Thursday, 28 February 2013

Onbeplan?

Jeremia 1 : 5  Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken

‘n Onbeplande swangerskap beteken geensins dat jou geboorte nie beplan is nie.  Jy mag dalk voel dat jou geboorte ongewens was.  Dalk voel jy verantwoordelik vir baie dinge wat destyds in jou ouers se lewe verkeerd gegaan het.  Miskien het jou pa die hase pad gekies.  Dalk het jou ouers bymekaar gebly, maar daar was nie veel liefde nie.  Of jy voel dalk dat hulle jou verwyt omdat jy hul jeug gesteel het. 

Lees Jeremia 1 : 5 oor en oor.  God het jou in daardie spesifieke moederskoot geplaas.  Hy het beplan dat die twee mense wat jou gemaak het bymekaar uitkom.  Dit was alles deel van Sy groot plan met jou.  En al was jou kinderjare nie volmaak nie, weet steeds dat God ‘n plan vir jou lewe en toekoms het.  Sy liefde vir jou ken geen perke nie.

“What you need to know about the past is that no matter what has happened, it has all worked together to bring you to this very moment.  And this is the moment you can choose to make everything new.  Right now.” Unknown

Vandag kom die versekering hard en duidelik na jou:  “Jy is nie onbeplan nie – jy is TE spesiaal vir God.

Wednesday, 27 February 2013

Om jou oog op God gerig te hou

Jesaja 40 : 31 maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Jare gelede, toe ek my eerste wedloop as Sub A’tjie (dit was toe nog nie Graad 1 nie) afgelê het, het my pa vir my agterna gesê dat ek sou gewen het as ek nie soveel omgekyk het nie.  As atleet moet jy gefokus wees, jou oog op die wenstreep. 

So moet ons as Christene ook ons oog op Jesus hou.  Daar sal tye kom dat jou aandag afgelei gaan word.  Jy gaan versoekings teëkom, maar wanneer jy jou oog op Jesus hou, sal jy net so ‘n tersluikse blik op die versoeking gooi en dan weer fokus op Jesus en wat Hy van jou verlang.   

Terwyl Isak met sy enigste seun, waarvoor hy soveel jare gewag het, teen daardie berg uitgestap het om hom te gaan offer, het hy deurlopend sy oog op God gehou en vertrou dat God sal voorsien.  Hou jou oog op God.

Tuesday, 26 February 2013

Die smal paadjie

Eksodus 20 : 12 "Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Erken jy onbeskaamd dat jy ‘n kind van God is?  Doen jy dit ook wanneer jy met ‘n glas in die hand saam met jou kollegas ‘n drankie na werk geniet?  Doen jy dit ook op die paviljoen as jou span verloor?  Doen jy dit ook as jou ouers jou tugtig. 

God het vir Moses die tien gebooie gegee.  Dit is die handleiding vir ons as mens.  Net 10 reëls, maar hulle is nie onderhandelbaar nie.  Jy SAL jou ouers eer, selfs al verdien hulle dit nie.  En so is daar nege ander gebooie.  Die eerste gebod is die basis.  As jy die eerste gebod regkry, is die res maklik.  As jy jou naaste so liefhet soos vir God, dan sal jy jou ouers eer, nie steel, nie doodslaan, nie begeer...  Dit is ‘n smal paadjie, maar dit lei na die Ewige Lewe.


Monday, 25 February 2013

Skepper God

Genesis 14 : 19  Skepper van hemel en aarde

Het jy al ooit gedink hoe wonderbaarlik die skepping is?  God het dit alles gemaak, maar die aarde het hy baie spesiaal gemaak.  Dink maar net aan die wonder van swaartekrag.  ‘n Ronde bolletjie, genaamd planeet aarde, wat tussen niks en nêrens in die rondte tol.  Niemand val af nie, niemand raak duiselig nie. 

