Lukas 17:9 'n
Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe?
Dis
weer daardie tyd van die jaar… oueraande.
As jou kind goed doen, is dit nie iets waarvan jy sal weet nie, maar as
jou kind se punte nie na wense is nie… wel dan gaan sien jy maar die
onderwyser. Vir baie jare moes ek elke
oueraand soos ‘n stout kind voor die Wiskundeklas sit en my beurt afwag om die
onderwyser(es) te sien.
My
kind is een van daardie rare spesies met wie jy nooit hoef te sukkel om sy
huiswerk te doen nie. Inteendeel, as hy
‘n taak kry om te doen, moet dit dadelik afgehandel word. Hy dryf my soms teen die mure uit omdat hy
alles reeds gister gedoen wil hê. Voor
eksamens werk hy ‘n hersieningsprogram uit en hy studeer sonder dat ek hom ooit
hoef aan te moedig.
Wiskunde
is egter sy Moses, want Wiskunde is nie iets wat jy kan leer nie. Of jy verstaan dit, of jy verstaan dit
nie. Volgens sy punte verstaan hy dit
duidelik nie. Moet sê ek het ook my
bedenkinge oor mense wat ‘n antwoord kry as hul x en y bymekaartel J. Op ‘n stadium het hy soveel ekstra klasse in
Wiskunde gekry dat hy eendag gemompel het:
“Ek sal al getroud wees, dan moet ek nog ekstra Wiskunde klasse
kry.”
Genadiglik
bestaan daar iets soos Wiskunde Geletterdheid – die ‘dom’ kinders se weergawe
van Wiskunde, word daar blykbaar gespot.
In Graad 10, betree ‘n wonderwerk my kind se lewe in die vorm van ‘n
Wiskunde onderwyseres wat die vermoë het om my kind uiteindelik Wiskunde te
laat verstaan. Hy kon nie ophou praat
oor haar nie: “Mamma moet sien hoe
Juffrou vandag vir ons verduidelik het hoe…”
Wat meer is, sy wys hulle dat sy in hulle glo en maak drome in hul wakker
wat hul lankal begrawe het. Sy punte
skiet op tot bykans 90%!
So
breek oueraand weer aan. Hy dring daarop
aan dat ek sy Wiskunde juffrou gaan sien.
“Hoekom?” wil ek weet. “Jou punte
is mos nou uitstekend.” “Om dankie te
sê!” kom sy antwoord. So sit ek weereens
voor die Wiskundeklas my beurt en afwag.
Toe ek binnestap, begin die onderwyseres dadelik verduidelik hoe sy
punte verbeter het. Ek val haar so
beleefd as moontlik in die rede.
“Juffrou, ek is nie hier om te kla nie, ek is hier in opdrag van my
seun… om te kom dankie sê.” Ek kan sien
hoe die wind uit haar seile geneem is.
Ons het ‘n lang gesprek en groet mekaar met wedersydse waardering.
Daardie
eenvoudige opdrag van my seun, was heel waarskynlik die nodige hupstootjie wat
‘n toegewyde onderwyseres nodig gehad het.
Vir haar is skoolgee nie net ‘n beroep nie… dit is ‘n roeping. Sy maak ‘n geweldige verskil in die lewens
van menige kind.
Nog
nooit vantevore het ek ‘n onderwyser(es) gaan bedank nie. Dit het ‘n jong seun geneem om my oë oop te
maak en te onthou dat ons ook erkenning moet gee wanneer iemand dit
verdien. Daar is baie goeie onderwysers
en die omstandighede waaronder hulle daagliks werk, is verseker nie ideaal
nie. Hoeveel van ons bedank hulle? Die teksgedeelte gee ‘n mens baie stof tot
nadenke.
Miskien
kan jy hierdie oueraand gaan om een van hierdie slawe te bedank wat so selfloos ons kinders vir die toekoms
voorberei.