Thursday, 29 January 2015

Gelowige ouers

1 Tessalonisense 5 : 18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.

Royden Groenemeyer het in sy 18 jaar al meer kere by die dood omgedraai as wat sy ma wil onthou. Van twee-jarige ouderdom was hy in en uit hospitale. Dokters kon nie met sekerheid vasstel wat die oorsaak vir sy ineenstortings was nie. Een keer was hy vir drie maande in 'n koma en wou die dokters sy ouers oorreed om toestemming te gee om die masjiene af te skakel, maar hul het geweier. Een aand het hul besluit om saam met vriende deurnag te bid. Die volgende oggend het die dokter geskakel om te laat weet Royden het uit sy koma ontwaak. 

Op 'n stadium het hy 'n kanker gewas gehad en bestraling ondergaan. Toe sy ouers sy lyding aanskou, het hul besluit om die behandelings te laat staak. Alhoewel dokters gereken het hul teken sy doodsvonnis, het daar weereens 'n wonderwerk gebeur, want opvolg toetse het bewys hy is kankervry. 

Royden het egter nie ongeskonde hierdeur gekom nie en moes 'n spesiale skool bywoon omdat hy swaar geloop het en ook 'n spraakgebrek gehad het, maar ook hier het hy geseëvier, want vandag is hy die trotse eienaar van 'n senior fase-sertifikaat, die ekwivalent van 'n matrieksertifikaat vir gestremdes.

Hy is tegnies aangelê en hoop om 'n entrepreneur te word en ek glo ook hier sal hy sukses behaal, want Royden beskik oor 'n geheime wapen, gelowige ouers wat nooit ophou bid vir hul kind nie. Ten spyte van dokters se bedenkinge, ten spyte van liggaamlike gestremdheid, ten spyte daarvan dat hy 'anders' is, het hy almal verkeerd bewys, met genade van Bo.

So as jy vandag mismoedig is, lees weer die gedeelte oor Royden. Laat toe dat sy sukses jou motiveer om ook vas te byt. Niks is onmoontlik as jy jou kop daarop sit en op God vertrou nie. Gebed is kragtig. (met erkenning aan Kuier)

Wednesday, 28 January 2015

Die regte woorde

Jesaja 50 : 4 Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister.

Daar gaan verseker nie 'n dag verby dat jy nie iemand teëkom wat hul hart teenoor jou oopmaak nie. Soms net op 'n skrefie, maar partykeer sommer wawyd oop. Die lewe druk van alle kante. Ons almal voel die druk van prysstygings, werksdruk, politieke onstabiliteit, ens. Die vraag is egter hoe jy daardie geleentheid hanteer?

Soms spreek jy jou kommer oor iets uit, en dan is die reaksie nie die simpatieke oor waarop jy gehoop het nie. Inteendeel, die luisteraar sluit eenvoudig by jou punt aan en neem dit verder. Bygesê, luister is 'n kuns. Alvorens jy volgende keer die storie verder vat, praat eerder die persoon moed in. Dit sal so verfrissend wees as jy nie ook gal braak nie, maar eerder 'n positiewe opmerking maak wat die persoon hoop sal gee. Ons val so maklik in die lokval van saamkla en negatiwiteit. Onthou negatiwiteit kweek negatiwiteit. 

Wanneer jy God vra om jou te leer luister, sal jy binnekort baie gewild wees, want dis eintlik die klaer se grootste behoefte... om gehoor te word... om daarvan verseker te word dat dinge nie so erg is as wat hy of sy dink nie. Positiwiteit is net so aansteeklik, en jy kan die katalisator wees wat 'n samelewing verander.

Tuesday, 27 January 2015

Eerlikheid = Sukses

Spreuke 2 : 7 Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe.

Van waardes is daar deesdae bitter min te sien. As jy deur koerante blaai of na die TV nuus kyk, dan wil dit eerder voorkom asof die oneerlikes en korruptes diegene is wat sukses behaal. Dis egter net ons persepsie omdat ons nie die volle prentjie kan sien nie. 

Moenie vir een oomblik dink dat God hul gedrag goedkeur nie. Sommige mense moet jy net genoeg tou gee, dan hang hul hulself binnekort op.

Ek verkies om God se Woord te glo en daarvolgens te leef. As Hy sê dat Hy eerlike mense seën met sukses en diegene beskerm wat onberispelik lewe, dan is dit waarna ek gaan streef. 

