Wednesday 25 April 2018

Waag


Prediker 11 : 1  Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug.

Die beginsel van brood op die water werp, kom van saad wat uitgegooi word op deurnat grond en dan ‘n oes lewer.  Net soos ‘n boer moet ons ook partykeer kanse waag.

Jogebed het ook haar ‘brood’ op die water gewerp toe sy vir Moses in die biesiemandjie in die rivier gesit het.  Op die ou end het Farao se dogter op die babatjie afgekom en iemand gesoek wat die babatjie kon soog en vertroetel tot hy groot genoeg is.

Dit wys net hoe saad kan ontkiem as jy ‘n kans neem.

Watter uitdaging in jou lewe verlang dat jy ‘n stap in geloof neem.  Is dit dalk om jou meer vryheid te gee noudat hul puberteit ingaan? Dalk moet jou kind volgende jaar verder gaan studeer en iewers in ‘n koshuis of saam met ander gaan bly.  Miskien moet jou man op ‘n ander dorp gaan woon, dalk selfs oorsee?  Miskien is jy bang om te laat gaan.  Dalk sukkel jy met vertroue.  Dalk is jy in ‘n tweestryd oor ‘n verhouding.

Wees braaf… wees ‘n Jogebed.  Neem die risiko en laat gaan.  En vertrou God dat jy uiteindelik die oes sal inbring.

Tuesday 24 April 2018

Glo onwrikbaar


Eksodus 1 : 22  Daarna het die farao sy hele volk beveel: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi

Stel jou voor jy is ‘n swanger mamma wat rykhalsend uitsien na die geboorte van jou ongebore babatjie.  Jy gaan vir ‘n skandering en hoor dis ‘n seuntjie.  Die voorbereiding begin… blou kleertjies word gekoop, die kamer word versier, jy begin moontlike name oorweeg… Een aand luister jy oor die nuus en jy hoor dat ‘n nuwe wet geproklameer is. Alle babaseuntjies sal by geboorte doodgemaak word.  Dis presies wat Farao gedoen het toe hy besef dat die Israeliete meer raak as die Egiptenare. 

Kan jy jou indink hoe Jogebed moes voel toe sy dit hoor?  Angsbevange… wat as dit ‘n seuntjie is?  En toe is dit ‘n seuntjie... Moses.  Jogebed was egter ‘n Godvresende vrou.  Sy het vas geglo dat haar seuntjie nie sal sterf nie.  Sy sou bid en glo dat God hom sal beskerm vandaar haar plan om vir hom ‘n mandjie te vleg en hom in die rivier te gaan wegsteek.

In Hebreërs 11 word daar verduidelik, aan die hand van voorbeelde van geloofshelde, wat dit beteken om te glo.  Net drie vroue word in die hoofstuk vereer:  Sarah, Rahab en Jogebed. 
Wat sal God oor jou geloof sê?  Sal jy die geloofshelde lysie haal?  As ander 
mense na jou kyk, sal hul jou bewonder vir jou sterk geloof?

Dis nie altyd maklik om onwrikbaar op God te vertrou nie.  Dis nie altyd maklik om vaste geloof te demonstreer nie.  Maar wanneer ons wel bly glo ten spyte van almal se ongeloof, kan ons iemand anders se geloof versterk.

Monday 23 April 2018

Geduld


Genesis 30 : 22  God het op Ragel ag geslaan en haar gebed verhoor. Hy het haar nie langer kinderloos gelaat nie.

Wanneer ons bid, hoop en vertrou ons dat God ons gebede sal beantwoord.  Ons het nou al geleer dat God se tyd nie ons tyd is nie en daarom weet ons dat dit langer kan neem as waarop ons hoop.  Dus bly meeste van ons glo, maar sou ons so lank vas staan in geloof soos Ragel?

Ragel het ook geglo dat God een of ander tyd haar gebede sou beantwoord.  Dalk het sy selfs gedink dat sy darem so ‘n bietjie van ‘n voorsprong gehad het, want Abraham was haar man se oupa.  Dieselfde Abraham vir wie God in Genesis 12 : 2 – 3 en 22 : 17 beloof dat sy nageslag sal wees soos die sterre aan die hemel of soos die sand van die see.  Ragel sou tog ‘n rol in hierdie vermeerdering moes speel? Tog bly sy wag.  Sy wag terwyl tien kinders vir Jakob gebore word by haar suster Lea asook haar twee slawe Bilhah and Zilpah. 

