Thursday 31 May 2018

Gesindheid


Numeri 14 : 24  Maar omdat my dienaar Kaleb 'n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.

Ons weet dat Moses 12 verspieders na die beloofde land gestuur het.  Die mense van Israel het net buite die land kamp opgeslaan en was baie opgewonde oor die land van melk en heuning waarnatoe hul al so lank op pad is.  Uiteindelik... nou moet hul net op die verspieders wag om terugvoer te gee en dan sal hul die land kan ingaan.  

Na 40 dae, kom tien mans terug met ‘n redelik negatiewe rapport.  “Moses, die mense is so groot soos reuse.  Ons sal hul nooit kan verslaan nie.”  Die nuus versprei natuurlik soos veldbrand onder die mense en hul begin kla en murmureer.

Een van die verspieders, Kaleb, het egter ‘n ander siening:  “Moses, ons is in staat om die mense te verslaan en die land in te neem, want God sal met ons wees.”

Interessant om te onthou al 10 verspieders het dieselfde land gesien, maar net een het ‘n positiewe uitkyk gehad.  Hoekom?  Kaleb se houding was anders.  Hy het dinge uit ‘n ander perspektief beskou.  Terwyl ander op die reuse gefokus het, het Kaleb op God gefokus. 

Die hartseer uiteinde is dat diegene wat negatief was, nooit die land binne gegaan het nie.  Na jare van trek en ontbering en swaarkry, kon hul net met leepoë na die land kyk.  Eers wanneer hul almal gesterf het, sou God vir Kaleb en die nuwe generasie die land laat binnetrek.

Hoe lyk jou gesindheid, jou houding?  Is jy positief of negatief. Kyk jy na die reuse en word ontmoedig, of kyk jy na God en glo dat met Hom jy tot alles in staat is.

Moenie na enige iemand luister behalwe God nie.  God sê:  “Kies om My Woord te glo, kies om My te gehoorsaam en ek sal jou die beloofde land inlei.”

Wednesday 30 May 2018

Kom!


Efesiërs 2 : 8          Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God.

Ons dien so ‘n vrygewige en liefdevolle God.  Hy het jou so lief dat daar niks is wat Hy nie sal doen om te verseker dat jy ‘n verhouding met Hom het nie.  Die Bybel vertel ons dat sonde die mens skei van God, maar God weier om dit te aanvaar.  Dit is hoekom Hy Sy seun Jesus na die wêreld gestuur het sodat die losprys betaal kon word om te verseker dat ons vrygekoop is en eendag vir altyd met God kan wees.  Sodra jy iets gekoop en daarvoor betaal het, is dit joune om daarmee te maak wat jy wil.  God kies om dit gratis weg te gee… as ‘n geskenk.

Soveel mense dink dat hul op een of ander manier dit moet verdien om in die hemel te koop. Hul bly dink dat hul nie goed genoeg is of nie altyd die regte pad stap en daarom onaanvaarbaar vir God is.  Hulle wil hul lewens skoonmaak alvorens hul tot God nader.  

Let egter op na die teks, dit is ‘n gawe van God.  Jy kan nie ‘n geskenk verdien nie.  Jy betaal ook nie daarvoor nie.  Jy kan dit alleenlik deur geloof ontvang en God daarvoor dank.

As jy God nog nooit in jou lewe ingenooi het of jou hande uitgesteek het om die gratis geskenk te ontvang nie, wil jy dit nie vandag doen nie?  Laat God jou vul met vrede en vreugde, nou en vir ewig… die Ewige Lewe.  Die prys is reeds betaal.

Tuesday 29 May 2018

Glo soos 'n kind


Matteus 18 : 3  en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.

Dink ‘n bietjie… hoe glo ‘n kind?  Hulle glo wat jy vir hul vertel.  As pappa gesê het ons gaan Sondag see toe, dan glo die kind dat die gesin wel see toe sal gaan.  Daar is konstante afwagting in hul hartjies.  ‘n Kind sal aanhou vra wat hul wil hê.  Ja, dit kan ons as ouers tot raserny dryf, veral as jy dalk in ‘n winkel is en die kind hou aan kerm oor iets, maar feit bly staan, die kind glo dat as hy/sy vra, die ouer wel een of ander tyd sal toegee. 

Aldus die Skrif, sal ons nie in die hemel kom tensy ons verander en soos ‘n kind glo nie.  Nou wat presies beteken dit?  Dit beteken dat ons volkome op God sal vertrou, maak nie saak hoe omstandighede lyk nie.  Elke oggend behoort ons wakker te word met verwagting:  “Ek kan nie wag om te sien wat God vir my vandag in gedagte het nie!  Vandag is die dag van my deurbraak… Vandag gaan ek daardie iemand spesiaal ontmoet… Vandag gaan een van die vele maatskappye waar ek aansoek gedoen het, my bel vir ‘n onderhoud.”

Wanneer 'n kind vir die ouer iets vra, is dit nie altyd vir die ouer moontlik om te voorsien in hul behoefte nie.  Met God is alles egter moontlik.

Wanneer jy met kinderlike geloof die dag tegemoet gaan, bly jy vasbeslote glo, ten spyte van terugslae.  Al lyk die toekoms hoe bleek, jy bly glo dat God sal deurkom vir jou omdat dit is wat Hy in Sy woord beloof.  Jy hou aan vra, totdat jy ‘n antwoord kry en jy is gevul met onmeetlike vreugde totdat dit gebeur.

