Sunday, 28 June 2015

Omstandighede


Deuteronomium 30:3  sal die Here jou God jou omstandighede verander

Onlangs vra iemand my om vir hulle te bid.  Ek weet dat die persoon eens op ‘n tyd naby aan God was, maar dat hy afgedwaal het.  Die besef dat God wondere kan vermag en omstandighede kan verander, noop die persoon om my te vra om vir hom te bid.  Hy voel hy kan God nie self nader nie.  
  
Miskien sien jy iets van jouself hierin.  Jy sal jouself nie as ‘n Christen uitgee nie.  Jy weet wie Hy is en daar was selfs ‘n tyd toe jy Hom beter geken het, maar jy’t afgedwaal en nou voel jy asof jy geen reg het om God as’t ware vir ‘n guns te vra nie.  Jy vra ander dalk ook om vir jou te bid omdat jy nie self weet hoe of waar om te begin bid nie.

Wat gaan gebeur as God daardie persoon se gebed vir jou beantwoord?  Gaan jy besef dat Hy steeds daar is?  Gaan jy Hom bedank? Gaan jy Hom weer ‘n kans gee en terugkeer na Hom of gebruik jy God net as jy Hom nodig het.

God wil jou vandag uitnooi en verseker dat jy altyd by Hom welkom is.  Jy hoef nie deur middel van iemand anders met Hom te kommunikeer nie.  As jy voel dat jou geloof eenvoudig nie sterk genoeg is nie, maar dat die hoop daar is, dan is jy inderdaad besig om God te vertrou.  Jy sou nie daardie persoon gevra het om vir jou te bid as jy nie geweet het waar jou hulp vandaan kom nie.

Kniel voor Hom en stort net jou hart teenoor Hom uit.  Hy is gereed om jou in Sy arms toe te vou en terug te verwelkom.

Ek bid vir jou.

Thursday, 25 June 2015

Vergifnis


1 Johannes 1 : 9  Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Wanneer iemand ons tenakom, hou ons dit dikwels vir ‘n baie lang tyd teen hulle.  Ek het al gehoor dat iemand sê:  “Ek sal vergewe, maar vergeet… nooit!”  As mense hou ons boek van die kwaad.  Kyk maar Kerstyd as mense geskenke oopmaak.  Indien die geskenk nie aan hul verwagtinge voldoen nie, is dit amper asof jy kan hoor hoe hulle dink.  “Volgende jaar sal ek seker maak ek koop nie weer sulke duur geskenke nie.”

God vergewe ons sondes en laat ons male sonder tal op ‘n skoon bladsy begin.  Ja, party van ons vorder nie verder as ‘n paar reëls op daardie nuwe blaadjie voor ons alweer struikel en om vergifnis moet vra nie, maar God verstaan ons.  Hy kan immers sien as ons probeer en Hy weet watter versoekings ons soms teen moet stry.

Die wonder is dat Hy nie net ons sondes vergewe nie, maar dat Hy ons van ALLE ongeregtigheid reinig. Ons is skoongewas deur Sy bloed.

Miskien martel jy jouself deur te dink dat jou sondes onvergeefbaar is, dat selfs God jou nie sal vergeef nie, want jy kan jouself nie vergeef nie.  Weet vandag een ding verseker, daar is nie ‘n sonde wat te groot is vir God om te vergeef nie.  By hom is daar nie groot en klein sondetjies nie, net Vaderliefde wat jou onvoorwaardelik vergeef indien jy jou sondes voor Hom belei en erken dat jy ware berou het.   God ken jou hart.  Hou op om jouself so te pynig.  Indien jy nie woorde het nie, sê dit vir Hom en weet dan dat die Gees namens jou sal intree.

