Wednesday, 29 February 2012

Die Heilige Gees

Die engel antwoord haar:  “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek.” (Luk 1:35)

Ons dien 'n drie-enige God:  Vader, Seun en Heilige Gees. 

Wanneer die Heilige Gees jou lewe beheer raak dit soveel makliker om die eie ek te verloën.  Dit is soos om van ‘n afstand beheer te word.  Jy hoef nie meer ‘n wag voor jou mond te plaas nie, want die Heilige Gees sal dit beheer.  Jy hoef nie meer die duiwel te vrees nie, want die Heilige Gees omvou en beskerm jou.  Dit is ‘n lewensveranderende ervaring en jou lewe is eenvoudig nie meer dieselfde nadat die Heilige Gees beheer van jou lewe oorgeneem het nie. 

Dis nie nodig om die stryd alleen te stry nie!

Tuesday, 28 February 2012

Neem God op Sy Woord

Hebreërs 13:5  God self het gesê:  “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Om God blindelings te vertrou, jou lewe in Sy hande te plaas, dis wat Hy van my en jou verwag.  Dan word sy belofte waar;  dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie.  

Ken Hom in al jou besluite.  Probeer om nie eers te doen en agterna vir God vir hulp te vra nie.  Ons kan so impulsief wees.  Maak jou behoeftes deur gebed en smeking aan Hom bekend.   Wag vir God.   Dit is een ding om jou lewe in Sy hande te plaas, dis ‘n ander saak om dit daar te laat.  Veral as jy niks sien gebeur nie.

Neem God op Sy Woord.  Hy sal jou nie teleurstel nie.

Monday, 27 February 2012

Vlieg met arendsvlerke

Jesaja 40 : 31  Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Mag hierdie vers die wind onder jou vlerke wees sodat jy hoog en vry soos ‘n arend sal vlieg.  

Soms kom ‘n mens op ‘n punt waar jy soggens opstaan en voel asof jy nooit geslaap het nie.  Jy beleef ‘n doodse moegheid, selfs al het jy vroeg gaan slaap.  Jou oë en kop voel dik terwyl jy met sleepvoete badkamer toe loop.  Selfs na jou eerste koppie koffie, wonder jy steeds hoe jy deur die dag gaan kom.  Die lewe is een lang marteling. 

Daar kan ‘n mediese rede wees, maar dit kan ook wees dat jy moet ophou om alles alleen te doen.  Dalk het die tyd aangebreek om Hom toe te laat om jou met krag te vervul.  Sodra jy Hom toelaat om oor te neem, sal jy met nuwe krag vervul word en sal jy weer jou ou self word.  Die lewe sal weer ‘n vreugde vir jou word.

Sunday, 26 February 2012

God van medelye

Jesus het 'n wonderlike manier gehad om deur middel van gelykenisse 'n boodskap oor te dra, maar daar is ook ware verhale wat Hy laat opteken het sodat jy die Bybel makliker kan verstaan.  Iemand se getuienis en ervaring van Sy almag is eerstehandse bewys van Sy almag.

Jesus het blindes laat sien en verlamdes laat loop!  Wat is die kanse vir iemand wat blind is om eensklaps te kan sien of vir 'n verlamde persoon om net op 'n dag op te staan en te loop?   Onmoontlik, behalwe as Jesus 'n wonderwerk laat geskied.

Weet jy wat is selfs meer merkwaardig?  Die blindes het daar langs die pad gestaan en slegs gehoor dat Jesus daar verbygaan.  In geloof het hul uitgeroep:  “Wees ons barmhartig!”  Ander het hulle stilgemaak, maar hulle het weer en weer uitgeroep.  Jesus het gehoor en gevra wat Hy vir hulle kon doen.  Hulle het versoek dat hul oë geopen mag word.  En dan staan daar die pragtige woorde in Mattheus 20:34  “En Jesus het innig jammer vir hulle gevoel en hul oë aangeraak en dadelik kon hulle sien.”  God het medelye met die mens.  Hy kom tot stilstand en hoor ‘n blinde se noodroep, maar nog meer, Hy beantwoord die hartewens van ‘n doodgewone mens.