Ons leer ‘n wonderlike les of twee by Ragel.  Sy het aanhoudend gebid, want uiteindelik het God gehoor gegee en haar gebed verhoor (soos ons in die teks lees). 

Om te bid sonder om te glo, is tydmors.  Ragel het gebid en vas gestaan in geloof sowel as God se beloftes aan Abraham.  Haar geloof is so sterk dat sy nie glo dat God net vir haar een kindjie sal gee toe hy uiteindelik gebore word nie… daarom doop sy haar eersteling “Josef”, wat beteken “God sal byvoeg”.  Dis ‘n kragtoertjie in geloof!

Wat is die langste wat jy al moes wag op God om jou gebede te beantwoord?  Is jy besig om moedeloos te raak en hoop te verloor?  Of jy nou wag op genesing, herlewing, rekonsiliasie, vernuwing… hou aan bid… hou aan glo, maar ek wil jou ook aanmoedig om jouself af te vra wat jy besig is om te leer terwyl jy wag. Ek dink nie God laat ons moedswilliglik wag nie.  God se planne is immers altyd goed vir ons.  Wees verseker dat Hy jou lei volgens Sy perfekte wil.  In die proses word ons gevorm en gebrei in die hande van die Meester Potttebakker.

Thursday 19 April 2018

'n Sondige natuur


Romeine 8:6  Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede

Om binne die wil van God te leef is nie maklik nie.  Ons as mens beskik oor ‘n sondige natuur en daardie sondige natuur kan ons ondergang beteken. 

Om in ontkenning te leef, gaan ook nie help nie.  Die eerste stap tot genesing vir ‘n alkoholis is om te erken dat hy/sy ‘n probleem het.  Net so moet ons ook ons sondes herken alvorens ons daarmee kan breek.

Watter sonde(s) is daar in jou lewe? Vir elkeen van ons sal dit iets verskillend wees, maar daar is ook sondes waarmee ons almal sukkel.

Naasteliefde is ‘n groot probleem.  Ons is veronderstel om mekaar lief te hê met dieselfde liefde wat ons vir onsself het.  Sal jy dan van jouself slegpraat of jouself lelike name noem?  Die eie ek moet eers gekruisig word alvorens ons werklik vir ander kan lief wees.

Afgodery is nog ‘n algemene probleem.  Ons dien dalk nie ‘n goue kalf nie, maar ons afgod is dalk sport, televisie, gym, kos...  Dink maar net wat is belangriker as God in jou lewe.  Bygesê, onthou God is ‘n jaloerse God.

Word die Sabbatdag nog geheilig?  Deesdae is winkels en selfs Banke oop op ‘n Sondag en mense ondersteun hierdie winkels sonder om daaraan te dink dat hul die Sabbatdag ontheilig en iemand die geleentheid ontneem om kerk toe te gaan omdat hul moet werk.  Sondag is ‘n rusdag… vir almal… ‘n dag gewy aan God. 

Is vloek dalk iets waarmee jy sukkel?  Jy probeer so hard, maar as jy jouself kom kry, uiter jy ‘n kragwoord? Gebruik jy byvoorbeeld die Naam van God sonder dat jy daaraan dink of kyk jy na flieks of televisieprogramme wat deurspek is met Godslastering? 

Of dalk sukkel jy om nie te begeer nie.  Jy weet jy mag nie, maar dis darem swaar as iemand anders iets het of kry wat jy so bitter graag wou hê?   Dalk is jy selfs jaloers op iemand se sterk geloof terwyl jyself so maklik twyfel.

Is jy dalk besig met ‘n buite-egtelike verhouding?  Jy troos jouself dat die persoon in elk geval ongelukkig getroud is?  Sou dit so gewees het as jy nie op die toneel was nie?  Dalk is jy self ongelukkig getroud.  Het jy geweet dat die gras net so groen aan jou kant kan wees as jy dit net soveel water gee as aan die oorkant?