Wednesday, 24 June 2015

Beskerming


Jesaja 54 : 17  Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie…

Al is daar mense wat hul mes vir jou in het of net hoop dat jy sal misluk, kan jy vandag rus vind in die wete dat geen planne wat teen jou gesmee word uitgevoer sal word nie.  Jy is veilig in die beskerming wat die Allerhoogste jou bied.
 
Dit is maklik om bang en benoud te word as mense jou dreig.  Wie weet, miskien dreig skuldeisers jou… dalk het jy iemand verkeerd opgevryf… miskien het jy kwaadgepraat van iemand en hulle het nou daarvan uitgevind…

Jy is veilig.  Dit is dalk moeilik om te glo te midde van jou omstandighede, maar God maak nie leë beloftes nie.  Daarmee probeer ek nie sê dat jy nou maar kan skoorsoek en skotvry afkom nie.  Die teks verwys na beskerming teenoor mense wat jou wil te na kom.  Jy staan onder die beskerming van die koning van alle konings.  Glo jy in Sy beskerming en Sy vermoëns?

Tuesday, 23 June 2015

Wapenrusting

Efesiërs 6:11  Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.

Phillipine, ‘n Kaapse gospel sangeres, sing ‘n pragtige liedjie.  Van die woorde in haar nuutste treffer wat my bybly is: I am armed and dangerous, with the armor of God.
 
Kinders van God word net so beproef soos enige iemand anders.  En soms laat ons toe dat die duiwel ‘n vatplek kry. 

Efesiërs herinner ons om daagliks die volle wapenrusting aan te trek sodat ons hierdie aanslae die hoof kan bied.  Juis daarom is Phillipine se liedjie vir my so treffend.  As ons daardie wapenrusting aantrek, is ons inderdaad gewapen en gevaarlik.  Die duiwel sal moet ligloop, want niks sal ons onderkry nie.  Die wapenrusting word egter nie oor ons gegooi nie.  Nee, ons moet ‘n daadwerklike besluit neem om dit aan te trek.


Staan dus soggens op met hierdie voorneme.  Vandag sorg ek dat ek hierdie huis gewapen verlaat – nie met ‘n rewolwer nie, maar met die volle beskerming van God.  Niks sal jou dan onderkry nie.  Ek dink ons word beproef omdat ons nie altyd volledig geklee is nie.

Monday, 22 June 2015

Ewige trou

Job 6 : 20  God verwerp nooit ‘n mens wat opreg voor Hom leef nie.  21: Hy sal jou weer met vrolikheid vul en jou laat uitroep van vreugde.

Daar kom tye dat dit nie so goed met ons gaan nie.  En soms voel dit eenvoudig of alles verkeerdloop. 

Partykeer is dit verhoudings wat skeefloop, ander kere is dit weer goed wat ons doen wat eenvoudig nie wil uitwerk nie. Dan weer iets wat ons gesê het wat totaal uit verband geruk word en ‘n konsternasie veroorsaak.  Dis nie dat ons willens en wetens moeilikheid oor onsself bring nie, dis maar net dat planne nie altyd verloop soos ons gehoop het nie.

Soms is die skade so groot dat daar geen hoop op versoening is nie.  Selfverwyt en berou vreet ons op.  Mense kan baie hardvogtig wees en jou gou die rug keer.  Hul optrede kan jou sodanig knou dat jy alle selfvertroue verloor.  Met tye kan jy voel asof jy nooit weer sal lag en net sorgvry wees nie. 
Genadiglik is God nie soos mense nie.  Hy verwerp jou nooit en koester nie ‘n wrok nie.  Solank jy oop kaarte met Hom speel en met ‘n rein gewete voor Hom kan staan, sal Hy jou weer heel.  Sy liefde sal jou weer met hoop vervul en jou lewensvreugde teruggee.


Indien daar seer in jou lewe is, bring dit vandag na God.  Hy wil jou omarm en vertroos.  Die onregverdigheid wat jy beleef het, sal gou vergete wees, want Hy sal jou vul met vrolikheid en vreugde. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...