Wednesday, 19 September 2012

Voetspore

VOETSPORE
Oorsprong onbekend


Een nag het ek ’n droom gehad.
Ek het gedroom dat ek op die strand loop
en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel.
In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien:
myne en die Here Jesus s’n.
Toe die laaste toneel voor my afspeel‚
het ek teruggekyk na die voetspore in die sand
en merk toe op dat daar soms net een ry spore was.
Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewigste tye in my lewe!
Dit het my gehinder en ek het gevra:
“Here‚ toe ek begin het om U te volg‚
het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie.
Hoekom was daar dan net een ry spore
gedurende daardie moeilike tye in my lewe?
Ek kan nie verstaan waarom U‚
in die tye wat ek dit die nodigste gehad het‚ my verlaat het nie.”
Die Here het geantwoord: “My liewe kind!
Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie.
Die tye wat jy net een ry spore gesien het
was die tye toe Ek jou gedra het.”

Tuesday, 18 September 2012

Lof & Dank

1 Kronieke 23 : 30  Hulle moes ook elke môre hulle plek inneem vir die dank en lof aan die Here, en so ook saans.

Jou hele lewe behoort een van danksegging te wees. 

  • Dankie vir my ouers, gesin, familie, vriend(in). 
  • Dankie vir my huis, werk, kos en klere. 
  • Dankie vir my oë, ore, verstand, dat ek kan loop. 
  • Dankie dat ek aan ‘n kerk kan behoort;  sonder die vrees van vervolging kan bid. 
  • Dankie dat ek na ‘n Christelike Radiostasie kan luister. 
  • Dankie dat U aan die kruis vir my sondes gesterf het. 
  • Dankie dat ons in ‘n land leef waar ons nie mortiere en koeëls om ons sien vlieg wat alles rondom ons platvee nie. 
  • Dankie dat Suid-Afrika ‘n vrye oorgang tot demokrasie gehad het. 
  • Dankie dat ek skool of universiteit kan bywoon, dat ek kan lees. 
  • Dankie vir die natuurskoon, die sproei van ‘n brander, die reuk van ‘n roos, die sonsondergang, die môrestond.  
  • Dankie vir tegnologie...

En selfs al het jy ‘n gebrek, selfs al het jy nie ‘n werk nie, selfs al woon jy in ‘n plakkerskamp, selfs al besit jy niks, is daar altyd rede om dankbaar te wees. 

Monday, 17 September 2012

Op reis

Om ‘n reis na die onbekende aan te pak, het jy ‘n goeie kaart (deesdae 'n GPS) nodig, want soos ons almal weet,  sonder behoorlike aanwysings, verdwaal jy sommer een, twee, drie.  Jou hele lewe is jare gelede reeds vooraf beplan en gekaart. 

God is die kompas – hou jou oog na Bo (noord). Hoekom strompel jy so gefrustreerd deur die lewe?  Gefrustreer deur ‘n ewige gesukkel, gaan jy kort voor lank voel asof alles wat jy aanraak, misluk of verkeerd loop.  Mettertyd sal dit voel asof jy niks kan regdoen nie en asof jy altyd in die moeilikheid is - of nog erger, stroom-op swem. 

Jou stryd is so onnodig.  Al wat jy hoef te doen, is om God te vra om jou die pad te wys wat Hy vir jou beplan het.  Psalms 25 : 1 Tot U, Here, rig ek my.  Nie net gaan Hy jou die pad wys nie, Hy gaan elke tree daarvan saam met jou stap en met tye voor jou uit stap.  Wanneer jy terugkyk, sal jy ook sien dat daar tye is dat daar net een ry voetspore is omdat dit tye is dat Hy jou gedra het.

Sunday, 16 September 2012

Vergewe en vergeet


Psalm 118:8 Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou...

Hoe voel jy oor jou medemens?  Is daar van hulle wat jou teleurgestel het?  Dalk is jy wantrouig as gevolg van mense wat jou gekul het of dalk is jy ‘n slagoffer van ‘n gemene skelmstreek. 

