Thursday, 18 April 2013

Ware vergifnis

Psalm 130 : 4  Maar by U Here is daar vergifnis

‘n Ooggetuie van die Hirosjima bomontploffing, het bygekom onder ‘n hoop rommel wat eens sy huis was.  Die nadraai van die bom was verwoestend met byna die hele stad platgevee en oral het vure gebrand.  Hy en sy ma is uit die puin gered net voor hulle ook deur vlamme verteer sou word.

Later nadat hy die volle verhaal rondom die atoombom gehoor het, het hy die vlieenier, wat die bom gegooi het, gehaat met alles binne hom.  Dit kon nie anders nie;  hy was omring deur mense wat deur die bom geskend is en wie se lewens nooit weer dieselfde sou wees a.g.v. die verskriklike leiding wat hul moes deurgaan.  Ongebore babas is met gebreke gebore.  Die nadraai was skrikwekkend. 

Jare later het hy en die vlieenier by dieselfde geleentheid  in Amerika onverklaarbaar langs mekaar opgeeindig.  Soos dit gaan as twee vreemdelinge langs mekaar opeindig het hul begin praat oor waar hul vandaan kom en die vlieenier het sy hart oopgemaak, min wetend van die emosies wat die man langs hom met alle geweld moes onderdruk toe hy besef wie sy buurman was.  Hy wou net opspring toe die vlieenier  sê:  Nadat ek die bom afgegooi het en die verwoesting vanuit die lug aanskou, het ek uitgeroep – My God, wat het ek gedoen!” Die oud-vlieenier se stem het gebreek en dit was duidelik dat hy ‘n swaar las met hom saamgedra het sedert daardie dag.

Die oorlewende het daar gesit en stilweg gebid dat God hom moet help om die vlieenier te vergewe en Sy Gees moes stuur om sy gevoelens te beheer.  Daar het ‘n vrede in sy binneste ontspring en hy kon die oud vlieenier uiteindelik vertel wie hy is en bevestig dat hy hom vergewe het. 

Die twee was vriende tot die oud vlieenier se afsterwe.
.

Wednesday, 17 April 2013

Sonder trots

Psalm 104 : 27  Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd.

Dit is nodig dat ons ons trots verloor.  Trots maak dat jy nie vir hulp vra nie.  As jy te trots is, gaan jy glo dat jy dinge self kan doen en niemand anders nodig het nie. 

Ons het God nodig.  Op jou eie gaan dit maar sukkel-sukkel, maar met God aan jou kant kan jy ‘n bende storm loop.  As jy glo dat Hy leef, dan kan jy ook glo dat jy na Hom met al jou probleme en sorge kan gaan.  Hy sal jou nooit wegstuur nie. 

Dit mag wees dat Hy eintlik iets anders, iets veel beters, vir jou in gedagte het, maar Hy sal jou nooit aan jou eie lot oorlaat nie.  Trots is meesal die muur tussen jou en God.  Breek die mure af deur jou trots in jou sak te steek. 

"Vader, hier staan ek, bang en mismoedig, maar gestroop van alle trots - ek kan nie sonder U nie."

Tuesday, 16 April 2013

Om te gee

Ons hou almal daarvan om geskenke te kry.  Gaan jy weg by die werk, verwag jy om ‘n geskenk te kry.  So ook as jy verjaar, verloof raak, trou, ‘n nuwe baba in die wêreld kom...  So hoe op aarde kan Jesus dan in die Bybel die volgende sê?  Handelinge 20 : 35  Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang." 

Ek wil jou uitdaag om te begin gee en te kyk hoeveel meer vreugde dit jou gaan bring.  Dit is lekker om te kry, ja, maar dis veel beter om te gee.  Veral as jy vir iemand gee wat dit nie verwag nie.  Moet nooit iets in ruil verwag nie.  Billy Graham het gesê:  God het aan ons twee hande gegee, een om te ontvang en een om te gee.  Gee ook vir hulle wat nie het nie. 

En nou die uitdaging:  Wanneer jy gee, moet jy dit so doen dat niemand anders daarvan weet nie.

Monday, 15 April 2013

Is dit reg?

Psalm 23 : 3  Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

Koerante en nuusberigte is oorlaai met artikels oor korrupsie.  Verkeersoortredings is aan die orde van die dag.  Sondae word nie meer gerespekteer nie.  Mense kom letterlik met moord weg.  Te midde van hierdie phenomeen, is daar ‘n klein minderheid wat die regte ding probeer doen en opstaan vir dit wat reg is. 

Tydens die finaal van die Amerikaanse Gholftoernooi het Bobby Jones se bal op die ruveld, net af van die skoonveld af, geland. Toe hy sy hou opstel om verder te speel, het hy per ongeluk sy bal beweeg. Hy het dadelik die veldbeampte in kennis gestel daarvan en 'n fout aangeteken.  Niemand het egter die bal sien beweeg nie en hulle het die keuse aan Jones oorgelaat of hy 'n strafhou wou slaan.  Hy het 'n strafhou gekies.

