1 Samuel 16 : 7 Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy
voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die
Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike,
maar die Here na die innerlike.”
‘n Vriendin onthul onlangs
hoe sy op skool geboelie is… en dit oor haar gewig. Ons weet kinders kan wreed wees, maar ek dink
nie hulle besef ooit hoeveel skade hul ‘onskuldige’ pret ten koste van iemand anders
aanrig nie. My vriendin loop vir jare
met daardie seer binne haar… dit het haar identiteit verswelg. En hoe meer sy daardie woorde geglo het, hoe
meer het sy haar aan kos oorgegee…Tot sy op ‘n dag besef sy het die mag om
daardie kettings te breek wat haar terughou.
Toe sy eers daardie
kopskuif gemaak het, was sy onstuitbaar.
Sy het oor ‘n periode van net bietjie meer as ‘n jaar 80 kg gewig
verloor.
Daardie kinders onthou
haar dalk nie meer nie, maar hulle het ‘n ongelooflike invloed op haar menswees
gehad. Sy was altyd mooi en het nog
altyd ‘n borrelende persoonlikheid gehad, maar vandag het sy iets ekstra wat
haar beeldskoon maak… selfvertroue en die besef dat sy enige iets kan regkry as
sy eers haar kop daarop gesit het.
In ‘n wêreld waar mooi
mense voorkeur kry, wil ek jou herinner dat God nie na die uiterlike kyk nie,
maar na die innerlike.
Skoonheid of ‘n maer lyfie
gaan jou nie in die hemel kry nie.
No comments:
Post a Comment