Sunday, 30 December 2012

Beweeg aan

Jesaja 43 : 18   Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.

Die jaar is besig om einde se kant toe te staan.  Dalk is dit ‘n goeie tyd om so ‘n bietjie voorradopname te doen.  Wat was die hoogtepunte vir jou van die afgelope jaar?  Het jy bereik wat jy jouself ten doel gestel het?  Hoe voel jy oor die jaar wat byna verby is?

Wat die ekonomie aanbetref, gaan ons deur moeilike tye so daar is seker baie mense wat voel die afgelope jaar was finansiëel ‘n uitdaging.  Daar was storms, orkane en ‘n besonder koue Winter, dus is ons ook wat die elemente aanbetref deur ‘n moeilike tyd.  Ons het stakings en onluste regoor die wêreld beleef, met leiers wat onttroon is en ander wat nog ‘n termyn gegun is en daarom kan ons ook terugkyk op ‘n moeilike jaar wat die politiek aanbetref.

Wanneer ons die einde van die jaar nader is dit asof ons voel, dit was ‘n moeilike jaar, maar sodra die 31ste eers verby is, sal dinge beter gaan.  Wie weet dalk was 2012 ‘n uitstekende jaar vol geluk en genade vir jou en hoop jy dit loop nooit ten einde nie.  Hoe dit ook al sy, 31 Desember en 1 Januarie is bloot twee dae wat mekaar opvolg.  Gewoonlik is daar geen merkbare verskil van die 31ste na die 1ste nie.  As dit ‘n moeilike jaar was, kom ons plaas dit agter ons, want ons kan net in geloof elke dag tegemoet gaan met die wete dat God goeie dinge vir Sy kinders beplan en dat ons lewe in Sy hande is.

Thursday, 27 December 2012

Ek sal geen onheil vrees nie

Dawid skryf in die bekende Psalm 23:  “Al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie.”  Dit demonstreer geloof op sy beste. 

Dit laat my onvillekeurig ook aan Daniël dink.  Hy is in die leeukuil sonder enige vrees, want hy het geweet dat God nie net groot en magtig is nie, maar boonop getrou as jy Hom onvoorwaardelik vertrou.  Daarom het Daniël nie een oomblik gewyfel nie. 

Ons lees koerante of kyk TV nuus en ons raak paniekbevange.  Die Bybel is vol van God se beloftes van beskerming en voorsiening.  Deur die eeue heen het Hy nog nooit Sy Woord verbreek nie.  God se Woord is die Waarheid.  "Wees oor niks bevrees nie, want Ek sorg vir julle," verseker Hy ons keer op keer.

Wednesday, 26 December 2012

Onbeskryflik!

Job 37 : 16 Weet jy hoe die wolke sweef? Dit is die wonderlike werk van Hom wie se kennis volmaak is.

Het jy al ooit oor die wonder van die skepping gedink?  God is die Skepper van Hemel en Aarde.  Hy beheer alles.  Hy het vir die branders van die see grense gestel.  Hy het 'n arend die vermoë gegee om hoog in die hemel te sweef.  Hy skenk lewegewende reën.  Hy vertel vir die weerlig waar om te slaan.  Hy gee aan die son die vermoë om hitte en lig uit te straal.  Hy het die sterre aan die hemelruim gehang en ken elke ster by naam!  Abraham kon nie die sterre tel nie, maar Hy ken elkeen se naam! 

Bederf jouself met 'n DVD van Louis Giglio.  In "Indescribable" raak hy byna uitasem van verwondering wanneer hy oor die aarde en die hemelruim begin gesels.  Die omvang daarvan is ver buite ons menslike begrip en ons het nog nie eens alles ontdek nie.  As jy die grootte van die aarde vergelyk met die grootte van die heelal, dan staan jy verstom dat God soveel moeite gedoen het, met hierdie spikkeltjie wat ons aarde noem. 

"You are amazing God!"

Amen!

Sunday, 23 December 2012

In 'n stal in Bethlehem

Matteus 2 : 1  Jesus is in Betlehem in Judea gebore   Lukas 2 : 7 Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.   

Môre vier ons Kersfees, die geboorte van ons Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus en dit het my laat wonder.

God kon dit tog so bewerkstellig het dat Sy Seun in ‘n koningsgesin gebore word.  Jy sou dink dat net die beste goed genoeg sou wees vir die Koning van die Heelal se Seun.  Hy kon gesorg het dat Jesus geen gebrek sou ly nie. 