Miskien neem jy goed wat nie aan jouself behoort nie.  Jy probeer dit regverdig deur te dink dat die persoon in elk geval genoeg het en jy nie naastenby soveel nie.  Dit bly steel as dit nie aan jou behoort of jy nie daarvoor gewerk het nie. 

Dalk vertel jy skindernuus oor vir die waarheid en jy besef nie dat die storie al soveel stertjies bygekry het dat dit lankal nie meer waar is, maar eerder vals getuienis is. 

Het jy dalk iemand se lewe geneem? Of het jy dalk moordgedagtes teenoor iemand?

Hoe tree jy teenoor jou ouers op?  Respekteer jy hulle?  Dalk reken jy hulle verdien nie om gerespekteer te word nie.  Feit is jy moet jou ouers respekteer sonder enige voorbehoud.  Dit beteken dat jy hul met liefde sal behandel, nie op hul skel en vloek, selfs vir hul sorg waar nodig.  Jou ouers is miskien nie perfek nie, maar hul bly die ouers waaruit jy gebore is.

Daar is ‘n rede hoekom God vir Moses en vir ons ‘n wetboek gegee het.  Ons kan die sondige natuur afsterf as ons God vra om ons te help.

Wednesday 18 April 2018

Mostertsaadgeloof


Lukas 17 : 6  Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.

Ons weet dat ‘n mostertsaadjie, een van die kleinste saadjies is en tog as dit geplant word, groei dit tot ‘n enorme boom.  Wat God hiermee bedoel is dat die kleinste gryntjie van geloof, te midde van onmoontlike omstandighede, ook kan lei tot fantastiese resultate.

As ‘n gelowige het jy reeds genoeg geloof binne jou om enige probleem te oorkom.  Dit maak nie saak of jy in ‘n gelowige huis grootgeword het of nie.  Dit maak ook nie saak wat jy weet of nie weet nie.  God wil in jou lewe werk vandag.  Jy kan dalk nie sien hoe dinge kan uitwerk nie, maar dis in orde.  Al wat jy moet doen is om te glo dat God wel ‘n verskil kan maak omdat niks vir Hom onmoontlik is nie.

Sit jou geloof vandag in aksie deur te verklaar dat jou hoop en vertroue in Hom is.  Dank God omdat jy weet dat Hy agter die skerms besig is.  Gebruik daardie mostertsaadgeloof van jou en dit sal ontkiem en deur die harde kors breek en groei tot ‘n lieflke boom.

Met mostertsaadgeloof het jy alles wat jy nodig het.

Tuesday 17 April 2018

In God se greep


Jesaja 41 : 10   Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou

Ons almal beland een of ander tyd in situasies waar ons buite beheer voel; bang raak.  Dis maklik om dan ontmoedig te voel en toe te laat dat vrees jou oorweldig.  Dis tye wat jy juis moet onthou dat God vasgegryp het en met Sy eie twee hande vashou.  Daar is niks te moeilik vir God nie.  Onmoontlik is nie deel van God se woordeskat nie. In Sy greep, is jy volkome veilig;  jy is versorg.  In Sy hand is oorwinning, krag en voorsiening… In Sy hand is alles wat jy nodig het.

Maak nie saak waardeur jy vandag gaan nie, jy kan God volkome vertrou, want Hy is vir jou.  In plaas van in ‘n depressie te verval oor jou omstandighede, kyk op en visualiseer hoe God jou situasie omdraai.  Blaas die flammetjie van geloof aan, koester dit in jou binneste tot dit behoorlik vlamvat.  Sien voor jou geestesoog guns, promosie en oorvloedige seëninge.

Indien ons dieselfde ywer aan die dag lê met positiewe denke as wat ons met negatiewe denke doen, kan dit net vrugte afwerp.  Dit lig jou op en gee jou hoop. 

Ons verloor so maklik God se beloftes uit die oog.  Dieselfde beloftes wat in Die Bybel aangeteken is, is van toepassing op ons.  Die Bybel is God se getuigskrif en Hy doen aansoek vir die belangrikste pos in jou lewe… jou persoonlike Lyfwag.  Met Hom aan jou Sy hoef jy niks te vrees nie.

