Hebreërs 13:4 Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou
word
Nie almal is so gelukkig om
hul sielsgenoot en/of huweliksmaat te vind nie.
Dit beteken nie dat meeste nie aanhou soek nie. Die mens is immers nie gemaak om alleen deur
die lewe te gaan nie.
Indien jy uiteindelik
daardie spesiale persoon ontmoet en julle voel dieselfde oor mekaar, is dit
baie spesiaal. Normaalweg lei dit dan
tot ‘n huwelik en die ewige opportuniste onder ons glo die feëverhaal weergawe…
dat die paartjie vir altyd daarna gelukkig saamleef.
Ongelukkig verg ‘n huwelik
meer as net geluk… dit verg harde werk van beide kante… dit verg toegewydheid
en vasbeslotenheid om jou huwelik te laat werk, ten spyte van die klein jakkalsies
wat die wingerd probeer verniel.
Rivierklippe word deur
water rondgerol, getol en sommer bloot hardhandig hanteer, maar uiteindelik
maak dit van ‘n onafgewerkte stuk klip, ‘n pragtige, perfek geskaafde klip.
Huweliksmaats gaan ook deur
‘n soortgelyke proses. Hedendaagse
uitdagings is daar oorgenoeg van. As jy
die egskeidingstatistiek bekyk, trek jou keel toe… dis amper asof jou huwelik
nie ‘n kans staan nie.
‘n Huwelik kan egter
werk. Twee mense kan teen mekaar skaaf
en later pragtig gevorm word om perfek bymekaar te pas. Die proses hou seker nooit op nie, maar dit
is baie bevredigend as jy besef die ergste is verby… dat julle sterker en mooier
anderkant uitgekom het.
Laat God altyd die Middelaar
in elke geskil wees… laat toe dat Hy julle skaaf en skuur totdat julle perfek
pas. God het die huwelik ingestel en dis
‘n eer as jy jou belofte voor die kansel gestand kan doen.
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za