Monday, 11 September 2017

Ons verwag as't ware onheil

Psalm 23 : 4 ek sal geen onheil vrees nie

Baie keer wanneer ons deur iets gaan waar uitkoms onmoontlik lyk, dink ek ons probeer onsself beskerm deur onmiddellik die ergste te verwag.  Ons verwag as’t ware onheil. 

Ek onthou nog my laaste herstrukturering.  Die dag toe ons die uitslae ontvang, het hul ons een vir een ingeroep.  Die wat in die kantoor agtergebly het terwyl die uitverkorene sy / haar nuus gaan ontvang het, was grafstil.  Jy kon ‘n speld hoor val.  Ons het almal die ergste verwag.

In die kantoor waarheen jy ontbied is, was die nuwe hoof van die afdeling en jou vorige hoof.  Die vorige hoof het die nuus oorgedra, met ‘n brief ter bevestiging. In ‘n kantoor langsaan het hul beraders gehad om jou by te staan, sou dit nodig wees.  Dit op sigself wys vir jou hoe dit mense affekteer.  My vorige hoof begin:  “Na deeglike oorweging, moet ons jou ongelukkig meedeel dat jy nie ‘n pos gekry het nie.”  Sy bly so ‘n oomblik stil en die nuwe hoof stamp aan haar.  “Nee!” hy tik so op die brief.  Sy kyk na hom en toe na die brief en toe na my.  “Ek is so jammer.  Jy het ‘n pos gekry. Veels geluk.”  Kan jy jou voorstel hoe ek van die een punt van die spektrum geswaai het na die ander?  Noodloos om te sê die trane het gevloei… trane van verligting en blydskap.  Dit was toe nie die ergste nie.

Niks kan jou onderkry as God vir jou is nie.  Jy sal altyd beter af wees as God vir jou is.  Vertrou hom met alles binne jou.

Sunday, 10 September 2017

Moenie in die vallei bly nie

Psalm 23 : 4 Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee

Gedurende my jare in die korporatiewe wêreld het ek deur 8 herstrukturerings gegaan.  Dit beteken jy kry ‘n brief wat jou in kennis stel dat jou huidige pos afgeskaf word, maar dat jy die geleentheid gegun sal word om vir nuwe poste aansoek te doen.  Sou jy nie suksesvol wees nie, dan is dit die proses…  Agt keer was ek dus werkloos.  Agt keer het ek op God vertrou en al agt kere het God vir my deurgekom. 

Dit was nie maklik om God te vertrou wanneer die kanse skraal lyk dat jy ‘n werk sal hê na alles nie. Ons het almal verpligtinge en afhanklikes wat maak dat jou keel onwillekeurig toetrek. Ek het egter nog altyd soos ‘n kind geglo, blindelings.  Nie omdat ek so ‘n goeie Christen was nie, maar omdat ek geweet het, net God kan en sal uitkoms bied.

Hier’s die sleutel.  Wanneer ek na die toekoms gekyk het, het dit donker gelyk.  Wanneer ek na die verlede gekyk het, het ek gesien hoe God daar was my hele lewe lank en my nooit in die steek gelaat het nie.

Wat meer is, na elke herstrukturering het ek ‘n beter pos gehad, soms selfs met bevordering, meer stimulerend, met geleentheid om nuwe vaardighede aan te leer en selfs ‘n beter inkomste.  As ek nou daarop terugkyk, was dit eintlik elke keer in my guns.  Glo my nie een van daardie kere het ek gedink daar is enige iets goed in daardie oefening nie. Dis stressvol om die minste te sê. Dit affekteer jou hele menswees.  Die mat is onder jou uitgeruk en dit het ook ‘n geweldige uitwerking op jou gesin.

Maar dit het een ongewone resultaat.  Dit wys jou hoe wonderbaarlik God ‘n rivier in die woestyn kan maak.  Hoe meer onmoontlik dinge lyk, hoe meer moeiteloos het God alles in plek laat val.

Elke keer het dit vir my soos die einde gevoel en elke keer het God my daar uit die vallei gelei.  

