Monday, 1 October 2012

Moenie angstig rondkyk nie

Efesiërs 2 : 12 In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

Jy kan goed met die volk se hopeloosheid vereenselwig.   Jy weet hoe dit voel om die einde van jou uithouvermoë te bereik.  Jy kry nie werk nie, jy het jou huis, jou motor, jou man/vrou verloor, jou kinders is deur die welsyn weggeneem, jy kan nie aangaan na die egskeiding nie, jy kan nie aangaan na jou kind se dood nie, jy wil nie alleen oud word nie...  Jou hart is gebroke en jou gees is geknak. 

Moenie angstig rondkyk nie, kyk op.  God staan voor jou met arms wyd uitgestrek en Hy wil jou so graag teen Sy bors vasdruk en die trane afdroog.  Glo en vertrou Hom, want Hy wil so graag vir jou uitkoms bied.  Staan op, of as jy nie kan nie, kruip na Hom toe.  God kan ook in jou lewe ‘n verskil maak.  Selfmoord los nie al jou probleme op nie, dit skep net nog probleme vir diegene wat agterbly en daar is mense wat gaan agterbly wat vir jou lief is. 

Sunday, 30 September 2012

Sy arms is altyd onder jou

Wanneer jy daar op ‘n hopie sit en jou hart uitsnik en dink niemand verstaan waardeur jy op hierdie oomblik gaan nie;  niemand het nog ooit so seer gehad soos jy op hierdie oomblik nie, is dit moeilik om God se nabyheid te ervaar, want jy kan nie sien hoe jy hierdeur gaan kom nie. 

Dit is alles menslike gevoelens en dit is hoe God ons gemaak het.  Laat hierdie emosies toe om hul uit te woed, maar voel ook die Here se arms om jou. Deuteronomium 33 : 27  Die ewige God is 'n skuilplek, sy arms is altyd onder jou.  Hy voel saam met jou. 

God gil of skree nooit nie.  Hy fluister en partykeer moet jy mooi luister, want Hy fluister wanneer jy dit die minste verwag.  Hou aan bid.  Lees jou Bybel.  Werk aan jou verhouding met Hom en jy sal Sy stem hoor.  Jy sal Sy krag ervaar om aan te gaan en dit te verwerk wat jy nooit gedink het jy in staat sal wees om te verwerk nie. 

Jy gaan selfs eendag ‘n punt bereik om terug te kyk en die positiewe uitwerking te sien wat hierdie ervaring op jou menswees gehad het.

Thursday, 27 September 2012

Hoe goed ken God jou?

Openbaring 3:8 belowe God verder:  Ek ken jou handel en jou wandel… 

Hy ken jou so goed dat hy presies weet wat jy nou doen, wat jy beplan, en wat die toekoms vir jou inhou.  Hy ken elke tree wat jou voete gee.  Hy ken jou beter as wat jy jouself ken.

Dis bevrydend.  Jy hoef nie een oomblik voor te gee nie.  Jy hoef nie die storie ‘n rooskleurige kleurtjie te gee nie.  Hy ken selfs jou gedagtes:  Psalm 139 : 2 Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

Wednesday, 26 September 2012

V-formasie

Deuteronomium 28:54  Selfs die sagste en mees verfynde man by jou sal niks omgee vir sy broer of sy lieflingvrou of sy kind wat nog lewe nie.
Jy moes sekerlik al opgelet het hoe voëls in V-formasie vlieg.  Dis altyd ‘n skouspel en laat my in verwondering na hul staar. 

Hierdie aerodinamiese V-vorm, verminder die lugweerstand en sodoende kan die voëls tot 70% verder vlieg.  Wanneer hul so in gelid vlieg, is dit nie noodwendig die leier wat voor vlieg nie.  Hulle maak beurte om voor te vlieg, want die voorste voël moet die hardste werk.  Sodra hy moeg word, gee hy ‘n indikasie aan die ander en een van die wat agter hom is val in sy plek in.  Hy val terug tot heel agter waar hy kan ‘rus’ terwyl hul voortgaan.  Terwyl hul so in formasie vlieg, kan hul ook mekaar sien en met mekaar kommunikeer.

Ons kan regtig by die voëls gaan leer hoe om mekaar te ondersteun.  Kom ons, as gelowiges, vlieg in formasie sodat ons kan oplet as iemand ‘moeg’ raak.  Kom ons kyk bietjie uit vir mekaar.  Omgee en opstaan vir 'n medemens het 'n skaars kommoditeit geword in 'n wêreld van eie-belang en self gesentreerdheid.