Monday 28 May 2018

Net ‘n wit leuentjie


Jakobus 2 : 10 – 11  As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.  God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog 'n oortreder van die hele wet.

Daar is mense wat reken die tien gebooie is nie van toepassing op vandag nie, maar volgens Jakobus 2 is dit heel duidelik dat dit nog net so relevant is.

Ons ‘buig’ so maklik die wet, of verontskuldig onsself byvoorbeeld deur te sê:  “Ek doen darem nie dit of dat nie… of dit is net ‘n witleuentje…” 

Mini-bus taxis het ‘n hele nuwe stel verkeersreëls aan motoriste bekendgestel.  Ons volg slaafs in hul voetspore, want as hulle daarmee kan wegkom, kan ons ook.  So mislei ons onsself.  Die feit dat ander die wet oortree beteken nie dat die wet nie meer geld nie.   

Wanneer ons eendag voor die Regterstoel verskyn, gaan God nie na verskonings luister nie.  Die wet is op skrif en daar is net tien reëls waarvolgens ons moet leef.  Is dit maklik?  Nee, beslis nie.  Gaan dit verskoonbaar wees?  Nee! 

Sunday 27 May 2018

Hoogmoed


Jakobus 4 : 6         Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”

Ons ontvang gawes van God in verskillende gedaantes… geluk, finansiële voorspoed, huweliksgeluk, geleerdheid, ‘n droom beroep, bates, familie, vriende… Soms word die gawe in ‘n eenvoudinge vorm ontvang en mettertyd ontwikkel dit tot waar jy vandag is.  Hoe beter dit gaan, hoe minder vertrou jy op God.  Wanneer jy meer op hierdie gawes staatmaak as op God, begin die gevaarligte flikker.

Dit is hoekom dit so nodig is om naby aan God te bly.  As jou verhouding met Hom reg is, sal Hy jou bewus maak wanneer iets vir jou te belangrik raak.  Niks behoort ooit ‘n plek bo God in jou lewe in te neem nie.

Die wêreld en al sy blink liggies kan jou maklik laat glo dat dit uit jou eie krag is dat jy is waar jy jouself vandag bevind.  Indien jy egter werklik eerlik met jouself is, sal jy weet dat jy oor niks kan roem nie.  As jy nie vir God loof en erkenning gee vir jou gawes en suksesse nie, is dit bloot hoogmoed.

Ons moet elke dag waaksaam wees.  Die vyand gaan elke moontlike geleentheid gebruik om jou van verlossing te beroof.  Waak daarteen dat jou God-gegewe gawes of geleenthede nie te belangrik word nie.  Ek het iewers gelees:  “Wanneer jou drome vir jou belangriker as God word, moet jy hulle ter wille van jou siel opoffer. Soms moet jou droom doodgaan voordat dit vir God se glorie opgewek kan word.”

Dalk was jy suksesvol, maar dit is van jou weggeneem.  Is dit dalk omdat die sukses belangriker as God geraak het? Net jy sal weet.  Die goeie nuus is dat God dit weer vir kan sal teruggee sodra jy Hom nommer Een maak.

Thursday 24 May 2018

Weggooigoed


Esegiël 16 : 5  Niemand was oor jou besorg of het soveel vir jou oorgehad dat hy een van dié dinge vir jou gedoen het nie. Jy is met afsku behandel en in die veld weggegooi die dag toe jy gebore is.

Iemand vertel my die volgende verhaaltjie:  “My ma het baie vir ons boontjies gekook, maar voordat sy dit sou kook, sou sy die boontjies so bietjie heen en weer krap en die boontjies wat nie reg gelyk het nie, uithaal.  Hierdie minderwaardige gehalte boontjies het sy sommer so oor die onderdeur buitentoe gegooi.

Met die eerste winterreëns, het hierdie weggooi boontjies ontkiem, gegroei, geblom en uiteindelik boontjies gedra wat weer geoes kon word. 

Die interessante deel van hierdie verhaaltjie is dat dieselfde persoon wat hierdie boontjies weggegooi het, hul ook geoes het omdat sy gesien het dat hierdie boontjies eintlik tog waarde het.

Wat leer ons hieruit:

1.     Moenie huil as mense jou weggooi nie
2.     Moenie huil as hul jou verwerp nie
3.     Moenie huil wanneer hulle op jou neerkyk en jou nie goed genoeg ag nie

Vandag wil ek vir jou bemoedig.  Die reën is op pad.  Dieselfde mense wat jou verwerp het, gaan jou terugnooi.   En onthou altyd dat God ook diegene liefhet wat ander minag of op neerkyk.  God sal jou seen, bly net vashou aan Hom en menses al jou werklike waarde begin raaksien.

Die enigste keer wat ons mag neerkyk op iemand is wanneer ons hul ophelp. Annoniem


Wednesday 23 May 2018

Bedelaars


Markus 10:46  Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en 'n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar 'n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad.

