Tuesday, 31 January 2017

Undercover boss

Kollosense 3 : 22 Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,

Ek kyk onlangs vir die eerste keer die program “Undercover boss”.  Die Uitvoerende Hoofde van groot maatskappye vermom hulself en werk dan in verskeie afdelings van hul besigheid.  Om die teenwoordigheid van kameras te verduidelik word die personeel vertel dat die persoon deel van ‘n dokumentêr is.  Dis eintlik ‘n briljante manier om te sien presies wat in jou besigheid aangaan.

So byvoorbeeld ry die Uitvoerende Hoof saam met ‘n drywer om pakke klere by verskeie takke te gaan aflewer.  Hy sien hoe dit nie moontlik is om die roete in die aangewese tyd te voltooi nie.  Boonop breek die trollies waarmee hy die pakke straat af stoot, die reëlings in die vragmotor val op die grond met al die pakke en die arme drywer spandeer 15 minute om papierwerk af te handel voor hy na die volgende winkel kan vertrek.

Na ‘n week laat hy elke werknemer met wie hy nou saamgewerk het na sy kantoor kom en ontmasker homself aan hul.  Jy kan jou voorstel hoe senuweeagtig die werknemers is, want meeste maak baie negatiewe opmerkings in sy teenwoordigheid. 

Na die ontmaskering spreek hy hul individueel.  Vir die een outjie vra hy of hy weet hoe seer sy kritiek vir hom as eienaar gemaak het.  Die outjie skuif op sy stoel rond en vra omverskoning… en sê dat dit maar net sy opinie was.  Jy kan jou die outjie se verligting voorstel as die Uitvoerende Hoof dan breed glimlag en sê:  “Nee!  Jy was reg.  Ek waardeer elke eerlike opmerking van jou, want ek weet jy het dit gesê omdat jy omgee. Terloops, hy was so beindruk met hierdie jongman dat hy vir hom ‘n Internskap aangebied het.

Vir elkeen van die werknemers word daar dankie gesê omdat hul goeie idees gehad het en tekortkominge uitgewys het.  Verbeterings wat hul voorstelle insluit word aan hul oorgedra.  Meesal word die werknemers dan genooi om deel van die verbeterings te wees. Een vrou is byvoorbeeld saamgenooi na Italië om deel te wees van die ontwikkeling van nuwe produkte.  Sommige kry bevordering en ander verhogings.  Jy kom ook agter dat die Uitvoerende Hoofde goed luister na die werknemers, want hy tel byvoorbeeld op dat die persoon graag sy studies wil voltooi en dan bied hy aan om daarvoor te betaal of ‘n man wat graag wil trou, maar daar is nie geld nie se bruilof word volledig geborg.

Wat my opval van die reeks, is hoe belangrik erkenning is.  Dit is ook opmerklik dat mense negatief is as gevolg van omstandighede.  Sodra daardie omstandighede verbeter is hul ontsettend positief en toegewyd.

Niemand van ons weet wanneer ons grootbaas dalk ‘undercover’ by ons werkplek inval nie.  As hy met jou praat… watter indruk sal hy van jou kry?  Sal hy jou bevorder, beloon, prys?

Die feit dat daar iemand is wat ons salaris betaal, maak van hul ons ‘baas’, maar uiteindelik werk ons vir God.  Sal dit nou nie lekker wees as Hy aan die einde van die dag tevrede met ons dagtaak kan wees nie?

Monday, 30 January 2017

Leef doelbewus

Jeremia 1 : 5  Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.


God se plan met jou lewe het al lankal begin.  Terwyl Hy jou daar in die moederskoot gevorm het, het Hy alreeds geweet wat die doel van jou lewe is.  Jy is doelbewus geskep, nie per toeval nie en ook nie per ongeluk nie.

Daarom moet ek en jy elke dag probeer om die persoon te wees wat God bedoel het ons moet wees.  Vra na Sy wil.  Vra om leiding. Luister na Sy stem en weet dat jy op pad is na 'n eindebestemming, maar dat dit veral die reis is wat haarfyn beplan is.  

