Kollosense 3 : 22 Wat
julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
Ek kyk onlangs vir die eerste keer die program
“Undercover boss”. Die Uitvoerende
Hoofde van groot maatskappye vermom hulself en werk dan in verskeie afdelings
van hul besigheid. Om die
teenwoordigheid van kameras te verduidelik word die personeel vertel dat die
persoon deel van ‘n dokumentêr is. Dis
eintlik ‘n briljante manier om te sien presies wat in jou besigheid aangaan.
So byvoorbeeld ry die Uitvoerende Hoof saam met ‘n
drywer om pakke klere by verskeie takke te gaan aflewer. Hy sien hoe dit nie moontlik is om die roete
in die aangewese tyd te voltooi nie.
Boonop breek die trollies waarmee hy die pakke straat af stoot, die
reëlings in die vragmotor val op die grond met al die pakke en die arme drywer
spandeer 15 minute om papierwerk af te handel voor hy na die volgende winkel
kan vertrek.
Na ‘n week laat hy elke werknemer met wie hy nou
saamgewerk het na sy kantoor kom en ontmasker homself aan hul. Jy kan jou voorstel hoe senuweeagtig die
werknemers is, want meeste maak baie negatiewe opmerkings in sy
teenwoordigheid.
Na die ontmaskering spreek hy hul individueel. Vir die een outjie vra hy of hy weet hoe seer
sy kritiek vir hom as eienaar gemaak het.
Die outjie skuif op sy stoel rond en vra omverskoning… en sê dat dit
maar net sy opinie was. Jy kan jou die
outjie se verligting voorstel as die Uitvoerende Hoof dan breed glimlag en
sê: “Nee! Jy was reg.
Ek waardeer elke eerlike opmerking van jou, want ek weet jy het dit gesê
omdat jy omgee. Terloops, hy was so beindruk met hierdie jongman dat hy vir hom
‘n Internskap aangebied het.
Vir elkeen van die werknemers word daar dankie gesê
omdat hul goeie idees gehad het en tekortkominge uitgewys het. Verbeterings wat hul voorstelle insluit word
aan hul oorgedra. Meesal word die
werknemers dan genooi om deel van die verbeterings te wees. Een vrou is
byvoorbeeld saamgenooi na Italië om deel te wees van die ontwikkeling van nuwe
produkte. Sommige kry bevordering en
ander verhogings. Jy kom ook agter dat
die Uitvoerende Hoofde goed luister na die werknemers, want hy tel byvoorbeeld
op dat die persoon graag sy studies wil voltooi en dan bied hy aan om daarvoor
te betaal of ‘n man wat graag wil trou, maar daar is nie geld nie se bruilof
word volledig geborg.
Wat my opval van die reeks, is hoe belangrik erkenning
is. Dit is ook opmerklik dat mense
negatief is as gevolg van omstandighede.
Sodra daardie omstandighede verbeter is hul ontsettend positief en
toegewyd.
Niemand van ons weet wanneer ons grootbaas dalk
‘undercover’ by ons werkplek inval nie.
As hy met jou praat… watter indruk sal hy van jou kry? Sal hy jou bevorder, beloon, prys?
Die feit dat daar iemand is wat ons salaris betaal,
maak van hul ons ‘baas’, maar uiteindelik werk ons vir God. Sal dit nou nie lekker wees as Hy aan die
einde van die dag tevrede met ons dagtaak kan wees nie?