‘n Bedelaar was eendag besig om van deur tot deur te loop en bedel.  By elke huis klop hy en vra of die inwoner nie vir hom iets het om te eet nie.  Meeste mense jak hom af, maar daar is darem ook diegene wat hul harte vir hom oopmaak.  By een van die huise sê die eienaar dat hy moet wag.  Kort daarna kom die eienaar uit en gee hom ‘n boks met vrot vrugte.

Die bedelaar neem dit en bedank die eienaar vriendelik. 

Die volgende middag is daar weer ‘n klop aan die deur.  Toe die eienaar oopmaak, staan die bedelaar daar met dieselfde boks vol blomme.  “Dis vir u, meneer… om dankie te sê vir die vrugte wat u vir my gegee het.” 

Die eienaar is uit die veld geslaan.  “Hoekom gee jy vandag vir my ‘n boks vol pragtige blomme.  Die vrugte wat ek gister vir jou gegee het, was vrot.  Ek verdien dit nie.”
Toe antwoord die bedelaar eenvoudig:  “Meneer, ons gee maar almal dit waarvan die hart van vol is.”

Wanneer jy kyk hoe mense bedelaars of randfigure behandel, is daar nie baie mooi in mense se harte nie.  Hoe lui die gesegde:  “Mense sal maklik vergeet wat jy gesê het, maar hulle sal altyd onthou hoe jy hul laat voel het.”  Handelinge 20:35  Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help

Tuesday 22 May 2018

Die seën van gehoorsaamheid


Genesis 22 : 16 – 17  en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem.

Die verhaal van Abraham en Isak het ‘n gelukkige einde. Omdat Abraham bereid was om vir Isak, sy kosbaarste, op die altaar te plaas, het God hom geseën met ‘n nageslag wat vergelyk met die sterre aan die hemel of die sand van die see.

God mag ‘n jaloerse God wees, maar Hy is ook ‘n God wat diegene beloon wat getrou is.  God se hart vermurwe die oomblik toe Hy sien dat Abraham regtig bereid is om sy seun te offer.

Ook Job is geseën met meer as wat hy tevore gehad het.  Job het geweier om God te verloën.  Ten spyte van bomenslike beproewings, het hy geweier om God te vervloek.  Lot kom gelouter anderkant uit en God trek die sluise oop.

Die een ding wat die lewe my geleer het is dat jy nie kan ontvang terwyl jou hande vol is nie.  Jy moet eers laat gaan van dit waaraan jy vasklou.  Dan kan God nuwe seëninge in jou hande plaas.  En keer op keer is dit wat jy ontvang beter as wat jy gehad het. 

Soms dink ‘n mens dat ‘n egskeiding of ‘n verbreekte verhouding die einde van die wêreld is, maar daar kom ‘n dag dat jy terugkyk en ‘n dankbare sug slaak omdat jy eintlik veel beter daaraan toe is as voorheen. 

Kyk maar na die natuur.  Na verwoestende veldbrande spruit nuwe plantjies en gras uit.  Daardie einste saadjies wat jare lank dormant in die grond gelê het, word deur hierdie versengende hitte ‘n nuwe kans op lewe gebied.


Monday 21 May 2018

Soms toets God ons


Genesis 22 : 9  Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout.

God vra vir Abraham om sy seun, Isak, te offer.  Dit moes vir Abraham ‘n bitter pil gewees het om te sluk.  Hy en Sarah het dan juis so lank gewag op hierdie kind.  Ek wonder of Abraham vir Sarah gesê het wat God van hom verwag en hoe Sarah daaroor moes voel.
Nietemin, Abraham is gehoorsaam.  En dit was die toets.  God wou sien of Hy steeds nommer Een in Abraham se lewe is.

So dikwels bid ons seëninge van God en mettertyd neem daardie seëninge God se plek in.  Op die oomblik is grondonteiening die onderwerp van die dag.  Mense staan op die punt om dit waarvoor hul jare lank gewerk het te verloor, sonder enige vergoeding.  Daar word bespiegel dat dit nie net by boere se grond gaan bly nie, maar alle grond.

Hoe voel jy daaroor?  Sal jy jou besittings op die altaar plaas as God dit van jou verwag of is dit belangriker as God en gaan jy dit nie opoffer nie?

Enige iets wat belangriker as God is, is ons afgod.  Dit is verskillende dinge vir verskillende mense.  Vir party is dit hul beroep terwyl dit vir ander hul geliefdes is.  Vir sommige is dit geld en vir ander is dit hul besittings.  Dit kan selfs wees dat jou aansien as leraar belangriker geword het as om siele vir God te werf.

Of ek en jy dit nou wil weet of nie, God het alles vir ons gegee en Hy kan dit binne ‘n oogwenk wegneem.  Ondersoek jouself daagliks om te sien wat vir jou belangrik is.  God erken dat Hy ‘n jaloerse God is. 

Sunday 20 May 2018

Kop of stert?


Spreuke 6 : 9 Jou luiaard, hoe lank gaan jy nog lê en slaap?

Ek hoor van hierdie student wat moes studeer, maar nie lus was daarvoor nie.  Hy besluit toe om ‘n munt op te skiet met die volgende reëls in die vooruitsig.  Kop, dan gaan hy fliek.  Stert, dan kyk hy televisie, maar… as die muntstuk op sy, sy land dan moet hy studeer!

