Thursday, 4 December 2014

Net God verhef



Psalm 75 : 6 – 8   Moet jou nie teen die hemel verhef en aanmatigende dinge sê nie.” Verheffing kom nie uit die ooste of uit die weste of uit die woestyn nie!  Nee, dit is God wat verneder of verhef, Hy is die regter! 

Jy kry mense wat heeltemal anders optree wanneer hulle hul in die geselskap van iemand bevind wat vir hul deure kan oopmaak.    Sodra hul in kontak kom met iemand wat invloedryk of welaf is, ondergaan die mense ‘n hele gedaanteverwisseling.  Sommige praat selfs in ‘n ander stemtoon!  Hulle kan hulself nie keer nie.  

Ek glo dat die manier waarop ons ander behandel, ‘n toets is.  Daar gaan mense jou pad kruis, wat jy op sigwaarde voel, niks vir jou in die sak kan bring nie, maar hierdie mense is uiters belangrik in jou geloofslewe.  En dis juis waar die toets lê.  Gaan jy hul ignoreer of neerhalend hanteeer net omdat hul niks vir jou kan doen of beteken nie?

Feit is dat sommige mense wel vir jou kan deure oopmaak, maar hul hou nie die sleutel tot die ewige lewe nie.  Hulle is nie noodwendig diegene wat die smal pad saam met jou sal stap nie.  Deure wat regtig saakmaak kan vir jou deur die mees onwaarskynlik mense oopgemaak word.  Die bedelaar, die skoonmaker, die bleeksiel op skool, die ongewildste kollega… die onsigbares vir sommige.  Dis hulle wat God gebruik.  Die kuns is om almal te hanteer asof Jesus hul persoonlik op ons pad geplaas het, want Hy het waarskynlik.  Jy weet nooit wie Hy gaan gebruik om jou te verhef nie en onthou… slegs God verhef.

Wednesday, 3 December 2014

Om te slaap te midde van die storm



Deuteronomium 5:13  Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet,

‘n Jongman het vir ‘n werk as plaasvoorman aansoek gedoen.  Toe die boer hom vir sy kwalifikasies vra, het hy geantwoord:  “Ek slaap te midde van ‘n storm.”

Die boer was so ‘n bietjie onkant gevang, maar hy’t van die jongman gehou, so hy het hom in diens geneem.
‘n Paar weke later raak die boer en sy vrou in die middel van die nag wakker van ‘n loeiende storm.  Hy spring uit die bed en gaan roep sy plaasvoorman, maar die slaap vas.  By nadere ondersoek vind hy dat alles beveilig is.  Die hortjies van die plaashuis is goed vasgemaak en langs die kaggel lê ‘n hoop brandhout.   Al die gereedskap en implemente was veilig in die stoor, die trekker in die waenhuis met die deure stewig gegrendel.  Die voerbale was netjies toegemaak onder seile en die diere was versorg, veilig op stal.  Alles was duidelik onder beheer.

Eers toe onthou die boer die jongman se woorde:  “Ek slaap te midde van ‘n storm.”
Dit was net moontlik omdat die man elke dag sy werk noukeurig en getrou gedoen het.  Niks is vir die volgende dag oorgelaat nie en niks afgeskeep het nie.  Dus kon hy rustig slaap sou daar ‘n storm uitbreek, want hy’t elke dag alles onder beheer gehad en het vrede in sy gemoed gehad.

Moral:
If we tend to the things that are important in life,
if we are right with those we love and behave in line with our faith,
our lives will not be cursed with the aching throb of unfulfilled business.
Our words will always be sincere, our embraces will be tight.
We will never wallow in the agony of 'I could have, I should have.'
We can sleep in a storm.
And when it's our time to go, our good-byes will be complete.

-- Moral by Rick, from his
Blog, "Life in Seminole Heights"

Tuesday, 2 December 2014

Verwyte en kritiek



Handelinge 11 : 2  Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt:

Jesus was eenkeer in die Tempel op ‘n Sondag, die rusdag, toe daar ‘n man met ‘n gebreklike hand na hom kom.  Jesus het hom gevra om sy hand na Hom uit te strek en onmiddellik was die man se hand genees.  Die Fariseërs het nie van Jesus gehou nie.  Alhoewel Hy iets goed gedoen het, het hul Hom verwyt omdat Hy op die Sabbatdag iemand genees het.  

Maak nie saak hoe hard jy probeer, of wat jy doen nie, jy sal altyd iemand kry wat nie van jou hou nie.  Selfs al verander jy, of doen presies wat hul wil hê, sal hul jou steeds kritiseer.   Jy kan jouself baie hartseer spaar deur jou eenvoudig nie aan hierdie mense te steur nie.  Jy het nie hul goedkeuring nodig nie.  Almal hoef ook nie van jou te hou nie.  Hulle mag jou dalk afkraak of kritiseer -  bly jy net gefokus op God.  Hoe meer hul kritiseer of verwyt, hoe meer sal God die geveg namens jou veg en jou seën.  Hulle mag jou dalk verneder, maar God sal jou ophef.  Bly gefokus op die toekoms en die Woord van God, sodat Hy jou die krag kan gee om die kritici te ignoreer en beweeg dan voort om die seën wat Hy vir jou in stoor het, te ontvang.

Monday, 1 December 2014

Sit, Bly, Bid



Rachel Bickford vertel die volgende verhaaltjie.

Die pastoor het gesukkel om mense te kry om kerk by te woon.  Toe ontvang hy ‘n merkwaardige en baie sjarmante antwoord op sy gebede.

