Wednesday, 29 August 2018

Geseënd is jy


Numeri 23 : 20  Ek het die opdrag om te seën: Hý het geseën, en ék kan niks daaraan verander nie.

Een van die Moabitiese prinse genaamd Balak, het die profeet Bileam gehuur om ‘n vloek teen die naderende Israeliete te gaan uitspreek.  Israel was besig om die een stad en dorp na die ander in besit te neem en Balak het geweet sy pak is op pad.

Hulle staan toe daar op ‘n berg wat op die Israeliete se kamp uitkyk en Balak verwag dat Bileam nou die vloek sal uitspreek.  En wat gebeur?  Daar kom net seëninge uit!  Balak vra:  “Maar hoe dan nou? Ek vra jou om hulle te vervloek en jy staan en seen hulle?"   Bileam wou en kon nie vir Jakob of Israel vervloek nie.  Vers 9:  “Ek moes tog presies kom sê wat die Here my voorgesê het.”

Balak is desperaat en hy neem Bileam na ‘n ander uitkykpunt waar hy net die helfte van die Israeliete sien, maar ook hier kan Bileam dit nie doen nie, want soos in die vers hierbo moet hy erken dat God reeds geseën het en dat hy wat Bileam is niks daaraan kan doen nie.

Was elke enkele Israeliet sonder sonde?  Nee.  Net so is ek en jy ook nie sonder sonde nie, maar God kies om ons te seen.  Hy sien jou “in Christus” wie se versoenende bloed al jou sondes bedek.

 Vers 21:  Jy sal nie vind dat 'n ramp vir Jakob tref nie, jy sal Israel nie sien swaarkry nie: die Here hulle God is by hulle; oor Hom, hulle koning, jubel hulle.

Die vyand kan maar probeer… as God vir jou is, staan hul nie ‘n kans nie.

Tuesday, 28 August 2018

Ouers


Spreuke 23 : 22  Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie.

Alreeds in Exodus word ons deur die tien gebooie daaraan herinner om ons vader en moeder te eer.  Dit is defnitief iets wat vir God belangrik is. 

Jy hoef maar net na Jesus as voorbeeld te kyk.  Selfs te midde van Sy lyding, het hy vir een van Sy dissipels gevra om na Sy ma om te sien.  Hy was ‘n voorbeeld vir jou en my van nie net gehoorsaamheid nie, maar ook van respek / eer en liefde vir ons ouers.

Jy hoor en lees te veel van ouers wat vergeet word, van ouers wat verag of geblameer word, van ouers wat mishandel word… 

Toe my seun eendag iets verkeerd doen en ek hom berispe, sê hy:  “Maar mamma het my nooit gewaarsku hieroor nie.”

Ons gesprek het min of meer as volg verloop:  “Ek het nie ‘n lysie wat ek van 1 tot 1000 kan deurgaan om seker te maak dat ek jou alles geleer het en teen alles gewaarsku het nie.”  Hy:  “Hoe moet ek geweet het dit is verkeerd?” Ek:  “Sekere goed moet jy weet omdat jy die basiese beginsels van reg en verkeerd ken.   Ek gaan nie altyd daar wees om vir jou voor te skryf nie.”

Kinders kom nie met ‘n handleiding nie.  Ouers maak foute.  Dalk kan jy as kind so ‘n bietjie meer simpatie vir jou ouers hê as jy besef dat niemand perfek is nie.  Oorweeg miskien hul omstandighede en die uitdagings wat hul gehad het.  Ek kan jou verseker meeste ouers wil net die beste vir hul kinders hê en wat hul doen, doen hul omdat hul net die beste vir jou wil hê. 

Partykeer gebruik mense dit tot hul voordeel dat hul nie perfekte kinderdae gehad het nie.   Dit help nie om jouself te bejammer omdat jy uit ‘n disfunksionele gesin of enkelouer gesin kom of aangeneem is of mishandel is nie.  Dis die harde feite van die verlede.  Baie volwassenes se storie is dalk nog erger as joune, maar hul het steeds ‘n sukses van hul lewe gemaak.

