor gelees het, het sy besef dat daar iets goed uit enige slegte gebeurtenis kon kom.  Jesus is deur hel, maar ons sou vry wees as ons in Hom glo.

Later is sy en haar suster Betsie na ‘n arbeidskamp uitgeplaas. Sy het in ‘n Philips fabriek gewerk waar radio’s vervaardig is vir die Duitse vegvliegtuie.  Soos sy self sê: “Ek het soveel foute as moontlik probeer maak.”

Lewe in die kampe was ondraaglik. Op ‘n dag is 700 mans geskiet en die vroue op veetrokke gelaai en na Duitsland gestuur.  Die konsentrasiekamp in Ravensbruck was veel erger as die vorige kamp of tronk.  Ten spyte van honger, mishandeling, ontbering en verskriklike swaar arbeid waaraan hul onderwerp is, het Corrie en Betsie nooit hoop verloor nie.  Net voor hul oorgeplaas is, het iemand vir haar ‘n klein Bybel en vitamiendruppels gegee.  Saans het sy en Betsie die Bybel gelees en kort voor lank het ander by hul aangesluit.  Te midde van haglike omstandighede, kon sy voortgaan om die boodskap van God se liefde te verkondig.  Net soos wat hul vir hulself en die ander vroulike gevangenes gebid het, het hul ook vir die wagte gebid.  Die botteltjie met vitamiendruppels het nooit opgeraak nie, al het Corrie dit met soveel vroue gedeel. 

Ongelukkig was die haglike omstandighede en uitmergeling te veel en is Betsie oorlede.  Corrie was gebroke, maar sy het vrede gevind toe sy haar suster se gesig sien na die tyd. Dit was vreedsaam, sonder enige pyn of hartseer.    

Op ‘n dag is sy geroep en summier ontslaan.  Terug in haar tuisstad moes sy hoor dat haar ontslag ‘n fout was.  ‘n Week later is al die vroue in die kamp by Ravensbruck na die gaskamers geneem waar hul gesterf het. 

Corrie het die wêreld vol gereis, meer as 60 lande, om van haar wedervaringe te vertel en die boodskap van God se onmeetlike liefde te verkondig.  Genesing en rekonsiliasie was vir haar uiters belangrik. 

In die konsentrasiekamp het haar suster, Betsie 2 visioene gehad… een van ‘n pragtige huis waar gebroke mense na die oorlog heling kon vind – die huis is aan haar geskenk… en ‘n plek van genesing in Duitsland, waar selfs van die wagte genesing kon vind… en dit het so gebeur.

Corrie sou altyd die tronke besoek in elke plek waar sy haar bevind het.  Sy kon hul bemoedig omdat sy self deur soveel is.  Deurentyd het sy haar boodskap oor God se liefde gedeel.  Tydens rehabilitasiewerk met ‘Holocoast’ slagoffers sowel as kampslagoffers, het sy bevind dat slegs diegene wat in staat was om te vergewe, goed herstel het en weer ‘n vol lewe kon lei.

Hierdie is nie ‘n verhaal van hartseer en wanhoop nie.  Inteendeel, dit is bevestiging van God se liefde vir diegene wat Hom in en deur alles dien en ‘n voorbeeld vir ons wat twyfel aan Sy liefde terwyl ons nie naastenby deurgaan wat Corrie en haar familie deurgegaan het nie.  Nie net het sy die boodskap verkondig nie, maar sy het ook gesorg dat sy God se hande, voete en spreekbuis op aarde is te midde van haglike omstandighede.  En oral in haar verhaal is daar bewyse van God se liefdevolle versorging… deur mense wat Hy oor haar pad gebring het.

Tuesday 7 November 2017

Vandag rou ek

Psalm 23 : 4  Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Dis die tweede dag van ‘n stormsterk suidooster, iets wat my altyd mistroostig stem.  Vanoggend let ek op dat ons Yorkie, Richie, nie wel is nie.  Ons kom agter daar is ‘n hewige swelling in sy buik, maar hy het nog gisteraand geëet.  Ongelukkig moet ek gaan werk en ons spreek af dat ek hom veeaarts toe neem sodra ek by die huis kom.

Vir die res van my lewe sal ek myself verwyt dat ek hom nie liewer dadelik veearts toe geneem het nie.  Teen die tyd dat ek hier kom, is hy reeds dood.  Die selfverwyte is oneindigend.  Toe hy my die nodigste gehad het, was ek nie daar nie… en dit terwyl hy my net liefde en vreugde gegee het.  My hart breek in ‘n duisend stukkies.