Nou ja, wat is die kans dat die muntstuk op sy, sou val? Maar baie mense leef so.  Hulle kla by almal omdat hul nie werk kry nie.  Hulle vertel vir jou hoeveel CV’s hul al uitgestuur het, maar dat niemand hul eens vir ‘n onderhoud nooi nie. 

Onlangs vra 'n vriend vir my om ‘n advertensie te plaas vir ‘n kantoor assistent.  Sy besigheid groei vinnig en hy het nou iemand nodig om die basiese kantoortakies te verrig.  Omdat hy tans niemand het nie en hy baie weg is van die kantoor, vra hy dat belangstellendes hom skakel.  Tydens die telefoniese gesprek sal hy dan agterkom of dit nodig is vir die persoon om ‘n CV te stuur en vir ‘n onderhoud te kom.  Al die inligting en die minimum kriteria word in die advertensie genoem.

Weet jy hoeveel persone het ‘n epos gestuur en gevra dat hul gekontak word?  Net soveel het hul CV gestuur en genoem dat hul belangstel.  Vyf en negentig persent het hulself gediskwalifiseer net omdat hul nie behoorlik gelees het of dit belangrik genoeg geag het om hul potensiële werkgewer se versoek te respekteer nie.

Daar is soveel aansoeke vir elke geadverteerde pos dat jy nie kan verwag ‘n werkgewer moet jou skakel nie. Doen net aansoek as jy vir die pos kwalifiseer deur ten minste aan die minimum vereistes te voldoen.  Volg die instruksies noukeurig.

As jy werklik ernstig op soek is na werk, druk ‘n paar CV’s uit en stap van deur tot deur.  Waar moontlik probeer om met die bestuurder of eienaar te praat sodat jy die dokument vir hul persoonlik kan gee.  Dit bied jou ‘n eerstehandse kans om jouself te bemark en terselfdertyd te wys jy is ernstig op soek na werk.

Thursday 17 May 2018

God weet!


Psalm 139 : 1 – 4  Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.  Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit.  U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.  Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.  Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.

Wat ander van ons dink, is belangrik vir baie van ons, al sal ons dit nooit erken nie.  Ons gee voor en ons lieg blatant.

In die huis skel en vloek dit, daar word gedrink, gerook ens, maar Sondag in die kerk sit ons vroom langs mekaar. 

Elke moontlike oortrokke fasiliteit of lening staan op maksimum, maar ons stem in om saam met vriende te gaan uiteet, want hulle moet tog net nie dink dat ons nie geld het nie.

Op skuldbult word nog ‘n nuwe motor, nog ‘n nuwe ‘flatscreen TV’, nog ‘n nuwe selfoon aangedra. Die een kredietkaart word gebruik om die ander mee te betaal en so word die debietorders teruggestuur, maar ons weier om ons standaarde te verlaag.

Iemand het lankal hul werk verloor, maar as die gesiene familie uitvra, word daar geantwoord asof jy nog steeds by die maatskappy werk.

Eintlik het jy verslaap omdat jy die vorige aand te laat gekuier het, maar nou vertel jy vir die baas dat die treine, taxi of bus alweer laat is.

En 99% van ons glo dat ons daarmee wegkom. Nuusflits!  Jy mag mense dalk ‘n rat voor die oë draai, maar vir God gaan jy nie so maklik flous nie.  God sien dwarsdeur ons… hy weet wat jy dink nog voordat jy dit gedink het!  Hou op voorgee.

Die leuen het kort beentjies.  Wees liewer openlik en vertel die waarheid.  Mense het veel meer respek vir iemand wat die waarheid vertel as wanneer hul uitvind jy het voorgegee of gejok.

Wednesday 16 May 2018

Beloftes


Josua 21 : 45  Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie.  Almal is nagekom.

Wat ‘n getuigskrif vir God! 

Het jy al ‘n belofte aan iemand gemaak wat jy nie nagekom het nie? 

Ek het onlangs ‘n ou vriendin na ‘n lang tyd gesien en gedurende ons gesprek het sy genoem dat sy die daaropvolgende week verjaar.  Omdat ek weet dat sy geen kinders of familie het nie, sê ek dat ons haar sal kom haal en uitneem vir ete.  Ek onthou eers weer daarvan ‘n week na haar verjaardag toe ek weer op dieselfde plek kom waar ek haar ontmoet het.  Ek voel so sleg dat ek nie eens die moed het om haar te kontak nie.  Dis onverskoonbaar en teleurstellend dat ek ‘n belofte verbreek het, maar dit noem ek aan jou ter illustrasie van hoe maklik ons nie beloftes nakom nie.

God se goeie beloftes is almal vervul!  By implikasie sê dit dat van die ‘slegte’ beloftes (beloftes van straf) nie vervul is nie en dit kan mens net as genade ag.

Weet vandag dat God ‘n God van Sy woord is.  As Hy dit sê, dan doen Hy dit.  Die Bybel leer ons ook dat God geduldig is.  Die probleem is net dat Sy geduld langer kan wees as wat ons leef.  Die hartseer hier omtrent is dat jy kan sterf sonder dat jy gered is.  Jesus het opgevaar na die hemel en Hy kom weer terug en daardie dag wil jy verseker weet dat jy gered is.  

Moenie uitstel nie.  Maak seker jou saak met God is reg.