Dink aan die mens;  ‘n ingewikkelde samestelling van brein, ledemate, organe, spiere, bloed, are... en dit leef, haal asem, beweeg, dink...  Alles werk in perfekte harmonie. 

God het die mens die vermoë gegee om ingewikkelde dinge uit te vind, maar al is die mens ook hoe intelligent, is daar steeds dinge wat ons God nie kan nadoen nie en steeds soveel wat ons nie verstaan nie.  Dink maar aan reën...  Hy is Wonderbaarlik, Skepper, Raadsman, sterke God.

Sunday, 24 February 2013

Ware vriende

Spreuke 24 : 26  Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend.

Moet nooit die waarde van ware vriende onderskat nie.  ‘n Ware vriend(in), wat ook ‘n kind van die Here is, is soos om Christus in persoon langs jou te hê.  Hulle is egter dungesaai. 

Die eerste stap om ‘n goeie vriend(in) te hê, is om een te wees.  Wees daar vir jou vriende(inne).  Stel opreg belang in hul.  Onthou die dinge wat vir hulle belangrik is.  Wees daar vir hulle wanneer die lewe hul op ‘n sylyn plaas. 

Jy hoef nie altyd te gee of te praat nie.  Soms moet jy net daar wees.  Skakel soms net om te hoor hoe dit gaan.  Moenie altyd iets in ruil verwag nie.  Wees onbaatsugtig. 

As iemand iets met jou deel en vra om dit vertroulik te hou, sorg dat dit net by jou bly.  Moenie oordeel nie.  Wees net jouself.  Wees opreg.  Wees daar.


Thursday, 21 February 2013

Kinders is soos vlieërs

Matteus 19 : 14  Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”
Kinders kom nie met ‘n handleiding nie en om alles te kroon het elkeen ook sy/haar eie persoonlikheid.  Menige ouer sal saamstem, om ‘n kind groot te maak is nie maklik nie.  Om hul geestelik voorbereid die wye wêreld in te stuur verg toewyding.
Kinders is soos vlieërs . . .  ‘n Mens sukkel ‘n leeftyd lank om hulle "van die grond af te kry”. 
Jy hardloop met hulle totdat julle albei poegaai en uitasem is …
en as jy weer sien, het hulle in die grond geduik.
Dan probeer jy maar so goed jy kan afstof en regbuig en aanpas en troos en weer wys hoe dit gedoen moet word. 

En die hele tyd sê jy vir hulle... eendag dan sal hulle vlieg …
Uiteindelik is hulle in die lug!
Maar dan moet jy hulle meer tou gee.  Jy moet die lyn waarmee jy hulle al die tyd vasgehou het, al langer en langer maak.  Die hele tyd weet jy dit sal nie lank wees voordat die pragtige “vlieër” wat jy self gemaak het, sal losruk en onafhanklik die ruimte invaar nie. 

Die lewenslyn wat julle al die tyd aan mekaar gebind het sal breek en jou kind sal alleen die vryheid van volwasse-wees moet hanteer. 

Eers as jy hulle sien vlieg, sal jy weet of jy ‘n goeie ouer was!                                                     
(oorsprong onbekend)

Wednesday, 20 February 2013

Om te glo

Efesiërs 1 : 14  Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos.

Saam met verlossing, kom daar vervulling met die Heilige Gees.  Met die Gees van God in jou, sal jy weet wat reg en verkeerd is.  Sy Gees sal jou lei om ‘n lewe van oorwinning te lewe. 

As Christene bely ons tydens die eredienste dat ons glo in ‘n Drie-enige-God:  Vader, Seun en Heilige Gees.  Vir sommige mense is dit moeilik om te begryp.  Tog is dit nie nodig om alles te verstaan nie.  God verwag van ons om eenvoudig te glo soos ‘n kind. 

As jy rede soek om dit te bevraagteken, sal jy dit kry, maar wat gaan dit jou baat.   Geloof is om te glo dit wat jy nie kan sien nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...