Monday, 10 September 2012

Dankie Here

Dankie Here, 'n geestelike lied gesing deur Natasha Joubert
Elke ding wat ons van die lewe kan begeer, kom van die Here.  Dankie Here, vir ‘n wysie en ‘n woord..., dankie Here vir die vreugde wat dit bring, mag elke noot wat mense hoor, hulle hart en siel bekoor, laat die eer aan U behoort...

Alhoewel dit dikwels die wysie is wat ons aandag trek, kan daar groot inspirasie geput word uit die lirieke.  So word daar met elke geestelike lied ‘n boodskap van bemoediging uitgedra.  Dis ook verblydend om te sien wanneer ‘n sanger nie net erkenning aan God gee vir die woorde en musiek nie, maar ook sy/haar afhanklikheid van Hom besef. 

Natasha besef deeglik die krag wat daar in ‘n liedjie opgesluit is en sy hoop dat mense daardeur geraak sal word, maar meer nog, dat alle eer aan Hom behoort wat haar die talent gegee het.  Met hierdie lied word jy aan die wonder daarvan herinner, en ook dat elke ding wat jy begeer, uit Sy hande kom. Prediker 2 : 24 Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit 'n gawe uit die hand van God is.

Sunday, 9 September 2012

Genade


Die woordjie genade kom die eerste keer in Genesis 42 : 21 voor toe Josef se broers besef het dat hulle na hom moes geluister het toe hy hulle om genade gesmeek het. 

Elkeen van ons kan terugkyk op ‘n kronkelpad lewe.  Die paadjie lyk dalk kronkelrig omdat jy onseker was, onseker oor waarheen jy op pad is.  Jy’t afdraaipaadjies geneem omdat jy alles wou ondersoek.  Soms was dit wêreldse verleiding, soms net op soek na ‘n kort-pad. 

Daar is geen kortpad na God nie.  As jy die ewige lewe wil beërwe, moet jy die smal pad loop.  Tog het Hy jou elke keer kom haal as jy afgedwaal het, omdat Sy liefde en genade vir jou so onbegrens is.  Hy wil nie dat een persoon verlore gaan nie. Genadiglik is Hy altyd daar.

Thursday, 6 September 2012

Jesus vertel stories

Wanneer Jesus skares toegespreek het, het hulle in stilte na Hom geluister.  Hy het tussen gewone mense beweeg en in gewone taal, soms deur stories (gelykenisse) waarmee mense kon vereenselwig, ‘n boodskap van hoop oorgedra. 

Matteus 13 : 13 Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie.   

Mense sou Hom volg, waar Hy ook al gegaan het.  Saggeus het in ‘n boom geklim om Hom te kan sien.  Die blinde man wou net Sy kleed aanraak.  ‘n Vrou wat aan bloedvloeiing gely het, wou net aan die soom van Sy klere raak. 

Hy het gepraat soos geen ander man voor Hom of na Hom.  Vandag nog, hang ons aan Sy woorde.  Hy was nie skaam om baie reguit te praat nie.  Wanneer ander geoordeel het, het Hy hulle uitgedaag om die eerste klip te gooi.  Wanneer hulle Hom wou vasvra oor die sabbat het Hy hulle beskaamd agtergelaat. 

Wednesday, 5 September 2012

'n Instelling van God

Wanneer jy met getroudes gesels, kom jy agter dat daar baie min werklik, gelukkige huwelike is.  Die egskeidingsyfer in Suid-Afrika is sprekend daarvan.  Om alles te kroon, leef ons in ‘n wêreld waar ons eenvoudig iets weggooi en ‘n ander een koop, die dae van skoene hersool of horlosies laat regmaak, is verby. 

Ongelukkig word menige huweliksbelofte ook oor dieselfde kam geskeer.  Ons skei sommer gou, ontmoet iemand anders en trou weer.  Enige huwelik kan gered word, as ons die probleme en hartseer in God se hande plaas en Hom vra om ons te help om ‘n nuwe toekoms te bou. 

As jy dit oorweeg om op te gee met jou huwelik, wil ek jou vandag uitdaag om God ‘n kans te gee om te red wat jy en jou eggenoot en die huweliksberader tot nou toe nie kon regkry nie.  Daar is nog tyd.  Die huwelik is God se instelling en hy haat egskeiding. Malegi 2 : 16  Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.

Tuesday, 4 September 2012

Arendsvlerke

Jesaja 40 : 31  maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie

Hoe wens ek nie dat ek jou kan verseker dat al jou probleme op ‘n einde sal wees as jy tot bekering kom nie.  Sou dit nie fantasties wees as bekering al jou probleme soos mis voor die son laat verdwyn nie? 

Dit is ongelukkig nie so nie, want God koop niemand om nie.  Nêrens in die Bybel sal jy so ‘n belofte vind nie.  Die belofte wat daar wel gemaak word, is dat God die pad saam met jou sal stap.  Keer op keer herhaal Hy hierdie belofte in die Bybel.  Daar sal moeilike tye kom, maar wanneer jy by die afgrond kom, sal daar een van twee dinge gebeur.  God gaan jou of vang as jy val, of hy gaan jou vlerke gee. 

Monday, 3 September 2012

Rykdom vs Armoede

Spreuke 17 : 1 Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby.

As rykdom ware geluk kon koop, hoekom besoek soveel beroemdes klinieke vir depressie en middel misbruik?  Hoekom is die selfmoordsyfer so hoog onder lotto wenners?  As geld op sigself geluk bring, hoekom soek soveel rykes steeds daarna?  Hoekom is hul nie tevrede met die eerste of tweede miljoen nie?

Mense praat dikwels met groot deernis oor hul swaarkry dae.  Swaarkry vervaag met tyd, maar die emosies en kameraadskap wat jy gedurende daardie tye ervaar, bly met jou vir ‘n leeftyd.  Dit bind diegene wat saam daardeur gaan vir altyd saam.  Met diepe introspeksie en eerlikheid moet jy tog erken dat dit jare is waarna jy selfs terugverlang. 

Om uit te styg bo jou omstandighede, is verseker iets om op trots te wees, maar as jy nie geluk of vrede daarmee saam ervaar nie, moet jy jouself afvra of dit die moeite werd is.  Wat is die prys?  Op die ou end kan jy immers niks saamneem nie.  Menige welvarende persoon wat aan ‘n ongeneeslike siekte ly, het al gesê dat hul hul laaste sent sal gee om net weer gesond te kan wees.

Sunday, 2 September 2012

Lig van die Lewe


1 Joh 1 : 4  In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense.  Die lig skyn in die duisternis, ie duisternis kon dit nie uitdoof nie.

Jesus Christus is die Lig wat lewe in ‘n donker wêreld gebring het.  Hy het die duisternis kom uitdoof.  Deur Sy kruisiging, het Hy redding gebring.  Jy hoef nie meer die duisternis te vrees nie. 

As die son sou ophou skyn, sal alles op die aarde vries en uiteindelik tot niet gaan.  Jy weet self hoe welkom ‘n sonkolletjie is op ‘n koue wintersdag. 

Party mense is bang vir die donkerte.  Donkerte bevat ‘n element van onsekerheid en gevaar.  Wanneer Jesus as die Lig van die lewe hierdie duisternis uitdoof, bring dit vir jou lewe, hitte, sekerheid, veiligheid en soveel meer.
                

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...