Monday 16 April 2018

Waarop is jy ingestel?


Psalm 68 : 1   As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar, 

As jy nou dood eerlik moet wees, wat geniet die meeste aandag in jou lewe? Waarop is jou gedagtes ingestel?  Wat tap jou energie?

Miskien sê jy:  “Wel, dis maklik, want ek sukkel met my finansies, so ek maak dag en nag planne om net met my geld uit te kom.  Elke sent word gerek tot sy oë traan.  Ek het my uitgawes tot op die been gesny en steeds is daar nie genoeg om al die gate toe te stop nie.”  Iemand anders mag dalk sê:  “Ek is so ongelukkig in my werk dat ek al my tyd en energie spandeer om vir ander werk te soek.”  Vir nog iemand mag dit wees:  “My huwelik is op die rotse.  Ek is emosioneel afgebreek en moet al my kragte inspan om net staande te bly ter wille van my kinders.  Finansiëel kan ek nie op my eie twee bene staan nie, so ek bly vasgevang in hierdie huwelik of ek wil of nie.”  ‘n Ander persoon mag weer gesondheidsprobleme ervaar.   “My mediese uitgawes oorheers alles en ek of my geliefde word nie beter nie.  Daar is dalk nie meer hoop nie.”  Of dit nou ‘n motor is wat breek, ‘n kind wat sukkel om te leer, vriende wat jou teleurgestel het… dit is jou realiteit en ongelukkig is dit wat die meeste aandag in ons daaglikse denke kry.

Kan jy sien hoe maklik fokus ons op die omstandighede.  Ons omstandighede mag wanhopig, ongelukkig, verlore en hooploos daaruit sien, maar dis net die omstandighede.  Dink jy dat God nie in hierdie omstandighede teenwoordig is nie?

Begin fokus op God.  “My finansies is beroerd, maar God kan dit binne ‘n oogknip verander… Ek mag dalk ongelukkig wees by die werk, maar dit beteken nie dat God nie vir my ‘n beter deur kan oopmaak nie…  My huwelik is op die rotse, maar God is die Een wat verhoudings herstel, al lyk dit totaal en al onmoontlik… Die dokters mag dalk sê daar is nie hoop nie, maar God is die groot Geneser… My kar breek aanmekaar, maar ek weet ek gaan binnekort in ‘n ander motor ry…  My kind mag dalk sukkel om te leer, maar God kan die regte mense oor ons pad bring wat my kind verstaan en sal help… Hierdie vriend(e) het my dalk in die steek gelaat, maar God het iemand baie spesiaal in gedagte wat binnekort my pad gaan kruis…

Jy sien, wanneer God eerste plek in jou lewe beklee, val die res eenvoudig in plek. Geen vyand het ‘n kans teen jou in die teenwoordigheid van God nie.  As God op die toneel kom, spat jou vyande uiteen.

Sunday 15 April 2018

Wees stil


Psalm 62 : 6  Ek kan net by God stil wees en Weet Hy sal my help

In Suid-Afrika is daar onrus op die oomblik.  Dis onseker tye.  Grondonteiening word daar gesê, gaan nie net landbougrond raak nie.  Dit gaan alle grond/eiendom raak.

Ons kan nagte daaroor wakker lê, die een vergadering en konferense na mekaar beplan en praat en praat en praat… ons kan planne beraam… ons kan wraakgedagtes koester…  Gaan dit enigsins keer dat planne deurgevoer word?  Ek dink nie so nie.

Die enigste hoop op gemoedsrus vind ons in God se Woord.  Ons vertrou op Hom en wanneer ons by Hom rus vind, weet ons ook dat Hy in beheer is. 

Die duiwel is listig en hy weet baie goed dat vrees ons sal laat twyfel.  Moenie toelaat dat vrees vatplek kry in jou lewe nie.

God was en is steeds in beheer.  Ek glo nie vir een oomblik dat God sal toelaat dat Sy kinders tenagekom word nie.

