Wednesday, 31 January 2018

Slawe?

Lukas 17:9 'n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe?

Dis weer daardie tyd van die jaar… oueraande.  As jou kind goed doen, is dit nie iets waarvan jy sal weet nie, maar as jou kind se punte nie na wense is nie… wel dan gaan sien jy maar die onderwyser.  Vir baie jare moes ek elke oueraand soos ‘n stout kind voor die Wiskundeklas sit en my beurt afwag om die onderwyser(es) te sien.

My kind is een van daardie rare spesies met wie jy nooit hoef te sukkel om sy huiswerk te doen nie.  Inteendeel, as hy ‘n taak kry om te doen, moet dit dadelik afgehandel word.  Hy dryf my soms teen die mure uit omdat hy alles reeds gister gedoen wil hê.  Voor eksamens werk hy ‘n hersieningsprogram uit en hy studeer sonder dat ek hom ooit hoef aan te moedig. 

Wiskunde is egter sy Moses, want Wiskunde is nie iets wat jy kan leer nie.  Of jy verstaan dit, of jy verstaan dit nie.  Volgens sy punte verstaan hy dit duidelik nie.  Moet sê ek het ook my bedenkinge oor mense wat ‘n antwoord kry as hul x en y bymekaartel J.  Op ‘n stadium het hy soveel ekstra klasse in Wiskunde gekry dat hy eendag gemompel het:  “Ek sal al getroud wees, dan moet ek nog ekstra Wiskunde klasse kry.” 

Genadiglik bestaan daar iets soos Wiskunde Geletterdheid – die ‘dom’ kinders se weergawe van Wiskunde, word daar blykbaar gespot.  In Graad 10, betree ‘n wonderwerk my kind se lewe in die vorm van ‘n Wiskunde onderwyseres wat die vermoë het om my kind uiteindelik Wiskunde te laat verstaan.  Hy kon nie ophou praat oor haar nie:  “Mamma moet sien hoe Juffrou vandag vir ons verduidelik het hoe…”  Wat meer is, sy wys hulle dat sy in hulle glo en maak drome in hul wakker wat hul lankal begrawe het.  Sy punte skiet op tot bykans 90%!

So breek oueraand weer aan.  Hy dring daarop aan dat ek sy Wiskunde juffrou gaan sien.  “Hoekom?” wil ek weet.  “Jou punte is mos nou uitstekend.”  “Om dankie te sê!” kom sy antwoord.  So sit ek weereens voor die Wiskundeklas my beurt en afwag.  Toe ek binnestap, begin die onderwyseres dadelik verduidelik hoe sy punte verbeter het.  Ek val haar so beleefd as moontlik in die rede.  “Juffrou, ek is nie hier om te kla nie, ek is hier in opdrag van my seun… om te kom dankie sê.”  Ek kan sien hoe die wind uit haar seile geneem is.  Ons het ‘n lang gesprek en groet mekaar met wedersydse waardering.

Daardie eenvoudige opdrag van my seun, was heel waarskynlik die nodige hupstootjie wat ‘n toegewyde onderwyseres nodig gehad het.  Vir haar is skoolgee nie net ‘n beroep nie… dit is ‘n roeping.  Sy maak ‘n geweldige verskil in die lewens van menige kind.

Nog nooit vantevore het ek ‘n onderwyser(es) gaan bedank nie.  Dit het ‘n jong seun geneem om my oë oop te maak en te onthou dat ons ook erkenning moet gee wanneer iemand dit verdien.  Daar is baie goeie onderwysers en die omstandighede waaronder hulle daagliks werk, is verseker nie ideaal nie.  Hoeveel van ons bedank hulle?  Die teksgedeelte gee ‘n mens baie stof tot nadenke. 

Miskien kan jy hierdie oueraand gaan om een van hierdie slawe te bedank wat so selfloos ons kinders vir die toekoms voorberei.

Tuesday, 30 January 2018

Rus sag

Eksodus 20:12  “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Ons maak so maklik planne sonder dat ons weet wat die toekoms inhou.  Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Ek sê nie ons moet nie vooruit beplan nie.  Ons moet beplan.  Jy moet ‘n begroting hê sodat jy weet wat jy met jou inkomste gaan doen en jy moet prioriteite hê sodat die hoogste prioriteit voorkeur kan geniet.

