Lukas 16 : 15 “Hy sê toe vir
hulle: “Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God
ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is 'n gruwel voor
God.“
Meeste van
ons is bekommerd oor wat ander van ons dink.
Ons ken ook die gesegde: “Dis nie
wie jy is nie, maar wie jy ken.” Hierdie
gesegde impliseer dat dit nodig is om belangrike mense te ken om resultate te
kry. Dit bevestig ook dat daar ‘n sekere
rangorde onder ons bestaan, die sogenaamde ‘have’s en die have nots’.
Sommige
mense hou daarvan om belangrike name subtiel in hul gesprekke te gebruik, so
asof die feit dat hy/sy op voornaam terme is met ‘n so-en-so jou moet laat
verstaan met wie jy nou eintlik te doen het.
God is ‘n voorstander
van nederigheid. Volgens die vers hierboverafsku Hy die wat hulself as belangrik
beskou. Jesus het nie met die belangrike
mense hier op aarde kom vergader nie. Ook
sy dissipels was gewone feilbare mense.
Daardie
titel waarop ons so trots is, maak geen indruk op Hom nie. Jou status in die gemeenskap, die herehuis
teen die bult in die gesogte woonbuurt, jou vloot motors, die indrukwekkende
saldo van jou bankrekening, die omvang
van jou besittings… Niks hiervan gaan
vir jou voorkeurbehandeling verseker tydens die oordeelsdag nie, behalwe as jy
dit tot eer en verheerliking van Sy Koninkryk aangewend het.
Stroop
jouself van alle eiewaan en buig in aanbidding voor die Enigste Belangrike
Persoon. Voor God is die boemelaar en die staatspresident albei mense.
No comments:
Post a Comment