Miga 2 : 1-2  Ellende wag vir julle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen, wat dit vroeg in die môre gaan uitvoer omdat hulle die mag in die hande het.  Hulle begeer 'n stuk grond en vat dit, huise, en lê beslag daarop. Hulle kul 'n man uit sy huis uit, 'n mens uit sy besitting uit.

Wednesday 11 April 2018

Op wie vertrou jy?


Psalm 25 : 3  Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande.

Vertrou jy op jou werkgewer en die salaris wat jy daar verdien om in jou behoeftes te voorsien?  Koop jy die lotto omdat jy dink dit is die enigste manier om uit die skuldgat te kom waarin jy jouself bevind?  Hoop jy dat jy ‘n deurbraak sal maak indien jy met die regte mense omgaan? Of dalk vertrou jy op jou man om vir jou en die kinders te sorg.

Die probleem met vertroue in enige iets of iemand op aarde, is dat jy niemand kan vertrou nie. 

Werkgewers neem koue, kliniese besluite.  Dit gaan oor die voortbestaan van die maatskappy. Die beleggers of aandeelhouers moet te alle koste eerste gestel word.  Jy is ongelukkig nie hoog op hul prioriteitslysie nie. 

Met die Lotto het jy ‘n uiters skraal kans… so ook met dobbel.  Soos met ‘n casino, is daar selde wenners, maar baie beslis hope verloorders.

As jy vriendskap moet koop, moet die opregtheid van jou vriendskappe bevraagteken word.  As vriendskap net daaroor gaan dat jy voordeel daaruit kan trek, moet jy jou motiewe bevraagteken.  In albei gevalle is die fondament uiters wankelrig.

Menige vrou het al getuig hoe swaar hul gekry het nadat hul man afgesterf het of hul geskei is omdat hul nooit geleer het om onafhanklik te wees nie.  Jy kan nie Mev Dokter wees nie, want dan leef jy in jou man se skaduwee.  Wees jou eie mens.  Hê jou eie menings.  Staan op jou eie bene en sorg dat jy finansiëel onafhanklik sowel as kundig is.  Dit beteken nie dat jy jou huweliksbeloftes ter syde stel nie… jou man is steeds die hoof van die huis en jy eer en ondersteun hom steeds, maar jy sal kan aangaan as hy nie meer daar is nie.

Of jy kan eenvoudig op God vertrou.  Hy lieg nooit… Hy verneuk nooit… Hy het geen valse voorwendsels nie… Hy gaan jou nie uitbuit of gebruik nie.   Hy hou Sy beloftes en Hy is ‘n Waarmaker van Sy Woord.

Tuesday 10 April 2018

Uitgekies


Jesaja 43:1  Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Wanneer jy aansoek doen vir werk, word jy gewoonlik gekeur en as jy aan die minimum kriteria voldoen, nooi hul jou vir ‘n onderhoud.  Afhangende van die maatskappy en die posisie waarvoor jy aansoek doen, kan daar een of meer persone in die onderhoud teenwoordig wees.  Soms is daar selfs meer as een onderhoud en sekere toetse waaraan die kortlys kandidate onderwerp word.  Daarna wag jy om te hoor of jy die geskikte kandidaat is.

By God werk dit anders.  Hy het jou gekies.  Jy het geen kwalifikasies nodig nie… Om die waarheid te sê hy verwag nie eens dat jy bekwaam moet wees nie. Vir Hom is dit genoeg dat jy bereidwillig en gehoorsaam is.  Om jou op standaard te kry, daarvoor sal Hy sorg.

Wat ‘n paradoks.  Dis nogal iets om jou kop om te kry. 

Ek glo dit is omdat God jou geskape het.  Hy weet van die potensiaal wat binne jou opgesluit is.  Werkgewers kyk na kwalifikasies en hoop dat jy kan toepas wat jy geleer het of dat jou ervaring voldoende sal wees om die werk te kan doen.

So wanneer jy God se roepstem hoor, moenie dink dat jy nie opgewasse vir die taak is nie.  Hy roep jou omdat Hy volle vertroue in jou het. 