Ons moet egter daarvan bewus wees dat ons planne dalk nooit sal realiseer nie.

Vandag presies ‘n jaar gelede het ek ons huis verlaat soos elke ander oggend.  Omdat ek in die middestad werk, moet ek vroeg ry (5h00).  Ons blinde kat was nog die oggend onrustig en ek het haar na my ma se kamer geneem, saggies sodat ek haar nie pla, omdat my ma altyd net geweet het hoe om haar te kalmeer.  En toe is ek by die huis uit.  Min het ek geweet dat dit die laaste keer sou wees dat ek my ma lewend sou sien.  Sou ek sonder om te groet (omdat ek haar nie wou wakkermaak nie), haar kamer verlaat het?  Sou ek vir ‘n uur in die verkeer gaan sit het eerder as om tyd met haar deur te bring?  Sou ek haar nie vir oulaas gebel het nie? Nee beslis nie, maar ek het nie geweet nie.

Later die oggend sou ‘n oproep my wêreld in duie laat stort.  My ma is oorlede.  Ek kan nie aan jou beskryf hoe dit gevoel het nie.  Vir altyd sal ek myself verwyt dat ek nie die tyd met haar spandeer het of dat ek nie daar was in haar donkerste uur nie.  Ek moet egter vrede maak, want dit was God se plan.  My planne was anders, maar ek moet berus by Sy planne.  Dalk is dit tog beter dat ons nie weet wat vir ons voorlê nie.

Waardeer jou ouers asb.  Ek moes beide my pa en my ma binne vier maande aan die dood afstaan.  Hul laat ‘n leemte wat niks kan vul nie.

Rus sag my dierbare ma en pa.

Monday, 29 January 2018

Prioriteite

Jakobus 2 : 2 – 6  Sê nou daar kom in julle samekoms 'n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook 'n brandarm man in met ou klere aan, en sê nou julle maak 'n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?  Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie?

Armoede is niks nuuts nie...  Mense wat finansiëel swaarkry ook nie.  Wat wel anders is, is dat dit nie meer so maklik soos in die verlede is om te oorleef as jy geen inkomste het nie.  Ons kan nie hoenders en skape aanhou wat ons van vleis en eiers sal voorsien nie.  ‘n Groentetuin kan ons nog aanlê, maar dan moet ons geld hê vir die waterrekening en natuurlik moet daar water beskikbaar wees.  Die lewe is duur.  Sekere goed moet jy koop of voor betaal. 

Ons kerk onderhou tans 13 gesinne finasiëel.  Dit kan nie maklik vir daardie mense wees om van aalmoese te leef nie.  Elke dag raak die werkloses meer. 

Jy besef ook nie hoe moeilik dit is alvorens jy nie jouself in daardie bootjie bevind nie.  Ons oordeel maklik… hulle is te lui om te werk, dis hoekom hulle bedel…   So katagoriseer ons mense.  Ons kyk hulle op en af en besluit of hul suksesvol is al dan nie…  Vul jy ‘n vorm in, of doen aansoek vir krediet, wil hul weet in watter inkomstegroep jy val, want hoe hoër die inkomste, hoe beter wil hul jou hanteer.

Dit alles druis in teen Jakobus 2.  Voor God is ons almal dieselfde… om die waarheid te sê God het nie veel ooghare vir sogenaamde rykes nie.  Laat daar geen onderskeid wees, behalwe tussen die wat Hom liefhet en die wat Hom nie liefhet nie.

Thursday, 25 January 2018

God is besig om jou voor te berei

Jesaja 6 : 8 Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

William Carey het maar altyd met sy gesondheid gesukkel.  Daar was klein kindertjies in die huis en sy vrou was reeds swanger met nog enetjie.  Jy kan jou indink dat hul lewe nie maklik kon wees nie (baie soos ons eie lewe).  Baie mondjies om te voed en min geld, met hom wat knaend siek is terwyl sy vrou weereens swanger is.  William, ‘n gebore Engelsman, het geroepe gevoel om in Indië sendingwerk te gaan doen.  Soos baie sendelinge, het sy beroep niks met sendingwerk te doen gehad nie.  Toe hy hierdie behoefte met ‘n groep predikers deel, het hulle vir hom gesê:  “As God die heidene wil red, sal Hy dit sonder jou of ons hulp doen.”