Tuesday 15 May 2018

Gevegstoerusting


2 Korintiërs 10 : 3 – 5  Ons leef wel in ‘n menslike liggaam, maar ons voer die stryd nie met menslike middele nie.  Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig.  Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word.  Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Omdat God ons verskillend gemaak het, sal daar seker altyd verskille tussen ons wees.  Een gebied waar daar verskeie verskillende opinies is, is oor die bestaan van God en of die aarde wel deur Hom geskape is.

Diegene wat in evolusie glo, sal beslis nie met ons saamstem nie.  Aldus hulle het die mens ‘evolve’ van ‘n aap.

Dan is daar weer diegene wat in die oerknal glo en argeoloë wat vir jou sal vertel hoeveel jaar gelede iets ontstaan het.

So kan ons voortgaan.  Argumente teen wat ons as Christene glo is legio, maar genadiglik is die wapens waarmee ons hierdie stryd aansê nie mensgemaak nie.  Dit is gevegstoerusting van God en dit gee ons die vermoë om argumente te vernietig en ook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word.

Wanneer jy gekonfronteer word met hierdie argumente en skanse, bid dat God jou sal voorsien van die nodige gevegstoerusting. 

Ons kan so maklik glo wat ons in koerante lees of selfs op televisie hoor.  Fopnuus versprei soos ‘n veldbrand, maar wanneer ons gekonfronteer word met inligting uit Die Bybel, waar God self verklaar dat elke woord die waarheid is, dan twyfel ons.

Monday 14 May 2018

Vrygekoop!


1 Korintiërs  7:23  Julle is vrygekoop en die prys is betaal;

My prentjie van die Drie-Enige-God, gaan terug na dit wat ek in my Kinderbybel gesien het.  Hoe lyk jou prentjie?  ‘n Familielid het onlangs gesê:  “Ek gee nie om hoeveel keer jy dit vir my sê nie, maar God sal my nooit vergewe nie.  Die duiwel staan gereed om my te gryp sodra ek sterf.” 

Sy prentjie van God is een van ‘n hartvogtige God wat geen genade betoon nie.  Niks kan verder van die waarheid verwyder wees as juis dit nie.  God is liefde.    Hy ken jou al van voor jou geboorte… 

Hy weet presies hoeveel hare jy op jou kop het en Hy wil nie dat een siel verlore gaan nie.  God ween oor elkeen wat die rug op Hom draai. 

Moenie die duiwel toelaat om sy greep op jou te verstewig nie.  God sal jou aanvaar net soos jy is.  Om die waarheid te sê, jy’s reeds vrygekoop daardie dag toe Hy aan die kruis vir ons almal se sondes gesterf het.  Dit maak nie saak hoe sondig jou verlede is nie.  Al is jy skarlaken rooi, hy sal jou was dat jy witter as sneeu is. 




Sunday 13 May 2018

Jy is nie in beheer nie


Jeremia 10 : 23  Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.

Is jy ‘n beheervraat?  Probeer jy om alles te beheer?  Raak jy onrustig, angstig, senuweeagtig, bekommerd of iesegrimmig as jy beheer verloor?

John Mason het erken dat dit presies is hoe hy is.  Hy gaan ‘n stappie verder.  Hy sê dat hy letterlik raak soos ‘n dwelmverslaafde op soek na sy volgende ontvlugting.   Volgens hom was die hewigheid daarvan nie dieselfde nie, maar die simptome wel.

Jy is nie alleen nie.  As gevolg van die onsekerheid in vandag se lewe, probeer ons almal om te beheer wat ons kan beheer.  Ons weet ons kan nie alles beheer nie, maar ons gaan ons bes probeer om soveel as moontlik te beheer.

Volgens hierdie teks het ons as mens geen beheer oor wat met ons gaan gebeur.  Bekommernis, angstigheid, onrustigheid, senuweeagtigheid, iesegrimmigheid… niks gaan die wiel van die lewe stop nie.  God is in beheer.  Genadiglik het Hy goeie planne vir ons in gedagte.

Ons prioriteite is heeltemal verdraaid.  In die sakewêreld weet ons dat ons met die besluitnemer moet praat as ons 'n transaksie wil beklink.  Dit help nie jy gesels ure lank met iemand wat geen invloed het nie.  Dus, maak dit nie eerder sin om meer tyd te spandeer met die Een wat jou toekoms in Sy hande hou as met diegene wat jy dink jou toekoms bepaal nie?  Hy sê immers dat ons allereers Sy koninkryk moet soek en al die ander dinge sal in plek val. 

Thursday 10 May 2018

Bekommernis vs Geloof


1 Petrus 5 : 7  Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.
William Ward, ‘n skrywer, skryf:  “Bekommernis is geloof in die negatiewe, vertroue in die onaagename, versekering van rampsoed en oortuiging van mislukking.  Dis ‘n magneet wat negatiewe omstandighede aantrek.  Geloof is ‘n sterker krag wat positiewe omstandighede skep.  Jy mors vandag se tyd deur jou te bekommer en vermors môre se geleenthede met gister se moeilikhede.”

Bekommernis vs geloof.  Negatief vs positief. 