En as jou ouers foute gemaak het… wil jy hul nie maar vergewe nie?  Jy sal nie daarvan hou as God jou sondes voortdurend teen jou kop gooi nie.  Jy verwag Hy moet jou vergewe.  Gun jou ouers dieselfde begenadiging.  Dit maak nie saak hoe ‘sleg’ jou ouers was nie, wanneer hul die dag nie meer daar is nie, mis jy hulle so verskriklik baie.  En baie keer vergeet jy dan die negatiewe en begin jy die lewe deur hul oë sien.

Hoeveel kinders stel regtig in hul ouers belang.  Het jy al ooit met jou ouers gepraat oor hul kinderdae of hoe hul mekaar ontmoet het.  Weet jy waaroor hul nog droom?  Weet jy wat vir hul belangrik is?

Dit is so dat jy dalk vir langer na jou ouers sal moet omsien as wat hul jou versorg het.  Daarom is dit so belangrik om ‘n goeie verhouding tussen ouers en kinders te vestig. 

Bloed kruip waar hy nie kan loop nie… jy is hul kind… moet hul nie verag nie.


Monday, 27 August 2018

Anker jou tent


Jesaja 54 : 2  … Maak langer die tentlyne en slaan die tentpenne dieper in,

My ouers was lief vir kampeer.  Ons het vele skoolvakansies met ‘n karavaan iewers in ons mooi land gaan kampeer.  Dis regtig ‘n belewenis en herinneringe wat jou vir altyd bybly.

Eers moes pa die karavaan op die staanplek posisioneer en daarna moet die tent opgeslaan word.  Dit was nogal ‘n uitdaging omdat ons nie ons eie karavaan gehad het nie en elke keer een gehuur het.  Daarom was dit gelykstaande aan vandag se spanbou oefeninge.  Luister en spanwerk is vaardighede wat tot die uiterste toe beproef is, maar ons het geweet dat ‘n spanpoging sal sorg dat ons so gou moontlik in die nabygeleë swembad of see kan gaan baljaar. 

Een jaar het ons so ‘n roete deur die land gedoen en ons laaste staanplek was by Agulhas.  Daardie nag het ek besef wat ‘n stormwind is;  dat dit iets is waarop jy selde voorbereid is.

Eers het ma ons geroep om binne die karavaan te kom slaap, want vir ons drie kinders was die tent die lekkerste slaapplek op ons kampbedjies.  Kort daarna het pa besluit dat ons die tent moet afslaan as ons nie die volgende dag net flentertjies wil oorhou nie.  En as die tent stukkend is of nog erger, weggewaai is, sal pa moet opdok.  In die vroeë oggendure het pa selfs besluit om die karavaan aan die motor te haak sodat ons darem behoorlik geanker is.

Net so onverwags tref stormwinde ons ook in die lewe.  Dalk bevind jy jouself vandag in die oog van die storm.  Maak seker jou tentpenne is stewig ingeslaan en die toue styf getrek.  Gee sommer so ‘n ekstra paar kappe.

God is jou tent (skuiling), geloof jou tentpenne en gebed jou tenttoue.  Hoe dieper jou tentpenne m.a.w. hoe sterker jou geloof en hoe meer tenttoue (gebede), hoe groter die kans dat jy die storm sal deursien in een stuk.

Dis nooit maklik nie en dit is nie wat ons wil deurgaan nie, maar dit leer jou ook om die windstil tye in jou lewe te waardeer, daardie tye wat jy salig en gelukkig is.

Sunday, 26 August 2018

Selfondersoek

1 Korintiërs 13 : 5  Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

Selfondersoek kan uiters pynlik wees.  Meeste van ons vermy dit.  Dit is veel makliker om te glo dat ek perfek is, dat ek in geloof lewe, en te ignoreer dat my lewe in chaos is as wat dit is om hand in eie boesem te steek.

Volstruispolitiek gaan nie werk as dit by jou geloof kom nie.  Jy kan nie jou kop in die sand druk en weier om te erken dat daar dinge in jou lewe is wat nie reg is nie.

