Genesis 3 : 19:
In die die sweet van jou aangesig sal jy brood eet…
Tydens opstyging hoor ek twee vlugkelners
met mekaar praat. “Wanneer begin jou
vakansie?” vra die een. “Nog ‘n
week. Ek kan nie meer wag nie. Man, ek wil vir ‘n hele maand nie ‘n
vliegtuig sien nie – ek is moeg gevlieg…”
Ek het ‘n seun wat daarvan droom om eendag
‘n vlieënier te word. Hy praat heeldag
en aldag daaroor, lees daaroor, droom daaroor.
As ek gevlieg het, wil hy alles van die vliegtuig weet. Hierdie vlugkelner het seker ook sulke drome
gehad? Ek wil graag glo dat hy steeds
van sy werk hou, maar net moeg is. En ek
glo daar is baie mense wat dink hul sal nooit ooit moeg word as hulle kan
rondvlieg vir ‘n lewe nie.
Realiteit is dat die werksomgewing meer
veeleisend as voorheen is. Ons werk
langer ure en daar is meer druk op ons as ooit tevore. As jy vandag moeg is vir jou werk of dit
sieldodend vind, dink weer terug aan die dag toe jy gehoor het dat jy die
suksesvolle kandidaat is. Onthou weer
hoe opgewonde jy was en hoe jy na daardie eerste dag uitgesien het.
Al waaroor ons beheer het, is hoe ons reageer
op dit wat met ons gebeur. Moenie
toelaat dat die meule van die lewe jou geesdrif demp nie. Buitendien, ons werk nie vir ‘n aardse baas
nie, maar vir God.
No comments:
Post a Comment