Dalk is hier ‘n les in vir werkgewers.  Stel iemand aan wat die regte houding het eerder as iemand wat hulself op papier of in ‘n onderhoud kan verkoop.  Wanneer iemand oor die regte houding beskik, kan hul enige iets doen waarop hul hulself toespits, maar indien iemand se houding nie na wense is nie, gaan dit selde beter nadat hul aangestel is.

Monday 9 April 2018

God weet beter


Romeine 15: 13  Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Partykeer is dit moeilik om aan God se beloftes vas te hou.  Dis veral moeilik wanneer jy bid, glo en vertrou, maar niks gebeur nie… of nog erger wanneer dit waarvoor jy gevra het, nie gebeur nie.  Daar is niks erger as om te voel dat God vir jou nee gesê het… dat Hy nie jou gebed verhoor het… of dat dit waarvoor jy Hom vertrou het, jou nie beskore is nie.

Ek dink ons mis een baie belangrike aspek… God se liefde.  Het jy al ooit daaraan gedink dat God nie jou gebed beantwoord het nie omdat Hy iets beter vir jou in gedagte het?  Ek weet dit is nie wat jy wil hoor nadat jy gebid het dat God jou huwelik moet red en dit in elk geval uitmekaar geval het nie… dis verseker ook nie wat jy wil hoor wanneer jy gebid het dat jou geliefde moet gesond maak en die persoon tog gesterf het nie…  Jy wil dit ook nie hoor wanneer jy al hoe lank werkloos is en uiteindelik vir ‘n onderhoud vir jou droomwerk genooi word, net om te hoor jy is nie die suksesvolle kandidaat nie. 

Beteken dit dat God jou nie meer lief het nie?  Beslis nie.  Maar dit maak die seer en teleurstelling nie minder nie…

Ek kan getuig dat ek gebid het dat my man moet afsien van sy buite-egtelike verhouding en dit nie gebeur het nie.  Die ink op ons egskeidingspapiere was nog skaars droog, toe trou hulle.  Om verdere sout in my wonde te vryf het hul kort na mekaar twee kinders en is byna 30 jaar later steeds getroud.  MAAR… al was die pyn ondraaglik en al was dit hoe moeilik om vrede te maak met die feit dat ek toe ‘n geskeide vrou is… en al het die klappe van die lewe nie daar opgehou nie, kan ek vandag getuig dat God uiteindelik beter geweet het.  Ek sou nie word wie ek is, doen wat ek doen en die gesin gehad het wat ek nou het, as God my gebede sou verhoor het nie.  God haat egskeiding en dit was een van die moeilikste dinge vir my om te verwerk, maar Hy is ook regverdig en uiteindelik kon ek vrede in Sy Woord vind.  Dit het nie oornag gebeur nie, maar God was elke tree van die pad daar en daarvoor gee ek aan Hom al die eer.

Mag jy ook eendag terugkyk op hierdie tyd waarin jy jou nou bevind en ook sien dat God beter geweet het.  Ons moet Hom net vertrou.

Sunday 8 April 2018

Vertrou op die Here


Psalm 33 : 20  Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer.

In al die jare dat ek God dien, het ek een ding geleer en dit is dat God altyd op die regte tyd ingryp en op die regte manier optree.  Ons wil so graag verstaan.  Ons wil so graag die antwoorde op ons vrae hê. 

Ek vra vandag nog hoekom ek nie by die huis was toe my ma gesterf het nie… hoekom het dit nie ‘n dag later gebeur toe my seun vroeg sou opstaan vir klas en by die huis sou wees nie… hoekom het ek die kat na haar kamer geneem, maar nie vir haar tot siens gesoen het nie…? 

Oom Angus het onlangs op die televisie gesê dat Christene dink hul moet al die antwoorde hê en dat dit so verkeerd is.  Ons hoef nie al die antwoorde te hê nie. 

Tog kan ons baie moedeloos raak as ons nie die antwoorde het nie.  Wat sê jy vir iemand wat hoop verloor omdat hul alles verloor het?  Wat sê jy vir ‘n jong kind wie ‘n ouer aan die dood afstaan en wil weet hoekom Liewe Jesus sy of haar mamma of pappa kom haal het? Wat sê jy vir ‘n jong seun wat verlam is na een onbesonne daad… of hy nou van ‘n kaai afgeduik het, rugby gespeel het, of saam met vriende wat te veel gedrink het in ‘n motor geklim het?

