Thursday, 5 June 2014

Verskuif jou fokus



Psalm 121 : 1 Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? 

Soveel mense is vasgevang in ‘n situasies waaruit hul glo dat hul nooit sal uitkom nie.  Dis nie omdat hul nie talentvol genoeg is of omdat God hul vergeet het nie, maar omdat hul beperkte visie het.

Dalk kan jy ook nie verby jou omstandighede kyk nie.  Jy glo dalk dat geluk of sukses jou nie beskore is nie, dat jy nooit gewig sal verloor of ‘n kindjie van jou eie sal hê nie.  Jy kry gewoonlik dit waaraan jy voortdurend dink.  Dus, as jy nie sukses visualiseer nie, maar tonnelvisie ervaar oor jou huidige situasie, gaan jy beslis nie ander resultate kry nie.  Ons het elkeen ‘n prentjie van ons drome… hoe lyk jou prentjie?  Sien jy jouself herrys uit die as van die verlede?  Sien jy hoe jy jou doelwit bereik?  Sien jy ‘n lewe vol seëninge?  Gun jouself die luukse van onbeperkte drome en weet dat dit is wat God vir jou in gedagte het… ‘n lewe vol seën en oorvloed.

Begin vandag deur jou fokus te verskuif.  As jy studeer en droom van 60%, begin droom oor 80%.  As jy hoop op ‘n plek in die B-span, begin droom oor jou plek in die A-span.  As jy nie ‘n plek van jou eie het nie, begin droom van jou eie plekkie. 

Lig jou oë op na die berge, want dis waar daar vir jou uitkoms is, nie hier voor jou op die probleem nie.

Wednesday, 4 June 2014

Boodskappe



Jeremia 49 : 14  Ek het 'n boodskap ontvang, en dit kom van die Here af.

Daagliks word ons oorval deur boodskappe… of dit nou woorde, gebare of  liggaamstaal is.  Dink maar aan artikels in die media, skindernuus, hoorsê, ‘n skewe kyk, oë wat gerol word, obsene tekens… 

Ons kry ook boodskappe uit God se Woord.  Ongelukkig oorheers sulke boodskappe dikwels die uit die Woord van God. 

Ons vergeet dat ons ‘n Bonatuurlike God dien, vir wie die onmoontlike moontlik is.  Toe die Israeliete in ‘n hoek was met die Egiptenare agter hulle en die see voor hulle, het God die see in twee gekloof en daar trek die Israeliete droogvoets deur. 

Hy kan jou hopelose situasie soos handomkeer verander.  Jy voel asof jy verdrink in skuld… God gaan deure vir jou oopmaak, geleenthede oor jou pad bring wat jou skuldvry gaan maak.  Jy voel asof jy nooit ooit weer geluk sal vind nie, maar God gaan iemand oor jou pad bring op die oomblik dat jy dit die minste verwag. 

Weier eenvoudig om mense te glo.  God weet wie jy is en dis al wat saakmaak.  Aan mense se menings of kommentaar kan jy nog twyfel, maar nooit aan God se mening of die boodskaap aan jou nie. 

Tuesday, 3 June 2014

Keuses



Spreuke 3 : 6  Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. 

Een van die moeilikste dinge in die lewe, is dikwels om die regte keuse te maak. Agterna is dit maklik om te sien waar jy die verkeerde rigting ingeslaan het, maar dan, ons maak dikwels keuses met die inligting tot ons beskikking op daardie spesifieke stadium.

Keuses word hoeveel keer per dag gemaak.  Wanneer die wekker afgaan, het jy ‘n keuse of jy gaan opstaan of nie.  Daarna of jy gaan stort, hare was, koffie of tee… keuses, keuses, keuses.  Soms kom ons nie eens agter dat ons keuses maak nie.

Wanneer keuses egter belangrik word, is as dit negatiewe gevolge het of agterna die verkeerde keuse blyk te wees.  Partykeer kan ons van plan verander, maar ander kere is ons besluite onomkeerbaar.  Elkeen van ons het al spyt ervaar.

Keuses bepaal ook die verloop van ons lewe.  Impulsiwiteit kan net so ‘n probleem wees as besluitloosheid.  Daarom is dit juis so belangrik om God in al jou planne te ken. 

“Anytime you don’t know what to do, or how to do it, remember, God does…” ~ Victoria Osteen

Monday, 2 June 2014

Foute



Johannes 8 : 7 Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi.”

Ons almal maak foute.  Soms is dit uit onkunde… soms as gevolg van ‘n gebrek aan ervaring… soms per ongeluk… en ja, ongelukkig soms ook omdat ons eenvoudig nie gedink het nie of onverantwoordelik of agterlosig was.

Hierdie vrou het baie foute gemaak.  God het dit geweet, en die skare het gehoop Hy sal haar kortvat, maar toe verras God hul met Sy woorde dat die een sonder skuld die eerste klip mag optel om haar te stenig.

Ander kan uit jou foute leer.  As jy na motiveringsprekers kyk, besef jy dat hul juis andere inspireer deur eerlik oor hul foute of tekortkominge te gesels.  Indien God perfeksie verwag het, sou Jesus Christus nie doodgewone, sondige mense as Sy dissipels gekies het nie. 

God glo ook in jou.  Niks wat jy tot dusver gedoen het… geen fout wat jy gemaak het… geen sonde wat jy gepleeg het, is vir Hom onvergeefbaar nie.  Selfs ‘n moordenaar het op die laaste nippertjie aan die kruis langs Jesus genade ervaar.  Wanneer jy jou sonde bely, en God om vergifnis vra, kan jy verseker weet dat dit vergeef is.  Die kuns bly steeds om daardie vergifnis te aanvaar en aan te beweeg.

“Have God make a message out of your mess.” ― Joyce Meyer

Sunday, 1 June 2014

Wees lief vir hulle



Matteus 5 : 44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 

Dit is nou maar net so dat daar altyd iewers iemand is wat die lewe vir jou moeilik maak; so asof jou Christenskap tot die uiterste toe beproef word.  Dalk is daardie persoon iemand aan wie jy rapporteer by die werk… of ‘n kollega… Dalk is daardie iemand ‘n gewese geliefde… Dalk is daardie iemand ‘n buurman… ‘n ander motoris…

Nou kom God en Hy verwag van ons om liefde teenoor hierdie  mense te betoon, vir hulle te bid; inderwaarheid liefde teenoor hulle te betoon.  Jitte, weet God hoe moeilik dit is?  Het Hy al opgelet hoe onregverdig jy behandel word?  Natuurlik weet Hy; Hy was immers self hier op aarde.

Sekere mense kan jy eenvoudig nooit tevrede stel nie.  Maak daarmee vrede wanneer jy agterkom dat iemand voortdurend foutvind met dit wat jy doen of jou kritiseer.  Hoe meer jy jouself of jou optrede probeer regverdig, hoe meer mag gee jy aan daardie persoon.  Byt op jou tong, glimlag en as jy moet antwoord, doen dit met ‘n sagte, beleefde stem.

Natuurlik gaan dit nie elke dag werk nie, want jy is net ‘n mens, maar vra God om jou by te staan.  Probeer die ander persoon verstaan.  Dit kan dalk net wees dat jy en jou aardsvyand groot vriende raak as jy hom/haar ‘n kans sou gee. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...