Sunday, 9 November 2014

Deur God geskape


Efesiërs 2 : 10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
Ons kan so maklik deur die lewe gaan met die gedagte dat ons slegs gemiddeld is; doodgewoon.  Jy mag dalk ook dink daar is niks spesiaal omtrent jouself nie, dat jy maar net een van min of meer ses biljoen mense op aarde is.  Nee, omdat God jou na Sy beeldgeskape het, is daar iets van Hom in jou. Jy kan eintlik sê dat jy dieselfde DNA as God het.  Daarom is jy bestem vir groot dinge; in die wieg gelê om jou merk op hierdie generasie te laat.  Die waarheid is dat daar niks gemiddeld omtrent jou is nie, maar ongelukkig besef ons dit nie altyd nie.  Ons is so ingestel op ons swakhede en sogenaamde foute of dit waaroor ons nie beskik nie. Ons onthou die foute wat ons gemaak het en meet onsself aan die karaktertrekke van die aardse familie van wie ons afstam.  Op die ou end aanvaar ons gelate ons gemiddelde bestaan, terwyl ons eintlik (volgens die teks) vir grootheid bestem is.
As jy hierdie juk wil afgooi, moet jy jouself elke dag daaraan herinner dat jy die Almagtige God se gene geërf het.Jy is skou gehalte, ‘n ware kampioen en daarom hoef jy nie een tree terug te staan vir enige iemand nie.  Omarm die persoon wie God jou geskape het en leef in oorwinning omdat jy uniek en spesiaal is.
Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za
Skakel in op www.radiodisa.com 'n internet Radiostasie wat jy op jou selfoon of rekenaar sal vind.  Elke Maandagaand van 18h00 - 20h00 bring ek vir jou o.a. "Memories are made of this", musiek van toeka tot nou.  19h00 Wat sê die Woord?, 19h10 Gedig Voorlesing, 19h15 Spaar of Spandeer en 19h30 Dr Gerhard Kotze met die Aandboodskap.


Thursday, 6 November 2014

Seën



Psalm 68 : 20     Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp! Sela
Wanneer jy ‘n lewe leef wat God verheerlik, wanneer jy Sy Woord gehoorsaam en integriteit demonstreer in alles wat jy doen, sal jy God se seën daagliks in jou lewe ervaar.  Jy sal nie weet wat jou getref het wanneer Hy Sy seën oor jou begin uitstort nie.  Elke dag sal Hy jou oorlaai met goedheid en guns sodat jy soms skaam sal kry omdat dit so ontsettend goed met jou gaan.
Mense dink dikwels hulle moet seëninge najaag, maar wanneer jy God volg, elke liewe dag, as jy Hom jou hoogste prioriteit maak, sal die seëninge outomaties oor jou uitgestort word.
Maak dit van vandag af ‘n prioriteit om God eerste te stel in jou lewe.  Doen afstand van alles wat jou van God weerhou.  Wees bedag op enige versoekings wat jou van God kan vervreem en verban dit uit jou lewe.  Binnekort sal jy verstom staan oor die seën wat jou oorspoel.
God het ‘n swaar hand as dit by seën kom, veral as dit vir Sy geliefde kinders is.

Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Wednesday, 5 November 2014

Mossiedag



Anette Marais sit op ’n stomp en skud die stof van haar verslete klere. Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net ’n paar tree verder is die hoë draad van die konsentrasie kamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag geworstel met God en Hom gesmeek vir ʼn boodskap om hierdie vrouens te bemoedig, want wie weet hoe lank nog ...........
Anette lees die woorde van Matt 10:29 “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie".
Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ’n vaal klein mossie op haar skouer.
Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie, die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasiekamp in Bethulie.
Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ’n baken van geloof en hoop word vir hierdie vrouens.
Op 21 Mei 1902 was die oorlog verby, Anette het op pad terug na haar huis gestop by ’n vrou met invloed en haar vertel van die mossie-boodskap, sy het dit weer oorvertel en Genl Jan Smuts het in 1923 die mossie op die land se kleinste muntstuk (kwartpennie) laat verskyn.
Vandag ’n paar jaar later, skud ek my beursie uit. Ek sit ʼn 1c neer vir my vriendin met borskanker, nog ʼn 1c vir huwelike wat sukkel, ’n 1c vir iemand na aan my hart se werksomstandighede, vir enkel ouers en weduwees, en ek besef die mossie boodskap is dalk net een versie in ’n dik Bybel, maar ’n Almagtige, liefdevolle God staan agter dit!
Here, dankie, dat daar altyd hoop is. Dankie, vir bakens langs die pad wat ons help om geduldig te wees, terwyl ons wag vir U, om op die perfekte tyd ons omstandighede te verander.
Gister terwyl ek vir my kliënte sit en wag en ek dieselfde boodskap vir my vrou gestuur het, het 3 mossies op my voertuig se voorste "bushbar" kom sit en het ek dadelik geweet ons Koning praat met my om my gerus te stel.
Daar is niemand soos Hy nie en Hy sal altyd na ons kyk en ons versorg. Hy's net 'n gebed ver.
Geseënde "mossie" dag vir jou!
(epos juweeltjie)

Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...