Boet kom by die huis en ek moet die nuus breek.  Saam huil ons oor die lykie.  Ons is verwese en stukkend.  Hy was deel van ons gesin en nou is sy plekkie leeg. “Ook maar goed, want hy sou nie sonder Lulu kon leef nie,” sê Boet.  Lulu en Chloe is die oudste.  Lulu kan skaars loop en sy is op hartmedikasie.  Chloe is my oorlede ma se hondjie en is heeltemal blind in een ogie.  Niemand het verwag dat die jongste, besige bytjie, eerste sou gaan nie.

“Nou het Ouma ‘n hond en ‘n kat in die hemel,” besluit Boet.  Verlede jaar is my pa oorlede.  Vier maande later, my ma… nog ses maande later ons kat en nog vyf maande later ons hond.  Gaan dit dan nooit ophou nie?  Dit voel asof ons nie kan ophou huil nie.  Albei my ouers was 81 jaar oud toe hul oorlede is.  Ons kat was amper 17, en die ander diere is ookal ver oor die 10 jaar oud.  Ons het dood nie geken nie.

Terwyl ons rou oor ons verlies, stroom berigte via sosiale media in van die brand teen Sir Lowry’s pas.  Al woed die brande hewig en is mens en dier in gevaar, kan die brandweer net hulpeloos toekyk, want die wind is te sterk.  Net onder die berg is ‘n dierebeskermings vereniging.  Hulpkrete gaan uit dat mense hulle moet kom help om die diere te ontruim, want die vlammehel is op pad en verswelg alles voor die voet. Here, help!

Op een dag soveel hartseer!  Here, waar is U?  Vergewe my, maar vandag is ‘n laagtepunt in my lewe.  Soos die Psalmdigter voel ek ook asof ek die einde van my kragte bereik het.  Hopelik voel ek môre beter;  die lewe gaan immers aan, met of sonder jou, maar vandag rou ek en laat ek myself toe om die pyn te voel.  Tot siens, Rich.

PS:  So pas gehoor dat al die diere gered is.  Prys God… Hy is nie weg of elders besig… Hy is reg hier by ons.

Monday 6 November 2017

Elia

1 Konings 18:44  Na die sewende keer het hy kom sê: “'n Wolkie so groot soos 'n man se hand kom uit die see uit op.” Elia sê toe: “Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.”

In die Weskaap beleef ons ‘n ongekende droogte.  Die Somer is in alle erns hier en die damme is boomskraap.  Ons beleef water rantsoenering en word gemaan om water op te gaar vir ‘n noodgeval.  Nog nooit het ons so iets beleef nie.  Ek glo meeste mense het nie water gespaar in die Winter nie, want hulle het geglo dit sal reën… en toe reën dit nie. 

Jy mag dalk van my verskil, maar ek glo God weerhou seën van ons omdat ons afgedwaal het.  Ons het leiers nodig wat ons kan teruglei na God, sodat ons as volk kan kom en ons verootmoedig voor God.  Ons het ‘n Elia nodig wat die leisels kan vasvat.  (vers 21 Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.)

Tydens Elia se tyd het die volk deur ‘n droogte van 3 en ‘n halwe jaar gegaan.  Elia was ‘n profeet van God.  Hy gaan op na Karmelberg en sit met sy kop tussen sy knieë… biddend.  Sy slaaf gaan 6 keer uit om te kyk of reën op pad is.  Elia word nie mismoedig, hy hou nie op nie.  Hy bly bid en glo. Die 7de keer sê die slaaf hy sien ‘n wolkie op die horison so groot soos ‘n man se hand. Elia weet dit is genoeg. Hy vra die slaaf moet die mense gaan waarsku… groot reën is op pad.

Elkeen van ons kan ‘n Elia wees.  As ons biddend bly, sal God vir ons uitkoms bring. 

Onthou jy nog hoe God die leeus se bekke gesluit het toe Daniël in die leeukuil was? En wat van Dawid wat die reus verslaan het met ‘n slingervel en geloof in God?  Niks het verander nie.  Dieselfde God kan vir ons reën bring, al is dit Somer.

Sunday 5 November 2017

Eer, geloof en vertroue

Psalm 37:4  Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Jy lees die teks en jy sê:  “Dit is makliker gesê as gedaan.  Jy het nie ‘n idee waardeur ek gaan nie.  My man is voor my doodgeskiet… ek is verkrag… my moederskoot bly leeg terwyl almal rondom my swanger raak… ek kry nie werk nie… ek is ‘n depressielyer daar is niks om oor te lag nie…”

Jy is reg, dit is nie maklik nie.  Die idee is nie om te lag of grappies te maak terwyl jou binneste aan flarde is nie.  Gee God bloot erkenning… eer Hom.  “Here, ek kan nie vandag eens ‘n glimlag op my gesig forseer nie, al probeer ek hoe hard, maar ek wil U verseker dat ek in my binneste steeds vreugde in U vind, want in U alleen is my hoop en vertroue.”