Thursday, 7 September 2017

Wees in alle omstandighede dankbaar

Filippense 4:12  Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.

Dis min wat jy gesels met iemand wat heeltemal gelukkig is.  Meeste mense is soekend.  Hul hoop op iets of iemand om hul te voltooi.  Luister maar hoeveel keer mense sê:  As net dit of dat gebeur, dan…

Party mense probeer die leemte vul met kos, dwelms, drank, pynpille.  Ongelukkig bring hierdie oplossings net tydelike verligting en na die tyd voel jy erger as ooit tevore.
Die media help ook nie juis nie.  Oral sien jy advertensies van dit wat jy nie het nie, van mense wat lyk soos wat jy graag wil lyk, die lewe leef wat jy begeer.  Sosiale media is ‘n nuwe bittersoet ervaring.  Dis lekker om met almal in aanraking te wees, maar daar lees en sien jy foto’s van ander se klaarblyklike gelukkige bestaan of besige sosiale lewe en lyk jou eentonige bestaan nog saaier.  Jy verloor egter uit die oog dat hul net die beste van hul eie saai lewe publiseer. 

As jy geluk probeer vind in iets of iemand, gaan jy altyd soekend bly.  Ons soek almal die geheim tot ewige geluk.  As ek net hierdie paar kilo’s verloor… as ek net ‘n beter werk kan vind… as ek net meer sukses kan behaal…

Ons wil so graag by môre uitkom, maar intussen verloor ons die mooi van vandag.  Op die ou einde gaan dit daaroor om in alle omstandighede dankbaar te wees of jy min of baie het.

Wednesday, 6 September 2017

Naomi of Mara

Rut 1:20  Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara , want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.

Vanoggend toe ek die badkamer se lig aansit, hoor ek net ‘n klapgeluid en besef die lig het geblaas.  Daar staan ek in die donker.  Ek soek ‘n kers en die is nie waar ek dit gewoonlik bêre nie.  Uiteindelik het ek die kers, so teen die tyd dat die res van die familie opstaan, is die krisis onder beheer.  Later probeer ek ‘n nuwe onderlaag botteltjie oopmaak, maar die prop klou halstarrig.  Ek span later ‘n mes in en daar gee die prop mee… noodloos om te sê dat daar onderlaag op alles behalwe my gesig was.  Ek maak skoon en besluit dit is so ‘n mooi dag, ek kan net sowel die beddegoed aftrek en was.  Sommer met die optel van die eerste kussing, sien ek dit… onderlaag.  Nou moet ek die onderlaag probeer uitwas alvorens ek dit in die wasmasjien druk… 

Het jou oggend ook al so verloop? Ek kon maklik gesê het:  “wat ‘n oggend… die duiwel is behoorlik los,” maar ek kies om satan geen erkenning te gee nie.  Die gemors en ekstra werk is steeds daar, maar ek sal nie toelaat dat my vreugde gesteel word nie.  Wat ek wel gesê het, is:  “Die dag kan net beter raak.”

Ons kan so maklik klein jakkalsies inlaat wat ons wingerd verniel.  Iemand glip in ‘n parkeerarea in waarvoor jy lank staan en wag het… Jou gunstelingkledingstuk is nêrens te vinde, of in die was…  Jy vind uit dat jy nie genooi is na ‘n vergadering waar belangrike besluite geneem word nie…  of jy het ‘n soortgelyke oggend as myne…

In Rut lees ons ook van Naomi wie se naam blydskap beteken het, maar op ‘n dag het sy gevra dat sy voortaan Mara genoem word.  Mara het bitter beteken.

Met hierdie gebaar het Naomi toegelaat dat die klein jakkalsies nie net haar wingerd vernietig nie, maar letterlik hul intrek in haar hele wese geneem het. 

In teenstelling daarmee, kyk na die einde van die verhaal van Josef.  Hy kon sy broers bly haat en verwyt het, maar op die ou end het hy besef dat dit alles die plan van God was om te voorsien vir sy familie in ‘n tyd van hongersnood. 

