Monday, 10 December 2012

Vrees

Levitikus 26 : 37  Die vrees vir oorlog sal hulle oormekaar laat val om weg te kom van agtervolgers wat nie bestaan nie.

Vrees word in meeste gevalle voorafgegaan deur vals getuienis wat oor jou pad kom op meer as een manier… deur middel van die bostelegraaf… opsweping… via sogenaamde vriende/vriendinne…  jou interpretasie… So leef ons in vrees as gevolg van dinge wat of nie waar is nie, of nooit gaan gebeur nie.

Vrees verlam mense;  dit veroorsaak tonnelvisie.  Dit beinvloed jou goeie oordeel en dit lei jou aandag af van dit wat werklik belangrik is.  Kanaliseer jou energie eerder op positiewe  alternatiewe;  oplossings eerder as vrees.

Vrees op sigself is skadeloos.  Ons oorhandig ons mag die oomblik dat ons die vals getuienis as die waarheid aanvaar en toelaat om ons te affekteer. 

“FEAR is an acronym in the English language for "False Evidence Appearing Real" - Neale Donald Walsch quotes

Sunday, 9 December 2012

Lang gesig of nie

Romeine 7 : 22  Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God,

Stem jy saam?  Wat sien ander as hulle na jou kyk?  Sien hulle ‘n Christen wat vreugde uitstraal?   Iemand het eendag gesê: “as jy gelukkig is, vertel jou gesig sodat dit kan weet om ook gelukkig te lyk.”  As ek rondom my kyk, sien ek nie baie vreugde nie.  Ek sien kommer, stroefheid, hartseer.  Instede van blydskap, lofprysing en getuienis van God se goedheid en genade, hoor ek klagtes en vrese wat geopper word. 

Onsekerheid het ‘n leefwyse geword en kla ons nuwe nasionale sport.  God wil hê dat jy gelukkig moet wees, gesus in die wete dat Hy in beheer is.  As jy elke dag opstaan en ‘n daadwerklike besluit neem dat jy vandag vrolik gaan wees, ten spyte van onweerswolke wat om jou saamtrek, sal jy probleme soveel beter kan hanteer. 

Meer nog, jou vreugde kan so aansteeklik wees dat ander jou kom vra hoe jy dit regkry om voortdurend opgeruimd en vrolik te wees, want hulle begeer om ook so te wees.  Dit is hoe jy siele vir Jesus kan wen, nie met ‘n lang gesig nie.

Thursday, 6 December 2012

Stop! Ek wil afklim

Prediker 2 : 23  Elke dag bring vir hom pyn en elke onderneming ergernis; selfs snags kom hy nie tot rus nie. Ook dit kom tot niks.

As jy ‘n trein was, het jy jouself op ‘n sylyn gerangeer.  As die lewe ‘n pretpark was, sou jy gevra het hulle moet stop, want jy wil afklim.  Jy’s nie meer lus vir hierdie speletjie nie. 

Ongelukkig kom die aarde nie tot stilstand omdat ek of jy voel of ons uitmekaar breek van smart nie.  Om die waarheid te sê, terwyl ons op ‘n hopie ineengekrimp en met rooi oë sit, gaan alles skrikwekkend normaal voort.  Die son kom steeds op en hy gaan onder.  Lente volg na Herfs en babas word steeds gebore.  

Hoe gouer ons onsself sover kan kry om weer normaal te funksioneer, hoe makliker kan ons voortgaan.  Die ou gesegde dat jy so gou as moontlik weer moet fietsry nadat jy afgeval het, geld hier ook.  God is die groot Vertrooster en Hy wil jou ook vertroos.  Vind rus in Sy koesterende arms en weet dat jy nooit alleen is nie.

Wednesday, 5 December 2012

Jy's nie alleen nie

Psalm 121 : 1  Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?  

Dalk gaan jou huwelik deur stormwaters, of jy is reeds besig met ‘n egskeiding, of jy het so pas iemand aan die dood afgestaan. Miskien het jy jou werk verloor, of jy probeer wegbreek van ‘n bende...

Te midde van sulke krisisse is dit moeilik om die mooi in enige dag te sien, want om staande te bly verg al jou energie.  Jy is lewensmoeg en afgemat tot so 'n vlak dat jy tonnelvisie ontwikkel het.  Die krisis is allesoorheersend en veroorsaak dat dit byna onmoontlik is om enigiets anders waar te neem daarom kan jy nie die sonskyn of vreugde buite jou gesigsveld sien nie. 