Dalk roep jy ook vandag uit na God.  Jy is so mismoedig, magteloos en desperaat, want jy sien geen uitkoms.  Of jy nou 'n ongeneeslike siekte het, finansiële probleme, verhoudingskwessies ervaar, probleme by die werk het... dit maak nie saak hoe klein of groot jou probleem, roep uit tot God en onthou die woorde van Mattheus 20:34, want ons God het medelye met jou.  Dieselfde God wat 'n blinde kan laat sien of 'n verlamde weer kan laat loop, kan jou help met jou krisis.

Thursday, 23 February 2012

Laat God se lig vandag deur jou skyn


Ps 18 : 29 U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my.

Laat toe dat God deur jou skyn, dat Hy sigbaar is in jou optrede teenoor ander. 

Partykeer dink ek mense is so gewoond aan preke en geestelike boodskappe dat hul dit nie meer hoor nie.  Dit is nou maar eenmaal so dat 'n kind veel meer leer deur 'n ouer se gedrag dop te hou as deur wat die ouer mondelings oordra.

Die motorwag wat daar op die warm teer ure deurbring om motoriste parkeerplek aan te wys en hul motors op te pas, het ook ‘n vriendelike woord nodig.  Die dame wat jou inkopies in ‘n sak pak, sal ‘n dankie waardeer.  As die supermark se tou lank is en daar is iemand met net ‘n paar items agter jou, nooi hul om voor jou te betaal.  Die persoon wat ‘n verkeerde nommer geskakel het, sal baie verbaas wees oor seënwense in plaas van ‘n afjak.  Die taxi wat voor jou indruk sal baie verbaas wees as jy vriendelik waai eerder as om obsene tekens terug te maak.  Jou kollega met wie jy nie oor die weg kom nie, het ook 'n vriendelike woord nodig.

Laat God se lig vandag deur jou skyn in hierdie donker wêreld. 

Wednesday, 22 February 2012

'n Dag soos enige ander dag... of nie

Lukas 1 : 31 Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee

Elke dag het sy roetine.  Jy staan op, maak gereed om jou dagtaak aan te pak, en dag na dag verloop, sieldodend, dieselfde. Elke dag is so gewoon dat jy kan gil daarvan. 

Vir Maria was dit ook ‘n doodgewone dag toe die Engel haar besoek het.  Sy sou nooit daardie oggend kon droom van hierdie besonderse gebeurtenis nie, dat sy van alle mense uitgekies is om die Koning te baar nie.

Dalk hou vandag vir jou iets besonders in.  Dalk is vandag vir jou ‘n spesiale dag/datum.  God maak sommige dae meer spesiaal as ander.  Soms stuur Hy Engele oor jou pad, soms is jy bedoel om 'n engel vir iemand anders te wees.  Hy hou van verrasings en om gewone mense op spesiale maniere te gebruik. 


Tuesday, 21 February 2012

Eer jou vander en jou moeder

Lukas 1 : 27  Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid.  Die naam van die maagd was Maria.

Maria was Jesus se moeder.  God het ‘n maagd gekies om Hom in die wêreld te bring.  Sy lewe was tot op twaalf redelik normaal en Maria en Josef het Hom sekerlik ook met liefde oorlaai. 

Daarom glo ek dat God ‘n spesiale liefde vir moeders het. Ek kan my net indink hoe Maria se moederhart geweën het toe Jesus gekruisig is. 

God ag ouers so belangrik dat Hy in Sy wet vir jou ‘n reël neerlê:  “Eer jou vader en jou moeder”.  Betoon jy liefde aan jou ouers?  Besoek jy jou ouers gereeld?  Help jy hulle waar en wanneer jy kan?  As hulle van jou afhanklik is, herinner jy hul op ‘n vernederende manier daaraan of sien jy dit as ‘n liefdestaak om vir hul te sorg? 

Moenie te laat agterkom hoe kosbaar hulle is nie.  Gee die erkenning, liefde en blomme terwyl hul nog leef.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...