Ek wonder ook hoekom Hy nie tot vandag gewag het waar daar behoorlike vervoer is en meer geriewe sodat Jesus nie so ver moes stap nie.  Hy kon dalk selfs na ander lande ook gevlieg het. Dink net hoe hard Jesus moes praat sodat die skares hom kon hoor.  Vandag sou hy 'n mikrofoon kon gebruik.  In plaas van 'n nederige vissersboot kon hy op 'n luukse jag of motorboot gevaar het.  In vandag se tyd sou Hy heelwaarskynlik nie eens rondbeweeg het nie, want Hy kon soos vele predikers sommer Sy eie TV program gehad het.

Onverstaanbaar soos dit vir ons is, het God besluit dat Jesus Christus as kind van ‘n nederige timmerman, uit 'n maagd genaamd Maria, in ‘n stal in Bethlehem gebore word.  En dit meer as 2000 jaar gelede toe daar nog bitter min ontwikkeling was. 

By gebrek aan ‘n behoorlike blyplek, moes Maria haar pasgebore baba in ‘n krip neerlê nadat sy Hom in doeke toegedraai het.  Ons verstaan nie altyd Sy weë nie, maar God weet beslis hoekom Jesus Christus tussen gewone mense woon, opgroei en beweeg.  Sodoende kon Hy diegene ontmoet wat Hom die nodigste het. 

As Jesus vandag gebore sou word, sou dit heel waarskynlik op TV nuus verkondig word, op koerante se voorblaaie gepryk het en daar sou heelwat eposse, smsse, bbm's ens rondgestuur word, maar... sou dit die impak gehad het wat dit wel gehad het toe Hy die boodskap van verlossing persoonlik aflewer het?  Jesus Christus is nie Dynamo wat 'magic' doen op TV nie, Hy het egte, verstommende, wonderwerke gedoen wat mense sonder enige kamera kunsies aanskou het.

God se plan is volmaak - ook vir jou.

Geseënde Kersfees en vrede vir jou, uit my hart uit.

Thursday, 13 December 2012

Wees dapper

Deuteronomium 31 : 6  Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”
Iemand het eendag gesê jy hoef nie noodwendig goed te wees nie, maar jy moet passie hê.

Passie dryf mense om die onmoontlike te bereik.  Jy kan net nuwe horisonne en geleenthede ontdek as jy bereid is om te waag.  Die blote gedagte om ‘n risiko te neem, laat meeste mense die hasepad kies, maar dit is eintlik onnodig.  Motiveer jouself deur te fokus op die eindresultaat. 

Pioniers is diegene wat die nodige waagmoed aan die dag lê om dit te doen wat niemand anders voor kans sien nie.  In die proses het briljante innoverings al die lig gesien, Columbus het Amerika ontdek en Neil Armstrong het op die maan geloop… Wat is jou passie?

“Never be afraid to try something new…  Remember, amateurs built the ark… Professionals built the Titanic…” ~ Anonymous

Wednesday, 12 December 2012

My vriend, Jesus

Johannes 15 : 13 & 14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel

Om Jesus so goed te ken, dat jy Hom jou vriend kan noem, is seker een van die grootste voorregte.  Die wonder is dat Hy jou vriend wil wees. 

Dit is nie nodig om familiêr met Hom te wees nie, maar dit toon dat jy ‘n lewende verhouding met Hom het.  Dis ‘n bewys dat jy Hom in alles aspekte van jou lewe ken en ook met alles vertrou.  Jou beste vriend is daar in voorspoed en teëspoed.  Daar is soveel valsheid in die wêreld van vandag.  Hy is opreg en nie ‘n mooiweersvriend nie. 

Hoeveel vriende het jy vandat jy kan onthou; wat jou vriend gebly het ten spyte van veranderinge in jou lewe?  ‘n Ware vriend gaan jou waarsku as jy op die verkeerde pad is.  Hy sal jou nie in die verderf laat beland nie.  Jesus Christus wil jou Vriend wees.

Tuesday, 11 December 2012

Wat 'n prys!

1 Korintiërs 7 : 23  Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie.

Daar is soveel goeie dinge wat vir jou voorlê as jy jou lewe aan God toevertrou.  Deur Sy kind te word, beërf jy die ewige lewe.  Jy gaan eendag toegelaat word in die Vader se huis waar daar reeds vir jou plek voorberei is.  Daar gaan net vreugde wees en geluk.  Miskien ken jy net swaarkry hier op aarde en is jy mismoedig.  Hou vas aan God se beloftes.

Toe Petrus saam met Jesus op die berg was, het hulle ‘n stem uit die hemel hoor sê:  Dit is my geliefde Seun in wie ek vreugde vind.”  God is ontsettend lief vir Sy seun en trots op Hom. Hy was altyd naby Jesus, maar tog het Hy Hom nie gespaar nie.  Hy moes die wedloop voltooi en die prys namens ons aan die kruis betaal.  Deur Sy bloed is ons gered.  Wat ‘n prys!

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...