Tuesday, 9 April 2013

Klein Jakkalsies

Hooglied 2 : 15 “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.
Soms fokus ons so op groot gevare, groot sondes, groot versoekings, dat ons die klein jakkalsies mis wat net soveel, indien nie meer, skade aanrig nie.

Dink nou maar aan jou finansies.  Ons hoor voortdurend dat ons nie genoeg spaar nie en natuurlik verdedig ons die stelling, maar hoe maklik gee ons nie geld uit nie.  In plaas van middagete koop, kan ons ‘n kospakkie inpak, wat heel waarskynlik meer gesond sal wees as dit wat ons op die ingewing van die oomblik koop as die hongerpyne knaag.  As ons ‘n fraksie van die geld spaar wat ons daagliks op nie-noodsaaklike items uitgee, sal ons verbaas staan. 

Daar is mense wat swaarkry en elke sent omdraai, maar daar is net soveel wat geen rekenskap sal kan gee van dit wat aan hul toevertrou is.  ‘n Eenvoudige gewoonte om bv R2 muntstukke aan die einde van elke dag in ‘n spaarbussie te gooi, kan vir ‘n meevallertjie sorg wanneer dit broodnodig is. 

Ons is rentmeesters van dit waarmee God ons vertrou en eendag sal ons moet rekenskap gee van dit wat ons mee vertrou is.  Nuwe gewoontes verg geduld en deursettingsvermoë, maar jy moet iewers begin.  Kom ons begin vandag om nuwe gewoontes aan te kweek sodat ons eendag trots in afwagting sal staan en trippel om ons ‘sukses’ te deel met ons Hemelse Vader.

Monday, 8 April 2013

Die geheim van 'n suksesvolle huwelik

Hebreers 13 : 4  “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word.”

Wanneer jy na mense rondom jou kyk of met hul gesels, kom jy agter dat huweliksmaats dikwels niks goed oor mekaar te sê het en partykeer selfs mekaar se swakpunte uitbuit in geselskap.

‘n Man het sy skoonpa gevra:  “Wat is u geheim vir ‘n suksesvolle huwelik?”  Skoonpa antwoord:  “Moet nooit jou vrou kritiseer oor haar tekortkominge nie.  Onthou altyd dat dit juis as gevolg van haar tekortkominge is dat sy nie ‘n beter man as jy kon vind nie.”
In plaas van ons huweliksmaats afkraak, kan ons dalk so 'n bietjie dink oor hierdie staaltjie.  Wie weet, dalk is ons ontnugter en moet ons erken dat ons self nie juis volmaak is nie.  Dis meesal teenoorgesteldes wat mekaar aantrek en daarom moet ons altyd onthou wat ons in die eerste plek na die ander persoon aangetrek het.   Dalk kan ons dit waarmee ons nie saamstem nie kanaliseer tot ons voordeel eerder as om daarteen te baklei. 

Met tyd verander individue tog en ongelukkig groei albei nie altyd in dieselfde rigting nie, maar ook daarin is daar ‘n bedekte seen.  God het hom/haar na jou gelei en wie is ons om te verskil oor die pasmaat wat Hy vir ons gevind het?  ‘n Legkaart is net perfek as twee stukkies wat op die oog af nie dieselfde lyk inmekaar pas.  Elke stukkie is nodig om die prentjie te voltooi.

Sunday, 7 April 2013

As dit nog nie jou tyd is nie

Prediker 3 : 1 “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:”
Chen Guangmei vertel hoe hy een aand laat huis toe gestap het na werk en uit die bloute deur ‘n 8 ton vragmotor omgery is.  Hy het niks gehoor voor die trok hom getref het nie.  Met die valslag het hy ervaar hoe die een stel wiele na die ander oor hom ry.  Terselfdertyd was hy verbaas dat hy geen pyn gevoel het nie. 
Na wat soos ‘n eeu gevoel het, het hy besef hy dat hy sy bene kan beweeg en ‘n poging moet aanwend om onder die vragmotor uit te kom.  Beangs het die drywer onmiddellik uitgespring, net betyds om Chen onder die trok te sien uitwriemel.  Die merke van die trok se wiele was duidelik sigbaar op sy hemp van sy skouer tot by sy laer rug.  Stomgeslaan kon die bestuurder net staar na die man wat lewend voor hom staan.  Alhoewel die vragmotor bestuurder aangedring het om hom hospitaal toe te neem, is Chen later ontslaan, want hy het absoluut geen beserings gehad nie. 
Toe die nuus onder die gemeenskap versprei, het mense van oral gekom om met hom te praat.  Chen het sy hemp trots soos ‘n vlag voor sy huis gehys.  Sy standard antwoord aan hulle was:  “My dood was nie in God se plan nie.  Hy is magtiger as ‘n 8 ton vragmotor omdat Hy groter planne vir my het.

