Thursday 28 December 2017

Prediker 8 : 17

Toe het ek al die werk van God begryp; die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie.

Wednesday 27 December 2017

Tuesday 26 December 2017

Thursday 21 December 2017

Johannes 1 : 29

“Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Geseënde Kersfees!  Mag hierdie jaar 'n besonderse Christusfees vir u en u familie inhou.

Wednesday 20 December 2017

Tuesday 19 December 2017

Hebreërs 11 : 7

Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom

Monday 18 December 2017

Kolossense 3 : 17

En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom

Sunday 17 December 2017

Markus 12 : 24


Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

Thursday 14 December 2017

Waar is die liefde van God?

1 Johannes 3 : 17  Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?

Onlangs stap ek by ‘n kruidenierswinkel in om gou ‘n paar goedjies te koop.  Oor ‘n luidsprekerstelsel weerklink Kersmusiek en die winkel is feestelik versier met Kersversierings. In skrille kontras met die feestelikheid en ‘n seisoen wat bekend is vir oordaad, heers daar ‘n bedeesde stilte onder diegene in die lang rye.  Dit is SASSA dag, die dag waarop staatstoelaes uitbetaal word.

Party het ‘n mandjie met ‘n paar items, ander nie.  Daar is geen opgehoopte trollies in sig in die rye nie.  ‘n Staatstoelaag strek net so ver.

In winkelsentrums is die atmosfeer byna elektries.  Koopslawe trippel van een winkel na ‘n ander terwyl daar gekoop word asof die winkels vir die volgende 6 maande gesluit gaan wees.  Indien jy nie die finansiële vermoë het om ook in hierdie ‘feeding frenzie’ te deel nie, raak jy depressief by die aanskoue daarvan.

Meer en meer hoor ek van mense wat erken dat hierdie nie hul gunsteling tyd van die jaar is nie.  Elkeen het seker sy of haar eie rede.  Party hou net nie van die geharwar nie.  Ander verlang na geliefdes wat nie meer by hul is nie. 

Of jy daarvan hou of nie, jy word daarby ingetrek.  Die kerstafel moet oorlaai word en die Kersboom kan nie vereensaam sonder toegedraaide geskenke nie.  Waar is die liefde van God?  Iewers het iets verlore gegaan.

Soms wens ek, ek kan die gedwonge feesvierings opsyskuif en eerder ‘n paar minderbevoorregtes of eensames gaan haal om ‘n tafel met my te deel.  Ek glo dat dit is wat God van ons verwag en ek glo daar sou dankbaarheid en liefde aan so ‘n tafel wees.

Maar nee, ons knyp oë toe en koop ook maar ‘n luukse en soek sorgvuldig geskenke uit terwyl ons bid dat die ontvanger nie teleurgesteld sal wees nie. 


PS:  Tot 12 Januarie sal daag slegs ‘n teks elke dag gepubliseer word.

Wednesday 13 December 2017

Geepad!

Efesiërs 4 : 27  Moenie die duiwel vatkans gee nie.

Partykeer gee ons nie net die duiwel vatkans nie, ons nooi hom sommer in en gee hom ‘n ereplek in ons lewe.

Te veel mense leef ‘n lewe waar hul met die minste tevrede is.  Hulle laat toe dat vrees lekker diep wortelskiet in hul daaglikse bestaan.  Vrees is die mees effektiewe wapen wat die vyand kan gebruik om ons mee terug te hou.  Vrees is nie van God nie.  In die Skrif lees ons dat vrees foltering meebring.  Dit ontneem ons van ons krag om terug te veg… dit verlam ons en ontneem ons van ons vreugde en veral van die seen van God.

Die goeie nuus is dat God groter is as enige vrees.  Sy krag in jou is groter as enige krag teen jou.  Maar om in Sy krag te loop, moet jy die deur toemaak vir die vyand.  Vrees kan net inkom as jy dit toelaat.  Dit is hoekom ons versigtig moet wees na wat ons luister, wat ons kyk of wat ons lees, of hoor.  As jy nie waaksaam is nie, sal vrees jou oorval deur ‘n storie wat jy hoor, televisiebeelde, koerante of skinderstories.  Al wat die vyand nodig het is dat jy wonder of twyfel, dan is die deur op ‘n skrefie oop en kan hy inglip en amok maak.

Indien jy toegelaat het dat vrees jou vreugde gesteel het, is daar steeds hoop.  Jy kan vandag wegstap as ‘n vry persoon.  Maak ‘n keuse om nie meer die deur oop te maak vir vrees nie.  Lees God se Woord… mediteer op Sy beloftes.  Bid… Glo…  Ontvang sy waarheid en jy sal volkome vryheid smaak. Hy sal jou waarlik vrymaak.

Tuesday 12 December 2017

Uiteindelik!