Daar gaan langs die pad opwindende dinge gebeur.  Mense gaan jou pad kruis en vir jou deure oopmaak en jy gaan geleenthede kry waarvan jy nie eens kan droom nie.

Leef doelbewus,nie in onsekerheid nie. Leef asof jy bedoel is om hier te wees en soos iemand wat weet wie jy is.  Leef voluit!

Sunday, 29 January 2017

Die regte pad

Psalm 23 : 3 Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.


Om vandag die regte paadjie te loop, is nie maklik nie.  Versoekings skuil om elke draai.  

Kyk jy TV, hoor jy kort-kort:  "Oh, my God!"  Partykeer wonder ek of hulle ooit weet wat hul sê.  Weet hul dat dit die een sonde is wat onvergeeflik is.  Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydelik gebruik nie, want die Here sal die een wat Sy naam ydelik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.  Ek wil elke keer uitgil... pasop!  Trek jou woorde terug!  Moenie!

Die huwelik word nie meer eerbiedig nie. Om aan 'n huwelik te werk is onnodig, ons skei eenvoudig en trou weer.  Of wat van sommer net 'n man/vrou op 'appro' neem... 

Kleredrag raak al skrapser en nudistestrande word bepleit.  Die liggaam is lankal nie meer 'n tempel van God nie.  Aag en gooi maar 'n dwelmpie of twee ook in, dis al manier om te 'cope'.

Om te neem wat nie aan jou behoort nie, is jou reg.  Die feit dat iemand anders daarvoor gewerk het, is irrelevant.

Juis daarom moet ons elke dag bid dat God ons op die regte paaie sal lei... paaie wat tot eer van Sy Naam sal strek.  Weerhou ons van die kwaad en verlos ons van die bose.


Thursday, 26 January 2017

I'm possible

Jeremia 32 : 27  Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?


Niks is vir God onmoontlik nie.  Hy kan enige iets doen. 

Dalk dink jy ja wel, miskien kan Hy enige iets doen, maar dit geld nie vir my en my probleem nie.  Lees dan weer die teks.  Hy is nie net God vir gelowiges nie... Hy is nie net God vir die dominee nie... Hy is God van AL die mense.  Dit is dus nie net 'n elite groepie mense wie se geloof ontsettend sterk is vir wie Hy help nie... nee, Hy is daar vir almal.

Dis soos om 'n advertensie te plaas wat sê:  "Almal wat hier lees kan vir hulle 'n geskenk kom haal."  Hoeveel mense dink jy gaan dink dit is te goed om waar te wees, so hul gaan dit liewer ignoreer.  Ander gaan weer glo, ja vir almal behalwe vir my.  Daar gaan tog 'n groepie wees wat dink, dis 'n bargain, kom ons kyk wat dit is.

Ek hoop jy val onder laasgenoemde groepie, want ek wil graag hê dat jy kom kyk wat God vir jou kan doen.  Hy bied ook 'n geskenk vir enige iemand wat dit wil kom kry - die Ewige Lewe.

Die Engelse woord Impossible, is so oulik, want ons kan dit lees as I'm possible.  God het homself voorgestel as "Ek is".  I am... possible!  Ek dink die woordjie 'onmoontlik' bestaannie  in God se woordeskat nie.  Gaan lees maar Die Bybel... Sara wat kinders kry lank nadat sy haar vrugbaarheid agtergelaat het... Daniël wat in 'n vuuroond beland en nie eens na rook ruik nie... Dawid wat vir Goliat met een hou doodgooi... Jesus wat uit 'n maagd gebore word 

Wednesday, 25 January 2017

Jy't nou lank genoeg hier vasgehaak

Deuteronomium 1 : 6  “Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.

Party mense kan hulself nie help nie... hul bly eenvoudig vashaak by die verlede.  Nie net word die ou koeie uit die sloot gegrawe nie, hulle word sommer uitgestal sodat hulle elke dag afgestof kan word.