William het hom egter nie laat afsit nie.  Hy het voortdurend gewonder wat van die verlore siele in Indië sou word as hy nie gaan nie.  Op die ou end het hy gegaan en hy word genoem ‘die vader van moderne sendingreise’.  Sy prestasies in Indië is amper oorskadu deur die hoeveelheid struikelblokke wat hy moes oorkom.

Later sou William terugkyk en besef dat die struikelblokke wat hy tuis moes oorkom, hom voorberei het vir dit wat vir hom as sendeling sou voorlê.  

Ons besef nie altyd hoekom ons so swaarkry nie. Wanneer God egter ‘n streep trek deur ons swaarkry, word die negatiewe (-) ‘n voordeel (+) wat tot sy eer gebruik kan word.

Jesaja was gewillig om te gaan, maar ‘n seraf moes eers sy lippe met ‘n kool aanraak sodat sy skuld uitgewis en sy sondes vergewe kon word.  (Jesaja 6 : 6 - 7)

Jou pyn is heel moontlik voorbereiding vir ‘n lewe tot eer en verheerliking van God.

Wednesday, 24 January 2018

Bid die bloed van die Lam oor hulle

Openbaring 12 : 11  En hulle het Hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het

Voordat Irene Park ‘n toegewyde Christen geword het, was sy ‘n heks in die die staat Florida.  Sy het op jong seuns en meisies gefokus omdat hul so kwesbaar was.  Eintlik was hul maklike teikens. Te midde van hul worstelstryd om aanvaarding en die uitdagings en onsekerheid wat hul as tieners in die gesig gestaan het, kon sy hul van jongs af bearbei en nie net blootstel, maar intrek by okkultiese aktiwiteite.  Sy vertel dat sy egter nooit die kinders kon bereik wie se ouers hulle beskerm het deur vir hulle in die naam van Jesus te bid nie, want die bloed van die Lam het hul omvou.  Hulle was onaantasbaar, gebind aan Jesus Christus.

Ons hoor dat Godsdiens nie meer plek het in skole, want dit sluit sekere kinders wat ander gelowe aanhang, uit.  Een geloof mag dus nie bo ‘n ander bevoordeel word nie.  Dis ‘n mooi en edele verduideliking.  Ons behoort verdraagsaam en toegeeflik te wees, maar nie waar dit by God kom nie.  God is nommer een en daarna volg die res.  So word Godsdiens afgewater tot iets minder belangrik wat ons kinders onmiddellik meer vatbaar maak vir enige ander invloede.

As ouers moet ons besef die verantwoordelikheid om ons kinders van God te leer, begin en eindig by ons.  Onthou, kinders is geskenke uit God se hand.  Ons sal eendag verantwoording moet doen oor daardie kind se opvoeding.  As ons nie ons kinders anker in God nie, gaan hulle ronddobber en die eerste beste strooihalmpie aangryp, dit mag dalk net die okkulte wees. Deur die Bybel kan ons ons kinders leer van aanvaarding, liefde, om te behoort en dat hul uniek en spesiaal is.  Ons kan nie meer op skole staatmaak om ons werk vir ons te doen nie. 
Soveel Christene wil siele vir God werf, maar ons eie kinders gaan verlore.  Is dit nie waar ons moet begin nie?


Tuesday, 23 January 2018

Klein jakkalsies

Hooglied 2:15  “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.

God haat egskeiding.  Wat God saamgevoeg het, mag niemand skei nie.  Ek glo stellig ons skei te maklik.  God kan enige huwelik red.  Daar is nie meer daardie volharding en deursettingsvermoë wat die huwelik aanbetref nie. As die een nie wil werk nie, dan beeindig ons dit en beweeg aan na die volgende.

‘n Mier is baie klein, maar ‘n mier kan jou huis onder jou wegdra en laat ineenstort.  Dit is hoekom ons bedag moet wees op die klein irritasietjies wat ons huwelik insluip en van binne vernietig. 

Selfsugtigheid:  Neem mekaar in ag.  In ‘n huwelik is daar twee mense.  Dit gaan oor gee en neem.  Wanneer jy begin gee, sal jy sien hoeveel jy terug ontvang.  Gee al ontvang jy niks in ruil nie.  As selfsug verdwyn, sal jy hom/haar met respek behandel en nie jou eie belang voorop stel nie.