Sondagmiddag, presies vyfuur, terwyl die orrelklanke deur die kerk klink, stap hy na die preekstoel.  Hy is die pastoor van die “Pilgrim Congregational Church” in Noord Weymouth, Massachusetts en die gemeentelede is sy tweede familie.  Hy sien die getroues, wat altyd daar is.  Lucy, ‘n ouer dame, met ‘n huppel in haar stap en sysagte goue hare.  Sam, soos gewoonlik in die voorste ry, terwyl hy met sielvolle, bruin oë na die pastoor kyk.  Chloe, ‘n lewenslustige jongeling wat heeltyd rondskuif totdat die koor begin sing.  O ja, ek moet darem net noem Lucy is ‘n terrier, Sam is ‘n pug en Chloe is ‘n Bernese berghond.
Ons diens vir mense en hul troeteldiere is ‘n reuse sukses.  Dalk is die saadjie geplant lank voor dit ‘n aanvang geneem het, want die pastoor wou altyd ‘n veearts word.  Hy was altyd gelukkig in die gemeente, maar het opgelet dat al minder mense kerk toe kom, seker maar as gevolg van meer sport op Sondae en so ‘n skootjie ongeloof.  Een Sondag het hy so na die leë sitplekke gestaar, en in sy gedagtes vir God gevra wat hy kan doen om mense weer opgewonde daaroor te maak om kerk toe te kom.

So gebeur dit eendag dat hy ‘n epos kry van ‘n vriend wat vir gebed vra.  Terwyl hy sy kop laat sak om te bid, val sy oog op sy twee honde wat by sy voete lê;  sy getroue skaduwees.  Skielik kom Psalm 148 by hom op:  Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep;… wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg,

Net daar het hy besef wat gedoen moet word.  Mense neem hul honde graag saam op uitstappies, so hoekom nie kerk toe nie?

Natuurlik was sy vrou aanvanklik geskok oor sy idee, maar oplaas het sy gesê:  “Jy weet, dis so ‘n wilde idee, dit mag dalk net werk.”

Ek het die idee met ander kerkleiers bespreek en hulle het saamgestem dat daar niks is om te verloor nie, alhoewel dit ‘n bietjie verregaande klink.  Net daar begin ons die volgende Sondag se diens adverteer.  Daar sal tee en eetgoedjies wees na kerk en ook ‘n geleentheid om so ‘n bietjie balle te gooi vir die honde.  Alle honde was welkom, solank hul aan ‘n leiband was.  Die opskrif was:  “Woof’nWorship’.

Die eerste Sondag was ek ‘n bietjie senuweeagtig en het skielik gewonder wat sou gebeur as die diere nie oor die weg kom nie, maar ek het my twee getroue vriende saam met my kansel toe geneem.  Toe ek daarvandaan oor die gemeente uitkyk, sien ek dat byna elke persoon ‘n troeteldier by hul het, wat baie opgewonde lyk vir die groot geleentheid.   Gedurende die diens het ek opgelet hoe ‘n Duitse Herdershond ‘n piepklein Chihuahua se ore lek.  Toe die koor “Amazing Grace” sing, het ‘n Snauzer saamgesing, en hy’t nogal amper noot gehou!  Die beste van alles was dat die mense ewe skielik baie meer met mekaar gekommunikeer het.  Iemand het opgemerk dat hul altyd uitgevoel het, maar dat hul nou, met hul hond, deel voel van die gemeenskap.

Een dame wat ‘n stryd teen kanker gevoer het, het gesê:  “Elke Sondag dat ek voel ek gaan liewer in die bed bly, onthou ek my verantwoordelikheid teenoor my hond, Diego, en natuurlik ons albei se nuwe vriende wat daar op ons wag.”

Die pastoor het ‘n tevrede glimlag op sy gesig gehad terwyl hy oor die gemeente kyk en besef dat God dikwels verregaande maniere het om jou gebede te beantwoord.  Dit mag nie naastenby wees wat jy ingedagte het nie, maar dit is verseker perfek.

Sunday, 30 November 2014

Dankbaar in alle omstandighede



1 Thessalonicense 5 : 18  Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Dank jy God in alle omstandighede?  Let op dat die teks lees “alle” omstandighede, m.a.w. nie net as dit goed gaan nie.  Dit mag dalk onnatuurlik aan die begin voel om Hom te dank terwyl jy sukkel om kop bo water te hou, maar dit is presies wat ons moet doen.  Daar is altyd iets om dankbaar voor te wees.  Fokus op wat God gaan doen in jou lewe, nie op die krisis waarin jy jouself bevind nie.  

As jy dankbaar is, open dit die deur vir God om oor te neem.  Die teks sê immers dat dit is wat God van ons verwag.  Hoe nader jy aan Hom is, hoe meer sal jy Sy krag en guns ervaar.  Probeer ‘n lewe van dankbaarheid leef. 

“Vader, ten spyte van dit waardeur ek vandag gaan, kies ek om U te loof en prys…  alhoewel ek siek is, weet ek dat U my gesond gaan maak… al gaan my huwelik deur stormwaters, weet ek dat U ons weer in kalm waters sal bring… Dankie vir my vriende, my familie, vir nog ‘n dag wat ek gespaar is…” 

Sodra jy aan redes begin dink om Hom te dank (in alle omstandighede), sal jy al meer redes tot dankbaarheid identifiseer.  Voor jy jouself kom kry, is die krisis verby en besef jy dat God jou veilig, sterker en wyser anderkant laat uitkom het… nog ‘n rede tot dankbaarheid.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...