Vandag gaan ook eendag die verlede wees.  Ons weet dat die koerante en nuus vol van slegte dinge is wat vandag gebeur dus gaan vandag nie 'n perfekte dag in die verlede wees nie... so ook die tye waaroor jy so nostalgies raak.  Daar was ook maar slegte dinge wat gebeur het en deel daarvan was.  Ons kies om die slegte te ignoreer en romantiseer die verlede.  

Jy kan die verlede nie terugkry nie, maar jy kan vandag ten volle geniet en ervaar om lieflike herinneringe agter te laat as jy die verlede laat waar dit hoort... in die verlede.  Elke dag is 'n juweeltjie om te geniet, so hoekom wil jy jouself met die verlede besig hou?

Wat jou ookal terughou, maak los en laat gaan.  Die tyd het aangebreek.  Jy kan nie dit terugkry waarna jy hunker en verlang nie, maar jy kan absoluut beautiful nuwe memories skep.

God verwag van jou om aan te beweeg.  In vers 8 motiveer hy die volk deur hul te vertel van hierdie wonderlike nuwe land wat Hy tot hul beskikking gaan stel.  

So dikwels verloor ons die kans op geluk omdat ons nie wil aanbeweeg nie.  Daar wag iets veel beter op jou.  

Tuesday, 24 January 2017

Dis geloof

Hebreërs 11 : 1  Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.


Dis maklik om te glo daar is sewe dae in 'n week, want ons kan dit op die almanak sien.  Dis moeiliker om te glo dat God binne die volgende drie dae jou gebede gaan beantwoord.  Hoekom?

Ons glo die almanak, maar ons glo nie Die Bybel nie?  'n Almanak is bloot die mens se manier om van dae tred te hou.  Die Bybel is oor eeue heen ook deur mense saamgestel wat deel van die gebeure was.  Dis asof dit 'n dagboek wat dit 'n historiese kalender maak.  

Oor eeue heen het verskillende mense hul memoirs neergepen en wanneer jy byvoorbeeld die boeke van Matteus, Lukas en Johannes lees, kan jy die ooreenkomste in die vertelling sien.  Niemand herhaal tog 'n hoofstuk in 'n boek nie, maar God wou seker maak daar is geen twyfel nie en daarom is verskeie mense se weergawes, ook van wonderwerke wat hul aanskou het in sy Woord saamgevat.

Dis amper asof jy nie hoef te sien om te glo nie, jy weet eenvoudig. Ek weet dat ek weet wat ek weet omdat ek weet.

Monday, 23 January 2017

Glo... glo...glo

Romeine 4 : 18  Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.”


Hoe dikwels bid ons en hoop dat God ons gebede sal beantwoord en dan gebeur daar niks nie.  Ons verwag dat God elke gebed sal beantwoord, maar ons is nie bereid om aan te hou glo tot Hy antwoord nie.  

Al die 'odds' was teen Abraham.  Nie net was hy self al 'n gevorderde ouderdom nie, maar ook sy vrou, Sara, was alreeds verby haar vrugbare jare. Die kanse dat hy 'n eie kind by Sara sou hê, was medies gesproke min of meer nul in die tyd dat hul geleef het.  Vir kunsmatige inseminasie of surrogaat ouerskap sou Abraham nog min of meer 2000 jaar moes wag.  Geen wonder Sara kon die 'giggles' nie keer nie toe sy hoor dat sy sou swanger word nie.

Dis maar een van vele bewyse in Die Bybel waar God die onmoontlike moontlik maak.  God se belofte het gerealiseer en ek kan my nie eens die vreugde van hierdie ouerpaar voorstel nie.  

Jou geloof wankel dalk ook vandag, maar weet gerus dat God ook in jou lewe die onmoontlike kan laat gebeur.  Wanneer jy wil ophou glo, bid dat God jou geloof sal versterk en druk deur.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...