STRANDLOPERTJIE
Die
skrywer is Robert Peterson. Hy skryf:
Sy was maar 'n skamele 6
jaar oud toe ek haar vir die eerste keer ontmoet het. Ek ry gewoonlik die 4
kilometer af strand toe elke keer as ek voel dat die wêreld vir my te klein
begin word. Sy was besig om
'n sandkasteel of iets te
bou, en toe sy opkyk, kyk ek in die pragtigste blou ogies, so blou soos die see
self.
"Hallo", sê sy.
Ek antwoord met 'n knik
van die kop, nou nie juis in 'n bui om te bodder met 'n klein dogtertjie nie.
"Ek bou", sê
sy.
"Ja, so sien ek. Wat
bou jy?" Ek gee nou nie juis om wat sy bou nie.....
"Aag ek weet nie, ek
voel maar net lus om in die sand te speel."
Die idee trek my nogal
aan, en ek trek my skoene uit. 'n Strandlopertjie sweef verby.
"Dis 'n
vreugde", sê sy.
"Dis 'n wat?"
"'n Vreugde. Mamma sê dat 'n strandlopertjie vir 'n mens
vreugde bring."
Die strandlopertjie
verdwyn oor die duin. "Koebaai vreugde", mompel ek vir myself,
"Hallo pyn!" Ek draai om om te loop. Depressie het aan my geknaag -
my lewe was 'n gemors.
"Wat is jou
naam?" Hierdie dogtertjie gaan nie maklik tou opgooi nie.
"Robert", sê
ek, "Robert Peterson."
"Ek's Wendy ..... ek
is ses."
"Hallo Wendy"
Sy giggel. "Jy's
snaaks", sê sy.
Ek lag, ten spyte van die
donker wolk wat oor my gemoed hang, en ek stap aan. Haar klokhelder
giggel-laggie volg my.
"Kom weer meneer
P", skree sy, "kom sodat ons nog 'n gelukkige dag kan hê!"
Na 'n paar dae van
onbeheerbare Boy Scouts, frustrerende vergaderings en 'n ou kranklike moeder,
het die son een oggend so vrolik geskyn dat ek die skottelgoedwater van my
hande afgeskud het,
en toe sê ek vir myself:
"Robert, jy het 'n strandlopertjie nodig." Die heerlike sout seelug
wag vir my, en ek gryp my
jas.. Die windjie is ysig, maar ek stap aan en probeer die rustigheid van die
strand indrink, daardie rustigheid wat ek so bitter nodig het.
"Hallo meneer
P," roep sy my, "wil jy kom speel?"
"Wat het jy in
gedagte?" Ek voel half vies vir hierdie inbreuk op my gedagtes.
"Aag, ek weet
nie..... wat dink jy?"
"Wat van
kennetjie?" vra ek half sarkasties.
Haar klokhelder laggie
weerklink oor die strand. "Ek ken nie daai speletjie nie."
"Nou maar dan loop
ons maar sommer."
Ek kyk af na die
lewendige klein figuurtjie, en ek kan nie help om die delikate bleek gesiggie
raak te sien nie. "Waar bly jy?"
"Daar
annerkant", sê sy, en sy beduie in die rigting van 'n paar somerhuisies.
Dis baie snaaks, dink ek.
Om in die winter in somerhuisies te kom bly....
"En waar gaan jy
skool?"
"Ek gaan nie skool toe
nie - Mamma sê ons is met vakansie."
Sy babbel aanmekaar
terwyl ons met die strand afstap, maar my gedagtes is baie vêr weg. As ek later
huistoe ry, sê Wendy vir my dat dit 'n baie lekker dag was. Ek glimlag vir haar
- snaaks genoeg voel ek ook sommer baie beter..
Drie weke later jaag ek
af na my strand toe. Dinge het nou net te veel vir my geraak, en ek is nie in
'n bui om eers vir Wendy te groet nie. Ek sien iemand op die somerhuisie se
stoep sit - seker Wendy se ma - en ek voel asof ek vir haar wil skree:
"Hou jou
dogtertjie asseblief
vandag tuis!"
Ek stap gejaag, maar
Wendy haal my in. "Asseblief, nie vandag nie!", snou ek haar toe,
"Ek wil vandag alleen wees!" Sy lyk vandag onnatuurlik bleek en
uitasem.
"Hoekom?" vra
sy.
Ek gaan staan, draai om
na haar toe en skree: "Want my ma is dood!"
En skielik wonder ek
waarom ek dit vir hierdie kind vertel.