Stilstuipe:  Wat bereik jy nou eintlik met stilstuipe?  Eenvoudig beskou is dit ‘n kompetisie om te kyk wie die langste die ander kan straf, maar eintlik verloor jy wat in stilstuipe verkeer die meeste.  Gebrek aan kommunikasie, is een van die grootste oorsake van egskeiding.  As jy bang is jy gaan jou humeur verloor, raak eers kalm, maar praat dan wel die saak uit.  As jy voel jy kan nie oor die onderwerp praat nie, sit jou emosies eenkant, maar praat wel oor die saak.

Jaloesie:  Hierdie is ‘n tweesnydende swart.  As jy ‘n jaloerse natuur het, praat met jou maat voor jul troue en sorg dat hy/sy weet wat hul moet doen om jou veilig te laat voel.  As jy nie jaloesie kan verdra nie, maak seker jou maat is nie jaloers nie.  Jaloesie kom gewoonlik na vore omdat een maat die ander probeer vermaak of omdat daar rede tot jaloesie is.  Die groenoogmonster kan enige huwelik laat wankel.  Wanneer jy trou is daar net twee mense (plus God) in daardie huwelik.  Daar is nie plek vir ‘n derde persoon nie.  Partykeer is die jaloesie nie a.g.v. ‘n ander persoon nie, maar omdat een party te veel tyd aan ‘n spesifieke aktiwiteit spandeer.  Jou maat behoort die middelpunt van jou bestaan te wees (weereens naas God), nie jou werk, jou fiksheid, jou gholf of kerk aktiwiteite nie.

Ongeduld:  As jy kort van draad is, werk daaraan alvorens jy trou, want na die huwelik gaan jou ongeduld eers op die proef gestel word.  Pare moet ook weet wat mekaar se ‘hot buttons’ is.  As jou ‘hot button’ stiptelikheid is, sorg dat jou maat weet sodat hy/sy kan sekermaak hulle beproef jou nie.  As jou ‘hot button’ koue kos is, sorg dat jou maat dit weet.  Iemand kan nie ruik wat jou pla nie.  Met tyd is dit asof meer dinge mekaar irriteer en dit behoort nie so te wees nie, want liefde behoort alles te oorbrug.

Herken daardie klein jakkalsies.  Daar is nog baie van hulle.  Jy kan nie teen ‘n vyand veg wat jy nie ken nie.  Dit mag wees dat God egskeiding haat, maar hy is lief vir die huwelik.  Maak Hom deel van jul span.  ‘n Man en ‘n vrou is immers ‘n span… twee karperde wat saam die wa deur die drif trek.

Monday, 22 January 2018

Jukke

Jesaja 10 : 27  In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word.

Wanneer hul die juk op die osse plaas, is dit om die dier te beheer.  Dit beperk sy bewegings en sodra die os van koers af beweeg, word die juk gebruik om hom terug op koers te bring.  ‘n Os is baie groter en sterker as ‘n juk, tog is dit hierdie stuk hout wat die os daarvan weerhou om te gaan waar hy wou.

Sommige mense besef nie eens dat hul ook met ‘n juk om hul nek deur die lewe gaan nie. Hul wonder hoekom hul nie suksesvol is of vooruit gaan nie, maar hul kom nie agter dat dit die juk is wat hul terughou nie.  Elke keer dat hul buite hul gemaksone wil beweeg, hoor hul die stem van iemand wat hul lank gelede oortuig het dat hul dit nooit sal maak of nie goed genoeg is nie.  Hul hoor weer hoe hul tekortkominge aan almal uitbasuin word.  “Jy’s te stadig.  Jy’s te vet.  Jy’s nie mooi genoeg nie.  Niemand hou van jou nie.  Jy gaan nooit ‘n man/vrou kry nie.  Rugby is nou maar eenmaal nie vir jou nie.”  Partykeer is jou juk die gebrek aan voldoende finansies.  Ander kere is die juk die mense in jou lewe wat jou terughou. 

Hoekom bly ons soos ‘n os, tevrede met die juk wat ons bewegings kniehalter?  Dit hoef nie so te wees nie.

Hoor vandag dat God in staat is om enige juk af te haal en te vernietig. Hy maak jou waarlik vry.  Beroep jou op God om jou te verlos van die leuens wat jy tot nou toe oor jouself geglo het.  
En kies dan om te vergewe, sodat jy nie een juk vir ‘n ander verruil nie.


Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...