Thursday, 4 April 2013

Feestyd

Jakobus 3 : 16  “want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade“
Om deesdae ‘n bietjie weg te breek verg fyn beplanning wat tyd sowel as finansies aanbetref.  So beplan ons lank vooruit om die jaar weer ‘n slag KKNK toe te gaan.  Alles word haarfyn beplan en die slapies afgetel.
Alles het egter nie rekening gehou met die selfsug van die hedendaagse feesganger nie.  Om in ‘n ry te staan en jou beurt af te wag is benede sommige mense se stand.  Dan is daar die deurskynendes.  Hulle kan reg voor jou staan, al sit jy, solank hul net ‘n behoorlike uitsig op die kunstenaar het.  Ander maak hul eenvoudig by die tafel waar jy en jou gesin sit tuis en werk jou behoorlik uit.  By die oornagplekke gaan dit nie veel beter nie.  Mense kom raas-raas in, gebruik die laaste druppel warm water, los alles in ‘n wanordelike, morsige toestand, sonder om hul medemens ‘n tweede gedagte te gun.  Me, myself and I?
As Christen wil ek ook in die wêreld my liggie van mededeelsaamheid en onbaatsugtige naasteliefde laat skyn, maar jy moet wonder oor Jakobus 3 : 16.  Dalk is dit hoekom ons land se waardestelsel besig is om te disintegreer.  Selfondersoek is ook nodig, want almal het foute.  Watter voorbeeld stel ons vir die jeug? 

Wednesday, 3 April 2013

Carpe Diem


Don't let the fear of the time it will take to accomplish something stand in the way of your doing it.  The time will pass anyway; we might just as well put that passing time to the best possible use.  ~Earl Nightingale

Ons wil nie studeer nie, want dit duur verewig om ‘n graad of diploma te verwerf.  Ons tyd is reeds so beperk… Ons sosiale lewe sal geruineer wees… Die familie gaan afgeskeep word…  Dis darem baie geld… Verskonings, verskonings, verskonings.

Wanneer jy ‘n paar jaar later terugkyk, besef jy dat jy al daardie kwalifikasie agter jou naam kon gehad het as jy bereid was om die tyd op te offer.  Kosbare tyd, wat ons nooit weer kan terugkry, is verlore.  Is ons besig om ons talente te begrawe?

In Matteus 5 lees ons die gelykenis van die talente wat nie versteek moet word nie.  Genadiglik is dit nooit te laat om te begin nie.  Neem vandag ‘n daadwerklike besluit om verskonings uit jou lewe te verban.  Gebruik elke minuut van die dag asof dit jou laaste minuut is.

Carpe Diem – Gryp die dag – met albei hande.

Tuesday, 2 April 2013

Tweede Kanse

"We are given second chances every day of our life... We don't usually take them, but they are there for the taking.." - Andrew M Greely

As jy een behoorlike kans gegun word, is jy gelukkig.  Om ‘n tweede kans gegun te word, is selfs beter.  Die rede hoekom ons soms nie van hierdie tweede kanse gebruik maak nie, is omdat ons hulle nie altyd herken nie of nie bereid is om ons trots te sluk nie.

Ons almal maak foute, maar ‘n fout is net ‘n fout as jy niks daaruit geleer het nie. 

Jannie Mouton is op die ouderdom van 48 jaar werkloos gelaat.  Meeste mense sou in sak en as gaan sit het.  Nie hy nie.  Hy het homself deeglik ontleed en besef wat sy sterk punte is waarop hy moes bou.  Vandag is hy die Uitvoerende hoof van PSG, ‘n baie suksesvolle beleggings maatskappy wat hy gestig het nadat hy afgedank is.  En dan is daar nog diegene wat dink jy is breindood as jy 50 nader!

Natuurlik kom sukses nie vanself nie – dit verg harde werk en deursettingsvermoë.  Genesis 3 : 19  Net deur harde werk sal jy kan eet…  

Wees op die uitkyk vir daardie tweede kanse.  Hulle kom wanneer jy dit die minste verwag.  God hou van verrassings! 

Monday, 1 April 2013

Jesus kom terug

Mattheus 17 : 23  en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word." Hieroor het hulle baie bedroef geword. 
Johannes 20 : 6  Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê,

Dank God dat ons nie ‘n lewelose beeld hoef te aanbid of ‘n dooie god nie.  Dank God dat Hy Sy Seun gestuur het.  Meer nog, dat Sy Seun die dood oorwin het.  Dit is die enkele bewys wat ons nodig het om te weet dat God almagtig is.  Geen ander God kon die dood oorwin nie. 

Hy het selfs vir ons die versekering gegee dat Hy terugkom, toe Hy die doeke wat daar oor Sy gesig was, netjies opgevou agtergelaat het.  Joodse tradisie wil dit hê dat ‘n man sy servet net neergooi as hy klaar geëet het, maar as dit opgevou word, beteken dit hy kom terug.  Jesus Christus kom terug.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...