Vra jouself af of jy Naomi wil wees of Mara.  Die keuse kan 'n reuse impak op jou lewe hê.

Tuesday, 5 September 2017

Waak teen wat in jou hart aangaan

Spreuke 4 : 23  Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Ons het ‘n paar jaar gelede in Namibië getoer.  Op die een of ander onverklaarbare manier, neem ons die verkeerde afdraai uit Windhoek in die rigting van Swakopmund.  Het jy al ooit ‘n slegte grondpad gery? Wel hierdie pad is honderdvoudig erger.  Dit is ‘n pad uit die hel.  Bult op en bult af en die heeltyd dink jy dit sal nou-nou teerpad word.  Later besef jy dat jy te ver in is, jy kan net sowel deurdruk.  Aan die begin probeer jy om die slaggate ry, later ry jy net om deur die nagmerrie te kom.  Nog later raak dit donker… al wat jou laat vasbyt is Swakopmund se liggies in die verte.  

Al was die motor hoe dig, het daar tog ‘n stofreukie ingekom en die motor was onherkenbaar toe ons uiteindelik by ons bestemming arriveer.  Die volgende dag het ons die motor na ‘n motorwassery geneem wat stof uitgeblaas het, waar ek nie geweet het stof kan inkom nie.  Daar het letterlik skopgrawe stof uitgekom.

Die stofdeeltjies van die wêreld het ‘n manier om elke moontlik plekkie van jou menswees binne te dring.  Al probeer ons hoe hard, het party mense die vermoë om ons vrede te steel.  Dit is egter waar ons beheer moet neem.  Dit bly immers ‘n keuse.  Gaan ek toelaat dat iemand anders se gedrag of woorde my ontstel of nie?  Nie as ons elke dag onsself herinner aan vandag se teks nie. 

As jy toelaat dat dit jou affekteer, sal jy ontnugter en teleurgestel deur die lewe gaan.  Dit beteken nie jy mag nie ontsteld, geskok of hartseer wees nie, solank jy altyd daarop fokus dat hierdie slegs ‘n oomblik in die groter prentjie is… die beste is nog op pad.  Jaag al hierdie gedagtes uit jou binneste uit en verklaar dat jy vrede bo onrus verkies.

God veg namens ons, ons hoef nie elke geveg te veg of te wen nie.   Hou God op die troon, nie jou omstandighede nie. As jy vrede kies, sal jou vyande beskaamd staan.  Job 8:22  Dié wat jou haat, sal met smaad bedek word.

Goed gebeur nie met jou nie, maar vir jou.  Jy sien nie wat God sien nie.  Hy sien egter hoe dit wat nou gebeur jou na die volgende vlak kan neem.  Bly dus gefokus op God se planne met jou lewe.

Monday, 4 September 2017

Die tien gebooie

Eksodus 20  “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.  Jy mag naas My geen ander gode hê nie.  “Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.  Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.  “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.  “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.  Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie.  Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.  “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.  “Jy mag nie moord pleeg nie.  “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.  “Jy mag nie steel nie.  “Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie.  “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Die eerste gebod gaan daaroor om God eerste te plaas, in elke aspek van jou lewe.  Die tweede is om God alleen te dien. Hy verwag onverdeelde trou.

Elkeen van die ander 8 gebooie is eintlik verweef in hierdie twee gebooie. 

As God eerste is in jou lewe en jy Hom alleen dien, sal jy NOOIT sy Naam misbruik of op enige manier nie eerbiedig nie.  Selfs wanneer iemand anders Sy Naam misbruik, sal dit jou teen die bors stuit. Om die waarheid te sê, jy behoort hul reg te help om te keer dat God se toorn oor hul losbars.

Sondag sal aan God behoort, ‘n dag om Hom te dien en eer, tyd met Hom te spandeer en jou batterye te herlaai vir die week wat voorlê. Daar is mense wat op ‘n Sondag moet werk.  Jesus het ook op ‘n Sondag iemand genees, maar jy mag nie toelaat dat dit oor geld gaan nie.