Ons het ‘n keuse tussen bekommernis en geloof.  Ons hoef onsself nie siek te maak deur bekommernis nie.  Jy sien, ons bekommer ons omdat ons op mense vertrou, hoop dat mense vir ons sal deurkom.  Ons vertrou dat ons ‘n werk of inkomste sal hê om vir alles te betaal.  Ons hoop dat ons die lening sal kry waarvoor ons aansoek gedoen het.  Ons vertrou dat ons eggenoot getrou sal bly.  Ons hoop dat ons veilig sal wees.  Ons hoop dat ons kinders altyd hul beste sal doen en eendag suksesvol sal wees.  En wanneer dit nie gebeur of planne nie uitwerk nie, bekommer ons, ons. 

Realiteit is dat meeste van dit waaroor ons, ons bekommer nooit gebeur nie, maar ongelukkig keer dit ons nie.

Bekommernis steel jou lewe stukkie vir stukkie onder jou uit.  Dit hang soos ‘n missluier oor jou en beperk jou visie.

Het jy jou al ooit in regtig dik mis bevind, mis wat soos ‘n sluier om alles vou en jou sig beperk.  As daar die dag dik mis in die Kaap is, dink jy Tafelberg is gesteel.  Ek lees iewers iets baie interessant:  "Digte mis wat sewe stedelike blokke honderd voet diep bedek, bestaan uit minder as een glas water.  Net een glas en dit maak amper alles verdwyn.  ‘n Glas vol bekommernis doen presies dieselfde.

Waaroor bekommer jy jou?  Hoekom lê jy snags wakker? Dis nie God se wens dat jy so leef nie.  In vandag se teks is daar ‘n uitnodiging vir jou. 

Hemelvaart


Lukas 24: 50 – 51 Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië.  Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seen, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem

Ek kyk op na die Hemel, want dis vanwaar my hulp kom
Oor elke wonderwerk staan ek heeltemal verstom
Heer, sonder dat ek vra, het U Seun vir my kom sterf
Sonder dat ek vra, word ek deur U liefde bederf
Met ‘n lang, pynlike lyding het Jesus vir my skuld kom betaal
Maar God het Hom nie vergeet en Hom weer kom haal en soos belowe het Hy opgevaar na die Vader
Op my knieë, in aanbidding, mag ek ook nou tot Hom nader
‘n Lewende God, want na ons klagtes luister het ons uitgesoek, Hy dra ons uit, al voel ons gedryf in ‘n hoek
Dankie Heer, dat ek openlik tot U mag bid
Dankie Heer, vir ‘n dag wat U vir ons kom bewys dat Jesus wel aan U regterhand sit
Dankie dat ons dit nog steeds mag herdenk
In ons harte het U woning kom maak sodat ons enige tyd en enige plek kan voel hoe U ons aanraak
Heer, danksy Hemelvaart is ons meer as gered
Danksy die feit dat Jesus opgevaar het staan ons nie meer onder die wet
U ken ons swakhede, ons behoeftes en ook ons persoonlikhede
Dankie Heer, dat U die Drie-eenheid is wat my lewe in U hand hou
Amen
(met vergunning aan Annoniem)

Tuesday 8 May 2018

Jaloesie


Jakobus 3 : 16  Want wanneer mense jaloers is en altyd alles vir hulleself wil hê, dan maak hulle probleme en hulle doen al die slegte dinge.

Ken jy ook sulke mense? Mense wat jaloers is en alyd alles vir hulself wil hê en as sake nou nie verloop volgens hul agenda, dan maak hul probleme en hulle doen slegte dinge.  Miskien herken jy selfs jouself in hierdie teks.

Dit is asof niks verander het sedert die Bybelse tye nie.  Om die waarheid te sê, dit wil voorkom asof sake besig is om te vererger.  Kyk maar net na die politici.  Niemand gun hul naaste ‘n plekkie in die son nie.  Dit gaan net om die eie ek.

Dit is asof die lewe een groot kompetisie is en elkeen wil wen.  Dink nou net hoe dit sou wees as ons sou dink dat iemand anders beter as ons is of dat daar meer meriete is vir daardie persoon om te ‘wen’. 

Die NLV sê dat jaloesie en selfsug demonies is.  Satan weet waar ons kwesbaar is.  Hy laat ons met groen ogies kyk na ander en ons moet bewus wees daarvan sodat ons paraat kan wees.  Wanneer jy volgende keer voel jy gun iemand anders nie die voorspoed of geluk wat oor hul pad gekom het nie, raak ‘n bietjie stil en vra God om jou te help om in hul vreugde te deel.  Stap na hul en wens hul geluk met opregte blydskap.

Monday 7 May 2018

Glo en vertrou


Psalm 37 : 5  Jy moet glo dat die Here jou op jou pad sal lei en dat Hy sal doen wat Hy belowe het.  As jy dit glo, dan sal Hy dit doen

Daar is soveel beloftes in God se Woord en tog twyfel ons steeds.  Wanneer God vir jou so ‘n belofte gee, glo jy dit?  Of wonder jy steeds daaroor.

