Tuesday, 31 July 2012

Nuwe Begin


Openbaring 21:5   Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

Die een ding wat my fassineer is hoe mense aan insidente uit die verlede bly vasklou.  Terwyl jy vasklou, is jou hande toe en kan jy nie die nuwe dag (the present = geskenk) wat God vir jou vandag wil gee ontvang nie. 

Wat gebeur met iets wat jy oor ‘n tydperk hou?  As dit ‘n appel is, raak hy vrot...  As dit ‘n blom is, verwelk dit...  As dit ‘n boek is, vergader hy stof...die blaaie vergeel... 

Vandag is ‘n geskenk uit die hand van God, ‘n nuwe begin.  Dit wat verby is, is verby.   Laat gaan.  Alles gaan verby, die goeie, maar genadiglik ook die minder goeie.  Gun jouself die vreugde van ‘n nuwe begin.

Monday, 30 July 2012

Watter vrugte dra jy?

Galasiërs 5 : 22   Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

Wanneer jy God as jou verlosser en saligmaker aanneem, bely jy dat jy in ‘n drie-enige God glo;  Vader, Seun en Heilige Gees.  Dan dra jy die vrugte van die Heilige Gees soos in Galasiërs verwoord. 

Jy sal jou naaste onvoorwaardelik liefhê en deur jou trane sal vreugde uit jou straal.  Jy sal vrede bewerkstellig eerder as konflik.  Andere sal verbaas staan oor die geduld wat jy aan die dag lê.  Jy sal te alle tye vriendelik wees en ander sal jou goedhartigheid ervaar.  Jy sal nie eens daaraan dink om ontrou te wees nie.

Sunday, 29 July 2012

Voorspoed en nie teenspoed

Jeremia 29 : 11  Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here:  voorspoed en nie teenspoed nie.  Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

In Jeremia kry jy die bevestiging dat God presies weet wat Hy vir jou beplan.  Hy wil vir jou ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!  ‘n Verwagting is iets waarna jy uitsien.  Dit is iets wonderlik en groots.  Ongelukke tref jou nie maar sommer net nie.  Jy het nie skielik geluk getref nie.  Dit is alles binne God se plan.  En dit is duidelik dat teenspoed nie deel van Sy plan is nie, slegs goeie dinge. 

Terwyl jy voel dat alles en almal teen jou is, kan jy gerus wees, God is aan jou kant en soos vir Jeremia, verseker Hy jou dat Hy vir jou net goeie dinge beplan.

Thursday, 26 July 2012

Wat as daar nie 'n hemel is nie?

Jakobus 1 : 7-8  So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

Daar is mense wat sinies is en vra:  “Wat as daar nie ‘n hemel of ‘n ewige lewe is nie?”  Die vraag moet eerder wees:  “Wat as daar wel ‘n hemel en ‘n ewige lewe is en jy het dit nie gemaak nie?” 

Dit gaan nie oor wie reg of verkeerd is nie, maar eerder of jy daar gaan uitkom al dan nie.  Ek sal eerder eendag teleurgestel wees dat daar nie ‘n ewige lewe is nie as om te moet hoor dat ek die ewige verdoemenis moet tegemoet gaan omdat ek nie in God geglo het nie.  Daarom gaan ek so leef dat ek 100% seker is dat ek die Ewige Lewe sal beërwe.  Jesus Christus is reeds daar om vir my plek voor te berei en ek kan nie wag nie!   

Glo onwrikbaar in Sy beloftes.

Wednesday, 25 July 2012

Wees stil en wag

Ps 69:7 Laat die wat U verwag, deur my nie beskaamd staan nie, O Here.
Om stil te wees en op God te wag, is seker een van die moeilikste dinge.  Geduld is 
nie een van die mens se goeie karaktertrekke nie, want ons is van nature ongeduldig.  Die een oomblik vra ons nog vir hulp en die volgende oomblik doen ons in elk geval wat ons wil. 

Twyfel tree so maklik in.  Ons vra nog vir God om te help dat ons tog nie een van die is wat geraak gaan word deur herstrukturering nie, dan beplan ons al ons CV, want sê nou maar net ons is wel een van hulle. 

Om vir God te vra vir hulp beteken dat ons Hom sal vertrou, dat ons glo dat Hy kan voorsien, al lyk of klink dit ook onmoontlik.  Geloof is om die onmoontlike te glo en verwag. 

Tuesday, 24 July 2012

Vertel vir almal

2 Kor 1 : 4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons.  Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer.  Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.
Jou grootste pyn en smart kan ‘n ongelooflike getuienis vir iemand anders word.
 
As jy God se ondersteunende hand deur jou diepste beproewing ervaar het, moet jy vir andere daarvan vertel.  Daar is geen beter getuienis as ‘n ware verhaal van iemand wat weet dat God deurlopend daar was nie.  Gebruik jou ervarings om ander te bemoedig soos God jou bemoedig het.

Monday, 23 July 2012

'n Wonderlike draaiboek

Mel Gibson het met die rolprent The Passion of Christ, die skrikwekkende werklikheid van Christus se lewe en sterwe vasgevang.  Sou ‘n ongereddene daarna kyk, kan hy/sy dit sien as ‘n ongelooflike draaiboek.  Ek en jy weet dit is die skrikwekkende waarheid. 

Alhoewel dit meer as 2000 jaar gelede plaasgevind het, is dit uiters relevant.  Mense verraai steeds mekaar.  Hul is steeds liggelowig.  Jesus Christus het in die middel van twee sondaars aan die kruis gehang, van God en mens verlate.  Bloed het oor sy liggaam gestroom.  Sy pyn en lyding was onmenslik.  En Hy het dit vir jou en my gedoen, sondaar mense. 

1 Petrus 1 : 19  Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.  Hy het geweet wat vir Hom voorlê en ook getwyfel, maar God het Hom nie toegelaat om kop uit te trek nie. Die prys moes betaal word, sodat elke mens uiteindelik vry kon wees. 

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...