Filippense 1 : 6 Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat
die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op
die dag wanneer Christus Jesus kom
Soos ons groei in geloof, vertrou ons meer
en meer op God en die beloftes in Sy Woord.
Soms bid ons vir lank en dit wat ons voor vra, wil maar net nie tot vrug
kom nie.
Dis maklik om dan moed te verloor, te dink
dat God nie hoor of nie omgee nie. Veral as jy hoor hoe ander se gebede rondom
jou verhoor word, herinner dit sterk aan eksamentye toe almal rondom jou vir ‘n
vale voortgeskryf het, maar jy klaar was en beangs rondgekyk het. Die duiwel spesialiseer daarin om jou aan te
val as jy op jou swakste is. Ons moet
egter nooit vergeet dat God op Sy sterkste is as ons op ons swakste is nie.
As jy die afgelope tyd bid en jy gehoorsaam Sy gebooie terwyl
jy vasstaan in die geloof, maar ‘n antwoord op jou gebede bly ver op die horison,
is dit beslis nie nou die tyd om moed op te gee nie. Sodra een deur toegaan, gaan ‘n ander oop. Wees bedag op die vyand se misleiding wat jou
laat fokus op die toe deure… tot so ‘n mate dat jy nie die deur sien wat God vir
jou oophou nie. Hier’s goeie raad - te
midde van jou onsekerheid en afwagting, hou aan om Hom te prys! Uitkoms is om die draai.
Moenie moed verloor nie en moenie twyfel
nie. Dis God se boodskap aan jou vandag.
No comments:
Post a Comment