Thursday 14 December 2017

Waar is die liefde van God?

1 Johannes 3 : 17  Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?

Onlangs stap ek by ‘n kruidenierswinkel in om gou ‘n paar goedjies te koop.  Oor ‘n luidsprekerstelsel weerklink Kersmusiek en die winkel is feestelik versier met Kersversierings. In skrille kontras met die feestelikheid en ‘n seisoen wat bekend is vir oordaad, heers daar ‘n bedeesde stilte onder diegene in die lang rye.  Dit is SASSA dag, die dag waarop staatstoelaes uitbetaal word.

Party het ‘n mandjie met ‘n paar items, ander nie.  Daar is geen opgehoopte trollies in sig in die rye nie.  ‘n Staatstoelaag strek net so ver.

In winkelsentrums is die atmosfeer byna elektries.  Koopslawe trippel van een winkel na ‘n ander terwyl daar gekoop word asof die winkels vir die volgende 6 maande gesluit gaan wees.  Indien jy nie die finansiële vermoë het om ook in hierdie ‘feeding frenzie’ te deel nie, raak jy depressief by die aanskoue daarvan.

Meer en meer hoor ek van mense wat erken dat hierdie nie hul gunsteling tyd van die jaar is nie.  Elkeen het seker sy of haar eie rede.  Party hou net nie van die geharwar nie.  Ander verlang na geliefdes wat nie meer by hul is nie. 

Of jy daarvan hou of nie, jy word daarby ingetrek.  Die kerstafel moet oorlaai word en die Kersboom kan nie vereensaam sonder toegedraaide geskenke nie.  Waar is die liefde van God?  Iewers het iets verlore gegaan.

Soms wens ek, ek kan die gedwonge feesvierings opsyskuif en eerder ‘n paar minderbevoorregtes of eensames gaan haal om ‘n tafel met my te deel.  Ek glo dat dit is wat God van ons verwag en ek glo daar sou dankbaarheid en liefde aan so ‘n tafel wees.

Maar nee, ons knyp oë toe en koop ook maar ‘n luukse en soek sorgvuldig geskenke uit terwyl ons bid dat die ontvanger nie teleurgesteld sal wees nie. 


PS:  Tot 12 Januarie sal daag slegs ‘n teks elke dag gepubliseer word.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...