Waak daarteen om jouself te bejammer, want jy dien ‘n almagtige God wat in staat is tot veel meer as wat jy kan dink.  Hy beweeg wanneer Hy geloof en vertroue sien, ten spyte van jou omstandighede. Daar is altyd hoop.  God is steeds in staat om jou uit hierdie situasie te lei.  Hy droog self jou trane af.

Thursday 2 November 2017

Soet en suur

2 Samuel 5 : 3  Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf.

Wanneer n nuwe mamma hoor sy is swanger, dan begin die voorbereiding gewoonlik met groot opwinding.  Verskeie items word gekoop vir die babakamer, so ook boeke.  Daar word navorsing gedoen oor die proses.  Dis ook lekker om met ander daaroor te gesels sodat jy ‘n idee kan vorm van wat voorlê.  Die keuse van ‘n naam is nog ‘n belangrike deel.  Dis die opwindende deel totdat die babatjie kom.

Daar is egter ook ‘n ander sy aan swangerskap.  Oggendnaarheid, voete wat swel, ‘n rug wat pyn… en jy tel gewig op.  Teen die einde is die ongemak groot en sit baie vrouens selfs en slaap.

Om daardie bondeltjie vreugde in jou arms te hou, moet jy die soet en suur van die swangerskap deurmaak.  Menige mamma sal jou vertel dat die pyn onuithoudbaar was, maar dat hul die pyn vergeet die oomblik dat hul daardie langverwagte babatjie in hul arms hou.

Dawid is op 17 jarige ouderdom gesalf as koning, maar dit sou dertien jaar duur alvorens hy die troon bestyg het.  Gedurende daardie dertien jaar moes hy homself voorberei op die taak.  Party van die dinge wat hy moes doen, was nie lekker nie, maar hy het deurgedruk.

‘n Swanger mamma kan nie sê sy wil net die lekker deel van ‘n swangerskap ervaar nie.  Die swaarder dele is voorbereiding vir die baba se koms.  Wanneer die baba daar is, het sy die deursettingsvermoë en uithouvermoë nodig gedurende die nagte van min slaap, doeke omruil, ‘n mensie wat huil en al meer en meer van jou vra.

Partykeer dink ons die klein onbelangrike werkies wat ons moet doen is ‘n mors van tyd, maar niks is ooit onnodig nie.  Dit was 'n mamma wat daardie belangrike persoon in die wêreld gebring en grootgemaak het.  Jou groot deurbraak kom dalk juis terwyl jy met ‘n onbenulligheid besig is.

Net soos wat ‘n mamma nie kan sien hoe die babatjie binne haar groei en hoe hy lyk (buiten vir ‘n magie wat groei en sonars), is dit wel so dat daardie mensie elke oomblik van die tyd ontwikkel.

Ons sien nie altyd die doel agter ons swaarkry nie, maar God is voortdurend besig met ons. 
‘n Swanger mamma draai nooit terug nie.  Daar is net een rigting en dit is deur die nege maande en geboorte.

Jy moet dieselfde mentaliteit ontwikkel.  Druk deur al gaan jy deur ‘n uiters moeilike tyd.  Aan die einde wag vir jou ‘n beloning, net soos vir die mamma en Dawid.

Wednesday 1 November 2017

God van die buitengewone

Genesis 18 : 14  Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê.”

Waarvoor vertrou jy vir God? Nie Abraham of Sara het geglo dat hul meer ‘n kindjie van hul eie sou hê nie.  ‘n Vrou is net so lank vrugbaar en Sara was reeds verby die ouderdom.  Soos dit maar gaan, as God nie ons gebede beantwoord, dan maak ons self ‘n plan. Sara het toe haar dienskneg vir Abraham gegee sodat daar darem ‘n erfgenaam sou wees.  Hulle het net een ding uit die oog verloor… dat God die nageslag uit Sara en Abraham wou laat voortspruit, nie uit Hagar en Abraham nie.

God was nie doof vir hul gebede nie, die tyd was net nog nie reg nie.  Ons sou reken die tyd was ver verby reg, want Sara was al verby die ouderdom van kinders baar.  Ouderdom het egter nie ‘n rol gespeel nie.  God het wel ‘n rol gespeel.  As God vir Sara ‘n baba sou gee terwyl sy nog jonk en vrugbaar was, sou dit nie die Woord vervul het in die manefestasie van ‘n wonderwerk dat Abraham se nageslag meer as die sand van die see sou wees. 

Ons kyk ook na omstandighede en reken dit is nie moontlik nie, maar ons dien ‘n buitengewone God.  As God jou onmiddellik alles sou gee waarvoor jy vra, sou niks ‘n wonderwerk sou wees.  Vertrou God vir daardie wonderwerk waarop jy hoop.  Hy spesialiseer in die buitengewone.

Romeine 4 : 20  Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...