Monday, 9 January 2012

Niks is by God onmoontlik nie.

Jesaja 26 : 3  Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.

Dit is maklik om God te loof en te prys wanneer dit met jou goed gaan.  Dit is minder maklik te midde van die storm.  Ek en jy weet dat niks by God onmoontlik is nie.  Ons sê dit vir mekaar, maar wanneer die eerste krisis ons tref, raak ons paniekbevange. 

Hoe kan ons met die mond bely dat niks onmoontlik is, maar daaraan twyfel wanneer ons getoets word.  Noag het ‘n ark gebou toe daar geen reën in sig was nie.  Mense het hom gespot, maar Hy het God vertrou al het dit ook hoe onmoontlik gelyk.  Dis dieselfde God wat ons vandag aanbid.  Jy kan Hom vertrou – gee Hom ‘n kans!  Stel jou vertroue op Hom.

Ek wil jou uitnooi om groot te droom, want ek dink ons droom te klein en daarom beperk ons God.  Hy wil vanjaar GROOT gaan vir jou. 

Sunday, 8 January 2012

Niks is vir God onmoontlik nie

Lukas 1 : 37   Niks is vir God onmoontlik nie...".

Ek en jy weet dat niks by God onmoontlik is nie.  Ons lees dit immers in die Bybel, ons bemoedig ander daarmee, ons glo dit selfs.  Wel, tot ons 'n krisis beleef.  Dan raak ons paniekbevange.  Ons maak ons eie planne en maak staat op mense.  Dan is Lukas 1:37 net 'n teks in die Bybel.

Hoe kan ons met die mond bely dat niks onmoontlik is, maar daaraan twyfel wanneer ons getoets word?  Noag het ‘n ark gebou toe daar geen reën in sig was nie.  Mense het hom gespot, maar Hy het God vertrou.  Dis dieselfde God wat ons vandag aanbid.  Jy kan Hom vertrou – gee Hom ‘n kans!  Niks, maar absoluut NIKS is vir Hom onmoontlik nie. 

Thursday, 5 January 2012

Loof God


Ps 69:31  Dan sal ek die Naam van God besing, Hom met 'n danklied prys.

Om God te loof terwyl dit goed gaan en nadat jy Sy wonderwerke aanskou het, is maklik, maar loof jy Hom ook te midde van die storm?  Loof jy Hom as die wêreld om jou ineenstort?  Dit is juis dan dat jy Sy grootte Naam moet prys en saam met die engele om Sy heilige troon moet sing.  Sing ‘n vreugdeslied vir Hom.  Prys Hom as jy swaarkry, want dit is wanneer Hy jou vorm.  Goud is eers gesuiwer nadat dit ontsaglike hitte deurstaan het. 

Wednesday, 4 January 2012

Ek en my huis

Joshua 24 : 15 Kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien."

Ek het al besluit dat ek en my huis die Here sal dien, en dan het een van my kinders ander planne.  Dit is dan dat ek besef dat ek dit nie uit eie krag kan doen nie.  Geen mens kan 'n ander dwing om 'n verhouding met God te hê nie.  Ons het Sy genade in ons lewe, ons huis, ons werk nodig. 

Slegs God kan deur die Heilige Gees in ons kinders se hart werk, of in ons man of vrou se hart.  Ons kan egter bid en 'n voorbeeld stel.  'n Mens wil dikwels die hele wêreld se siele vir God verwerf, maar jy vergeet om diegene naaste aan jou eerste te red. 

Tog sal dit nooit kan gebeur as dit nie ons hartewens is nie.  God is gereed en Hy ken ons hartsbegeerte nog voor ons dit eens verwoord het.  Beroep jou op die Waarheid van Sy Woord en die vaste vertroue dat God alleen in jou huis heers.




Tuesday, 3 January 2012

Om 'n danklied te sing

Ps 69:31  Dan sal ek die Naam van God besing, Hom met 'n danklied prys.

Om God te loof terwyl dit goed gaan en nadat jy Sy wonderwerke aanskou het, is maklik, maar loof jy Hom ook te midde van die storm?  Loof jy Hom as die wêreld om jou ineenstort?  Dis nie maklik nie. 

Dalk gaan jy op die oomblik deur 'n krisis en die laaste ding wat jy op die oomblik wil hoor is dat jy God moet loof.  Hy hoor jou nie, Hy help jou nie, Hy voel myle ver. 

Glo my as ek vir jou sê dat jy juis dan Sy grootte Naam moet prys en saam met die engele om Sy heilige troon moet sing.  Sing ‘n vreugdeslied vir Hom.  Prys Hom as jy swaarkry, terwyl die trane oor jou wange stroom, terwyl jy mismoedig, wanhopig, hopeloos, moedverlore is...want dit is wanneer Hy jou vorm. 

Goud is eers gesuiwer nadat dit ontsaglike hitte deurstaan het.  Dis 'n suiweringsproses. 

Monday, 2 January 2012

Here my God, dink tog aan my!

Rigters 16 : 28  Toe roep Simson tot die Here: "Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë

Simson was, in die tyd van die Filistyne, 20 jaar lank leier van Israel.  Die Filistyne het dit nie vir hom maklik gemaak nie.  Aan die ander kant, Simson was ook nie juis onskuldig nie.  Hy het jakkalse twee-twee aan mekaar vasgemaak en dit deur hul landerye met ‘n brandende fakkel gejaag, sodat hul miedens, landerye en boorde afgebrand het.  Hy het by ‘n prostituut se huis ingegaan. 

Om alles te kroon, raak hy verlief op Delila.  Simson is van sy geboorte aan God gewei en daarom is sy hare nooit gesny nie.  Die Filistyne het Delila gebruik om die kennis te bekom.  Sy oë is uitgesteek, hy’s gemartel en in die tronk gegooi.   Ek kan my goed voorstel hoe Simson daar in die tronk moedeloos tot God uitroep.  Sy hare het weer gegroei en God het sy gebed uiteindelik verhoor. 

Ons het ook Filistyne en Delilas in ons lewens.  Bid dat God jou die vermoë sal gee om te onderskei tussen opregtheid en valsheid, tussen eerlike en minder eerlike motiewe, tussen reg en verkeerd, tussen vir God en teen God..  Erken jou afhanklikheid van Hom.

Sunday, 1 January 2012

Doen goed

Romeine 2 : 10 Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood.

Madiba vra op sy verjaardag dat elkeen 67 minute spandeer om iets vir iemand in nood te doen.  Hy vra niks vir homself nie, maar vir ander. 

Dink net hoe die wêreld kan verander as ons elke dag, nie net een maal per jaar, 10 minute gebruik om iets vir iemand anders te doen?   In 10 minute kan jy ‘n ouer persoon oor die straat help, jy kan iemand skakel wat jy weet siek of eensaam is, jy kan sop by ‘n plakkerskamp gaan aflaai, jy kan ‘n kombers vir ‘n straatkind gee, jy kan ‘n glimlag op iemand se gesig bring, jy kan iemand wat agter jou in die supermarkry staan met 2 items voor jou laat betaal, jy kan iemand ‘n geleentheid na ‘n winkel gee, jy kan ‘n bal skop saam met jou kind, jy kan vir jou man sy pantoffels gaan haal...

Die moontlikhede is legio.  Dis die tipe gewoonte wat jy wil hê soos die H1N1 (varkgriep) virus moet versprei.  Sien jy kans om vandag net een goeie daad vir een ander persoon te doen?

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...