Esegiël 36 : 26  Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee

Gedurende ons leeftyd sal daar ‘n tye kom dat alles nie uitwerk soos ons dit beplan of wou gehad het nie.  Ons sal voel asof ons onregverdig behandel is.  Ons ouers het miskien nie geleerdheid gehad nie en daarom kon hulle nie vir ons gee wat ons maats gehad het nie.  Ons kon dalk nie soos ons klasmaats verder gaan leer nie.  Miskien voel ons nou asof die geskiedenis homself gaan herhaal.

Nee!  Moenie vir een oomblik die leuen glo wat die vyand jou probeer wysmaak nie.
Wanneer jy God as jou Verlosser en Saligmaker aanneem, word alles nuut.  Jy kry ‘n nuwehart… die bloedlyn verander.  Jy is nie meer die produk van jou voorvaders nie; die vloek is gebreek.  Jy is nou ‘n erfgenaam van die Almagtige God.  Dit wat Hy vir jou beplan is veel beter as wat jy ooit kon droom.

Wanneer jy verstaan wie jy nou is en aan Wie jy behoort, verander alles.   Dan word die verlede agtergelaat en stap jy die toekoms in as kind van die Koning van die Heelal.  Dit is nie asof jy skielik beter as almal is nie, dit is net dat jy uiteindelik jou Godgegewe geestelike doelwit bereik;  ‘n doelwit wat jou toegang bied tot die rykdom van die Allerhoogste.

Monday 11 December 2017

Dit kom beslis

Habakuk 2 : 3  Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

Ons ken almal die frustrasie van wag… wag vir geleenthede, wag vir deurbrake, wag vir die regte oomblik…  Wag, wag, wag…  Dit voel of jy jou hele lewe lank wag.  God sê:”  Dit kom… dit sal nie uitbly nie.”

In Survivor het die spanne dikwels ‘puzzles’ wat hulle moet bou.  Wanneer dit op ‘n hoop lê, lyk dit chaoties, maar wanneer die regte stukke op die regte plekke gepas is, klik iets en ‘n vlag word gehys.  Oorwinning!  'n Deurbraak.  Net so kan God alles in lyn bring sodat deure vir jou oopgaan waarvan jy maar nog net altyd gedroom het.

Jy probeer al vir jare lank om iemand te kry om na jou idee te kyk en skielik ontmoet jy iemand wat net so opgewonde soos jy daaroor is en… die persoon ken die regte mense om die idee van die grond af te kry. 'n Deurbraak!

Jou motor is ‘n wrak wat jou elke maand ‘n fortuin kos… wanneer alles in plek val kan jy ewe skielik ‘n nuwe motor bekostig.  Oorwinning! 

Jou werk frustreer jou… die roetine is sieldodend… wanneer alles in plek val, bel iemand jou uit die bloute vir ‘n onderhoud en jy kry die nuwe werk. 'n Deurbraak!

Al wat jy moet doen is om God eerste te plaas;  om Hom te eer en alles in Sy Naam aan te pak.

Wat ‘n leeftyd sou neem om te bereik, kan God binne ‘n oogwink bewerkstellig.  God kan deure oopmaak wat al vir jare lank toestaan. 

Skielik klik alles in plek en gebeur dinge.  Alles het ‘n bepaalde tyd, en daardie tyd breek aan sodra God die bal aan die rol sit.  Klik, klik, klik

Sunday 10 December 2017

Om te glo

Hebreërs 11 : 1  Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

“Sien is glo”, is ‘n gesegde wat jy dikwels hoor of… “Ek wil dit eers sien, voor ek dit glo.”
In God se wêreld werk dinge anders.  Ons glo omdat ons glo, nie omdat ons sien nie.  Die Bybel is as’t ware die geskiedenisboek waar ons leer van God en van Sy verhouding met die mens oor die eeue heen.  Dit is opgeteken en vir ons is dit min of meer hoorsê.  Hoorsê word nie in ‘n hof aanvaar nie, en tog glo ons omdat die Bybel so sê.  Ons het nie self gesien nie… ons was nie daar nie… ons ken nie eens iemand wat daar was nie, maar ons glo nietemin.  Dit is geloof.

Volgens die skrif open geloof deure vir God om te beweeg.  Geloof verskaf God vreugde. 
Ons het almal ‘n mate van geloof ontvang.  Hoe sterk daardie geloof word, met tyd, hang van ons af.  Soos wat jy God vertrou en Hom sien deurkom vir jou, kan jy nie anders as om in geloof te groei nie.  Soms word ons geloof getoets.  Soms gebeur die wonderwerk nie binne die verwagte tyd nie.  Beteken dit God bestaan nie?  Nee!

Dit is verseker nie maklik nie, maar as dit maklik was, sou geloof nie nodig gewees het nie.
Glo jy dat God seëninge oor jou kan uistort op hierdie oomblik?  Nie?  Hoop jy daarop?  Wel solank jy seker is van dit waarop jy hoop, glo jy.