Waardes kry ons in saam met ons moedersmelk... dis basiese maniere waarmee ons grootgemaak word. Wanneer jou waardestelsel in plek is, sal jy dit nie moeilik vind om binne die wil van God te leef nie, maar as jy nie waardes het nie, dan is daar net een prioriteit en dit is die eie ek. Dit beteken dat elke ouer 'n verantwoordelikheid het om daardie waardes vas te lê. Dis die enigste manier om ons toekoms te verseker... en uiteindelik ware sukses te behaal.

Monday, 26 January 2015

Om te kry wat jy vra


1 Johannes 5 : 14-15 En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra. 
 
God skuld die mens niks. Ons is ongehoorsame, eiewillige en selfsugtige wesens, van wie sommige dink hul het hulself geskape... dat daar geen God is nie. 

Wanneer jy dan 'n teksgedeelte soos die een lees, kry jy eintlik trane in jou oë. Dis nie net 'n kwessie dat ons kan vra nie, maar dat ons inderdaad kan vra met vrymoedigheid. 

Hoe ons dit ookal probeer regverdig, min van ons verdien enige genade van God. As jy God was en jy moes besluit of jy die persoon wat na jou kom se gebede verhoor, wat sou jy gedoen het? Meeste van ons sou seker eers ou koeie uit die sloot gaan haal het en eers 'n houtjie of twee probeer inkry alvorens ons die persoon goed laat verstaan dat ons hom of haar eintlik 'n groot guns bewys net om na hulle te luister. Wonderbaarlik genoeg is dit nie God se aanslag nie. 

God hou nie boek van die kwaad nie. Hy wil hê dat ons die vrymoedigheid moet hê om met ons behoeftes na Hom te kom en dan selfs met die verwagting dat ons gebede verhoor sal word.
Dis beslis 'n les in vergewinsgesindheid wat ons by Hom kan leer. Ons behoort ook ons naaste tweede, derde, vierde... ontelbare kanse te gee en hul steeds met liefde te hanteer... maak nie saak hoe hul voorheen teenoor ons opgetree het nie.

Dalk is daar iemand wat berou het oor wat hul jou aangedoen het, maar jou hartvogtigheid weerhou hul daarvan om jou te nader en om vergifnis te vra. Gooi die kettings van haat af en stel 'n vrymoedige gees ten toon.

Sunday, 25 January 2015

Deursettingsvermoë

Kolosense 3 : 17 Wat julle ook al doen in woord of daad, doen alles in die naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom

Peter Hendricks het Sub A (Graad 1) gedruip en ook matriek. Sy eerste werk was om van rotte ontslae te raak op skepe en daarna het hy verskeie ander nederige werke gehad o.a. by 'n klerefabriek waar hy in 2004, as deel van personeelvermindering, sy werk verloor het. 

Tydens hierdie moeilike tyd, het hy by die skool waar sy vrou sekretaresse was, gaan uithelp om kinders op te pas as die onderwyser nie daar was nie, of die telefoon te beman en selfs diens gedoen as skoonmaker. Dis hier waar 'n droom begin het... om onderwyser te word, maar hy't nie eens matriek gehad nie. 

Deursettingsvermoë en 'n diepgewortelde droom is egter 'n goeie kombinasie vir sukses. Nadat hy 'n oorbruggingskursus by die Universiteit vanWes-Kaapland gedoen het, het hy 'n BA-graad in Sosiale Wetenskappe behaal, terwyl hy deeltyds gewerk het. Van sy R5000 pm moes hy R1500 pm aan studiegeld afstaan. Na vyf jaar het hy sy nagraadse onderwysdiploma behaal en vandag staan hy voor 'n klas as onderwyser. Pieter was op 39 die oudste student in sy klas, maar op 46 het hy die vrugte van sy harde arbeid gepluk. Sy boodskap is dat dit nooit te laat is om jou drome te bewaarheid nie. 

Ek hoop dat Peter se storie jou sal inspireer om daardie eerste stap te neem om verder te studeer en jou drome te bewaarheid. Elke jaar wat verbygaan, is 'n jaar wat jy al klaar kon studeer het en wanneer jy eers jou geleerdheid het, kan niemand dit van jou af wegneem nie. (met erkenning aan Kuier)

Thursday, 22 January 2015

Rentmeesterskap

Titus 1 : 7 Want ’n opsiener moet as ’n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie;
 
Sasi (Suid-Afrikaanse Spaarinstituut) berrig dat Suid-Afrikaners se skuld van 1980 tot 2013 amper verdubbel het van 41,9% tot 75.3%. Volgens die Reserwebank het die skuldlas van privaat huishoudings gestyg van R230 miljard tot R2.1 triljoen en dit is net van 1994 tot 2010! M.a.w. Ons lewe op skuld. 

