Sunday, 7 September 2014

Skuldgevoelens



2 Samuel 24 : 19  Ek het swaar gesondig met wat ek gedoen het.  Vergeef tog my oortreding, Here, want ek het ‘n baie dwase ding gedoen.
Dis darem nie lekker as jy iets doen waaroor jy agterna skuldig voel nie, veral as jy iets kwytgeraak het en agterna voel asof jy jou eie tong kan afbyt of hoop dat die aarde jou moet insluk.  Was jy al daar?
As jy swaardra aan skuldgevoelens, wil ek jou vandag verseker dat jy met God daaroor kan praat.  Ons is almal feilbaar en doen een of ander tyd iets waaroor ons ware berou het.  Selfs Dawid moes voor God kom bieg.
God gee vir Dawid deur die profeet Gad drie keuses en Dawid kies om liewer in God se hande te val, “want Sy genade is groot.  Moenie dat ek in die hande van mense val nie.”
Ook jou skuldgevoelens kan jy met God bespreek, en ook vir jou sal Hy genade betoon.  God vergewe en Hy betoon genade en liefde al tree ons hoe dwaas op.
Jy hoef nie meer nagte lank wakker te lê of te wonder hoe jy eers met Hom hieroor kan praat nie.  Hy wag dat jy met Hom kom praat en ek weet dat Hy jou nie net sal vergeef nie, maar dat Hy jou ook sal begenadig.  God hou nie boek van die kwaad nie. 

Skakel in op www.radiodisa.com 'n internet Radiostasie wat jy op jou selfoon of rekenaar kan vind.  Elke Maandagaand van 18h00 - 20h00 bring ek vir jou o.a. "Memories are made of this", musiek wat mooi herinneringe terugbring.  19h00 Wat sê die Woord?, 19h10 Gedig Voorlesing, 19h15 Spaar of Spandeer en 19h30 Dr Gerhard Kotze met die Aandboodskap.

 Besoek gerus die webblad:   www.watsêdiewoord.co.za

Thursday, 4 September 2014

Sukses



1 Konings 2: 3 …Dan sal jy suksesvol wees in alles wat jy doen en waar jy ook al gaan.  As jy so lewe, sal die Here sy beloftes aan my vervul.
Dawid was op sy sterfbed en hy moes die leisels aan sy seun Salomo oorgee.  Soos enige pa, het Dawid die geleentheid gebruik om sy seun ‘n laaste bietjie raad te gee.
Hoe vorder jy op die suksesleer?  Gaan dit maar sukkel-sukkel of maak jy flink vordering?  Is jou besigheid op die rand van bankrotskap of floreer dit?
As dit nie so goed gaan nie, kyk gerus na die raad wat Dawid vir Salomo gee.  Ons weet immers dat Salomo ‘n goeie en wyse leier van die volk was, dat hy voorspoedig en suksesvol was.  Salomo het net so ‘n nabye verhouding met God gehad as sy pa, Dawid.  God het met hom ook gesels en beloftes van voorspoed en trou gemaak.
Die geheim van Salomo se voorspoed lê juis hierin.  Alles wat hy gedoen of besluit het, het Hy met God bespreek. Ons ken Spreuke 3 : 6 se belofte.  Dit het ook vir Salomo gegeld.  In 1 Konings 3 : 7 lees ons “Maar ek is soos ‘n klein kindjie wat nog nie weet hoe om op te tree nie.”  Dis nie moeilik om te sien in Wie Salomo sy vertroue plaas nie.  Vers 10 lees ons “Die Here was tevrede met Salomo se antwoord…” 
Vra jouself af of God tevrede is met jou en wat jy dalk kan doen om Sy guns en die sukses wat daarmee gepaard gaan,oor jou lewe te ervaar.

Besoek gerus die webblad:   www.watsêdiewoord.co.za


 

Wednesday, 3 September 2014

Wie is God werklik?




Nehemia 9 : 17 Hulle was ongehoorsaam en het vergeet van al die wonders wat U vir hulle gedoen het… Maar U is ‘n God wat vergewe, genadig en vol deernis.  U word nie vinnig kwaad nie, U is liefdevol en getrou.  U het hulle nie in die steek gelaat nie.
 