Ons is naief en met tye bevraagteken ons, ons mensekennis - dalk met goeie reg.  Diegene wat nie eerbare bedoelings het nie, lyk net soos enigiemand anders.  Soms is ons instink reg en soms laat dit ons in die steek, of dalk is die bedrieer net uiters goed.  Hoe dit ook al sy, ons gaan ons misgis en ons gaan teleurgestel word, want die mens is nie perfek nie en daar is diegene wat nie eerbaar is nie.

Ons kan egter by die Here gaan skuiling soek en Hom vra om ons te lei.  Moenie toelaat dat die hartseer van die lewe jou van God vervreem nie.  Hy weet presies wat aangaan en op Sy tyd sal Hy die nodige straf uitdeel.  Die wraak kom ons ongelukkig nie toe nie en al sien ons nooit dat die persoon gestraf word nie, is daar geen rede om haatdraend te bly nie.  Vergewe en vergeet, want hy of sy is beslis nie die pyn werd waardeur jy tans gaan nie.

Thursday, 13 September 2012

God is trots op jou

Elke dag wat jy jou oë oopmaak, kan jy God dank dat jy Sy kind is.  Deuteronomium 8 : 10  Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het. 

As kind van die Koning van die heelal, is jy ‘n prins(es), want jou pa is die koning.  Dit is ‘n wonderwerk.  Jy mag dus nie jou eie waarde geringskat nie.  Maak nie saak hoeveel mislukkings jy al in die lewe beleef het nie.  Of jy nou sukkel met verhoudings, of om ‘n werk te vind of behou, of jy nie van jou verslawing kan loskom... Hy sien jou as ‘n wenner.  Hy het genoeg vertroue in jou om in jou te glo omdat Hy weet waartoe jy in staat is. 

Soos ‘n ouer net die beste vir sy kind wil hê, so wil God net die beste vir jou hê.  Jy is SO spesiaal in Sy oë.  As Hy na jou kyk, is dit met oë vol liefde en trots.  Tel jou kop op begin glo in jouself, want Hy reken klaar jy’s perfek.  

Wednesday, 12 September 2012

Die gevaar van sukses

Deuteronomium 8 : 11  Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet deurdat jy nie gehoorsaam is aan sy gebooie en bepalings en voorskrifte wat ek jou vandag gee nie.

Alexandr Solzhenitsyn sê dat hy leer bid het in die Siberiese konsentrasiekamp omdat hy geen ander hoop gehad het nie.  Voor hy gevange geneem is, toe dit met hom goed gegaan het, het hy selde aan God gedink wat nog te sê met Hom gepraat. 

Soortgelyk het die Israeliete ook in die Sinai wilderness geleer wat dit beteken om op God te vertrou vir hul daaglikse brood. 

Sukses kan maak dat jy nie tyd vir bid of Bybel lees het nie, wat nog te sê om gehaltetyd met God te geniet.  God hou genadiglik nie boek en weier om jou te help as jy bietjie afgedwaal het nie.  Hy is steeds lief vir jou.  Hy kyk nie na Sy swartboekie en sien dat jy lanklaas in die kerk was en nou gaan Hy jou nie help nie.  God is altyd dieselfde - hy kan nie haat nie, want Hy is 'n God van liefde. 

Kom ons wend 'n daadwerklike poging aan om God te ken in die goeie sowel as die slegte tye. 

Tuesday, 11 September 2012

Wat sal mense van jou onthou?

Hoe sal mense jou onthou? Hebreërs 13 : 6  Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is. As jy môre sterf en iemand praat oor twee jaar van jou, wat sal hulle van jou onthou? 

Jy kan niks saamneem as jy sterf nie, maar jy kan ‘n erfenis nalaat.  As jy iemand na die Here gelei het, sal hulle jou altyd onthou.  As jy ‘n verlore mens hoop gegee het, sal hulle jou onthou.  Jy kan iemand ‘n Bybel gee wat dit nie kan bekostig nie.  Jy kan iemand leer lees wat nie in staat is nie.  Daar is vele dinge wat jy kan doen om ‘n nalatenskap te verseker sodat mense sal onthou wat jy agtergelaat het eerder as wat jy sou kon saamneem. 

Ons kan nie almal president van ‘n land word nie, maar ons kan almal siele vir God wen of selfs net saad in Sy koninkryk saai.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...