Sunday, 16 November 2014

Die Here is my lewe



Jeremia 3 : 24  Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.

As ek sê die Here is my hele lewe, dan bedoel ek dit.  My hele lewe draai om Hom.  As ek my oë oopmaak, is my eerste gedagte een van dankbaarheid teenoor Hom wat my lekker laat slaap het, in ‘n warm bed, en dat nie ek of my gesin enige onrus deur die nag ervaar het nie.  Daarna bly dit ‘n kwessie van dankie sê… alles waaraan ek raak… alles wat ek ervaar… alles wat ek nie oorkom nie… dit is as gevolg van God wat my deurdra.  Op my eie is ek tot niks in staat nie, maar Hy hou my staande.

Dit beteken nie dat ek nie deur moeilike tye gaan nie.  Dis bloot dat my hoop altyd op Hom is en dat ek hom dien deur goeie sowel as minder goeie tye.  Ek kan my nie ‘n lewe sonder God voorstel nie.  My geloof is my alles.  Ek het geen behoefte aan wêreldse plesier nie, my hele wese is ingestel op die pad wat God wil hê dat ek moet stap.  Soms is dit nie die pad wat ek sou kies nie, maar dis altyd die beste pad.

Moet asseblief nie dink dat ek die perfekte ‘Christen’ is nie;  ek struikel elke dag, maar ek hou nooit op probeer nie.

My wens vir jou is dat jy ook ‘n persoonlike verhouding met God sal hê… dat Hy ook die middelpunt van jou bestaan sal wees en dat jy Sy teenwoordigheid elke dag in jou lewe sal ervaar.  Mag die teksvers ook jou mantra word:  “Die Here is my lewe…”
 

Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Skakel in op www.radiodisa.com 'n internet Radiostasie wat jy op jou selfoon of rekenaar sal vind.  Elke Maandagaand van 18h00 - 20h00 bring ek vir jou o.a. "Memories are made of this", musiek van toeka tot nou.  19h00 Wat sê die Woord?, 19h10 Gedig Voorlesing, 19h15 Spaar of Spandeer en 19h30 Dr Gerhard Kotze met die Aandboodskap.

Thursday, 13 November 2014

Wees bedag op hoe ons leef



Psalm 66 : 2 Sing tot roem van sy Naam, gee Hom die eer wat Hom toekom!

Meeste mense streef daarna om hulself te verbeter… om opgang in die lewe te maak… meer te bereik…  besittings bymekaar te maak en dit dan op te gradeer…  So klim hul die suksesleer van die lewe.  Party doen dit versigtig… treetjie vir treetjie, terwyl ander ten alle koste so vinnig as moontlik bo wil uitkom… of hul nou op ander trap of nie.  Die geheim is om dit so te doen sodat jy werklik die uitsig van daarbo kan waardeer en nie jou kop in skaamte hoef te laat sak wanneer jy terugkyk op jou reis nie.

Menige held het al hard met moeder aarde kennis gemaak… Hansie Cronje… Oscar Pistorius… om maar net twee te noem.  Ander, soos Joost van der Westhuizen, se lewe het weer onherroeplik verander.

Ons kan hieruit leer.  Daar is geen waarborg in die lewe nie en ‘sukses en roem’ is net tydelik.  Dit gaan nie oor wat jy bereik nie, maar oor hoe jy daar uitkom en hoe jy die guns wat jy ervaar uitleef.  Is jy selfvoldaan, of nederig?  Gee jy erkenning aan ander (veral vir God) of palm jy al die eer in.  Dis so maklik om te glo dat jy dit alles op jou eie bereik het, maar dis baie ver van die waarheid.  Ja, jy’t wel geleenthede aangegryp en baie hard gewerk, maar dit gaan steeds oor genade van Bo.

Ek glo beide Hansie en Oscar sal alle rykdom of roem prysgee as hul net weer die respek van ander kon terugkry.  Wanneer ons die golf van sukses ry, vergeet ons dikwels van diegene wat ons ‘n hupstootjie gegee het.  Dis eers wanneer ons platgeslaan is, dat ons net een keuse het… om op te kyk en God te vra om ons weer op te help.

Net omdat ons nie beroemd is nie, beteken dit nie dat ons nie ook foute kan maak nie.  Laat ons bedag wees op hoe ons, ons lewe leef.

Wednesday, 12 November 2014

Onsekerheid



Psalm 46:3 Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see,

Onlangs ontvang ek ‘n epos van ‘n kollega wat groet voor sy die maatskappy verlaat.  Heel verbaas om dit te hoor, verneem ek na die rede rondom die aankondiging.  Sy laat weet dat sy ‘n slagoffer van herstrukturering is, maar diep gelowige wat sy is, sê sy:  “Jesus het my nodig vir ‘n ander opdrag.”

Dis nie maklik wanneer jy voel asof jou hele wêreld ineenstort en jy magteloos bly toekyk nie.  Dan voel dit asof jy ‘n toeskouer in jou eie lewensverhaal is, want die werklikheid wil eenvoudig nie by jou insink nie.  Na soveel jare diens… wat gaan ek nou doen?  Wat hou die toekoms in?  Hoe gaan ons oorleef?  Wat van my familie?  

In vandag se werkgewersmark, is daar geen sekerheid meer nie.  Maatskappye probeer hul bes om kop bo water te hou en die aandeelhouers gelukkig te hou.  Aan die slagoffers in die proses, word daar selde as individue gedink en dit kan jou nog meer nutteloos laat voel.