Neem God vandag op Sy Woord… op die vele beloftes in Sy Woord.  Soos wat Hy vir ander deurgekom het, so kan Hy ook vir jou deurkom.  Wanneer jy daardie tree in geloof neem, maak jy die deur vir God oop om ongekende seen op jou te laat neerreën… op elke aspek van jou lewe.

Thursday 7 December 2017

Sukses



2 Kronieke 31 : 21  In alles wat hy onderneem het ter bevordering van die tempeldiens en die gehoorsaamheid aan wet en gebod, het hy met sy hele hart gevra na die wil van sy God, en daarom was hy voorspoedig

Sukses is nie almal beskore nie.  Vele hunker daarna.  Sukses word dikwels gesien as die pot goud aan die einde van die reënboog. 

In die koerante sien ek vele advertensies met waarborge en beloftes van sukses en dikwels word dit gemeet in geld terme.

Indien jy graag suksesvol wil wees, is vandag se teks vir jou 'n waarborg daartoe.

Hiskia het alles wat hy onderneem het gedoen asof vir God.  Hy was gehoorsaam aan die wette en gebooie.  Ook het hy gevra na die wil van God en daarom was hy voorspoedig.

Wednesday 6 December 2017

Moenie op jou eie insigte staat maak nie




Spreuke 3 : 5  Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Daar is min mense wat gedissiplineerd genoeg is om te bid en dan op 'n antwoord te wag.  Ons bid gewoonlik en dan neem ons 'n besluit sodra ons dink ons het God nou gehoor, maar was dit regtig die stem van God.

Vandag se vers sê nie dat jy nie self besluite mag neem nie, maar dit sê wel dat jy nie op jouself moet staatmaak nie. 

Ons is en bly feilbare mense wat geen idee het wat God se groter plan vir ons lewe is nie.  Daarom bly dit belangrik om nie net op God te vertrou nie, maar inderdaad seker te wees dat jy Sy stem gehoor het.

God praat natuurlik op verskeie maniere met ons.  Partykeer gebruik hy mense om ons pad te kruis met 'n antwoord, ander kere laat Hy die Heilige Gees toe om die antwoord in ons harte te plaas.  Dan is daar weer kere dat jy jou antwoord in die Woord sal vind of d.m.v. 'n boodskap wat iemand met jou deel.

Waar dit op neerkom, is dat ons so ingestel op God moet wees dat ons eenhonderd persent seker is dat die antwoord van Hom kom. 

Monday 4 December 2017

Waarheen nou?



Spreuke 20 : 24  Die Here bepaal 'n mens se koers; hoe sal 'n mens weet waarheen hy moet gaan?

Hierdie tyd van die jaar is daar vir baie mense groot besluite wat geneem moet word.  As jy kinders het, moet jy besluit watter skool hul bywoon.  Eenvoudig is sulke besluite nie.  Behalwe dat jy net die beste vir jou kinders wil hê, gaan dit ook oor die afstand na die skool, skoolfonds, klere, ens.

Indien jy so pas jou Matriekeksamen afgelê, moet jy nou oor jou toekoms besluit.  Gaan jy studeer?  Waar?  Wil jy eers 'n 'gap' jaar neem?  Waarheen?  Gaan jy dadelik begin werk?  Waar en vir wie?

Met kinders se besluite, moet ouers ook dikwels hul lewens aanpas.  Dalk oorweeg jy dit om jou huis te verkoop en na 'n ander area te trek juis as gevolg van jou kind se skool / universiteit.

Of dalk is jou nes nou leeg en moet jy besluit of jy gaan afskaal... see toe trek?

Besluite, besluite, besluite... dit is nie maklik nie.  Genadiglik bepaal God ons koers.  Ons moet Hom net ken in ons besluite en vra vir wysheid.

Mag jy God se stem duidelik hoor en die regte besluite neem.

Sunday 3 December 2017

Drank


Spreuke 20 : 1  Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak;  niemand wat van dronkenskap slinger is verstandig nie.

Hoe was jou naweek?  As jy kan antwoord:  "Lekker, uitstekend, heerlik," is jy baie gelukkig. 

Ongelukkig is naweke nie vir almal pret nie.  Vir baie is dit 'n tyd van intense spanning omdat drank hul geliefdes in besit neem.  Behalwe dat dit 'n baie eensame naweek is omdat dit onmoontlik is om 'n sinvolle gesprek met so iemand te voer, raak meeste drinkers ook geweldadig.  Drank gee hul moed om te doen en sê wat hul andersins nie die moed voor sou hê nie.

Indien dit jou realiteit is, glo ek dat jou lewe nie aangenaam is nie.  Deur egter die gedrag toe te laat, bemagtig jy die persoon.  Die feit dat hy/sy hom/haar aan drank vergryp is nie jou skuld nie.  Dit beteken egter nie dat jy hul kan toelaat om so voort te gaan nie.  Wanneer daar kinders is, is dit selfs meer belangrik om in liefde in te gryp.

Bid dat God jou die wysheid en krag sal gee om te doen wat jy moet doen.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...