Onmiddellik behoort jy hierdie statistiek met jou eie situasie te vergelyk. Hoe staan jou geldsake hier aan die begin van die jaar? Die feestyd het die manier om ons almal 'n bietjie meer vrygewig met ons beursies te laat omgaan. Daarby gesê nie altyd oordeelkundig nie. En dit is juis waar die jaar op die verkeerde noot vir baie van ons begin, of dalk net op 'n nog slegter noot as waar hy verlede jaar geeindig het. 

Ons almal weet waarheen om te gaan as ons begin noustrop trek, maar hoe verantwoordelik is ons met dit waarmee ons toevertrou word? 'n Goeie nuwejaarsvoorneme is dalk om nie meer so maklik geld uit te gee nie. Daar word gesê dat jy twee weke moet wag alvorens jy iets koop wat jy graag wil hê. Na twee weke is die item dalk nie meer daar nie, of jy't van die behoefte vergeet, of jy besef dat jy daarsonder kan klaarkom. Ons wil alles hê, selfs al het ons dit nie nodig nie. Selfs op die TV word dit uitgebuit met advertensies soos: “I need to want it...” 

Binnekort breek die eerste betaaldag van 2015 vir baie aan. My gebed vir jou is dat jy meer verantwoordelik met jou geldsake sal omgaan. Maak 'n kopskuif om meer verantwoordelik met jou geld om te gaan. As jy in finansiële moeilikheid is, gaan sien 'n skuldberader, of gesels met jou skuldeisers... maak 'n daadwerklike plan om uit die skuld uit te kom. Ek bid ook dat jy sal begin spaar om voorsiening te maak vir jou aftrede. Al is jy hoe jonk, begin vandag spaar. Laat spaar, eerder as nog skuld/uitgawes jou motiveer. Diegene wat geld het, spaar getrou. Spaar is vir hulle 'n prioriteit, nie nog skuld nie. As spaar 'n gewoonte word, gaan jy dit nie eens agterkom of die geld mis nie, maar kort voor lank gaan jy 'n mooi neseiertjie opgebou het.

Dieselfde God wat jou as rentmeester aangestel het, gaan eendag van jou rekenskap eis, maar dis ook dieselfde, liefdevolle, God wat jou sal bystaan as dit jou hartsbegeerte is om skuldvry te wees. Jy's nie alleen nie. Hy sal jou bystaan...vra net.

Wednesday, 21 January 2015

Klein jakkalsies

Hooglied 2 : 15 “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.
 
Hoe verskillend is mense nie? Wat vir een persoon snaaks is, laat 'n ander frons. Een persoon is doodgelukkig te midde van chaos rondom hulle, terwyl 'n ander pynlik netjies is. Dis presies waar die klein jakkalsies hul vatplek kry om jou huwelikswingerd te verniel. 

Teenoorgesteldes trek mos mekaar aan. Gewoonlik trou 'n suinige persoon met 'n vrygewige een of 'n introvert met 'n ekstrovert. Weereens ideale teëlaarde vir satan en sy trawante.

Onthou altyd wat jou na jou maat aangetrek het. Jy behoort nie dit wat jou na hom/haar aangetrek het te probeer verander na die huwelik nie, want dan is dit nie meer die persoon vir wie jy liefgeword het nie. Dis heeltemal in orde om van mekaar te verskil en die geheim is om mekaar se sterk punte reg te kanaliseer. 

Dis makliker om jou houding teenoor iemand te verander as wat dit is om hul natuurlike aard te verander. Glo my, dit neem soveel druk van jou verhouding af. Soms irriteer een swakpunt van ons wederhelf ons, maar ons ignoreer al die ander pluspunte. Besluit liewer waarmee jy kan saamleef en waarmee nie. Een voorbeeld... As jou man 'n goeie pa is, hoekom kerm en kla oor die gras wat nie gesny word nie? Jy kan altyd tuindienste kry, maar 'n goeie pa is skaars. 

Jy ken jou eie huweliksomstandighede en jy weet dat jy 'n belofte voor God afgelê het. Kyk wat jy kan doen om daardie huwelik te laat werk. Die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee, is om hul ma/pa lief te hê en dit beteken dat jy hul aanvaar... sogenaamde foute en al.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...