Later het iemand sy integriteit geprys, waarop Jones geantwoord het: "Prys jy 'n bankrower as hy nie 'n bank beroof nie?  Nee!  Gholf moet altyd op hierdie manier gespeel word.

Dr. Martin Luther King Jr. het gesê: "Papbroeke vra:  'Is dit veilig?' Lamsakke vra: 'Is dit gewild?' 'n Onwankelbare karakter vra: 'Is dit reg?'"

As jy Bobby Jones was, wat sou jy doen?  Vra altyd jouself af of dit reg is - reg in God se oë.

Sunday, 14 April 2013

As jou hut brand

Psalm 5 : 13  U laat dit goed gaan met die regverdige, Here, u goedheid beskerm hom soos 'n skild.
Nadat ‘n skip gesink het, beland die enigste oorlewende op ‘n onbewoonde eiland. Hy begin onmiddellik bid dat God hom op een of ander wonderbaarlike manier van hierdie verlate plek sal red.  Elke dag hou hy die horison dop, hopende dat daar ‘n skip sal verbykom, maar niks gebeur nie.  Soos die dae verbysleep, besef hy dat hy vir homself ‘n skuiling sal moet bou.  Hy het geen besittings en moet improviseer.  Kos is skaars, so hy spandeer baie tyd om kos te soek.  Eendag nadat hy weer desperaat kos gaan soek, kom hy uitgeput en dors terug, net om sy skuiling in vlamme te sien.  Moedeloos sak hy op sy knieë neer en huil, later begin hy wild in die sand slaan van woede en ongeloof.  Met trane wat oor sy wange stroom, kyk hy op en skree:  “God, hoe kon U dit aan my doen!”  Nadat hy homself uitgewoed het, stap hy see toe om homself af te spoel en daar sien hy ‘n skip op die horison.  Dit was die rook wat hul aandag getrek het en genoop het om ondersoek in te stel.
Dis so maklik om ontmoedig te word as jy voel dat alles wat kan verkeerdgaan besig is om verkeerd te gaan, maar moenie moed verloor nie, God is aan die werk.  Moet jou nie blind staar teen die rook nie, want verskuil daaragter is God se genade; die skild waarmee Hy jou red en beskerm.  En partykeer is dit nodig dat ons op 'n eiland beland om weer God se algehele voorsiening te ervaar.

God brings men into deep waters not to drown them, but to cleanse them.

Thursday, 11 April 2013

Verstaan of vertrou?

Job 5 : 9  "Wat God doen, is te groot om ooit te verstaan...  Hy doen wonder op wonder..."

Niemand behalwe God weet waardeur jy tans gaan nie.  En weet jy, dis genoeg, want Hy weet presies wat Hy doen.  Ons verstaan nie altyd nie, maar dan, hoekom moet ons verstaan?  Watter reg het ons om God se planne te bevraagteken?  Hoekom kan ons Hom nie net vertrou nie?  As mens bevraagteken ons die kruis wat ons moet dra, want ander se kruise lyk darem baie meer hanteerbaar as ons eie.  En die laaste ding wat jy wil hoor in die oog van die storm is “wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker”. 

Of  jy dit nou wil weet of nie, dis die waarheid.  Corrie ten Boom het ‘n pragtige aanhaling wat dit in perspektief plaas. "God gebruik ons probleme as boumateriaal vir sy wonders..."  

Dis ‘n kwessie van perspektief.  Ons is bloot instrumente.  En as ons deurdruk en terugkyk, sien ons ook die wonders.  Dis immers die swaarkry wat ons saambind en wat maak dat ons met heimwee terugdink aan ‘die goeie ou dae’. 

Wednesday, 10 April 2013

Die Spinnekop

Efesiers 3 : 20  “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,”

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is ‘n soldaat van sy makkers geskei in ‘n ruig begroeide, bergagtige area.  Magteloos en angsbevange, besef hy teen donker dat hy ‘n wegkruipplek moet vind.  Teen ‘n rif was daar ‘n reeks grotte en alhoewel hy besef dat dit die eerste plek sou wees waar die vyand kom soek, het hy gevoel dat dit tog die beste opsie is.  Hy bid toe:  “Geliefde Vader, ek het U beskerming vannag nodig.  Ek glo in U en vertrou ten volle op U.  Laat U wil geskied.”

Slaap was buite die kwessie en hy kon hoor hoe die vyand nader kom.  Angsbevange lê en staar hy na buite en sien hoe ‘n spinnekop ‘n web begin spin en hy dink by homself dat hy eintlik ‘n baksteenmuur nodig het, nie ‘n spinnerak nie.
Toe die vyand wel die grotte bereik en begin deursoek, het hul net vlugtig op sy grot se ingang geskyn en aanbeweeg.  Die spinnerak het hul laat glo dat niemand binne kan wees as daar ‘n onversteurde web voor die bek is nie.
Al wat die soldaat kon doen was om te bid en God om vergifnis te vra dat hy so liggelowig was en nie die groter plan verstaan het nie. 
God se planne is dalk nie wat jy vir jou lewe verwag nie, maar vertrou Hom.  In God se hande is ‘n spinnerak meer doeltreffend as ‘n baksteenmuur. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...