Vandat ek besluit het dat ek die Korporatiewe wêreld wil verlaat totdat ek dit gedoen het, het langer as twee jaar geduur.  Gedurende daardie tyd het ek voortdurend met God gesels.  Ek was so ontsettend bang dat ek my besluit sou berou.  Werk is skaars en ‘n goeie werk met ‘n goeie salaris en goeie voordele en die feit dat ek nie ongelukkig in my werk was nie, het dit verder bemoeilik.  Alhoewel ek by God wou hoor of dit die regte besluit was, was ek ook bang dat ek sou hoor wat ek wou hoor.  Dus het ek sekergemaak ek kry die regte boodskap en die enigste manier hoe ek seker kon wees, was dat ek dit verskeie kere ontvang en op verskeie maniere.

Veral die laaste jaar het God my keer op keer verseker dat dit die regte stap is.  Ek wens ek het getel hoeveel kere Hy my na Matteus 6 geneem, veral vers 25 & 26  “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?  Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

God het as’t ware ‘n waarborg ingewerk.  My kind jy hoef oor niks bekommerd te wees nie, Ek belowe Ek sal sorg.

Uiteindelik het ek daardie stap in geloof geneem.  My finansiële toestand het dramaties verander, maar ek het myself voorgeneem dat ek my 10de sou volhou vir solank as wat ek dit kon bekostig.  ‘n Jaar later en ek betaal steeds elke maand daardie bedag en nog nie een keer het ek te min gehad of tekort gehad nie.  Hoe ek dit regkry, weet ek nie.  God voorsien.  Ek het nie te veel nie, maar ek het genoeg.

God het my op ‘n pad geneem wat ek as mense net as ongelooflik kan beskou en dis so ‘n verkeerde woord, want dit is juis as gevolg van geloof.  Daar is nie een oomblik dat ek my besluit berou nie.  Soggens as ek wakker word, bedank ek God heel eerste dat ek nie meer voor dagbreek hoef op te staan net om ure lank in die verkeer deur te bring nie. Daar is geen stress meer nie… ek doen waarvan ek hou en ek is daar vir my gesin.  My fokus het verander.  Ek kan meer tyd met God deurbring en al die ander dinge val eenvoudig in plek.
As daar ‘n groot besluit in jou lewe is wat jy moet neem, bid daaroor en luister na God se antwoord.  Wanneer Hy jou antwood, kan jy maar weet Hy sal jou deursien.  Hy gaan nie op Sy woord terug nie.  Hy sal jou lei as jy Hom vertrou.

Sunday 6 May 2018

Vergifnis


Psalm 130 : 4  Maar by U ís daar vergifnis

Keer op keer verstom God se matelose liefde my.  Al probeer ons hoe hard, ons struikel daagliks.  
Ons het soveel goeie voornemens, maar soms is daardie voornemens by die deur uit, nog voor ons die huis verlaat.   Jy sal weet wat jou swakheid is.

Elke keer bid ons en vra God om vergifnis, en elke keer vergeef Hy ons… weer en weer.  Hy mag dalk teleurgestel wees in ons, maar Hy verstoot ons nooit.  Dit kan net ware liefde wees, liefde wat ons so min teenoor ander betoon.  Ons dra soms ‘n wrok vir dae oor kleinighede, maar ons verwag dat God ons moet vergeef… en dit terwyl ons in die Onse Vader geleer word  om te bid:  “vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”  Die gebed maak nie voorsiening vir uitsonderings nie. 

Is daar iemand wat jy moet vergewe?  Hoekom weier jy om die persoon te vergewe?  Wat kan so erg wees dat jy daaraan bly vasklou?  Is dit nie dalk omdat jy daarvan hou om die ‘slagoffer’ te wees nie?  Leer by God.  Vergewe en vergeet, keer op keer.  Partykeer hoor ek iemand sê:  “Ek sal hom/haar vergewe, maar ek sal dit nooit vergeet nie.”  Dis nie goed genoeg nie.  Vergifnis beteken dit is uitgewis, vir altyd.  Jy grawe nie weer ou koeie uit die sloot uit nie.  Ontwikkel geheueverlies daaroor.

Jy kan maar weet dat iemand, iewers deur die dag, iets gaan sê waarvan jy nie hou nie of wat jou seermaak, of te na kom.   Hoe sou jy voel as God so genadeloos teenoor jou opgetree het, soos wat jy optree teenoor diegene wat jou iewers in die verlede tenagekom het?

Thursday 3 May 2018

Wêreldvrede


Kolossense 3 : 15  En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.

Menige skoonheidskoningin het al gesê hul sal hul beywer vir wêreldvrede.  Suid-Korea meen Donald Trump moet die Nobel Vredesprys kry omdat hy vrede bewerkstellig het tussen Noord en Suid-Korea. 

Ons almal begeer vrede, maar dit bly ons ontwyk.  In ons eie land is daar nie vrede nie.  Dit is asof ons net nie die vure in Suid-Afrika geblus kan kry nie.  As dit nie betogings is nie, is dit rassisme… as dit nie rassisme is nie, dan is dit stakings… as dit nie stakings is nie, dan is dit moord en doodslag…  Soms is die onmin selfs binne ons huise en gesinne!

Hier lees ons so duidelik dat God ons geroep het om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te leef.  Die arm kan tog nie vir die oor kwaad wees nie.  Dit laat jou wonder of ons werklik ‘n Christenland is.