Ons het nie die antwoorde nie, maar vandag wil ek jou bemoedig om nie moedeloos te raak nie.  Moenie tou opgooi nie.  Dink jy vir een oomblik dat God, wat jou trane sien, van jou vergeet het? Hy is te lief vir jou om nie om te gee nie.

Hou aan om Hom te dien en te vertrou.  Voor jy jou kom kry, het Hy ‘n ander deur vir jou oopgemaak… een wat jy nooit ooit kon droom vir jou sou oopgaan nie.


Thursday 5 April 2018

'n Leë graf


Johannes 20:6  Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê,

Deesdae is dit glad nie vreemd om te hoor dat mense ‘n intense leegheid ervaar nie.  Daar is hierdie vakuum in hul binneste wat hul op elke moontlike manier probeer vul en tog bly die leegheid. 

Party is leeg omdat hul sukses najaag.  Elke keer neem hul nog ‘n stappie hoër op die suksesleer en tog bly hul onvergenoegd.  Ander het ‘n leë beursie.  Daar is nooit genoeg geld nie.  Hulle voel asof hulle vir almal moet sorg en dat niemand vir hul sorg nie.  Dan is daar diegene wat hulself in leë verhoudings bevind.  Daar is geen warmte, geen aanraking, geen sagte woord.  Al is hul omring deur mense, bly hul eensaam en alleen, hunkerend na liefde.  Mense met leë mae word al meer rondom ons.  Armoede is besig om mense op hul knieë te dwing.  Daar is ‘n desperaatheid… wat sit ek vanaand vir my kinders voor?

Ons het Sondag Paassondag herdenk… die opstanding… ‘n leë graf.  In hierdie leë graf lê die antwoord.  Jesus Christus het opgestaan… Hy leef.  Omdat Hy leef, het ek en jy hoop… Omdat Hy leef, kan ons môre in die oë kyk.  Hoekom?  Omdat die leë graf hoop bring.

Net God kan hoop voortbring uit ‘n leë graf.  Wanneer jy Hom in jou lewe innooi, verdryf Hy die leegheid op elke vlak in jou lewe.  Net by God is daar ware rus.


Wednesday 4 April 2018

Vlêrmuise

Matteus 9:36  het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.

‘n Vlêrmuis vlieg teen verblindende spoed in die pikdonker nag, maar sit hom plat op die grond en die vlêrmuis sal ten beste hulpeloos rondflap. 

Jy flap ook hulpeloos rond.  Jy is uit jou gemaksone, dalk as gevolg van ‘n egskeiding of omdat jy jou werk verloor het.  Dis nie maklik nie.  Dikwels verloor ‘n mens nie net op materiële en finansiële gebied nie, maar jy word ook emosioneel teruggesit.  Ewe skielik meet jy jouself aan ander en jy voel jy skiet oral te kort.  Jou menswaardigheid lei daaronder en jy glo dat jy nooit weer sal opstaan uit die stof nie.

Hoe dit ookal sy… dis nie omdat jy nie meer kan vlieg nie, maar net omdat jy jouself op ‘n plek bevind waar jy dink dat jy nie meer oor die nodige vaardighede beskik nie.  Herinner jouself aan wie jy is en waartoe jy in staat is.  Die vlêrmuis het nog steeds alles gehad wat van hom ‘n vlêrmuis maak.  Jy is ook steeds dieselfde mens wat jy was voor hierdie terugslag.  Moenie toelaat dat dit wat met jou gebeur het jou oortuig dat die fout by jou lê nie.

Al wat dit vlêrmuis nodig gehad het, was om te spartel tot op ‘n plek waar hy kon aftuimel en daar gaan hy. 

Jy sal ook nie vir altyd hulpeloos spartel nie, want God het gesien hoe swaar jy kry en net soos wat Hy destyds meegevoel gehad het en die mense gehelp het, sal Hy jou ook weer op jou voete help.