Daar is ‘n verhaaltjie wat ek iewers gehoor het van satan en sy makkers wat gewonder het hoe hul mense kan verhoed om tot bekering te kom.  Hul het allerhande planne gehad.  Hul sou byvoorbeld vir die mense sê om nie Bybel te lees nie, of vir hul te sê die Woord is nie waar nie, of dat God nie bestaan nie, maar uiteindelik het een van hulle gesê:  “Kom ons sê net vir hulle hul hoef nie vandag tot bekering te kom nie.”  En almal was dit eens… die ou gesegde van uitstel kom afstel, is die wenresep.

Wanneer jy wil oorgee, moet jy jou sondes bely.  Dus moet jy eerstens weet wat verkeerd is in jou lewe.  Is daar dinge wat jy moet afsterf? Dan moet jy erken dat jy glo in die Drie-enige God en dat Jesus aan die kruis gesterf het vir jou sondes sodat jy vir ewig kan leef… dat Hy jou Verlosser en Saligmaker is.

Moenie uitstel nie.  Deur jou sondes te ignoreer, laat hul nie weggaan nie.  Ons het almal foute en selfs al kom jy vandag tot bekering, mag jy dalk weer terugval.  Bekering is ‘n reis, dit is nie ‘n bestemming nie. Jy sal ervaar hoe jy groei in geloof en God se genade sal jou dra.

Thursday, 23 August 2018

'n Reus vir God


1 Timoteus 6:18  Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam

Wanneer jy die naam Rockefeller hoor, hoor jy terselfdertyd muntstukke klingel.  Baie geld en baie bekend.  Min mense weet egter dat John D Rockefeller Snr ook ‘n ‘n ware Christen genoem kan word en dat dit heel waarskynlik is hoe hy eerder sou wou onthou word.
John D Rockefeller Snr kan maklik gesien word as die mees gesiene besigheidsman van sy era.  Op ‘n stadium is sy netto waarde gesien as die grootste in die wêreld. 

Meeste van sy rykdom het hy gemaak deur Standard Oil wat op ‘n stadium gesien is as ‘n kragtige monopolie in die sake geskiedenis van Amerika.  Hulle het sowat 90% van Amerika se olierafinadery mark besit en die wins wat hul daaruit gemaak het is vir meeste van ons ver bo ons begrip.

Hy het die maatskappy, saam met ‘n paar vennote, oor baie jare opgebou.  Intussen het hy sy hele volwasse lewe elke Sondag kerk bygewoon.  Hy was ook ‘n toegewyde gesinsman.  Sy waardes is oorgedra aan sy seun John Jnr en kleinseun John III.  Ook hierdie twee afstammelinge was toegewyde Christene wat baie produktiewe lewens gelei het. 

Op die ouderdom van 55 het Rockefeller Snr afgetree, maar die volgende 42 jaar het hy daaraan gewy om sy rykdom te gebruik om ‘n verskil in die wêreld te maak.  Hy het langer goed gedoen as wat hy bestee het om geld te maak.  Hy word gesien as die mens wat die meeste geld vir die verbetering van die mensdom gegee het… ooit!.  ‘n Filantroop van formaat en ‘n uitsonderlike reus vir God.  Een van die dinge wat hom na aan die hart gelê het was swart Amerikaners wat toe pas uit slawerny bevry is.  Sy vrou, Getty Spellman, se pa was een van die eerstes om sy slawe vry te stel.  Hy het o.a. die mees gesiene swart Vrouekollege in Amerika gestig i.e. Spellman College.  Hy het ook ander opleidings institusies en skole gestig, maar hy wou nooit sy naam daaraan koppel nie omdat hy gevoel het hy is net ‘n rentmeester van God se rykdom.

Ironies genoeg sal sy naam altyd sinoniem wees met die geld wat hy gemaak het eerder as sy lewe as Christen, ‘n Godvresende man wat onwrikbaar in die lering van Die Bybel geglo het.  Uiteindelik weet ons dat al die geld in die wêreld, selfs soveel as wat ‘n Rockefeller besit, jou nie in die hiernamaals kan kry nie.  Jou geloof, om God as jou Verlosser en Saligmaker te ken en goeie dade, dit is wat regtig saakmaak en hierdie man het die waarheid ontdek en meer as net geld vir sy nageslag nagelaat.