Hoe kan jy jou Hemelse Vader eer en eerbiedig, maar nie jou aardse ouers nie?  Let op dat God geen voorwaarde stel soos byvoorbeeld dat jou ouers jou respek moet verdien nie.  As jy egter wel Sy gebod nakom, word jy beloon met ‘n lang lewe. 

Die sesde gebod gaan daaroor dat jy niemand sal seermaak nie, nie fisies of emosioneel nie.  Dit behoort weereens ‘n natuurlike uitvloeisel van die eerste twee gebooie te wees, want jy kan nie vir God lief wees as jy Hom seermaak met jou optrede of dan ook Sy skepsels.

Met die sewende gebod sal dit dan ook maklik wees om getrou te wees in jou huwelik, synde jy reeds die basis van getrouheid leer wanneer jy God alleen dien.

Hoe kan ek die agtste gebod oortree as ek my mede-broers en susters in geloof liefhet?  Jy steel mos nie van hulle vir wie jy omgee nie.

As God die eerste en enigste God in jou lewe is, sal jy Hom nooit wil teleurstel met leuens nie.  Wanneer jy vir ander lieg, lieg jy immers voor God.

Laastens behoort ek op niemand afgunstig te wees, want God gee vir elkeen van ons genoeg.  Om die waarheid te sê, Hy sal jou met meer wanneer Hy sien dat Hy jou met min kan vertrou.  En sodra ons Sy koninkryk opgesoek het, gee Hy ons in elk geval die begeertes van ons hart.

Sunday, 3 September 2017

Jy gaan gevang word

Jesaja 24:18  Wie van die gevaar af probeer wegkom, beland in die vanggate, wie uit die vanggate probeer uitklim, word in die strik gevang

Op die oomblik kyk ek ‘n reeks ’24 to Life’.  In elke episode word 2 individue se 24 uur voor hul met hul tronkstraf begin, gevolg. 

Wat sal jy doen as jy nog net 24 uur het voor jy vir jare van jou geliefdes, jou straf in ‘n tronk moet gaan uitdien?

Sonder uitsondering het elkeen van hierdie individue bitter berou.  Ongelukkig het die berou te laat gekom.  Hul het te laat besef dat hul dade ander rondom hul impakteer.  In die laaste episode het die owerhede ‘n ma (sy is ‘n gekwalifiseerde rekenmeester) toegelaat om haar baba deur induksie in die wêreld te bring voordat sy haar straf begin uitdien.  Die babaseuntjie is drie weke oud as sy die tronk binnestap.  Hy sal amper 10 jaar oud wees teen die tyd dat sy vrygelaat word.  Hoeveel van hierdie kind se lewe gaan sy misloop en sal sy ooit die verlies aan tyd kan opmaak?  Gaan verhoudings die tyd deurstaan. 

Elkeen het ‘n verduideliking of regverdiging hoekom hul die misdaad gepleeg het en sover was niemand nog voorheen skuldig bevind aan enige misdaad nie.  Meeste van hul wil verhoudings herstel alvorens hul, hul straf begin uitdien.  Dit op sigself is ‘n stryd, want mense is diep teleurgestel in hul.  In baie gevalle het hul al hul geloofwaardigheid en respek verloor in die oë van hul geliefdes.

Een jongman het grootgeword in ‘n goeie ouerhuis, met geen gebrek nie, maar met sy ouers se egskeiding op die ouderdom van 17 jaar, ontspoor sy lewe.  Soos met baie van die gevalle, begin die persoon dagga gebruik, dan sterker dwelms en uiteindelik gaan dit oor tot misdaad om die dwelmgebruik te finansier.  In ander gevalle is dit blote gierigheid wat hul dryf tot witboordjiemisdaad.

Hoe ons dit ookal wil beredeneer, misdaad is nie aanvaarbaar nie.  Te veel mense reken hul kan daarmee wegkom.  Op ‘n dag word jy gevang en dan is dit nie net jy wat die prys betaal, maar almal na aan jou. 

Hou op met dit waarmee jy besig is, voor jy gevang word.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...