Moenie toelaat dat mismoedigheid of vrees, te midde van al die onsekerheid, jou oorval nie.  Die ou cliché is baie waar… as een deur toegaan, gaan ‘n ander oop.  Soms is die verandering ‘n bedekte seën.  Glo dat God in beheer is en dat Hy jou veilig deur die krisis gaan lei…  Die prentjie wat jy sien is net ‘n beperkte weergawe.  God se uitsig is veel wyer en verder en Hy laat alles altyd ten goede meewerk.

Tuesday, 11 November 2014

Gesindheid



Numeri 14:24 Maar omdat my dienaar Kaleb 'n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.

Moses het op bevel van die Here 12 mans na Kanaan gestuur om die land te verken.  Hulle moes baie goed oplet na verskeie aspekte en dan aan Moses kom verslag doen.  

Die mans het teruggekom met ‘n reuse tros druiwe, vye en granate.  Hulle het vertel dat die land oorloop van melk en heuning, maar dat die stede versterk is en dat die mense ook sterk lyk.  Van die mans was redelik negatief en het gesê:  “Ons kan nie teen hulle veg nie.  Hulle is te groot.”  

Kaleb het egter ‘n ander gesindheid gehad.  “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen,” het hy gesê.

Die groep wat daarteen was het onwaar en negatiewe gerugte versprei om die mense op te sweep en kort voor lank was die Israeliete in verset teen Moses en Aaron.  Moses en Aaron het op hul knieë geval en gebid.  Kaleb en Josua het hul klere geskeur.  Moses het met die Here gesels en Hom herinner hoe Hy die volk uit Egipte gelei het en die volk verseker dat God, wat hul goedgesind is, die land sal laat binnetrek en oorwin.  

Op die ou end was die Here baie ongelukkig omdat die volk Hom nie vertrou het nie, maar Moses het gesmeek dat Hy hul vergewe.  Die Here het ingestem om hul te vergewe, maar gesê dat nie een van hul die land sal binnegaan, behalwe Kaleb… a.g.v. sy gesindheid.

Partykeer is ons gesindheid ook soos die meeste van die 12 manne wat Kanaan gaan verken het.  Ons is negatief en het vergeet hoeveel wonderwerke die Here al in ons lewens gedoen het en daarom kom ons in opstand wanneer dinge nie regverloop nie, of ons kla en maak negatiewe stellings wat die Here seermaak.  Genadiglik is Hy lankmoedig en vergeef Hy ons altyd, maar laat ons Hom nie tart nie.  Kom ons ondersoek ons gesindheid en wees bedag daarop sodat ons onmiddellik kan agterkom as dit nie in lyn met God se wil vir ons lewe is nie.  Daar lê vir ons ook ‘n “beloofde land” voor – die hemel, maar net diegene wie se gesindheid reg is, sal dit binnegaan.

Monday, 10 November 2014

Hoeveel klippies het jy oor?




Daar's sewe klippies in jou sak
Deur die lewe vir jou ingepak
Sodat jy ene weg kan gooi
Vir elke tiende jaar voltooi.

Eerste klippie, geen probleem
Die spel sal donkiejare neem,
Dink ons in ydel kinderwaan
Die lewe gaan vir ewig aan.

Op twintig waai die tweede klip,
Yl van moestas en rooi van lip,
Windmakerder kan jy nie kry,
Wat ek wil, skuld die wêreld my.

Klippie drie die laat jou dink,
Vir dertig jaar het jy rinkink,
Vier sewendes is daar nou oor,
Om op te maak vir tyd verloor.

As uit jou hand die vierde val,
Dan vlek die grys jou slape al,
En dit wat in die sak oorbly,
Te min om als gedoen te kry.

Dan kom jy by halwe honderd,
Nou galop die tyd bewonderend,
En na die bult - op lewenspad,
Beginne jy die afdraend vat.

Voorlaaste klippie nommer ses
Glip uit die sak voor jy sê mes
Die wat gewerk het vir 'n baas
Kry sy persent en groet vir laas.

O wee, o wee, nou klippie sewe,
Skriftuurlik het jy klaar gelewe,
Daar kom nou veel genade kort
Vir die wat dalk wil tagtig word.

Daar is natuurlik taai kalante,
Jy sien hul soms in die koerante,
Wat net nie wil die emmer skop
En eers na honderd om sal dop.

Of jy nou tot vervelens lewe,
Of tata sê hier rondom sewe,
By watter klip jy ook al stop,
Gaan sal ons, die tyd raak op.

Ek wens jou dus 'n sakvol klip,
Genoeg vir daardie honderd trip
En vreugde in jou kook en bak,
Tot jou knieë op oudag knak.

Nou ja, ou maat, daar het jy dit,
Al wat ons nou kan doen is hoop
Vir Gesondheid, Liefde en Geluk,
Met voorspoed vir die oorblystuk

MOENIE JOU JARE SE KLIPPIES MORS OP DIE ONNODIGE DINGE NIE.
ELKE DAG GLIP VERBY SOOS ‘N WEERLIG-STRAAL.
OP JOU OUDAG IS DIE MENSE WEG VIR WIE JY JOU DAE, MAANDE EN JARE OPGEOFFER HET.
DIE LEWE IS ‘N LIED, AS ELKE MENS TOG NET SY EIE LIEWE VERDRIET WIL BEHEER… EN DIT BEGIN OMKEER.
                                                                                                                                      (ontvang via epos)

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...