Terloops sy ma het hom van jongs af beinvloed en dit was haar geloof wat hom gedryf het om ook ‘n kind van God te word.  Sy pa was die teenoorgestelde en daar word gesê dat hy ‘n twyfelagtige en nie ‘n baie eerlike lewe gelei het nie.  Soms sou hy vir maande eenvoudig verdwyn en eendag net opdaag met baie geld.  Hy het ook ‘n sadistiese kant gehad, maar geglo dit help om sy kinders ‘skerper’ te maak.  Hy sou hul byvoorbeeld uitdaag om te spring terwyl hy sy arms uithou om hul te vang en dan wegtree sonder om hul te vang.  Op 16 het John besluit hy het genoeg gehad van die wisselvalligheid en dat dit tyd is om op sy eie bene te staan.  Via  afstandonderrig het hy ‘n boekhoukursus voltooi en toe by maatskappye gaan aanklop om werk. Dit was die jaar 1854.  Hy het fanaties gespaar en binne 5 jaar sy eie maatskappy begin.  Die res is geskiedenis, soos hul sê. 

Die fondasie wat sy ma gelê het, sou hom egter veel verder neem as sy finansiële vermoëns.


Wednesday, 22 August 2018

Vee eers voor jou eie deur


Matteus 7 : 5  Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

Al woon ons in glashuise, gooi ons steeds graag klippe.  Dalk is dit omdat ons blind is vir ons eie foute. Of dalk is dit omdat ons regtig nie besef dat ons ook sondig is nie.
Hoe dit ookal sy, van vers 1 in Matteus 7 waarsku Jesus ons om nie te oordeel nie.  Hy herinner ons selfs dat ons ook met dieselfde maat geoordeel sal word waarmee ons ander oordeel. 

En tog, van kleins af, is ons geneig om te oordeel.  “Mamma, praat met boetie… kyk wat doen hy.”  En tien minute gelede was dit presies wat sussie gedoen het.  As grootmense raak ons dikwels kwaad vir ons eggenote se gedrag, maar ons besef nie dat ons ook dinge doen waaroor hul nie gelukkig is nie.

Die les wat ons hier leer is om eers behoorlike selfondersoek te doen alvorens ons na iemand anders vinger wys.  Net omdat ek jou sonde raaksien, beteken nie ek is sonder sonde nie.  Net omdat ek jou sonde aan die groot klok hang, beteken nie ek staan nie self agter die deur nie.

Op die ou einde is ek vir my eie heil en siel verantwoordelik.  Ja, ek het ‘n verantwoordelikheid om jou reg te help, maar ek moet darem eers sorg dat dit skoon is voor my eie deur alvorens ek by jou deur loop vee. 

Tuesday, 21 August 2018

Sodat almal kan sien


Matteus 23 : 5 – 7  Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot.  Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.
Markus 12 : 38 – 40 Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word,  wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê.  Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Jy kry mense wat vir die gehoor speel.  Hulle wil raakgesien word.  Daarom sal hul voor in die kerk sit, hoogdrawend bid, voorgee dat hul vir ander omgee… ens ens ens.  

Ken jy sulke mense?  Dalk is jy so iemand. 

Jesus het nie veel ooghare gehad vir mense wat wou hê ander moes sien hoe belangrik hul is of wat hul vir ander doen nie.

Voorgee mag sekere mense op aarde beindruk.  Dit mag mense selfs na jou toe aantrek.  Ons hoor so dikwels hoe mense “name drop”.  Die feit dat jy iemand ken wat volgens mense nogal belangrik is, maak jou geensins belangrik nie.  En hoe belangrik sal daardie persoon in God se oë wees?

Selfs die Fariseërs wat op die hoeke van strate bid, was nie aanvaarbaar vir Jesus nie.  Ons moet in ons binnekamer gaan bid.  Daar is mense wat pragtig kan bid, met hoë woorde en vele onderwerpe dek en dan dink jy hulle moet ‘n groot Christen wees, want jy kan nie so bid nie.  Nee, ‘n opregte gebed, al is dit die eenvoudigste gebed, beteken veel meer as hoogdrawende, vooraf geoefende leë woorde. 

God is op jou hart ingestel.  Wat in jou hart aangaan, kan jy vir mense wegsteek, maar nie vir God nie. 

Laat ons waaksaam wees en nie eie belang soek nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...