Sunday, 14 September 2014

Genade



Jakobus 2 : 15 – 16 Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê:  ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg, maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?
Bedelaars by robotte, of in parkeerareas, is ‘n algemene gesig.  Hulle maak ons ongemaklik, want ‘hulle is lastig’.  Party mense is sommer blatant onbeskof met hulle.  Ander kyk in ‘n ander rigting.  Realiteit is dat dit net genade is wat keer dat dit ek of jy is wat daar staan. 
Ons kan redeneer soos ons wil, maar daardie mense is behoeftig.  Niemand sal vir die pret heeldag in die bloedige son of wind of reën daar staan nie.  Dit is nie altyd nodig om geld te gee nie;  kos is net so welkom.  By ‘n groot winkelsentrum sien ek ‘n advertensie dat jy vir die bedelaars ‘n koepon kan skenk vir ‘n maaltyd.
Dis ook nie noodwendig net mense wat by jou kom aanklop of bedel wat honger is nie, dit is dalk iemand met wie jy daagliks in aanraking is, of jou eie familie.  Trots verhoed hul dalk om jou te nader.
Laat ons eerder op die uitkyk wees waar ons kan help as wat ons hul ‘n blinde geirriteerde oog keer. 
Skakel in op www.radiodisa.com 'n internet Radiostasie wat jy op jou selfoon of rekenaar sal vind.  Elke Maandagaand van 18h00 - 20h00 bring ek vir jou o.a. "Memories are made of this", musiek van toeka tot nou.  19h00 Wat sê die Woord?, 19h10 Gedig Voorlesing, 19h15 Spaar of Spandeer en 19h30 Dr Gerhard Kotze met die Aandboodskap.

Besoek gerus die webblad:  www.watsediewoord.co.za




Thursday, 11 September 2014

Om te saai of nie



2 Korintiërs 9 : 6-7  Dink daaraan:  wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.  Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.
Wanneer mense hul tiende vir God moet gee, kan hul baie kreatief raak i.t.v. hul inkomste.  Party sal alles betaal en van dit wat oorbly die tiende gee.  Ander sal weer op ‘n bedrag besluit en dit gee.  Terwyl ander weer voel, hoekom vir die kerk gee?
Dit bly ‘n moeilike onderwerp, maar in die teksgedeelte kry ons klaarheid.  Wanneer jy gee, sal jy ontvang en dit is beslis beter om te gee.  Moenie gee omdat jy verplig voel nie en ook nie probeer om dit wat jy gee te regverdig nie, maar as jy miskien finansieël sukkel, is dit ‘n goeie tyd om te kyk of jy in God se koninkryk belê, of elders.  Net jy sal weet of jy dit kan ‘bekostig’ of nie.  My redenasie was nog altyd dat jou tiende heelbo aan jou lysie van uitgawes moet wees.  Voor jy enige iets anders betaal, moet God Sy deel kry.  Hoe en vir wie jy dit gee, dit is jou saak. 
Ons kan egter nie net altyd bakhand staan met ‘n versoeklysie en verwag dat God altyd moet gee terwyl ons niks vir Hom wil doen nie.
Laat jou lei deur die Heilige Gees en weet altyd dat God ‘n blymoedige gewer liefhet.

Besoek gerus die webblad:   www.watsêdiewoord.co.za

Wednesday, 10 September 2014

Die onwaarskynlike keuse



Isai het 8 seuns gehad waarvan Dawid die jongste was en ook die een wat skape in die veld opgepas het.  Hy was dus jonk, klein van statuur en nie belangrik in ander se oë.  Sy broers was regte manne, volgens menslike standaarde, want hulle het in Saul se oorlog geveg. 
God stuur Samuel na Isai om ‘n koning vir Israel te salf, maar Samuel sien niemand daar wat hy reken koningskap waardig is nie.  God praat egter met Samuel:  1 Samuel 16 : 7 Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want ek het hom nie gekies nie.  Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie.  Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.
Ons weet dat Dawid slegs klein in statuur was, maar nie klein wat moed aanbetref nie.  Niemand het kans gesien vir Goliat, die reus, wat die Israeliete 40 dae lank loop en verkleineer het nie, maar Dawid was reg vir hom.  1 Samuel 17 : 32 Ek sal gaan en teen hierdie Fillistyn veg. 
Soms kom ek en jy ook reuse in ons lewens tee... moeilike besluite wat ons moet neem, gesinsprobleme, gesondheidsprobleme…  Ons kan na ons tekortkominge en swakhede kyk en dink dat ons dit nooit sal oorkom nie, of ons kan soos God daarna kyk en besef dat as Hy jou vir ‘n taak gekies het, Hy jou ook sal toerus en inspan om die onmoontlike te vermag.  Vra jouself gerus af Wie in beheer van jou lewe is? 
 Dalk is jy jonk en daar is ‘n pos waarvoor jy wil aansoek doen, maar jy dink ander sal jou nooit ‘n kans gee nie.  Moenie toelaat dat mense se siening van jou, jou ontmoedig nie.  Met God aan jou kant kan jy enige reus tegemoet loop, al is jy die onwaarskynlike keuse.