Almal kry swaar, maar dalk staan ek en jy nog nie by 'n robot en bedel nie.  Maak dit ons beter as hul wat op 'n sylyn van die lewe beland het?  Ons het nog nie in daardie persoon se skoene gestaan nie, so ons kan nie oordeel nie.  Wie weet hoe moeilik dit vir hom/haar is?  Miskien het ons nog 'n snytjie brood om vir so iemand te gee.  Dalk kan ons net van ons tyd vir iemand gee...Dalk kan ons net 'n bietjie meer verdraagsaam teenoor ander wees...

Tuesday, 25 September 2012

Onverstaanbare liefde

Die feit dat jy as mens totaal onthef is van alle skuld sodra jy Hom as jou Verlosser en Saligmaker aanvaar, is niks anders as onbeskryflike groot genade nie.  Boonop het Hy dit om net een rede gedoen;  omdat Hy jou so onverstaanbaar baie lief het. 

Die feit dat jy in die tronk sit vir gewapende roof, of dat jy aan dobbel verslaaf is, of dat jy jou buurdogter skelm afloer, of dat jy jou vriendin se man begeer, of dat jy skelm rook, of dat jy vloek, ens, ens, ens maak eenvoudig nie aan Hom saak nie. 

Die oomblik dat jy jou sondes bely en om vergifnis vra, en met jou hele hart glo dat jy vergifnis ontvang, het Hy jou reeds vergewe.  Ja, dit is moeilik om te glo, want jy sukkel dan self om ander te vergewe.  God sê eenvoudig dat jou sondes jou vergewe is.  Punt.  Lukas 5 : 20  Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: "Mens, jou sondes is jou vergewe.  

Nie net vergewe, maar ook vergete.  Hy gaan dit nooit weer voor jou kop gooi nie en Hy gaan jou help om nie weer in die sonde terug te val nie, solank as jy aan Sy voete bly kniel.  Genade onbeskryflik groot!

Monday, 24 September 2012

Die merke aan Sy hande


Van die kruis het hulle Jesus na die graf geneem, van die graf het Hy ontwaak, aan verskeie mense verskyn en uiteindelik opgevaar na die Hemel.  Hy het spesiaal na die aarde gekom om ons te leer en vir ons die korrekte weg aan te dui. 

As Christen kan jy nooit moeg raak vir hierdie wonderbaarlike boodskap nie.  Dit is die rede hoekom jy Sy naam verhef en die genadige verlossing aanvaar wat Hy daarmee aan jou nagelaat het.  Jesus het verskeie wonderwerke gedoen tydens sy leeftyd, maar die grootste wonderwerk van alle wonderwerke was nie ‘n wonderwerk nie, dit was die naakte waarheid waarmee mense gesukkel het om vrede te maak. 

Dis tog ongehoord dat iemand uit die dood opstaan.  Jesus moes hulle selfs toelaat om die gate in Sy hande en voete te voel.  Johannes 20 : 25  Die ander dissipels sê toe vir hom: "Ons het die Here gesien!" Maar hy sê vir hulle: "As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. Glo jy dit... soos 'n kind glo, sonder voorbehoud of bewys?

Thursday, 20 September 2012

Een dag in die huis van die Here

Een dag in die huis van die Here is beter as ‘n duisend elders.  Die kerk is die huis van die Here.  Dit is die tempel waar jy gaan om Hom te aanbid.  Hy het die Sabbatdag as gereelde rusdag ingestel en daarom is dit belangrik dat jy Sy gebod eerbiedig;  dat jy die Sabbatdag moet heilig hou.  Eksodus 20 : 9 Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God.  Dan mag jy geen werk doen nie... 

God voel so ernstig daaroor dat Hy dit jare gelede alreeds vir Moses as een van die Tien Gebooie gegee het.  Wanneer jy Sondag in die Kerk was, kry jy weer rigting, word jy weer herinner aan wat reg en verkeerd is.  Jou siel word gevoed en die seën word oor jou uitgespreek. 

God spreek ook direk tot jou d.m.v. die prediker wat aan jou die boodskap uit Sy Woord bring en ook uiteindelik die seën oor jou uitspreek.

En as jy bedlêend is en nie kan kerk toe gaan nie... ook dan kan een dag spesiaal aan Hom gewy word of jy kan na 'n boodskap oor die radio luister, maar een dag behoort aan God alleen.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...