Tessalonisense 5 : 11 Praat
mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens
reeds doen.
Jean-Do was ‘n bekende Franse joernalis, skrywer en redakteur van die
Franse mode tydskrif ELLE. In 1995 het
hy ‘n massiewe hartaanval gekry en was 20 dae lank in ‘n koma. Toe hy uit die koma ontwaak, het hy ‘n rare
neurologiese afwyking genaamd “Locked-in Syndrome" gehad. Dit beteken sy verstand was 100%, maar die
res van sy liggaam was verlam, van kop tot tone. Hy kon slegs sy linker ooglid beweeg.
Ten spyte hiervan het hy 2 boeke
geskryf: The Diving Bell en The
Butterfly. Dit was ‘n tydsame
proses. Iemand het die alfabet opgesê en
dan het hy sy ooglid geknip by die regte letter. Die alfabet is so gerangskik dat die letters
wat die meeste gebruik is, eerste op die lysie was. Die boek is op dieselfde manier
geredigeer; een letter op ‘n keer en
uiteindelik op 7 Maart 1997 gepubliseer.
Bauby, soos hy alom bekend was, het twee dae later gesterf.
Dit was verseker nie vir
Jean-Do maklik om met hierdie siekte saam te leef nie, maar hy het ‘n wilsbesluit
geneem om nie te gaan lê nie. Boonop het hy meer bereik as mense sonder
gebreke. Ons gee so maklik op. En ja, elkeen ken sy eie storie, so ons kan
nie regtig mekaar oordeel nie, maar ons kan mekaar moed inpraat. Ons kan daar wees vir mekaar.
No comments:
Post a Comment