Koos du Plessis sing so mooi in sy lied ‘elke keer wat ek verdwaal, het U my weer kom haal.  As jy aan jou eie lewe dink is ek seker jy kan onthou van wonderwerke wat God in jou lewe gedoen het, van kere dat Hy vir jou deurgekom het toe jy gedink het dis onmoontlik…  Wanneer ons in die nood is, bid ons dag en nag, maar sodra God uitgehelp het, gaan ons maar weer op ons ou weë voort.
God is verseker nie verbaas oor ons gedrag nie, want Hy’t ons gemaak, maar wat vir my die mooiste is, is Sy vergewensgesindheid, sy genade en deernis met die mens. 
Soveel mense het ‘n beeld van God wat net straf en oordeel, maar in Nehemia, sien jy wie God werklik is.  Dat Hy nie humeurig is nie, dat Hy nie haatdraend is nie, dat Hy nie onbetroubaar is nie, maar dat Hy ‘n God van liefde is en so getrou dat Hy jou nooit in die steek laat nie… maak nie saak hoeveel keer jy afdwaal nie, as jou naam in Sy handpalms gegraveer is, sal Hy jou kom haal, weer en weer.   Dis nie ‘n lisensie om soos ‘n bedorwe brokkie op te tree of God te misbruik nie, maar absolute genade.  God ken ons menslike swakhede en die wêreld waarvan ons deel is. 
Soek God, gesels met Hom, laat Hom jou in al jou naakte afhanklikheid sien en verseker Hom dat Hy eerste kom in jou lewe, ten spyte van jou swakhede.

Tuesday, 2 September 2014

Voorspoedige kwaaddoeners



Job 10 : 3  Waarom verwerp U my, die werk van U eie hande, terwyl U aan die kwaaddoener vreugde en voorspoed gee?
Job was mismoedig.  Hy kon nie verstaan hoekom God toelaat dat al die ellende hom tref nie.  Daarom pleit hy nou by God en die woorde in hierdie teks is iets waarmee ek en jy ook kan identifiseer.
Soms wil dit voorkom asof die sogenaamde sondaars die lewe so maklik het.  Op die oog af lyk dit asof hul geen kommer in die lewe het nie en asof daar geen gevolge vir hul dade is nie.  As jy net na berigte van verskeie korrupsie aangeleenthede kyk, wonder jy hoekom jy jou lewe so eerlik en reg as moontlik probeer lewe, en ten spyte daarvan soveel teëspoed ervaar.  Dis so onregverdig!  Hoekom kan hulle doen wat hulle wil en voorspoed ervaar terwyl die regverdiges, soos ons en Job, dit so swaar het?
God slaap egter nie.  Al wil jy dit nie hoor nie, gebeur alles met ‘n doel.  Selfs dit waardeur jy op die oomblik gaan, is deel van God se plan en ja, dit voel heel waarskynlik onregverdig en onnodig, maar ons ken nie die volle prentjie waarmee God besig is nie.  En die wiel draai altyd, partykeer wel ‘n bietjie stadig, maar ‘what goes up, must come down’.  Dis die wet van die natuur.  Die son sal weer skyn vir jou.  Geregtigheid sal geskied.  Gee God net tyd.
Ons vra so maklik,’hoekom ek’, maar wat van die teendeel?  Hoekom nie ek nie?  Ons weet dat ons niks uit verdienste kan verwag, maar slegs uit genade.  God se genade is groot genoeg.

Monday, 1 September 2014

Hy sal voor jou uitgaan



Deuteronomium 31 : 8  Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan.  Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.
Daar is ‘n onrustigheid binne jou. Jy moet vandag ‘n berg uitklim en jy weet nie hoe jy dit gaan regkry nie, want jy voel dat alles teen jou tel.  Dalk moet jy ‘n voorlegging doen en ‘n groot kontrak is op die spel…  dalk moet jy vir ‘n onderhoud gaan en al jou hoop is op hierdie onderhoud… dalk het jy vandag ‘n afspraak met iemand en jy hoop dat dit tot ‘n verhouding sal lei… dalk moet jy hospitaal toe gaan vir toetse of ‘n operasie…  dalk speel jy vandag ‘n belangrike wedstryd… dalk moet jy ‘n toets of eksamen skryf…
Dis normaal om senuweeagtig te wees, maar wat gewoonlik gebeur is dat jy begin om die ergste in jou kop af te speel omdat jy jouself teen teleurstelling wil beskerm.  In die proses is jy besig om jou twyfel in God te demonstreer.  As kind van die lewende God behoort jy uitdagend en vol selfvertroue te wees, want Hy gaan voor jou uit… Hy sal by jou wees… en… Hy sal jou nie in die steek laat nie.
Hou op om daardie ‘sê nou maar’ speletjies in jou kop af te speel...  Wel, die negatiewe ‘sê nou maar’ speletjies veral.  Dink eerder positief… wat as ek ‘n groot sukses is en daardie kontrak kry… wat as ek die suksesvolle kandidaat is… wat as ek vandag my lewensmaat ontmoet… wat as die toetse skoon is of die operasie suksesvol is… wat as ons die wedstryd wen… wat as ek vandag met vlieënde vaandels slaag…  Moenie God wantrou nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...