"O", sê sy
saggies, "dan is dit 'n slegte dag."
"Ja", sê ek,
"én gister, én eergister, en ... aag gaan tog net weg!"
"Was dit seer?"
sy kan net nie ophou nie.
"Was wát seer?"
ek is moedeloos; met die dogtertjie en met myself.
"Toe sy dood
is?"
"Natuurlik was dit
seer!" kap ek terug, sonder om die bedoeling agter haar vraag te verstaan.
Ek draai om en stap haastig weg, versonke in my eie seer gedagtes.
'n Maand of wat later, toe ek weer op die
strand kom, was sy nie daar nie. Ek voel skuldig en skaam oor my gedrag, en
..... ek het haar nogal gemis. Ek stap na die strandhuisie toe en klop aan die
deur. 'n Vrou maak oop.
"Ek is Robert
Peterson", sê ek, "ek mis jou dogtertjie só vandag, en ek het net
gewonder waar sy is."
"O ja, meneer
Peterson, kom in asseblief. Wendy het so baie van jou gepraat.
Ek is so jammer dat ek
toegelaat het dat sy jou pla. As sy 'n oorlas was - dan vra ek om
verskoning"
"Aag nee wat, sy is
so 'n borrelende klein dogtertjie." En skielik besef ek dat ek werklik
bedoel wat ek sê.
"Wendy is verlede
week dood, meneer Peterson. Sy het bloedkanker gehad - het sy jou nie gesê
nie?"
Skielik draai die wêreld
om my, en ek gryp haastig vir 'n stoel. Ek is sprakeloos.
"Sy was so lief vir
hierdie strand, en toe sy vra dat ons hierheen kom, toe kon ek nie nee sê nie.
Sy het soveel beter hier gelyk, en hier het sy baie gelukkige dae gehad. Maar
die laaste paar weke het sy baie vinnig agteruit gegaan." Haar stem bewe.
"Sy het iets vir jou gelos ..... as ek dit net kan opspoor. Sal jy omgee
om 'n bietjie te wag - ek soek dit net gou?"
Ek knik my kop - ek soek
vir woorde - maar hulle ontbreek. Wat sê ek vir hierdie pragtige jong vrou?
Sy gee vir my 'n vuil
koevert met "MR. P" op geskryf in groot kinderletters.
Binne is 'n tekening in
helder kleure - 'n geel strand; 'n blou see en 'n bruin voël, en onderaan die
woorde: "'n Strandlopertjie om geluk te bring" . Ek kan die trane nie
keer nie, en hierdie klip-hart van my wat lankal vergeet het wat dit is om lief
te hê, kraak en
breek. Ek neem Wendy se
ma in my arms: "Ek is so jammer, so bitter, bitter jammer", is al wat
ek kan uitkry, oor en oor, en saam huil ons.
Daardie kosbare prentjie
is geraam, en hang in my studeerkamer. Ses woorde - een vir elke jaar van haar
kort lewetjie - sê vir my van harmonie, dapperheid en 'n onvoorwaardelike
liefde. 'n Geskenk van 'n dogtertjie met see-blou oë en hare die kleur van die
seesand - sy het my geleer van die geskenk van ware liefde.
Hierdie ware verhaal is
opgeteken deur Robert Peterson. Dit het meer as 20 jaar gelede afgespeel, en
hierdie insident het sy lewe onherroeplik
verander.
Ons kan hieruit leer dat
ons tyd moet maak om die lewe te geniet, en tyd moet maak vir mekaar.
Die lewe is so
gekompliseerd - die gejaag en elke dag se probleme en traumas kan maak dat jy
fokus verloor en van die dinge wat rêrig saakmaak vergeet.
Gaan gee vir die mense in
jou lewe waarvoor jy lief is vandag 'n ekstra drukkie, net om te sê dat jy
omgee en vir hulle lief is. En gaan stap 'n draai in die tuin, en ruik aan die
blomme. Drink die skeppingswonder van God in, en gee aan Hom die eer.
Wendy het nie maar
toevallig op Robert se pad gekom nie - daar is nie so 'n ding soos toeval nie.
Sy was daar met 'n doel.
So
bring die Here dinge op ons pad met 'n doel - soms is dit nie lekker nie, soms
raak dit daar diep binne in jou bors, waar 'n waslap nie kan was nie, aan jou hart.
Maar sien die hand van God daarin, en dank Hom daarvoor.
(epos juweeltjie)
No comments:
Post a Comment