Tuesday 3 April 2018

Jakkalsvoëls


Filippense 4:13  Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

‘n Jakkalsvoël lyk baie soos ‘n arend.  Hulle is net ‘n bietjie kleiner en het nie vere op hul bene nie.  As jy die voël in ‘n kampie van so 6 tot 8 voet sou aanhou, sal die voël daar bly selfs al is daar niks aan die bo-kant nie. 

Die rede daarvoor is nie omdat die voël nie kan vlieg nie, maar omdat ‘n Jakkalsvoël slegs kan vlieg indien hy genoeg plek het vir ‘n aanloop het voor hy opstyg.  Hy hardloop as’t ware ‘n entjie voordat hy opstyg.  Sonder genoeg spasie vir daardie aanloop, sal hy nie eens probeer om te vlieg nie.  So sal hierdie gesonde voël, met vlerke waarmee hy uit sy omstandighede kan wegvlieg, altyd ‘n gevangene van sy omstandighede bly.

Jy het miskien arm grootgeword en glo dat jy nooit eendag iewers in die lewe sal kom nie… of jy woon op ‘n klein dorpie ver van alles en al droom jy van roem dink jy dat dit nooit vir iemand soos jy beskore is wat van so ‘n agteraf plekkie kom nie.  Jou ouers het dalk nie geleerdheid nie en daarom woon hul ook nie in die beste area nie en daarom glo jy dat jy dieselfde paadjie sal volg.  Jy’s aangeneem en jy is vas oortuig dat daar geen toekoms is vir ‘n aangenome kind nie.

Ons staar ons dikwels so blind teen dit wat ons rondom ons sien, dat ons nooit oplet wat binne ons is nie… hoe ongelooflik ons geskape is nie.  Die Jakkalsvoël was nie kreupel nie… hy was volmaak, maar hy het hom blindgestaar teen sy onmiddellike omgewing.  Daar was nie ‘n dak bo hom nie… as hy net sy vlerke sou gebruik, kon hy wegvlieg.  God het jou volmaak geskape (selfs al het jy ‘n liggaamlike gebrek), want dit is hoe Hy jou toegerus het om te word wie Hy weet jy kan wees.  Jy het jou verbeelding… as jy dit kan droom, kan dit gebeur. Jy is tot ALLES in staat.


Monday 2 April 2018

Moenie alles doen nie


Numeri 13:30  Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”

“No one can do everything, but everyone can do something” ― Max Lucado

Voel jy ook asof jy alles moet doen?  Daar is ‘n huis vol mense, maar niemand sal skoonmaak nie… jy moet alles doen.

By die werk voel jy asof jou kollegas lyf wegsteek en omdat jy nie kan toesien dat jul misluk nie, doen jy meer as jou deel.

Die sportspan waarvan jy deel is, verloor die een wedstryd na die ander. Jy weet dit is omdat hulle nie alles insit nie, so jy sit ekstra in.

Dit is nie abnormaal nie.  Mense het eenvoudig verskillende prioriteite, maar moenie dat dit jou afsit nie. Trek hulle in deur verantwoordelikhede aan hul te delegeer, maar maak seker hulle weet dat jy hul vertrou met daardie aktiwiteit omdat jy glo dat hul die beste persoon is om daardie taak te verrig.  As hul dit gedoen het, al is dit nie eenhonderd present volgens jou standaard nie, prys hul opreg.  Maak hulle deel van besluitneming.  Almal hou daarvan om te voel hul mening tel.

Die engelse woord TEAM is ‘n oulike akroniem vir ‘n eenvoudige beginsel:  “Together everyone achieve more”.  Wanneer daar spanwerk is, wen die hele span, nie net die kaptein nie.

Soms is mense nie onbetrokke omdat hul nie wil deelneem nie.  Hul is bloot onbetrokke omdat daar nie behoorlike leierskap is nie. 

Die Israeliete was ‘n volk wat maklik afgedwaal het, maar elke keer as hul ‘n sterk leier gehad het, het hul weer soos een man agter hom ingeval en vorentoe beweeg. Kaleb was so ‘n leier.

“You don't develop courage by being happy in your relationships everyday. You develop it by surviving difficult times and challenging adversity…” ~ Epicurus


Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...