Benader die probleem op ‘n heel ander manier.  Sodra jy opstaan, in plaas van sug en die kombers oor jou kop trek, raak stil voor God en dan sing jy ‘n lied.  Sing uit volle bors - 'n oorwinningslied.  Stap na die spieël en gee jouself ‘n kompliment.  As jy kan, gaan draf ‘n ent om jou kop skoon te kry.  Terwyl jy draf, gesels met God of luister na musiek.  Waar jy ook al deur die dag beweeg, kyk na ander mense en weet dat elkeen van hul ook krisisse beleef.  Sodra jy op enigiets buiten jou probleem fokus, kry jy afstand en dan gaan jy perspektief op die saak kry. 

Onthou altyd dat jy nie alleen staan nie, die feit dat jy niks sien verander of verbeter nie, beteken nie dat God agteroorsit en Hom verlekker in jou pyn nie. 


Tuesday, 4 December 2012

Waaroor droom jy?

Psalm 16 : 5  Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.
 Weet jy regtig wat jy in die lewe wil hê? 
Het jy dit al neergeskryf? 
Het jy ‘n daadwerklike plan? 
Visualiseer jy dit?
Bid jy daaroor?  
Is dit binne die wil van God?  
Wat is jou eerste stap? 
Wat het jy tot dusver in plek gesit om jou doelwit te bereik? 

As ‘n mens niks doen, kan jy natuurlik ook nie misluk nie, maar dit beteken nie noodwendig dat jy suksesvol is nie.  Daar is geen beter tyd as nou nie.  Neem die eerste tree… vandag nog.  En moenie beskeie wees nie.  God was nog nooit bekend om Sy suinigheid nie. 

The first step to getting the things you want out of life is this: Decide what you want.  - Ben Stein

Monday, 3 December 2012

Dit gaan nie oor my nie

Openbaring 5 : 5 die Leeu uit die stam van Juda

Die grootste gevaar wat ‘n Christen kan loop, is dat mense soveel na jou opkyk dat jy begin dink dit gaan oor jou.  As jy ‘n goeie prediker is en baie gewild onder die gemeente, mag dit gebeur dat jy begin glo jou kerk is so vol omdat die mense kom luister hoe goed jy preek.  As jy ‘n Evangelis is en vol sale trek, kan jy maklik glo dit is omdat jy so dinamies is.  As jy ‘n sendeling is wat groot sukses bereik op die sendingveld, mag jy dink dit is omdat jy jou Bybel so goed ken. 

Jy mag dalk ‘n talentvolle atleet of ‘n suksesvolle skrywer of ‘n baie gewilde sanger wees, onthou dat jou talent van God kom.  Alles gaan oor Hom en nie oor jou nie.  Moet nooit groter as Die Saak word nie.  Bly nederig.  Wanneer jy Hom in alles ken en erkenning gee, sal Hy jou selfs meer suksesvol maak.  Hy gee dit vir jou en Hy kan dit enige tyd wegneem.  Onthou asb oor Wie dit gaan.

Sunday, 2 December 2012

Saai die saadjies

Matteus 13 : 8  Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer,

As jy nie saai nie, sal jy ook nie maai nie.  Dit is nie altyd nodig om vir iemand te preek nie.  Jy kan net iewers vir iemand vertel van ‘n wonderwerk wat God in jou lewe bewerkstellig het.  Die persoon mag dit dalk hoor en vir tyd en wyl vergeet, maar eendag as hy of sy deur diep waters gaan, onthou hul jou getuienis en besef dan dat die tyd ryp is om hierdie wonderlike Jesus van jou beter te leer ken.  

So saai maar jou saadjies.  Soms val hul op goeie grond en ander kere op onvrugbare grond.  Iewers gaan jy dit regkry en dan gaan die lande geil staan.    

Dis juis wanneer ons deur ‘n krisis gaan en besef dat ons meer as menslike hulp gaan nodig hê vir hierdie saak dat daardie saadjie ontkiem.  Dan grawe ons, ons Bybel uit, stof dit dalk eers af en ontdek dat Hy en Sy Woord die enigste ankertou is wat nooit sal breek nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...