Besoek gerus die webblad:   www.watsediewoord.co.za

Tuesday, 9 September 2014

Vertroue is nie altyd maklik nie



Hebreërs 13:6  Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?”
Weet nie of jy al aan die volgende spanbou aktiwiteit deelgeneem het nie.  Jy het drie deelnemers nodig.  Twee persone regoor mekaar (sodat hul vir mekaar kyk).  Die derde staan in die middel terwyl hy/sy in een van die twee se rigting kyk, met die rug na die ander gekeer.  Die instruksie is dan vir die persoon in die middel om met jou arms gekruis oor jou bors (sodat jy nie kan keer as jy voel jy val agteroor nie) agteroor te leun en die persoon agter jou te vertrou om jou te vang.  Die persoon agter jou moet jou val dan stuit en jou regop stoot en dan is jy veronderstel om vorentoe te val na die ander persoon voor jou, wat weereens jou val stuit en jou regop druk.
Dit is moeiliker as wat jy dalk dink.  Daardie gevoel van buite beheer wees en iemand te vertrou dat jy nie hard met moeder aarde gaan kennis maak nie, weerhou jou keer op keer.  Al wat help is om jou oë toe te maak en vir die beste te hoop.
Die les hierin is dat jy partykeer nie kan glo wat jy sien nie, maar dat jy makliker glo wat jy kan voel.  As jy enigsins wil hê dat ander mense jou moet vertrou, moet jy ook voel dat jy hulle kan vertrou, selfs as dit donker word om jou… selfs as jy agteroor val…
Vertroue is nie maklik nie, veral as jy voorheen seergekry het, maar een of ander tyd moet jy weer begin vertrou.   Vra God om jou vertroue in die mensdom te herstel en dan maak jy jou oë toe…
Besoek gerus die webblad: www.watsêdiewoord.co.za

Monday, 8 September 2014

Laat toe dat iemand jou arms omhoog hou



Eksodus 17 : 12  Moses se arms het naderhand te moeg geword. Aaron en Hur het hom op ‘n klip laat sit. Hulle het weerskante van hom gaan staan en sy hande in die lug gehou totdat die son ondergegaan het. 
Die soldate van Amalek het die Israeliete aangeval. Moses het Josua opdrag gegee om die manskappe gereed tekry vir die geveg en gesê hy sal op die koppie gaan staan met die stok wat God hom gegee het.  Terwyl Moses se arms in die lug was het die Israeliete gewen, maar as hy sy arms laat sak het, het die Amalakiete gewen.  Dis hoekom Aaron en Hur sy arms opgehou het.  Uiteindelik het Joshua die Amalakiete oortuigend verslaan.
Ons het almal een of ander tyd iemand nodig om ons arms omhoog te hou.  Soms kan ons net nie op ons eie voortstoom nie.  Daar is niks mee verkeerd om ander se hulp te aanvaar nie.  Om die waarheid te sê, Moses is versterk a.g.v. die hulp. 
Miskien is jy te trots om hulp te vra of selfs hulp wat aangebied word, te aanvaar.  Steek jou trots in jou sak, en aanvaar die hulp.  God stuur mense vir ‘n rede oor jou pad.  Jy kan nie hulp van die hand wys wat Hy vir jou gestuur het nie.
Dit verg eintlik meer moed om hulp te aanvaar as wat dit verg om hulp aan te bied.  Tog, bly op die uitkyk.  Iemand mag jou dalk vandag nodig kry.  Dit kan jou geleentheid wees om ‘n guns wat aan jou bewys is terug te betaal.   

 Besoek gerus die webblad:   www.watsêdiewoord.co.za

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...