Monday, 27 October 2014

Kan enige iemand God sien?



Psalm 19 : 2 Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.

‘n Klein seuntjie het sy ouer suster genader met ‘n vraag oor God.  “Sussie, kan enige iemand vir God sien?” 

Sy Sussie was besig en daarom het sy net vinnig geantwoord:  “Nee, moenie simpel wees nie.  God is daar bo in die hemel, so niemand kan Hom sien nie.”

Soos tyd verbygegaan het, het die outjie steeds bly dink oor sy vraag en later sy ma genader:  “Mamma, kan enige iemand vir God sien?”  Sy ma het saggies geantwoord: “Nee, my kind.  God leef in ons harte, maar ons kan Hom nie regtig sien nie.”

Nie lank daarna nie, neem sy oupa hom saam om vis te vang.  Die twee spandeer ‘n hele dag saam op een van die mooiste dae in ‘n lang tyd.

Die son begin sak en die oupa katrol sy lyn in waarna hy sy volle aandag wy aan die skoonheid wat voor hom ontvou.  Toe die seuntjie die diepe vrede en saligheid op sy oupa se gesig sien terwyl hy na die pragtige sonsondergang kyk, besluit hy om met sy oupa te praat oor die vraag waarmee hy nou al lank worstel.  “Oupa, ek wonder of oupa my kan help?  Ek het nou al vir Sussie en vir Mamma gevra, maar ek wonder steeds… kan enige iemand regtig vir God sien?”

Sy oupa het nie sy oë een oomblik van die sonsondergang afgeneem nie, maar wel geantwoord:  “Seun, as ek sien wat ek nou sien, sien ek niks anders as God nie.”

(Skrywer onbekend)



Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Sunday, 26 October 2014

Hy sal hul gebed nie verag nie



Psalm 102:18  Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie.

As jy ‘n WP ondersteuner  is, is die Kaap vandag Hollands.  As jy ‘n Goue Leeu ondersteuner is, is jy waarskynlik steeds teleurgesteld in jou span.  So gaan dit maar in die lewe.  Terwyl sommiges lag, huil ander;  terwyl party eufories is, hang ander se kop van teleurstelling.   Wedstryde lewer gewoonlik net een wenner op.

Vir my gaan dit nie soseer oor die uiteinde nie, maar oor hoe ons die spel aanpak, hoe ons speel en veral hoe ons eindig.  Jy kan die beste ‘game plan’ hê, maar as jy nie met integriteit speel nie, kan jy nie trots wees op enige oorwinning nie.

Wat my Saterdag opgeval het, was dat beide spanne gebid het na die wedstryd.  Wanneer ons wen, dink ons dit is logies om dankie te sê, maar min sal ook bid wanneer hul verloor het.  Dit is wat my sal bybly van die Goue Leeus.  Hulle het na die wedstryd, ten spyte daarvan dat hul nie gewen het nie, steeds gebid.  Toe daar na die tyd ‘n onderhoud gevoer is, was die eerste woorde ook: “Dankie aan ons Hemelse Vader wat ons tot hier gebring het.”  Tweedens het hul WP geluk gewens met hul oorwinning.  Dit is nie dat ek enige iets van die WP se oorwinning wil wegneem nie, ek is immers ‘n WP ondersteuner, maar dit was ‘n riem onder die hart om ‘n ‘verloorspan’ met soveel grasie te sien verloor. 

Dalk het jy ook gehoop op ‘n wen, maar verloor.  Moenie dat dit jou laat hoop verloor nie.  God luister net soveel na die gebed van die ‘verloorder’ as wat Hy na die ‘wenner’ se gebed luister.  Praat jou hart uit teenoor Hom.

Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Skakel in op www.radiodisa.com 'n internet Radiostasie wat jy op jou selfoon of rekenaar sal vind.  Elke Maandagaand van 18h00 - 20h00 bring ek vir jou o.a. "Memories are made of this", musiek van toeka tot nou.  19h00 Wat sê die Woord?, 19h10 Gedig Voorlesing, 19h15 Spaar of Spandeer en 19h30 Dr Gerhard Kotze met die Aandboodskap.

Thursday, 23 October 2014

Hoe om gelukkig te wees



Spreuke 16:3  Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.

Het jy vanoggend met ‘n lied in jou hart wakker geword, of het jy swaarmoedig gesug:  “Aag nee, nog ‘n dag… hoe gaan ek hier deurkom?”  

Daar kom tye in ons almal se lewe dat ons lewensmoeg voel.  Ons is broos en voel jammer vir onsself, want die lewe het ons so ‘n bietjie hardhandig behandel.   Vrede en geluk bly jou ontwyk.  Of jy nou begrawe voel onder skuld… jou in ‘n afbrekende verhouding bevind…  ongelukkig is by die werk… gediagnoseer is met ‘n ernstige siektetoestand… vervolg word… of sommer net verveeld is met jou bestaan, dit affekteer jou sodoende dat jy nie lus is vir enige iets nie.  Natuurlik kan negatiewe gedagtes ‘n afwaartse spiraal effek hê, wat jou ongelukkig stem.

Nie een van ons kan werklik ons situasie verander nie, maar ons kan die manier waarop ons daarna kyk en daarop reageer beheer en dit kan jy net doen as jy God in elke situasie ken en vertrou.  Verskuif jou fokus van jou omstandighede na God.  Onthou jy nog hoe Josef uit die put gehaal is?  God gaan jou ook uit die put haal waarin jy jouself tans bevind en jy gaan weer vreugde en vrede ervaar.


Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Wednesday, 22 October 2014

Mooi Woorde



Psalm 45 : 2  Mooi woorde roer in my hart…
Die mooiste glimlag verberg die grootste hartseer;
Die sagmoedigste mense is al die ergste verneder;
Die mooiste oë het al emmers trane gestort;
Die warmste harte het al die meeste pyn gevoel;
Die stilste mense het die diepste geheime;
Die wat die gouste oordeel het die meeste geraamtes;
Die hardste lag verberg die minste selfvertroue;
Die mooiste liefde is nie selfsugtig nie;
Die mooiste sprokie is die een in jou drome;
Die beste plek om te wees is in iemand se hart;
Die gelukkigste mense is die dankbaarste;
Die beste dokters is mamma’s;
Die diepste plooie vertel die mooiste stories;
Die lekkerste gevoel is om verlief te wees;
Die mooiste woorde is "Ek is lief vir jou";
Die beste dinge in die lewe is gratis;
Die beste pad is die een waar jy die meeste geleer het;
Die edelste mense het die swaarste pad geloop;
Die diepste siele het op die hardste manier geleer;
Die meeste aanmoediging kom van jou beste vriende;
Die waardevolste lesse word geleer deur ons grootste seer;
Die wonderlikste geskenk is die geskenk van Lewe;
Die onmoontlikste dinge is moontlik as ons glo;
Die grootste waarborg kry ons in die Woord van God.
(ontvang via epos)


Om ‘n CD te bestel of ‘n dagstukkie in MP3 formaat af te laai, besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...