1 Samuel 1 : 26 “en Hanna het gesê: “Ekskuus, Meneer, u sal my
nie glo nie, maar, Meneer, ek is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here
te bid.”
Hanna se moederskoot het vir jare leeg
gebly. Sy het by God gepleit vir ‘n
kindjie en uiteindelik is haar gebede beantwoord. Om te sê Samuel was spesiaal, is sekerlik ‘n “under
statement”.
Every
child is special
is ‘n Indiese rolprent met ‘n universele boodskap dat elke kind spesiaal is. Dit
gaan oor ‘n seun wat voorkom as ‘n dromer.
Hy’s gedurig laat en let nie in die klas op nie. Verder is hy ook knaend in die moeilikheid om
verskeie redes. Kort voor lank is hy
bekend as die ‘probleem-kind’.
Terwyl sy broer akademies en op sportgebied
uitblink, versleg sake rondom die seun sodanig dat die skool hom nie meer wil
toelaat nie. Sy ma betoon baie liefde,
maar sy pa werk hard en is oormoeg wanneer hy huis toe kom en ignoreer die seun byna, behalwe om hom te
disiplineer. Sy pa reel dat hy na ‘n
koshuis gaan. Behalwe dat dit die seun
verder in sy dop laat kruip a.g.v. die trauma om van sy ma geskei te word,
verbeter sy skoolwerk steeds nie.
Tot ‘n waarnemende onderwyser die kunsklas
oorneem. Hy gebruik onkonvensionele
maniere om die klasse interessant te maak en die kinders is gaande oor hom, maar niks beweeg die seun om deel te
neem aan die pret nie. Jare se geboelie, gespot en die etiket van 'dom' wees het hom van alle selfvertroue ontneem. Die onderwyser
sien homself in die seun en ontdek dat die seun, soos hy, disleksies is. Hy
vra toestemming om die kind onder sy vlerk te neem. Met baie geduld, ongewone metodes en hope
opregte belangstelling, leer hy die seun lees. Nie net verbeter sy skoolwerk en slaag hy nie, maar die onderwyser ontdek ook die seun
se buitengewone kunstalent en hy kry 'n idee om die seun se aansien onder sy maats te herstel. Hy reel
‘n kunskompetisie en die seun wen dit, wat hom weer deelmaak van die ‘hoofstroom’. Dit neem net een person om in jou te glo en jou lewe nuwe sin te gee.
Elke kind IS spesiaal. Daar is gewoonlik ‘n goeie rede hoekom ‘n
kind ‘stout’ is. Dalk leef jy elke dag
met so ‘n ‘moeilike’ kind. Daardie kind
het vir ‘n rede jou pad gekruis en jy is gekies om ‘n verskil in sy/haar lewe
te maak. Moet nooit opgee op ‘n kind
nie. God het Hanna se gebede beantwoord –
Hy sal joune ook beantwoord en jou die wysheid gee hom om hierdie kind te hanteer.
No comments:
Post a Comment