Ons gaan toe oë in ‘n verhouding in en wanneer dinge verkeerdloop, wonder ons hoekom.  Ons koop goed waarvoor ons nie geld het nie en dan wonder ons hoekom ons so swaarkry.  Ons verander van werk net om kort voor lank die slagoffer van personeelvermindering te word en dink dan dat dit darem baie onregverdig is. Het ons vrede oor ons besluite gehad?

Wanneer dinge verkeerdloop kan jy maar terugloop op jou spoor en jy sal sien dat jy nooit vrede oor jou besluit gehad het nie, want jy het dit heelwaarskynlik nooit eens met God bespreek nie.  Net God kan vrede en gemoedsrus gee.  Bespreek dit met God en wag op ‘n antwoord.

En daarom sal ons nie ophou bid en glo dat God vrede in ons land en tussen ons mense kan bewerkstellig nie… nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd.


Wednesday 2 May 2018

Kyk na haar!


Lukas 7 : 44

Hier word die verhaal vertel van ‘n vrou van losse sedes wat van Jesus gehoor het en toe sy hoor dat Hy in haar omgewing gaan wees, neem sy ‘n albastefles met duur aromatiese olie saam.  Toe sy by Hom kom moes sy seker gevoel het sy is nie werd om voor hom te verskyn… dalk was sy skaam, maar ons lees sy gaan kniel agter Hom en huil so dat haar trane op Sy voete val en sy haar hare gebruik om dit af te droog. 

Die Fariseër het dit gesien en was nie beindruk dat Jesus Hom met ‘sulke’ soort ophou nie.  Sondiges!  Hy het sommer vir Jesus oor dieselfde kam geskeer. (vers 37  39)

Jesus het Hom vererg en vir Simon Petrus (die Fariseër) gesê hy moet na die vrou kyk.  Jesus het iemand gesien met ‘n opregte hart en ware berou.  Simon Petrus het ‘n prostituut en verloorder gesien.  Hy weeg haar en vind haar te lig vir God se koninkryk.  Jesus skok almal deur te sê:  “Jou sondes is vergewe.”

Nakennis is wonderlik, want dit bied jou ‘n kykie op die uiteinde van ‘n saak, maar hoe sou ons opgetree het?

Ook ek staan beskaamd en skuldig voor God, want partykeer oordeel ons met menslike insig, seker een van die gevaarlikste dinge, want ons sien net wat ons wil sien.

Ons ken die binnekant van die kerk so goed, dat ons vergeet het hoe dit daarbuite lyk en as iemand van ‘buite’ dit binne durf waag, oordeel ons. 

Mag God dieselfde genade teenoor ons betoon as wat Hy teenoor hierdie vrou betoon het.


Tuesday 1 May 2018

Verskonings


Spreuke 21 : 25  'n Lui mens soek sy dood, want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie;

‘n Huis is iets wat in stand gehou moet word.  Daar is maar altyd iets wat versien of reggemaak moet word.  So besluit ons onlangs om ons geute en fasciaborde te vervang.  Ek begin afsprake vir kwotasies te reël.  Dis makliker gesê as gedaan.  Eerstens kom mense nie afsprake na nie.  Ek bel iemand ‘n dag nadat hul ‘n afspraak nie nagekom het nie.  Hul verskoning… die motor het gebreek.  “Skakel jul nie kliënte om verskoning te maak en die afsprake te verskuif nie?”  Doodse stilte.  Hoed in die hand, besluit ek om die minste te wees.  Ons herskeduleer… en weer daag niemand op nie. 

Twee maatskappye sê vir my dat hul geen verdere afsprake maak nie, want hulle het genoeg werk.   Dis ‘n lekker probleem om te hê, maar wat as jul werk opdroog? 

‘n Ander persoon skakel my op die dag van sy afspraak en sê dat hul die vorige aand ‘n vergadering gehad het waartydens hul besluit het om nie gedurende die Winter meer aan geute te werk nie! 

En ek dog werk is skaars! Na ‘n lang droogte is dit seker so dat meeste van ons nou wakkerskrik en besef ons sit met probleme, maar helaas…  Is ‘n mens nie juis veronderstel om te skep wanneer dit reën nie. 

Daar word gesê dat besighede swaarkry en sukkel om te oorleef.  Beteken dit nie juis dat jy enige moontlikheid sal aangryp om werk te bekom nie?  Selfs die regering plaas hul hoop op klein besighede om die werkloosheid in ons land te verminder.

Dit het my net laat wonder oor hoe ons leef.  Moet ons nie soos in 1 Samuel 10 : 7 doen wat ons hand vind om te doen nie?  Ons bid en smeek God om vir ons deure oop te maak.  Ons bid dat daar besigheid sal inkom en dat die besigheid sal oorleef.  Ons bid vir ons besigheid en ons werksmense… Ons bid en vra, maar wat doen ons van ons kant? 
Vergewe my as ek verkeerd is, maar na twee weke, met net een kwotasie, wonder ek of mense te veel werk het, nie belangstel in ‘klein’ werkies nie, of net eenvoudig nie omgee nie. 

“Ek het nog nooit ‘n man teegekom wat goed is met enige iets anders, as hy goed is met verskonings maak nie” Benjamin Franklin

Op die ou end kan ons al die verskonings in die wêreld aanvoer, maar as ons nie ons kant bring nie, kan ons nie van God verwag om te voorsien nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...